Rymkletser Hemelbesem by die WAT

  • 0

Die Afrikaanse rymkletser Simon Witbooi, beter bekend as Hemelbesem, is op 3 Oktober die gas by die volgende Woordpret van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal.  Simon is 'n gebore Namakwalander en het reeds ses albums uitgereik, almal in Afrikaans.  Hy is versot op woorde en sê van Afrikaans: "Dis so kleurryk en sóét, ons taal, man! Ek probeer al hierdie verskillende aksente en uitdrukkings weer opgrawe en versprei."

Hy was 'n wenner by die 2010 African Hip-hop Indaba Competition en hy was ook die gasheer van die Nasionale Afrikaanse hip-hop-talentsoekkompetisie by verskeie Afrikaanse kunstefeeste.  Vroeër vanjaar was hy op Vrydagaande die aanbieder van Oppiradio op RSG toe daar op die Suid-Afrikaanse kommersiële musiekwêreld gefokus is.

Muratie Wynplaas sal van hul uitsoekwyne kom bekendstel. Wyn, sap en ligte verversings is vanaf 12:30 beskikbaar en Hemelbesem kom om 13:00 aan die beurt. Die program duur ongeveer 45 min. en sal dus voor 13:45 ten einde loop. 

Kaartjies kos R25 en daar is sitplek vir slegs 50 persone.  Skakel Cecile of Tanja voor of op 25 September  by 021 887 3113 of kontak die WAT by wat@sun.ac.za om u sitplek te bespreek.  Die Buro van die WAT is in Banghoekweg 115, Stellenbosch. 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top