Rooi in die reënboog

’n Maand gelede kuier ons by familie wat Engeland toe geëmigreer het. Dit is September en die aanvang van herfs. Ons verwag koue en grou weer, soos almal altyd waarsku, maar die dae is sonnig en ná die een hittegolf op die ander in Suid-Afrika, is die soelheid in die lug ’n welkome verandering. Ons gaan stap met hulle honde in ’n woud, binne in die dorpie waar hulle buite Londen woon. Ek maak dubbel seker die deur is gesluit, hulle lag vir my.

Na drie dae in Engeland, is ek bereid om my visum in te ruil vir ’n Britse paspoort. Soos dit ’n eerstewêreldland betaam, werk alles. Data is goedkoop en internet vinnig. Bestel jy ’n pakkie van Amazon, word hy môre by jou deur afgelaai, op die presiese tyd wat jy versoek het. Pille wat te duur is by ’n apteek, bestel jy met ’n voorskrif teen helfte van die prys oor die internet.

In Marks & Spencer kreun die rakke onder klaarvoorbereide etes wat jou vir ten minste ses maande elke aand ’n ander gereg kan laat eet.

Ek is die blyste oor die Fruit Pastilles van Rowntrees wat ek in hulle supermark raakloop en eet ’n groot pak per dag. In Suid-Afrika hou die winkels dit nie meer aan nie, net ’n groot apteek oor Kerstyd. “Hierdie lekkers hoort op julle rak tussen die antidepressante,” het ek eendag vir die apteker gesê. Hy neem my nie ernstig op nie. Ek pak die skuld op banting.

My man tel in elke groentewinkel onbeskaamd die tamaties op en ruik daaraan, ter aanskoue van verbaasdes. Ons hou aan met vergelyk en ek weet mens moenie, maar in ons land ken ons nie meer die outydse soetsuur-reuk van tamaties nie. Net die waterige soort. Ons koop vet vye wat op straat uitgestal is en eet dit skil en al. Alles is groter en langer – appels, perskes, piesangs, seldery en wortels in alle kleure: oranje, geel en donker pers.

Tot die teesakkies bult van die blare.

Binne ’n week sit my klere gegiet aan my lyf.

Manlief koop meer klere in een dag as wat hy die hele jaar in sy eie land doen.

“Kyk net die kwaliteit van die lap,” roep hy soos ’n haute couturier uit en laat my aan elke kledingstuk voel. Ek ken hom nie so nie.

“Ook maar in China gemaak,” sê ek jaloers, omdat ons inderdaad nie meer die gehalte gewoond is nie.

Ons drink wyn afkomstig van Bordeaux, Nieu-Seeland en Argentinië.

Ek begin dink daaraan om ’n agentskap op te spoor wat vir my ’n werk in Engeland kan soek.

“Hoekom?” vra my man.

“Die aanwesigheid van kwaliteit en die afwesigheid van vrees,” som ek my gevoel op.

Ons arriveer by die O2 stadion waar Andrea Bocelli optree, met ’n kabelkar per sweefspoor, en eet by een van die honderde restaurante.

Terwyl ons in die ry staan om die stadion binne te gaan, hoor ons drie mense agter ons in Nederlands gesels.

“Moenie so hard praat nie, ons verstaan elke woord,” sê my man wat geen grense het as dit by vreemdelinge kom nie.

“Suid-Afrika,” roep die Hollander opgewonde uit en groet ons met die hand soos ou vriende. Die omstanders kyk ons groepie nuuskierig aan. Ons noem opsetlik en effens hovaardig Madiba se naam asof ons hom persoonlik geken het, maar swyg oor die Springbokke. Die dae wat mense op aandag spring as hulle die woord hoor, is verby.

“Ek het ’n paar jaar gelede vir ses maande in Potchefstroom studeer,” vertel die man. “Dit was die beste tyd van my lewe. Ek het Johannesburg en Kaapstad gesien en wonderlike vriende gemaak. Suid-Afrikaners is die heel beste mense.”

“Hy het met vreemde woorde by die huis gekom,” sê sy ma wat haar opgewondenheid oor Andrea Bocelli nie kan beteuel nie.

“Watter woorde,” vra ons nuuskierig.

“Braai.” Natuurlik.

“Lekker.” Ja.

“En plakkie.”

“Plakkie soos in flip flops?”

