Sekurokratisering en Suid-Afrika: ’n onderhoud met André Duvenhage

  • 0

Jacques Pauw se boek The President’s Keepers is tans besig om groot reaksie uit te lok.

In LitNet se seminaar "Skuins voor middernag, kritiese vrae" gesels navorser André Duvenhage met Menán van Heerden oor die stand van die sekurokratisering van die Suid-Afrikaanse regering in 2017 om die reaksie van die Staatsveiligheidsagentskap (SVA/SSA) in konteks te plaas.

In jou artikel skryf jy: “Patrimoniale en neopatrimoniale tendense word al duideliker sigbaar in die Suid-Afrikaanse politiek onder die leierskap van Jacob Zuma.” Wat is jou mening oor die bewerings in Jacques Pauw se boek The President’s Keepers? (’n eNCA-artikel lig die vyf belangrikste punte van die boek uit.)

Dit is ongetwyfeld waar dat die tendens van neopatrimonialisme (as onderbou vir korrupsie en die korrupte staat) baie sterk aanwesig is in die Suid-Afrikaanse politiek en samelewing. Trouens, die omvang hiervan is tot onlangs toe baie sterk onderskat. Gupta-leaks.com sowel as The President’s Keepers lewer uitgebreide getuienis in hierdie verband. In kort beteken dit dat magsbasisse vanuit die staats- en ander omgewings aangewend word om die belange van die leier, sy elite en soms ook sy groter kliëntebasis te beskerm en ook te bevoordeel. Hierna kan ook verwys word as ’n vorm van staatskaping (of anders gestel, geïnstitusionaliseerde vorme van korrupsie) wat onder meer deur die veiligheidsomgewing (lees die veiligheidskluster) beveilig, gehandhaaf en selfs uitgebou word. Van daar die term neopatrimoniale pretorianisme soos in my artikel gebruik. Die begrip impliseer die aanwending van veiligheidsinstellings om private netwerkbelange van ’n politieke (en selfs ’n kriminele) elite te handhaaf en te bevorder. Daagliks word meer getuienis in hierdie verband ontbloot.

Hoewel heelwat van die data van The President’s Keepers nog ongetoets is, is die reaksie van die Staatsveiligheidsagentskap (SVA) in hierdie opsig baie betekenisvol. Die reaksie, dreigemente en die gepaardgaande regsaksies lewer getuienis dat hier ’n ernstige probleem vir die SVA en ander staats- en semistaatsinstellings onder beheer van die Zuma-elite is. Waarskynlik word die kop van die spreekwoordelike monster hier ontbloot en die monster is groter en beter ingegrawe (nasionaal en internasionaal) as wat vroeër verwag is. Hierdie toedrag van sake is baie negatief vir Jacob Zuma, sy elite en diegene wie se belang deur hierdie vorme van geïnstitusionaliseerde korrupsie, oftewel dan staatskaping, bevorder word. Die tydsberekening (so kort voor die Nasionale Konferensie van die ANC) maak dit ook uiters problematies vir die Zumagroepering se poginge om politieke mag te behou. Ek verwag politieke vuilspel, korrupsie en omkopery op talle vlakke. Hierdie vlakke van korrupsie en netwerkpolitiek maak die uitslag van die Nasionale Konferensie moeilik voorspelbaar, aangesien die uitslag waarskynlik eers op stemdag gefinaliseer gaan word. Die moontlikheid dat die konferensie op ’n beplande wyse ontwrig kan word, en dus nie kan plaasvind nie (’n scenario wat die Zumagroepering kan beoordeel), kan geensins uitgesluit word nie. Indien wel, sal die veiligheidsinstellings (lees ook Mafia-staat) ongetwyfeld ook ’n rol hierin speel.

In jou artikel bespreek jy regimefaktore wat demokratiese konsolidering teenwerk.

Jy definieer demokratiese konsolidering as “’n proses waar demokratisering en die vestiging van demokratiese waardes onomkeerbaar is en waar die burgery volledig inkoop op die regstaatidee en die toepassing daarvan”.

