SA-illustreerders: Marjorie van Heerden

  • 0

Naam
: Marjorie van Heerden

Wat is jou "day job"?

Ek skryf en illustreer die laaste dertig jaar voltyds kinderboeke en dit is ook my “night job”, “weekend job” en “holiday job”.

 

Is jou werk al gepubliseer?

Ja, meer as 120 van my kinderboeke is al gepubliseer. Party het ek geskryf en geïllustreer en party het ek net geïllustreer. My kinderboeke is al in 34 tale vertaal en dwarsoor Afrika uitgegee – ook in die VSA, Kanada, Brittanje, Griekeland, en vroeër vanjaar het ek twee kinderprenteboeke (in Mandaryns en Engels) vir ’n Sjinese uitgewer in Hongkong geïllustreer. Vir Suid-Afrika se kleintjies in die eerste drie skooljare het ek ook ’n leesreeks van 16 boeke (die Bright Books) gekonseptualiseer, geskryf en geïllustreer. Hier is ’n dosyn kinderboeke wat ek onlangs geillustreer het (marjorie-van-heerden.blogspot):

  • Goblin Diaries: Apprenticed to the Red Witch deur Alex D’Angelo (Tafelberg) – MER-prys vir die beste geïllustreerde kinderboek van die jaar.
  • Ears Hear ????  en Numbers Do  ??, albei deur Kathleen Ahrens en Chu-Ren Huang (Sun Ya Publishers, Hongkong)
  • SAM – ’n Ware verhaal van ’n dogtertjie en haar olifant deur Ingrid Vander Veken en uit die Nederlands vertaal deur Antjie Krog (LAPA Uitgewers)
  • Die Avonture van Alice in Wonderland deur Lewis Carroll en uit die Engels vertaal deur André P Brink (Human & Rousseau)
  • Mnr Humperdinck Se Wonderlike Watsenaam deur Wynand Louw (Human & Rousseau)
  • Kootjie Totjie deur CJ Langenhoven (Protea Boekhuis)
  • Bertus Soek ’n Boek deur Jaco Jacobs (LAPA Uitgewers)
  • San Tales from Africa deur Raffaelle Delle Donne (Struik)
  • Nina and Little Duck deur Wendy Hartman – MER-prys vir die beste geïllustreerde kinderboek van die jaar.
  • Lulama’s Long Way Home geskryf deur my en in Portugees en die ander tien Suid-Afrikaanse tale vertaal en uitgegee (Pan Macmillan Uitgewers)
  • Die Oorspronklike, Ongewoon Skrikaan­jaende, Werklik Feitlike Storieboek (in Engels en Afrikaans) geskryf deur my (Human & Rousseau).

Uitstallings

Ek stal nie eintlik my oorspronklike kunswerk uit nie (mens kan dit mos in die boeke sien), maar dit gebeur soms. Human & Rousseau het byvoorbeeld die oorspronklike illustrasies wat ek vir André Brink se vertaling van Die Avonture van Alice in Wonderland gedoen het, in 2010 in Stellenbosch uitgestal.

Die kinderboek-verdieping van die Stadsbiblioteek in Kaapstad het ’n permanente uitstalling van enorme volkleur-vergrotings van ’n klompie van my prenteboek-illustrasies teen die mure – amper soos muurpapier!

 

Hoe het die illustrasie-gogga jou gehap? 

Ek was nog altyd lief vir prentjies teken, vandat ek baie klein was – ek was versot op prenteboeke. Op skool het ek kuns as ’n vak geneem en later het ek by UK gaan kuns studeer, met grafiese kuns en beeldhouwerk as my hoofvakke. En toe, in 1977, gebeur daar iets met my wat my lewe totaal en al verander het, as mens, maar ook as kunstenaar: ek het ma geword. Ons dogter is in daai jaar gebore en ons seun ’n paar jaar later. Om ma te word, het my fokus as kunstenaar teruggeneem na kinder­boeke, en veral na prenteboeke vir kinders. Hennie Aucamp was destyds ’n baie goeie huisvriend van ons op Stellenbosch en hy stel toe voor dat ek self moet probeer om kinderboeke te illustreer. Toe doen ek dit ...

In watter medium werk jy, en waarom verkies jy dié spesifieke medium? 

