Sekspeste in die werksplek: die Harvey Weinstein-sindroom

  • 4

Harvey Weinstein (Foto: David Shankbone, Wikipedia, CC BY 3.0)

Angelina Jolie. Ashley Judd. Gwyneth Paltrow. Rose McGowan. Asia Argento. Rosanna Arquette. Die lys word by die dag langer.

Wie is hulle, behalwe dat hulle almal bekende aktrises is? Hulle is ook almal vroue wat Harvey Weinstein daarvan beskuldig dat hy ongewenste seksuele gedrag teenoor hulle openbaar het, van betasting tot verkragting. Weinstein is een van die magtigste filmprodusente in Hollywood, en is ’n veelvoudige Oscar-wenner. Die aktrises was almal ten tye van die voorvalle jonk, onbekend en afhanklik van werk wat Weinstein kon voorsien.

Dis ’n verhaal so oud soos die berge: ouer man in senior posisie by die werk, jong vrou aan die begin van haar loopbaan, die wortel dat as jy saamspeel, jou loopbaan bevorder kan word, en as jy weier, kan dit vernietig word. Die feit dat die verhaal in hierdie geval in Hollywood afspeel, en baie van die betrokke persone bekendes is, maak geen verskil nie. Die kritiek dat hulle in ’n bedryf is waar hulle hulle geld maak deur hul liggame ten toon te stel, maak geen verskil nie.

’n Sekswerker het ook die reg om “nee” te sê.

Weinstein het blykbaar by geleentheid aan een van die vroue gesê: “All I’m asking is five minutes. Don’t ruin our friendship over five minutes.” Vyf minute. Dis al wat dit vir hom was, terwyl die vroue se hele lewens geruïneer was.

Dis maklik om die hele sage af te maak as net nog een voorbeeld van hoe die filmbedryf lyk – behalwe dat hierdie tipe predatoriese gedrag nie beperk is tot Hollywood nie. Dit speel elke dag af in raadsale dwarsoor die wêreld, in NPO’s, politieke organisasies, doodgewone kantore. In effek, in enige situasie waar mans in gesagsposisies oor vroue aangestel is.

En soos met die Weinstein-situasie, is dit selde een geïsoleerde geval. Sekspeste en verkragters hou nie vanself op nie; iets moet gebeur om hulle te laat ophou. In hierdie geval was dit die negatiewe publisiteit meegebring deurdat die beweringe op die voorblad van die New York Times gepubliseer is wat sy maatskappy genoop het om Weinstein af te dank. Die NYT-ondersoek dui egter daarop dat daar oor minstens 30 jaar gereeld bewerings van seksuele teistering teen Weinstein gemaak was, en dat daar dan skikkings bereik was waar die klaagsters bedrae geld betaal is in ruil vir hul stilte – skikkings gefasiliteer deur die maatskappy se prokureurs. Dan begin ontkenning dat hulle nie geweet het nie, taamlik ongeloofwaardig lyk.

Wat dit so skrikwekkend maak, is dat baie mense bewus was van wat aan die gang was, maar hul stilswye gehandhaaf het omdat Weinstein hulle loopbane kon vernietig het. Selfs uitgesproke aktiviste soos Angelina Jolie en Ashley Judd het lank stilgebly. Dis nie verrassend nie. Met seksuele misdrywe mag die sekspes se geskiedenis bekend wees, maar elke spesifieke situasie kom gewoonlik neer op “hy sê, sy sê”, met die jong vroue in die meer weerlose situasie. Jolie kon die keuse maak om nooit weer met Weinstein se maatskappy besigheid te doen nie, maar die meeste jong aktrises het nie daardie keuse nie. Die meeste jong vroue in ander werksituasies het ook nie daardie keuse nie, veral omdat die mans gewoonlik in ’n posisie is om hulle loopbane te stuit, en bereid is om dit te doen om hul eie posisie te beskerm.

Wat ook opvallend is, is dat in die geval van Paltrow, Jolie en Judd, hulle familie in die vermaaklikheidsbedryf het. Dit het Weinstein nie afgeskrik nie – net soos wat Zuma nie afgeskrik was deur die feit dat Khwezi se familie vriende was nie. Hulle maak inderwaarheid staat op die feit dat die vroue hulself sal blameer omdat hulle in die situasie beland het, en sal stilbly.

