SA op die praatbank: Godsdiens op die rusbank

  • 0

praatbank

In 2010 het LitNet die volgende vraag aan LitNet Akademies-geledere gestel:

As Suid-Afrika op sy/haar rug op die praatbank sou lê en sy/haar vreugdes en/of pyne sou uitspreek, wat sou jy aanhoor? Dalk prewel die land geheimenisse teenoor jou. Dalk is hy/sy bekommerd oor misdaad. Of droogte. Dalk ly hy/sy aan depressie. Dalk is hy/sy op haar einde. Of ’n uitbundige puber. Wat pla ons komplekse land?

Cas Vos het geantwoord: 

Van die begin af het God en die mens vasgesit. Al het alles edel en skoon begin. Twis het gou uitgebreek. God en die mens is van mekaar vervreem. Vervreemding is in die mens se bloed. Maar daar het nóg ellende gewag. Die een broer het die ander doodgeslaan. En dit was die begin van die een moordslag na die ander. Die geskiedenisboeke is met bloed geskryf. Van 1652 af tot vandag toe.
         
Verskillende gode het deur die eeue om die besit van mense se harte gebie. Soos op ’n vendusie, was daar talle winskope. Mense het agter gode aangedrentel. Hulle het ook self gode gemaak. Papiergode, geldgode, modegode, seksgode en noem maar op.
         
In ons land met sy vele godsdienste is daar ’n gewedywer om mense te wen. Die een sweep die emosie op, die ander koel die kop af en nog ander vra geld en goed.
         
Wat doen godsdienstige mense aan en met mekaar? Destyds was die Samaritane die verstotelinge. Hulle was van ’n nie-aanvaarbare afkoms en die tempeldeure was vir hulle gesluit. Al ís ons nie almal só nie, máák ons vandag dikwels ook nog só. Die verstoteling lê bloedbelope langs die pad. Hy/sy haal skaars asem. En ons gee hom/haar nog ’n klip of ’n skop. Die ellende van ander raak ons skaars. Daar is die hoog-bloei van misdaad, die aakligheid en vernedering van verkragting, korrupsie, die vasmaak van die tong.
         
Watter rol behoort godsdienste in hierdie land te speel, al verskil hulle in leer van mekaar?

Elke godsdiens het die reg om sy God op sy manier te dien en te aanbid. Ons moet nie op mekaar neersien en mekaar minag nie, al dink en lees ons ons Brontekste anders. Daar is sekere waardes wat ons soos snytjies brood met mekaar moet deel. Liefde is so ’n grondwaarde. Dit is die hartklop van die lewe. Sonder die liefde is alles niks. Dis juis liefde wat ons leer om vir mekaar om te gee. Die ander is iemand op my pad, iemand wat ek kan ontmoet (Buber). Ook lyflik kan ontmoet. Die ander is iemand by wie ek lewenswysheid kan leer.

Ons moet mekaar kan vertrou. Wantroue en agterdog is nogal eie aan ons samelewing. Natuurlik het ons dikwels rede om die ander te wantrou. Die een wat my oopoog bedrieg en belieg het. Ons gee hoog op oor ons eie menswaardigheid, maar sien dikwels neer op ander s’n. As ek nie respek vir ’n ander se menswees het nie, kan ek ook nie respek vir my eie hê nie. Godsdiens behoort ons meer wysheid te leer. Dis nie om dowe neute dat daar soveel wysheidsboeke in die Bybel is nie. Dink maar aan die Psalms, Spreuke, Prediker en Job.

Godsdiens behoort ons meer oor onsself te leer. Hoe bedrieglik en selfsugtig ons eintlik is. Ons het die ander, in die woorde van Emmanuel Levinas, nodig om krities na onsself te kyk. Dit sal ons nogal help om in hierdie land dan anders met ander om te gaan.

Orhan Pamuk skryf insiggewend oor verkeer en godsdiens. In Teheran was die verkeerswette onverbiddelik afgedwing. Net so is die wette van die Heilige Boek genadeloos op mense se lewens afgedruk. Pamuk het gou geleer om sy pa se motor in die verlate strate te bestuur waar hy die wette na hartelus kon ontduik.

Natuurlik moet daar wette wees, ook godsdienstige grondreëls, maar dan moet daar ook vryheid wees. Vryheid om te dink, te praat, te leef en te droom. Juis in vryheid kan ons eie en ook die ander se andersheid gevier word.

Staan van die rusbank af op. Gaan straat toe. In die woorde van Breyten Breytenbach moet ons leer om mekaar “sonder skaamte/ in die oë te kyk — / want die lewe is ’n asem lank”.


praatbank_cas240

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top