Met betrekking tot die reaksie van die SVA op Pauw se boek: In watter mate word die konsolidasie van ons demokrasie met so ’n reaksie bedreig?

Vir ’n demokrasie om suksesvol te konsolideer, moet die politieke en veral die staatkundige omgewing hierdie ideaal kan bevorder. Omstandighede soos patrone van politieke stabiliteit; ’n effektiewe en sterk staat; patrone van ekonomiese groei; nasiewording en sosiale stabiliteit; asook ’n verbintenis tot ’n waardestelsel wat met die demokrasie en die regstaatidee verbind kan word, is hier van die uiterste belang. Die politieke omgewing en die gepaardgaande dinamika is tans geensins bevorderlik vir die konsolidasie van demokratiese en regsstaatspraktyke nie. Ek wil nie so ver gaan om te sê dat die demokratiese projek reeds op die ashoop is nie, maar die uitdagings is baie groot en die finale toets lê ook nie te ver hiervandaan nie.

’n Grondwet (al word dit gereken as een van die bestes ter wêreld) is net so goed as wat dit toegepas kan word. Met ander woorde, het die Grondwet waarde en betekenis op voetsoolvlak? Vir suksesvolle toepassing benodig jy ’n sterk staat wat vanaf die hoë morele grond kan werk. Laasgenoemde is tans grootliks afwesig binne die Suid-Afrikaanse konteks. Vergelyk in hierdie opsig die aantal onwettige immigrante (nou burgers?) in Suid-Afrika; sosio-ekonomiese uitdagings soos werkloosheid en armoede; asook politieke onstabiliteit en geweldsmisdaad.

Suid-Afrika se probleem is nie net ten opsigte van die vorm van regering nie (demokraties of niedemokraties), maar veral ten opsigte van die staat as staat. Die vorm van staat (demokrasie of niedemokrasie) is ’n afhanklike veranderlike van die staat as staat – die groter en belangriker politieke konsep, en hier dan ook die onafhanklike veranderlike. Met ander woorde, wanneer dit met die staat sleg gaan, sal dit ook met die demokrasie en die toepassing van die Grondwet sleg gaan. Die probleem is dus heelwat groter as die demokrasie, regstaat en die grondwetlike regering. Dit raak die staat as staat en in hierdie opsig kan staatskaping as ’n vorm van staatkundige verval gesien word.

Die reaksie van die SVA is dan ook simptomaties van ’n staat wat besig is om te verval en veiligheidstrukture wat polities gesproke al sterker in die spel kom (negatiewe pretorianisme) en wat in samehang hiermee private belange ten koste van algemene belang bevorder. ’n Vorm van geïnstitusionaliseerde korrupsie (staatskaping) word gehandhaaf en uitgebou deur die pretors (met as verklaringsbasis die neopatrimoniale aard van die Suid-Afrikaanse politieke omgewing) wat die gedefinieerde belange van Mafias soms aktief bevorder.

Jy verwys jy na die rol wat veiligheidsinstellings kan inneem in ’n korrupte staat:

In omgewings van ’n verswakkende staat en patrimoniale en neopatrimoniale tendense kan veiligheidsinstellings egter as beskermheer optree van ’n korrupte staat, asook van optrede wat met sodanige staatspraktyk verbind kan word.

Wat is jou mening oor die stand van staatskaping in 2017? Daarmee saam, is Suid-Afrika geleidelik op pad na postapartheid polisiestaatstatus?