Verkragting spesifiek, en seksuele misdrywe oor die algemeen, is die mees ondergerapporteerde misdrywe in Suid-Afrika. Ek neem aan dat die situasie in Amerika nie veel anders is nie. Dis grootliks te wyte aan die feit dat die slagoffer gou blameer word. Wat het sy aangehad? Hoekom het sy so ’n kort rompie gedra? Hoekom het sy uitgegaan na die kroeg toe en gaan drink? Wat het sy in sy hotelkamer gemaak? Die vrou word die skuld gegee omdat sy aangeval was, in stede daarvan dat die man die skuld kry omdat hy aanval.

Die bekende mode-ontwerper Donna Karan het Weinstein aanvanklik verdedig en te kenne gegee dat vroue mans uitlok deur hoe hulle aantrek. Sy’t skynbaar vergeet dat sy haar geld maak deur vroue so aan te trek. Eers toe daar ’n boikot teen haar besigheid uitgeroep is, het sy van deuntjie verander. Haar reaksie was egter tipies: gee die vrou die skuld, skeld die man kwyt van enige aandadigheid. Die ANC-Vroueliga het dieselfde hier gedoen met Khwezi.

Donald Trump, wat self al van seksuele teistering beskuldig is, is omring deur vroue wat hom beskerm. Ditto Zuma, wat selfs beter vaar en die magtigste vroue-organisasie in die regerende party uit sy hand laat eet.

Dan is daar die stilte van die mans. Of, erger, hulle maak vroue se klagtes af as ’n oorreaksie of ’n misverstand. Selfs nou, feitlik ’n week nadat die Weinstein-bewerings, met gepaardgaande bewyse van vorige polisieondersoeke, bewyse van skikkings en ’n opname waarin Weinstein een aanval erken, bekend geword het, is Hollywood se mans traag met enige standpuntinname. Daar kom nog steeds vroue na vore, en ander vroue staan saam in solidariteit. Die mans, in hul stilte, staan ook saam in solidariteit met die oortreder.

Dis deel van die probleem. Solank as wat mans nie hierdie tipe gedrag veroordeel nie, solank as wat vroue die skuld kry vir wat gebeur het, of blameer word omdat hulle nie vroeër gepraat het nie, het sekspeste toestemming om voort te gaan met hulle gedrag.

Ons veroordeel gou genoeg die man wat met ’n balaklawa oor die kop inbreek en ons vroue verkrag. Hulle is anders. Hulle is vreemdelinge. Hulle hoort in die tronk of hulle moet die doodstraf kry.

Dis waar ons verkeerd is. Hulle is nié anders nie. Hulle skuil agter maskers. Weinstein, en ander soos hy, skuil agter hulle geld en status. Hulle minagting vir vroue is egter presies dieselfde. Die effek van hul ongewenste aanval is ewe vernietigend.

Hulle behoort presies dieselfde behandel te word, want ’n verkragter stop net as hy deur iemand anders gestop word.

Dis ons plig, elkeen van ons, mans en vroue, om die een te wees wat hulle stop.

Genoeg is genoeg.

  • 4

Kommentaar

  • Hans Richardt

    Sekspes in werkplek en sekspes uit magsposisie kan nie oor dieselfde kam geskeer word nie.

  • Die probleem is nie heeltemal so eenvoudig nie - hoeveel keer gebruik vrouens nie uit eie beweging hul seksualiteit om te kry wat hulle wil hê nie?

  • Die gedrag kan nooit goed gepraat word nie. Die vraag wat ek graag beantwoord wil hê is of vrouens in magsposisies by geleentheid hulself nie dalk skuldig maak aan dieselfde gedrag nie.
    In Genesis 39 is die verhaal van Josef en Potifar se vrou opgeteken.Joseph se weiering het gelei tot 'n valse aanklag van poging tot verkragting en word hy summier in die tronk gegooi.

  • francois verster

    Soos jy sê, FC, kan dit nooit goedgepraat word nie. Wat egter ook 'n faktor is in die gesprekke wat beslis baie nodig is, is dat veralgemenings rondgeslinger word en slagordes opgestel word wat 'n negatiewe effek het. 'n Militante houding teen alle mans, wat hier en daar te sien is, gaan nie die situasie verbeter nie, ook nie wydswiepende stellings nie soos dat feitlik alle vroue een of ander tyd gemolesteer word. Stellings moet eerder gefundeer kan word. Wanneer mense wat wel gemolesteer is later praat, kan ook hulle geloofwaardigheid ondermyn word as blindelingse swartsmeerdery handuit ruk. Hierdie euwel moet doelgerig gepak word en geen kanse vir wegkom aan oortreders geskep word nie.

  • Leave a Reply to Hans Richardt Cancel reply

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top