Sandveldkos. Kosnostalgie en stories van gister: ’n onderhoud met Rina Theron

  • 0

Sandveldkos. Kosnostalgie en stories van gister
Rina Theron

ISBN: 9780620760430

Skrywers oor hul nuwe boeke: Rina Theron gesels met Naomi Meyer oor Rina se boek Sandveldkos: Kosnostalgie en stories van gister

Rina, van boervrou tot vroueboer: vertel asseblief vir ons lesers iets van jou.

Ek het 40 jaar gelede as “inkommer” in die Sandveld kom woon, want ek is oorspronklik van Knysna se wêreld. My man is in 1996 in ’n motorfietsongeluk oorlede en ek moes toe op 48-jarige ouderdom die boerdery met aartappels en brahmaanbeeste oorneem. Ek het die voorreg gehad om ’n paar eerstes as vroueboer in die landbou te kon wees – eerste vroulike direkteur van Boland Agri (nou Kaap Agri), eerste geregistreerde vroueaartappelmoerkweker in die Sandveld, eerste vroulike ondervoorsitter van die Sandveldse Aartappelkwekersorganisasie, en die eerste vroulike voorsitter van die Leipoldtville Boerevereniging. In 2000 is ek ook as topprodusent vir nasionale markte aangewys in die Vroueboer van die Jaar-kompetisie soos aangebied deur die Departement van Landbou. Ek het ná 41 jaar in die boerdery afgetree en met meer tyd op hande het ek besluit om my passie vir geskiedenis en kos uit te leef deur die boek Sandveldkos: Kosnostalgie en stories van gister aan te pak.

Wil jy in jou eie woorde vertel watter soort boek dit is?

Die boek is meer as net ’n kookboek, soos wat uit die volledige titel blyk, want dit bevat onder meer persoonlike onderhoude met en profiele van bekendes uit die Sandveld wat hul stories en onthouresepte deel. In die ander afdelings van die boek kan ’n mens ook lees oor die vindingryke planne wat boervroue van weleer gemaak het om hul huishoudings te versorg, oor veldmedisyne wat gebruik is om enigiets van hoofpyn tot aambeie hok te slaan, asook interessante staaltjies oor mense van hierdie unieke streek.

Jou boek is bedoel vir enigeen wat belangstel in ons land se geskiedenis en streke. Wil jy dalk met ons lesers deel hoe jy jou eerste kennismaking met die Sandveld beleef het? En hoe jy die omgewing nou ervaar?

My eerste kennismaking met die Sandveld was nie liefde met die eerste oogopslag nie. Ek sal altyd oom Jan-Frans Visser se woorde een oggend voor kerk onthou: “Kyk, nooientjie, die Sandveld werk so. Eers wil jy net hier wegkom, maar die sand hou jou vas en hoe meer jy spartel en spook, hoe vaster val jy vas en later as jy kan wegkom, dan wil jy nie meer weggaan nie.”

Noudat ek afgetree het en wel soos baie ander mense seker by die see kan gaan woon, het die Sandveld só diep in my hart in gekruip dat ek nie regtig ’n ander tuiste vir myself kan voorstel nie. Die geweldige droogte in die Wes-Kaap van die afgelope paar jaar het ’n baie negatiewe uitwerking op die landbou en natuurskoon van die streek, maar ewig boer bly ek optimisties dat die mooi jare weer sal kom.

Iemand soos Kobus van der Merwe van Paternoster het kulinêre disse van die omgewing onder mense se aandag gebring. Die resepte in jou boek is eerder onthoukos van inwoners van die omgewing. Hoe het jy bepaal watter resepte om in die boek op te neem?

My doel was om te wys dat, net soos die boervroue van destyds, ’n mens vandag met min bestanddele geurige kos op die tafel kan sit. Elke persoon met wie ek ’n onderhoud gevoer het, het dus vir my hul resepte en wenke vir besparing in die kombuis gegee. Ek wou ook graag die resepte vir die nageslag bewaar en hulde bring aan die boervroue van die Sandveld en hul besonderse gebak en geregte wat gereeld basaartafels laat kreun het. Laastens wou ek ook die streek se kontreikos, wat onder andere aartappels en heerboontjies insluit, aan die leser bekendstel.