Die rol van veiligheidsinstellings (polisie, weermag, intelligensie, ens) hoef nie noodwendig ’n negatiewe rol te wees nie. Daar is talle gevalle in die geskiedenis waar veral die weermag ’n konstruktiewe rol (positiewe pretorianisme) gespeel het ten opsigte van staatsbou en selfs die bevordering van demokratiese staatspraktyke. Voorbeelde in hierdie verband sluit in De Gaulle (Frankryk), Mustafa Kemal (Turkye) en Peron (Argentinië). Die situasie in Suid-Afrika is op die oomblik egter totaal anders. Getuienis dui daarop dat invloedryke individue binne die veiligheidsomgewing aktief betrokke is by staatskaping en deel van die probleem eerder as die oplossing blyk te wees. In hierdie opsig duik die naam van Richard Mdluli sowel as Arthur Frazer (soos geïmpliseer in The President’s Keepers) telkens op – om net na enkele voorbeelde te verwys. Hierdie toedrag van sake en die aantal mense (dikwels invloedryk binne die groter politiek en samelewing) gee beslag aan verwysings soos Mafiastaat en Gangsterstaat. Daar bestaan ongetwyfeld genoeg inligting wat (indien dit as waar bewys kan word) hierdie perspektief (tese) kan steun. Tans is daar genoeg inligting in omloop om te kan argumenteer dat waar daar ’n rokie is, daar iewers ’n moontlike bosbrand ontdek kan word.

Om te sê dat Suid-Afrika dalk ’n “postapartheid polisiestaat” word, is waarskynlik om dit te sterk te stel. Die tendense is daar, maar die staat is te korrup en te ver verswak om werklik aan ’n polisiestaat beslag te gee. Spraak- en gewetensvryheid bestaan steeds en die regstaat funksioneer nog – al is dit soms maar aan die dun kant. In enige regstaat in die wêreld wat sy sout werd is, sou geen president met die klagstaat van dié van ’n Jacob Zuma steeds aan bewind bly en (ongeag wat reeds bekend is) onverpoos voortgaan met sy aktiwiteite van staatskaping en die ondermyning van die Grondwet asook hoofstuk 9-instellings nie. Kortom, die regbank is besig om Suid-Afrika te faal en dit beteken dat daar rooi ligte flikker ten opsigte van die konsolidasie van ons nuwe demokrasie. Besluite wat in die komende maande geneem word, mag bepaal of Suid-Afrika sy demokrasie kan konsolideer en of ’n korrupte of Mafiastaat ons voorland gaan wees.

Kan die Grondwet en die howe ons demokrasie beskerm?

Politiek gaan in die eerste plek oor mag en nie oor reg nie. Wanneer jy politiek en politieke handelinge herlei tot ’n bepaalde regsraamwerk (die regstaatidee) beteken dit dat alle rolspelers hiertoe verbind is en die reëls van die wedstryd hoër as hul eie politieke spel of handeling ag. Tans is dit allermins die geval in Suid-Afrika en word wetteloosheid en anargie ’n al hoe groter probleem. Trouens, die ANC sien homself as ’n bevrydingsbeweging (verhewe bo die Grondwet) en sien vanuit sy ideologiese oogpunt die Grondwet slegs as ’n stap in die groter proses om ’n nasionaal-demokratiese samelewing (’n gelyke samelewing) tot stand te bring. Die regbank word dikwels gesien as ’n faktor wat teen die ideaal van ’n gelyke samelewing kan werk. Van daar die eis vir die “transformasie” van die regbank! Kortom, die regbank hou nie altyd meer toesig in terme van die beginsel van die rule of law nie, word gemanipuleer met aanstellings ten opsigte van die ampte van openbare beskermer, amptenare in die Openbare Vervolgingsgesag, lojale burokrate en selfs die aanstelling van “politieke” regters oftewel diegene wat die politieke saak goedgesind is. Laasgenoemde hou verband met kaderontplooiing.