Dit hang natuurlik af van die storie, en dinge verander gedurig, maar op die oomblik gebruik ek meestal die volgende tegnieke en materiale wanneer ek ’n kinderboek of ’n kinderprenteboek illustreer: Nadat ek ’n volledige stel rowwe potloodsketse gedoen het, en nadat ek die ontwerp en die uitleg van die boek in besonderhede uitgesorteer het, hou ek daarvan om baie versigtig die heel beste papier te kies wat die atmosfeer van die storie die heel beste sal pas. In die algemeen vind ek byvoorbeeld dat ’n storie met ’n vinnige pas en ritme beter werk op growwe papier, “cold press”, terwyl ’n meer intieme, stiller storie lekkerder lê op gladder, fyner papier, “hot press”, waarop ek heelwat meer gedetailleerde werk kan doen. Dan teken ek die illustrasie weer, dikwels op ’n ligboks, op die papier wat ek gekies het. Daarna verf ek ’n “wash” oor die area van die bladsy waar die illustrasie gaan wees, om my primêre en sekondêre ligbronne aan te dui. En dan rond ek die gedetailleerde illustrasie met kryte af, bo-oor die “wash”. Die kryte wat ek op die oomblik gebruik, is Caran d’Ache Neocolor II Aquarelle olie-pastelle. Daar’s drie soorte papier wat ek graag gebruik: Canson Mi-teintes 160g/m2, Fabriano 4 Liscio 220g/m2 and Bainbridge Coquille Bristol #2.

Waarom verkies ek dié spesifieke medium? Omdat ek vind dit werk die beste wanneer ek ’n vertelling met illustrasies wil aanvul. Terloops, in werklikheid “illustreer” ek nooit ’n storie nie – ek vul die teks aan en rond dit af met visuele prikkels wat my jong lesertjies groter plesier kan gee wanneer hulle die storie ervaar en verteer.

Is daar spesifieke genres of tipes tekste wat jy die graagste illustreer?

Ek is baie lief vir kinderprenteboeke. En ek is lief vir boeke wat kinders voor lief is, veral die kleintjies. Ek onthou toe ek omtrent vier jaar oud was, toe gee my ma vir my ’n boek met die naam Ferdinand the Bull. Amper sestig jaar later besef ek wat ’n enorme indruk daai boekie op my gemaak het. Destyds het ek dit natuurlik nie besef nie, maar in my jong bewus­syn het Ferdinand ’n fassinasie laat ontstaan met die interaksie tussen woord en beeld. Ek onthou baie duidelik hoe ek na daai boekie sit en kyk het en hoe mal ek was oor reëls soos: “His mother saw that he was not lonely, and because she was an understand­ing mother; even though she was a cow, she let him just sit there and be happy.” Ek onthou dat sekere prentjies ver-weg-tonele gewys het, met groot, leë, wit ruimte op die res van die bladsy, en ander weer het “close-up”-figure gewys wat die bladsy heeltemal volgemaak het. Ek wou ook sulke prente teken. Later, toe ek bietjie groter was, en toe dit duidelik geword het dat my disleksie woorde vir my moeiliker gemaak het as prentjies, het ek meer en meer daarop begin fokus om myself deur tekeninge uit te druk, eerder as in woorde. En dit het alles begin met ’n bul wat lief was om die blomme te ruik. Baie jare later het ek uitgevind dat Ferdinand the Bull (deur Munro Leaf, met illustrasies deur Robert Lawson, 1937) een van die heel eerste “anti-war” kinder-prenteboeke was, indien nie dié eerste nie.

So, om jou vraag te probeer beantwoord: Ek illustreer graag goeie kinderprenteboeke wat ’n bietjie “magic” bevat. Ek illustreer graag interessante karakters en drake. Ek is baie lief om drake te teken (ek bly op soek na ’n regte goeie draakstorie om te illustreer). Een van die Sjinese boeke wat ek vroeër vanjaar geïllustreer het, het ’n pragtige panda in gehad – dit was wonderlik om te teken – hulle is ongelooflike diere – ek het die regtig baie geniet om te werk aan Numbers Do ??.

 

Lees jy graag, en indien wel, wie is jou gunsteling-skrywers? 

Ek is mal oor boeke en, wanneer ek geld het, koop ek boeke om later te lees wanneer ek die tyd het – my frustrasie is dat ek deesdae só besig is met kinder­boeke en met my drie kleindogter­tjies van 3, 4 en 5 jaar oud dat ek aan die slaap raak nadat ek drie bladsye gelees het – die hoop boeke langs my bed raak al hoër. Ek hou baie van goeie fantasieboeke soos dié deur Tolkien, Ursula le Guin, Susan Cooper en sulke ouens. En dan is daar natuurlik die feitelike boeke oor kinderboeke en die skep daarvan! Ek kan net nie weerstaan om hulle te koop nie. En dan koop ek ook baie kinderprenteboeke – dié kry ek darem klaar gelees voordat ek aan die slaap raak...


Wie is jou illustrasiehelde? Is daar ander illustreerders wat jou ontwikkeling as illustreerder en jou styl beïnvloed het?