Watter van die resepte in die boek is vir jou persoonlike gunstelinge?

My persoonlike gunstelinge is wasgoedbondeltjies (’n soort maalvleispasteitjie) (bl 46), kerrieboontjiebredie (130), duikerfilette (114), aartappelkoekies (135) en Jodetert (81).

Jy kook ook self graag, is ek reg? Dalk kan jy ook een van jou eie resepte met ons lesers deel?

Ja, ek is lief om wat ook al in my groentetuin in seisoen is, in geregte te gebruik. Ek deel graag my resep vir soet groenpampoen met uie wat as ’n bykos bedien word.

Bestanddele: 1 koppie uie (in dun ringe gesny), 1 eetlepel botter, ½ koppie suiker, 6 koppies groenpampoen (nog nie ryp nie) geskil en in blokkies gesny, ¼ koppie water, stukkie pypkaneel, steranys en ’n knippie sout.

Metode: Braai die uie in die botter tot deurskynend. Strooi die suiker bo-oor en braai tot dit begin verkleur. Voeg nou die pampoenblokkies by, asook die water en geurmiddels. Bedek en laat vinnig kook. Verminder die hitte en kook tot die pampoen sag is. Moenie roer nie en skud net die kastrol van tyd tot tyd. Haal die deksel af en kook die pampoen tot droog en glansend.

In jou boek is daar selfs huiswenke – boererate, as ‘t ware. Noem asseblief ʼn interessante wenk met plante uit die streek wat jou opgeval het.

Die boervroue van weleer het suurlemoene en suurlemoensap in die huis gebruik as hoofsaaklik skoonmaakmiddel om onder andere koper op te vryf. Die skil van suurlemoene is ook gebrand om rookreuke uit die huis te verwyder, en suurlemoensap in afspoelwater is gebruik om messegoed se ivoor weer wit te maak en glasware te laat blink.

Wat boererate betref, is die sap van Bulbinia frutescens (snotbossie) gebruik om brandwonde, snyplekke, insekbyte, koorsblare, mondsere of enige ander velirritasie mee te behandel.

Kos, taal, mense, geskiedenis: dis vervleg. Wat was vir jou die interessantste aspek toe jy die boek geskryf het? En was dit ook ʼn vonk vir die ontstaan van die publikasie?

Al hierdie dinge het ’n rol gespeel in wat ek sien as die kultuur van die Sandveld. Ek het dus doelbewus al hierdie aspekte verweef, omdat dit vir my baie belangrik was om die unieke lewenswyse van die Sandveld se mense vir die nageslag te bewaar. Dit was inderdaad die motivering vir die skryf van die boek, aangesien ek ook my liefde vir geskiedenis so kon uitleef.

Jy het onlangs by die Richmond BookBedonnerd-fees opgetree. Hoe was jou ervaring hier?

Dit was ’n voorreg om die geleentheid mee te maak met skrywers soos Ashwin Desai, Athol Williams, Igno van Niekerk, Luthando Lucas, Hélѐne Opperman Lewis en Karina Szczurek. Daar was soveel inspirerende stories wat mense gewaag het om self uit te gee wat nie noodwendig in die hoofstroom van die uitgewersbedryf ooit die lig sou gesien het nie. Dit was natuurlik ook ’n groot verrassing toe my boek die prys gewen het in die koskategorie in die SA Independent Publishers Awards.

Waar kan lesers jou boek bestel? En wat is die kostes?

Omdat ek my boek self uitgegee het, kan mense dit direk by my bestel: by 083 691 0808, of rinatheron8@gmail.com, of www.facebook/Sandveldkos. Die koste beloop R485 (posgeld uitgesluit) wat ’n bonusboekie met mosselresepte insluit.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top