Die eise verbonde aan ’n verswakkende staat beteken ook die onvermoë om reëls gesaghebbend en doelmatig toe te pas. Die regbank is op ’n afwaartse glybaan met verreikende implikasies vir poginge om die demokrasie suksesvol te konsolideer. Hiervan getuig die onvermoë van die groter strafregstelsel met ’n uiters beperkte suksesrekord (dit is lonend om krimineel op te tree); individue met politieke mag wat nie eenvormig hanteer word nie; botsende uitsprake vanuit dieselfde prinsipiële vertrekpunt; en lang en omslagtige prosesse wat misbruik word om regsontduiking en selfs regsverydeling in die hand te werk. Getuienis in hierdie verband is die hantering van sake wat verband hou met die spioenasiebandesage (dit duur al meer as agt jaar), ’n gebrek aan optrede teen invloedryke amptenare en politici; die Schabir Sheik-aangeleentheid versus dié van Clive Derby-Lewis; en die wyse waarop die hele staatskapingdebakel (sowel as kwessies wat die SAID raak) tans hanteer word. Die gebrek aan optrede teen Julius Malema, wat openlik rassediskriminasie bevorder deur middel van politieke uitsprake, is verdere getuienis in hierdie verband. Kortom, Suid-Afrika het nog elemente van ’n regstaatidee wat funksioneer, maar dit verkeer onder groter wordende druk en die risiko bestaan tans dat “reg” deur mag gedefinieer word en nie andersom soos wat dit hoort binne ’n regstaat nie. Kommer bestaan ook dat die Grondwet en howe nie meer die wese van ons demokrasie kan en gaan beskerm nie. Die groot toets lê nou voor die deur met die Nasionale Konferensie van die ANC wat op hande is. Dit wil voorkom of mag en magsbasisse die reg vorentoe meer en meer kan dikteer oor wat negatief is vir die konsolidasie van die Suid-Afrikaanse demokrasie.

Wat dink jy sal die uitkoms/impak van die ANC se Desember-konferensie op die politieke landskap van Suid-Afrika wees?

Dit is tans die vraag op almal se lippe. Ek is oortuig daarvan dat indien die konferensie wel gaan plaasvind (met ander woorde, dit word nie uitgestel nie), die ANC tans nie by magte is om ’n legitieme uitslag te verseker nie. Die redes hou verband met die manipulasie van getalle; spooktakke en stemmanipulerings; konflik en verdeeldheid onder elites en leierskap; asook die verwagte omkopery en vuilstreke. (Laasgenoemde was skynbaar ook reeds met die wantrouemosies aan die orde!) Kortom, die ANC is as organisasie besig om uitmekaar te val en kan kwalik homself bestuur. Enkele weke voor die konferensie het talle takke nog steeds nie afgevaardigdes vir die konferensie aangewys nie. Die verwagting is dan ook dat die veiligheidsomgewing (die pretors) nie veel in die volgende weke geslaap gaan kry nie en dat die belang van die Zumagroepering ongetwyfeld voorkeur gaan kry. Daarom mag die media verkeerd wees en kan Dlamini-Zuma haar in die binnebaan bevind.

Daar is basies drie uitkomstes moontlik indien die konferensie wel sou plaasvind:

