rou in die middel

  • 3

julle geraamtes dans buite die kas
seker hoekom ek nog daar wegkruip
ek het meer te sê gehad as wat jou valstande sou kon verteer
jou pofhandjies staan vir niks verkeerd nie
van huis skoonmaak en melktert bak kon ons jou niks leer nie
solank ons net nie in die huis hardloop nie
netnou gly iemand en laat glip die geheime van onder die mat
op jou manier probeer jy almal bymekaar hou
en so is ons almal met pleisters oor die mond die agterdeur uit
ek het belowe ek sou jou sneeuwitjie trui dra as ek groot is
maar dié sneeuwitjie het haarself uit die prentjie getorring
voor die appel die grond kon tref
ek mis jou koekies en stywe drukkies
ek mis jou oondgebraaide tjoppies
hoe het alles so skielik so koud geraak?
die nag is kouer as mens oopoë slaap
en moreoggend kan ek nie meer by jou kom inkruip nie
alles het verander en grootword bly my grootste sonde
nou kan jy my nie meer met koeksisters omkoop nie
en die storie is nie meer stroopsoet nie
steeds probeer jy almal se sondes versier

wat gaan jy doen as die icing smelt en al die basaartannies sien dat jou gebak eintlik ook maar rou is in die middel?

  • 3

Kommentaar

  • Johann de Jager

    Ja, oorlede Peers Hartzenberg het van een van my gedigte die volgende gesê: Met sulke gedigte sal die volk weer begin poësie lees. Van hierdie gedig dus ergo, so. En in my gedig was daar nog swakheidjies wat ek na jare eers weer kon raaksien, hier dalk ook, maar tog verwelkom mens hierdie mens-mens gedig. Jadee Jaguar.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top