RSG | Sanlam Radiodramaskryfkompetisie 2014

  • 0

 

Kry jy nie die klankgrepe geluister nie? Klik dan op die skakels hieronder:
http://www.freesfx.co.uk/rx2/mp3s/5/5831_1335785757.mp3
http://www.freesfx.co.uk/rx2/mp3s/4/4942_1333367363.mp3
http://www.freesfx.co.uk/rx2/mp3s/1/967_1245804629.mp3
http://www.freesfx.co.uk/rx2/mp3s/2/2290_1293807787.mp3

Maar is dié luistergrepe bruikbaar as radiodrama? Dalk vaar jy beter as jy self probeer! Skryf in vir die RSG en Sanlam Radiodramaskryfkompetisie en jy kan deel in R50 000 se prysgeld.

Kobus Burger is die uitvoerende regisseur: drama by RSG. Hy beantwoord Naomi Meyer se vrae oor die teater van die blinde toe-oë.

Hallo Kobus, kan ek gou aan jou deur klop? Of keel skoonmaak om jou aandag te kry? Wat sou ’n natuurlike manier wees vir karakters in ’n radiodrama om ’n toneel te betree sonder dat woorde gesê word?

In die hulpbronne-afdeling in die handleiding beveel ons Droomskip en ander radiodramas aan. Lees Chris Barnard se Blindemol. Die karakter Feiatjie word so aan die luisteraars voorgestel – sonder om woorde te gebruik. Daar is skulpe en klokkies aan haar rok vasgewerk. Dus hoor jy die karakter vanweë die geklingel. Dis ’n uitstekende manier om ’n karakter aan die gehoor bekend te stel. As jy verlede jaar die radiodrama Altyd gehoor het, sal jy onthou hoe die een karakter in ’n rolstoel was. Haar teenwoordigheid is gehoor deur die geluid van haar rolstoele se wiele op die vloer.

Die RSG-radiodramakompetisie vind later vanjaar plaas en ek sien RSG ontvang elke jaar soveel inskrywings. Is radiodrama dan nie ’n soort kunsvorm wat aan die uitsterf is nie?

Die RSG en Sanlam Radiodrama-skryfkompetisie vir 2014 is reeds volstoom aan die gang. En ons het reeds slypskole in Maart in Kaapstad en Johannesburg. Daar is ongelukkig ’n persepsie dat radiodrama aan die uitsterf is, maar ek weet nie wie dit glo of sê nie. En indien mense dit glo, op grond waarvan? Daar is nie meer groot (Afrikaanse) dramakompetisies nie, want die Nagtegaal-teksprys en Sanlam se SPAT het verdwyn. RSG en Sanlam bied aan dramaturge die geleentheid om nog drama te skryf en dan spesifiek radiodrama. Die kompetisie is amper 20 jaar oud. Watter kunstefees of kompetisie ontvang jaarliks sowat 130 nuwe tekste? En as jy kyk na wie deelneem, is dit die room van Afrikaanse skrywers. Verlede jaar het Marita van der Vyver haar eerste radiodrama geskryf. En Christo Davids syne. Albei weliswaar buite die kompetisie, maar die medium leef. Weekliks ontvang ons SMS’e van luisteraars wat nie meer TV kyk nie, maar radioteater luister. Dit is ’n opwindende en hoogs bekostigbare en kreatiewe medium. En jong skrywers soos Francois van Rensburg en Wilken Calitz het reeds bewys dat daar ’n nuwe geslag jong radiodramaskrywers is. As mense reken die medium sterf uit en dat dit taan, het ons reeds die teendeel bewys met verlede jaar se RSG Kunstefees – Neil LaBute vir die heel eerste keer in Afrikaans! Die lys gaan aan …

Die teater van die blinde, word dit genoem. Vanoggend in die verkeer sit ek ’n ruk lank vas en maak my oë toe. Daar is geluide van rapmusiek uit motors, ’n boor aan die werk, mense wat skree en toeters wat raas. Te veel geraas, in kort. Is radiodramaskryf soos die skryf van ’n gewone storie – daar moet net die regte aantal woorde wees? En hoe leer mens hier’s nou te veel goed wat aangaan?

Skryf ’n goeie storie. Skryf goeie, geloofwaardige dialoog. Skep geloofwaardige karakters. Dis die essensie. Die meeste nuweling-skrywers fokus bietjie té veel op die byklanke en sit elke voetstap en klingel van ’n teelepel in. Of stoele wat skuif. Die skrywer moet kan fokus en net essensiële klanke gebruik, anders word die luisteraar verward. Jou byklanke moet funksioneel wees. Dit kan selfs ’n karakter in die verhaal word. Dink maar aan David Mamet se Eendsonderend. Die eende was ook ’n karakter. Maar die byklanke of musiek moenie die verhaal of karakters oorskadu nie. Met ons slypskole beleef mense die radiodrama-ateljee en sien en hoor dan eerstehands die funksionaliteit van byklanke. Die beste antwoord en resep is: Lúister. Luister radiodrama. Al ons radiodramas van die afgelope sowat twee jaar is op RSG se webblad beskikbaar as potgooie. ’n Fees soos min.

Radioteater of radiodrama is so oorspronklik en kreatief omdat dit jou verbeelding so wonderlik prikkel. Dink maar aan Schalk Schoombie se My Japan en die klank van die tsoenami! Asook Fanie Viljoen se Breking verlede jaar.

Wat is vir jou lekker van die radiodrama? Wat is werklik uitdagend en amper onoorkomelik – met ander woorde, wat kán nie met klank alleen uitgebeeld word nie?

Radiodrama ken nie perke nie. Tot stilte is funksioneel en speel ’n baie belangrike rol in radiodrama. Kyk hoe ver in die toekoms het Fanie Viljoen gaan boer met Breking. Hy het ons tot in 2020 geneem. En dit kos hom nie ’n paar miljoen rand nie – wat ’n TV-reeks of rolprent sou gekos het.

Wat is die goue wenk vir die skryf van ’n radiodrama?

Daar is ’n reeks skryfwenke op RSG se webblad. Klik maar net deur. As ’n mens alles in ’n Twitter-wenk moet opsom: luister, luister, luister radiodrama. Daar is ook tientalle wenke in die handleiding en ons bied meer in ons gratis slypskole. Die medium bied ’n paar beperkings, maar dit is wat dit so opwindend maak. Vir elke skrywer sal daar dalk ’n goue wenk wees, maar as ’n mens werklikwaar jou ore spits en luister hoe mense praat en klink en hoe dit in ’n radiodrama bymekaar kom, dan is 40 bladsye dubbelspasiëring dalk nie so ’n erge uitdaging nie.

Laai 'n volledige handleiding met nog wenke om 'n radiodrama te skryf, hier af.

Besonderhede oor die gratis slypskole gedurende Maart in Kaapstad en Johannesburg sal op RSG aangekondig word. Luister na RSG op 100 tot 104 FM.


Sign up for LitNet’s free weekly newsletter. | Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief.


 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top