  1. Dlamini-Zuma wen. Met groot steun in beide KZN en Mpumalanga, ondersteuning vanuit die Vrystaat en Noordwes, die steun van die veiligheidsomgewing en veral koverte projekte (wat slegs aan Jacob Zuma en die Mafiastaat rapporteer), en voldoende staatsgeld om die spreekwoordelike wiel te ghries, moet sy as ’n gunsteling beskou word. Haar veldtog was weliswaar nie goed nie (heelwat swakker as die CR17-veldtog), maar dit sou gevaarlik wees om haar as gunsteling te ignoreer. Jacob Zuma is ’n man vir die belangrike geveg en hy beplan reeds lank hiervoor. Ons moet ons nie soos in die verlede te veel steur aan die media se bykans onvoorwaardelike steun vir CR17 nie! Die media was telkens verkeerd en die geskiedenis is aan Jacob Zuma se kant wanneer die risiko’s werklik groot is. Ek twyfel of dit hier anders gaan wees, maar dit mag meer gewelddadig wees. (Die veiligheidsomgewing is reeds op volle gereedheid vir die tydsduur van die beoogde konferensie en ons weet wie beheer die veiligheidskluster!)
  1. Ramaphosa wen. Met sterk steun in Gauteng, die Noord-Kaap, Limpopo, die Oos-Kaap asook die SAKP, vakbonde, burgerlike organisasies en die media staan Cyril Ramaphosa sterk. Sogenaamde meningspeilings (en die menings van ontleders) plaas die CR17-groep in die sogenaamde binnebaan. Selfs met ’n meerderheidsteun (teoreties gesproke) is dit egter nog nie ’n gefinaliseerde wen nie. Die Zumagroepering veg vir hul oorlewing en sal geen steen onaangeraak laat nie. Hier gaan nog heelwat gebeur in die volgende paar weke en die uitklophou is nog nie geplant nie.
  1. Die derde weg. ’n Werklike swakheid van die CR17-groep was die feit dat Zweli Mkhize nie deel van die veldtog is nie (ten minste nie ooglopend nie) en dat ook David Mabuza in die koue staan. (Mabuza, die leier van die tweede grootste ANC-provinsie, word deesdae genoem as adjunkpresidentskandidaat vir die Nkosazana Dlamini-Zuma-kamp.) Hier is die troefkaart van Jacob Zuma en sy groepering. Met steunbasisse wat baie gelyk staan op die oomblik, kan Mkhize en Mabuza die sogenaamde “game changer” wees. Dit is selfs nie uitgesluit dat Mkhize as president kan staan en Dlamini-Zuma op ’n ander wyse polities geakkommodeer gaan word nie.

Politieke landskap: Die uitkoms van die Nasionale Konferensie gaan verreikende implikasies inhou vir die ANC as organisasie, vir die elite wat die staat vorentoe gaan bestuur en ook vir Suid-Afrika as staat en sy internasionale posisie. Die volgende word as waarskynlike uitkomstes in die vooruitsig gestel:

  • ’n Ramaphosa-oorwinning is ’n beste-saak-scenario vir Suid-Afrika en ’n Dlamini-Zuma-oorwinning die slegte-saak-scenario.
  • Meer radikale beleidsrigtinge ten opsigte van radikale ekonomiese en sosiale transformasie kan verwag word, ongeag watter groepering wen.
  • Die ANC gaan erg verdeeld gelaat word en ’n breekspul in eie geledere kan geensins as moontlikheid uitgesluit word nie.
  • Hetsy eenheid, verdeeldheid of selfs ’n breekspul, die ANC is in ’n krisis ten opsigte van die 2019 algemene verkiesing. (Dit beteken die pretors se rus gaan na die Nasionale Konferensie waarskynlik nog verder getoets word!)
  • Koalisiepolitiek gaan vorentoe nog sterker hanteer en bedryf moet word. Een van die uitkomstes hiervan is meer demokrasie, maar ook meer politieke onbestendigheid, soos wat tans ook waargeneem kan word.
  • ’n Waarheid-en-Versoeningskommissie om na staatskaping te kyk en waarskynlik ook na die oortredings voor 1994 gaan van stapel gestuur word in ’n poging om die morele hoë grond te herstel.
  • Populistiese beleidsrigtinge en vreemdelingehaat wat minderheidgroepe met ’n koloniale herkoms (wit, bruin en selfs swart) kan impliseer.
  • Die voortsetting van staatskapingpraktyke in samehang met populistiese beleidsrigtinge (Nasionale Gesondheidskema en gratis hoër onderwys) en ’n steeds verswakkende ekonomie kan die weg voorberei vir ’n ekonomiese en finansiële inploffing. (Gebrekkige belastinginvordering, stygende staatskuld en nievolhoubare semistaatsinstellings soos Eskom en SAL beklemtoon negatiewe vooruitsigte.)
  • Ramaphosa het die beste kans om laasgenoemde scenario teen te staan.