Ek het ’n dieptestudie gemaak van honderde illustreerders (in my persoonlike versameling is meer as 30 000 kinderprenteboeke) en op die ou end is daar minstens ’n dosyn wie se werk ek regtig bewonder, wat ’n invloed op my eie werk gehad het – hulle oorspronklikheid, verbeelding, dapperheid, die diepte van hulle werk en die manier waarop hulle, bewustelik of onbewustelik, spesifiek vir die kind werk. Wanneer ek illustreer, sou ek graag al twaalf van hulle wou nooi om in my ateljee te kom rondsit en met my te gesels terwyl ek werk. Hulle is (in geen spesifieke volgorde nie): Maurice Sendak, Jan Ormerod, Trina Schart Hyman, Helen Oxenbury, Satoshi Kitamura, Tony Ross, Anthony Browne, Ed Young, Stephen Lambert, Quentin Blake, Chris van Allsburg en David Wiesner. Hierdie twaalf spreek tot mý. Ek het die voorreg gehad dat Ed Young eenkeer vir ’n hele week lank my “mentor” was – dit was by die Highlights Foundation Writers Workshop in  Chautauqua, VSA.

Edward Ardizzone en Ernest Shepherd se tekeninge van kinders is ongelooflik. En dan is daar natuurlik Katrine Harries. Ek het by UK grafiese kuns en illustrasie onder haar studeer en ontsettend baie by haar geleer, maar daai tyd het ek nie geweet dat ek ’n kinderboek-illustreerder sou word nie. Ek sou baie graag vandag weer met haar wou gesels het.

Saam met watter skrywer, lewend of dood, sou jy die graagste wou werk, en waaroor sou die fiksionele boek handel waaraan julle werk?

Toe ons in Griekeland gewoon het, het ek ’n boek geïllustreer wat deur Katherine Paterson geskryf is – ’n regte sprokie (The King’s Equal). Dit was wonderlik – haar woorde was soos musiek. Ek sal baie graag weer ’n boek saam met haar wil doen. Dan is daar skrywers soos Hiawyn Oram (kyk hier en hier), Jeanne Willes, en Joan Aiken.

Daar is nog ’n klomp mense wat absoluut briljant is, maar die meeste van hulle illustreer self en hulle doen dit goed – mense soos Helen Oxenbury, Chris van Alsberg en Tony Ross, Anthony Brown.

Jy vra waaroor die fiksionele boek sou handel? Wat van ’n storie oor ’n draak? (Maar kan ons seker wees dat dit fiksioneel sal wees? Ek wonder ...)

Wat is die een bestaande teks wat jy die heel graagste sou wou illustreer?


Ek doen hulle soos hulle inkom – dit was byvoorbeeld wonderlik om Alice in Wonderland te illustreer.

Maar daar is tog één teks wat ek graag sal wil illustreer: in 1990 het Human & Rousseau ’n boekie gepubliseer, Goodnight, Grandpa (Nag Oupa). Ek het hom geskryf en geïllustreer. Dit was gebaseer op ’n werklike ervaring wat my seuntjie gehad het toe hy so drie jaar oud was en sy oupa, my pa, oorlede is. ’n Hele paar ouer mense, veral bibliotekaresse en oumas, het my al vertel dat hulle daardie boekie gebruik wanneer hulle hulle klein ­kindertjies wil help om die dood beter te verstaan. Oor die 20 jaar sedert Goodnight, Grandpa die eerste keer verskyn het, het ek (en my kuns) baie wye draaie geloop. Dit is die één teks wat ek baie, baie graag weer sal wil illustreer.

Het jy ’n ideale leser/gehoor in gedagte wanneer jy ’n illustrasie maak?

Nie regtig nie – ek dink ek maak elke illustrasie maar net vir die kind bínne-in my. As ’n illustrasie werk, en hy werk in die konteks van die storie wat hy vertel, dan sal hy werk vir enigiemand, of jy nou 3 of 300 jaar oud is, of jy nou ryk of arm is, en of jy nou van my kultuur kom of ’n ander een.

Die grootste toets vir my is dat my drie kleindogtertjies na my tekening kyk, vir ’n oomblikkie stil word, en dan (verkieslik saggies) sê, “wow!”

Is daar een illustrasie/illustrasieprojek uit jou loopbaan wat uitstaan as absolute gunsteling?
 
Dis vir my ontsettend moeilik om te kies tussen die Bright Books-projek en ’n wonderlike boek soos Die Avonture van Alice in Wonderland. Ek moet bieg dat my gunsteling-projek waarskynlik altyd die een is waaraan ek op daai oomblik werk.

Keer terug na die SA-illustreerders indeksblad.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

 
 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top