Sê my, is julle twee susters? deur Hester van der Walt

  • 8

Sê my, is julle twee susters?
Hester van der Walt
Modjaji
ISBN: 9781928215233

Soms is klein groot. Reusagtig. Soms tel jy ’n dun boekie met ’n interessante titel op, soos sê nou maar By Grand Central Station I sat down and wept – of Sê my, is julle twee susters?. En wat jou innerlike landskap verruim om plek te maak vir die weet van ’n handvol mense wat vreesloos geleef het. Die subtitel van Sê my is: “’n memorie” en skielik is dit vir my ’n lieflike woord, ’n woord wat rym met “gedorie” en “storie”.

In ons laslapland onder die stukkende reënboog was daar heelparty monsteragtige skurke, dapper helde en heilige ikone wie se portrette in die nasionale bewussyn ingebrand is. Maar die stamperige rit na demokrasie wemel ook van onvertelde stories, onbesonge helde – “gewone” mense wat eenvoudig die moed van hul oortuiging uitgeleef het. Soos Hester van der Walt en Lies Hoogendoorn, die twee vroue op die voorbladfoto. Dis een van daardie swart-wit foto’s wat vroeër jare deur ’n fotograaf in die strate van Kaapstad van toevallige verbygangers geneem is en later aan hulle verkwansel is. Die korter vrou, dit weet die leser later, is Hester, met onpaar ore en klein, knopperige voete, ’n asmalyer; ernstig, idealisties, ywerig om van diens te wees. Die lang vrou is Lies, van Nederlandse afkoms. Sy was langer as enige vrou in die vertrek – trouens, die langste meisie wat Hester ooit ontmoet het. Sy het ’n regop houding gehad en soos ’n kameelperd beweeg. Sy besit sjarme, naïwiteit en ’n reguit, nuuskierige aard. Sy wou ook van die wêreld ’n beter plek maak. Hulle het twee dinge gemeen gehad: albei was leerlingverpleegsters en albei was diep gelowige Doppers toe hulle mekaar in die sestigerjare in Bloemfontein ontmoet het. Na hul opleiding werk hulle in ’n sendinghospitaal in die destydse Vendaland en later in Kaapstad. Hulle raak verlief en al wat hulle weet, is dat dit sonde is. Hulle het nooit enige beloftes gemaak nie, maar na meer as vyftig jaar is hulle steeds bymekaar.

Hester vertel die memorie. Sy was ’n “accidental” aktivis. Toe sy in die destydse Distrik Ses vroedvrou was, besef sy: hierdie mense is onse mense en apartheid is ’n groot liegstorie. Daar was ander bakens op die pad na haar bewuswording, soos Jan Rabie se boek Ons, die afgod en politieke bannelinge wat sy in Nederland en Engeland, waar sy verder studeer het, leer ken het. Sy en Lies se woonstel, en later hul huis, bied skuilplek aan vlugtelinge; hulle hou Sondagskool in benadeelde gebiede; begin in hul vrye tyd speelgroepe; en lei gemeenskappe op in gesondheidsorg. Hulle skuur skouers met mense soos ’n jong Trevor Manuel. Hulle woon rallies by en sing vryheidsliedere. Hulle verlaat die Dopperkerk nadat die dominee vir hulle sê as hulle so graag met Bantoes wil trou moet hulle in Swaziland gaan woon. Hulle vind ’n tuiste in Beyers Naudé se kerk. Hester beland selfs in Pollsmoor op aanklag dat sy ’n bedreiging vir die staatsveiligheid inhou, in die donker dae toe mense vir 14 dae, wat eindeloos verleng kon word, sonder verhoor aangehou kon word op ’n vae suspisie.

Maar met die geboorte van demokrasie keer sy haar rug op politiek, voel sy dat haar rol piepklein was en uitgedien is, begin sy “opheffing” bevraagteken as futiel en paternalisties, wil sy net haar lei leef en sukkel sy met depressie. Sy en Lies, self iemand wat van jonk af aan “swaarmoedige buie” ly, vind vrede in meditasie en vestig hulle op McGregor, waar hulle steeds woon en elke Oujaarsaand vir die hele dorpie oliebolle bak. “Ek kyk uit my strooiskuur waar ons die laaste bolle bak en kan dit nie glo nie. Oud en jonk dans in Breëstraat dat die stof so staan. Alle kleure en geure is hier. Lies dans ’n soort riel met ’n kort bruin man. Toeriste vergaap hulle. Mense wens mekaar geluk vir die nuwe jaar.”

Sy besluit om oor hul lewe te skryf: “Destyds kon ek vir lank nie myself toelaat om te skryf nie. Altyd angstig dat ‘hulle’ weer my goed sou lees en dalk iets daar sou vind om my en ander mee te straf. Selfsensuur. Daarin het hulle geslaag. Dis hoekom ek nou hieroor skryf, sodat almal wat wil weet, vandag en ook in die toekoms, kan sien hoe belaglik en kleinlik verdrukking is, hoeveel lae van verdrukking daar was, en hoe selfs so ’n minuskule klein ratjie soos ek, dit ervaar het.”

Dis ’n verslag van ’n verskriklike tyd. ’n Getuienis van die krag van die menslike gees, ook in ’n swak, sieklike lyf, en van die liefde wat alles oorwin. Dis vol fyn waarneming en moedswillige humor. Dis eenvoudig ’n lieflike klein boek; dis asof daar nog altyd ’n leemte in my was wat gewag het om gevul te word met die wete van twee brawe vroue wat sonder ophef, ondramaties, hul harte gevolg, hul beginsels behou en gedoen het wat hul hand gevind het om te doen om ander se leed te verlig. Wat uiteindelik vry van veroordeling of agterdog in ’n plattelandse dorpie brood bak en spinasie kweek: “En skielik sien ek hoe al my drome waar geword het. Sommer vanself. Dit is hoe dit voel om deel te wees van ’n dorp. Warm om die hart.”

Dis ook hoe Sê my, is julle twee susters? my laat voel.

  • 8

Kommentaar

  • Pieter Strauss

    En dit is ook hoe jou resensie my laat voel het, Deborah. Dié boek gaan ek beslis aanskaf en lees.

  • Linda Zollner

    Ek moet in April boeke koop vir ons boekklub en ek prober altyd een of meer Afrikaanse boeke insluit. Ek het pas een gevind wat ek gaan koop! Dankie vir 'n uitstekende resensie.

  • Deborah, allerlieflik is hierdie resensie. Gee vir my hernieude hoop vir tye met minder veoordeling. Hoop en liefde. Die grootste hiervan, is die liefde.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top