’n Slegte uitkoms by die Nasionale Konferensie (enigiets anders as die verkiesing van Cyril Ramaphosa) kan negatief inspeel op reeds slegte omstandighede op die terreine van die groter staat, ekonomie en samelewing. ’n Voortsetting van die Zuma-gedefinieerde Mafiastaat sal uiters negatief vir demokratiese konsolidasie en ’n ekonomiese-groei-scenario wees. In die uiterste geval kan dit selfs die einde van ’n demokratiese regering en konstitusionalisme beteken.

Watter politieke scenario voorspel jy vir die volgende tien jaar vir Suid-Afrika?

Lesers kan reeds my perspektief vanuit die voorgaande aflei. My kernscenario fokus op ’n politieke magspel en selfs oorlewingspel in ’n neopatrimoniale omgewing (daar waar Westerse praktyke en instellings enersyds en patrimoniale praktyke andersyds mekaar ontmoet) met as uitkoms ’n verswakkende staat met pretoriaanse karaktereienskappe – uitgelewer aan praktyke soos onder meer korrupsie en sy geïnstitusionaliseerde vorm van staatskaping. Binne hierdie groter narratief is verskeie taktiese scenario’s moontlik – te veel om hier te ontleed. Hierdie basisscenario kan nog op langer termyn voortbestaan. Die volgende diagram vat die kern van my perspektief saam:

’n Ongemaklike tussenposisie (neopatrimoniale pretorianisme) skyn ons vooruitsig (selfs op langer termyn) te wees.

Mandela het in sy 1993-toespraak by die Cosatu-kongres gesê: “If the ANC does to you what the Apartheid government did to you, then you must do to the ANC what you did to the Apartheid government.” Is hierdie standpunt amper 25 jaar later van toepassing?

Die ANC het reeds met kritiek vanuit verskillende oorde te make, waaronder uit eie geledere, opposisiepartye, vakbonde, en organisasies vanuit die burgerlike samelewing. Trouens, die ANC as organisasie is struktuurgewys besig om uitmekaar te val. Hulle doen aan hulself wat ander van buite nie so goed sal kan regkry nie. Swart Maandag verteenwoordig ook ’n baken in ’n oorwegend wit omgewing wat finaal besluit het genoeg is genoeg en dat die ANC (as regering) net nie so kan voortgaan nie. Protes en weerstand – ook vanuit hierdie oord – blyk nou aan die orde te wees. Die skrif is aan die muur en die ANC as organisasie staan voor die grootste uitdaging in sy geskiedenis van meer as 105 jaar.

Daar is egter ’n reuserisiko verbonde aan die verwydering van die ANC, naamlik wie gaan die reuselugleegte vul en of dit nie ’n resep vir chaos, onstabiliteit en verdere politieke verval kan wees nie? Hierdie scenario mag selfs slegter wees as ’n Jacob Zuma-voortsetting van korrupte politiek. Juis daarom moet daar in hierdie tyd so oordeelkundig moontlik gehandel en goeie besluite geneem word. Ons benodig werklik staatsmanskap in hierdie stadium en iemand wat ons kan help wegstuur van die afgronde van die politiek – afgronde wat by die dag duideliker gesien kan word. Ek is oortuig daarvan dat Mandela (wat ook sy eie tekortkominge gehad het) die land op ’n ander politieke weg sou wou gesien het as die huidige trajek. Ons “long walk to freedom” is nog lank nie voltooi nie. Trouens, hef aan lê voor! Soos LJ du Plessis sou sê: “Die geskiedenis is besig om sy sin oop te dek van die begin tot die einde toe; en ons begin in hierdie tyd vaagweg sy volle betekenis verstaan.”

Lees ook:

South Africa can work: ’n onderhoud met Frans Rautenbach

Frans Rautenbach, Naomi Meyer
Skrywersonderhoude

"Behalwe om die regering uit te stem, moet ons werk daarvan maak om ons regeringstelsel te hervorm. Studies wys dat gedesentraliseerde regerings (waar belangrike sake op provinsiale of selfs munisipale vlak besluit word) die helfte of minder korrup as gesentraliseerde samelewings is."

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top