“Ja, daardie plakkie.” Dit verstaan ons nie, maar toemaar.

Toe ons al daar anderkant stap om ons sitplekke te soek, hoor ons “Suid-Afrikaaaa” soos die Hollanders agter ons aan groet en ek begin wonder wat dit is wat ander sien en ek nie meer nie. Ek het ’n blinde kol ontwikkel oor my eie land.

Ons gaan vir ’n naweek York toe in die noorde van Engeland en woon in ’n gastehuis wat deur twee mans bedryf word. Die gastehuis is baie jare gelede deur Matthew se ouers begin en hy en Paul het dit die laaste twee jaar oorgeneem en bestuur. Ons is oorweldig deur hulle gasvryheid. ’n Hele boks sjokolade wag vir ons op die kussing en botterkoekies in die voorportaal.

“Van waar is julle?” hoor ons die bekende vraag.

“Suid-Afrika.”

“My gunsteling land in die wêreld,” roep Matthew uit en wys ons die tatoeëermerk op sy enkel; die buitelyne van die vasteland van Afrika.

“Ek het vir ’n jaar daar skoolgehou en kinders leer rugby speel.”

Ja reg, ’n Engelsman wat ons mense leer rugby speel. My pa draai in sy graf om.

Ons slaap twee nagte in die gastehuis en soggens by die ontbyttafel word ons vergas op stories van hul lewensfilosofie om net twee jaar in een stad, dorp of land te woon voor daar opgepak word op soek na ’n nuwe ervaring. Elke keer eindig die gesprek by Suid -Afrika, waar Matthew begeer om weer te woon.

“Wat is dit aan die land?” vra ek die heel laaste dag, sommer so in die groet.

“Die natuur. En steak,” sê Matthew. “Ek kan nie wag om my tande in ’n sappige stuk steak te slaan nie.” Dit verstaan ek, want vleis is duur en in hulle restaurante onbekostigbaar.

“En die mense se lewensbeskouing,” gaan hy voort. Daar is ’n just get on with it-ingesteldheid wat ek nêrens anders al teëgekom het nie.” Hy vertel hoe hy vir kinders skoolgehou het wie se ouers albei dood is aan VIGS of tering en hoe hulle steeds probeer om die beste van hul lewe te maak.

So anders as die Britte wat oor alles kla en drama van nietighede maak, sê hy.

Sy woorde bly my by. Ons is terug in Suid-Afrika en die son is skerp en die klanke hard.

Ek sien ’n vrou vir terapie wie se man sy werk verloor het. Sy hou die pot aan die kook, want daar is drie kinders in die huis. Die man soek werk, maar kry nie, hy is vyftig. Dis moeilik tye. Sy word met kanker gediagnoseer en terwyl sy chemoterapie en bestraling ontvang, hou sy aan werk. Sy is moeg en haar hare val uit, maar iemand moet kos op die tafel sit.

Ek lees in die koerant van ’n matriek meisie van KwaZulu-Natal wat op pad om te gaan eksamen skryf deur iemand oorval en verkrag word. Sy gaan skryf steeds haar eksamen.

Foto’s van onverskrokke dosente wat studente onderrig op trappe, onder bome en parkeerterreine terwyl die kampus agter hulle in vlamme opgaan tydens die #feesmustfall-protes, word op sosiale media versprei.

Mense wat in Johannesburg ná ’n werksdag huis toe ry, se pad word deur ’n wolkbreuk versper en binne sekondes is honderde pendelaars in die moeilikheid. Motors trek van die pad af en motoriste hardloop deur middelrif-diep water om passasiers uit taxi’s te help. ’n Vragmotorbestuurder pluk ’n vrou uit haar motor. Oomblikke daarna verdwyn die motor in ’n watermassa en vir die eerste keer in sy lewe doen hy eerstehulp, net daar, agter op die vragmotor se bak. Die volgende dag ry almal weer dieselfde pad. Die werk wag.

’n Man bekend aan ons beland in die hospitaal nadat hy ernstig beseer word deur betogers. In die hospitaal, terwyl hy veg vir sy lewe, pleit hy by sy vrou dat sy en die kinders onmiddellik die land moet verlaat. Sy wil hom nie alleen laat nie. Just get on with it, raas hy met haar. In Zimbabwe aangekom, hoor sy by ander hy het aan sy wonde beswyk.

Ons weet nie van hierdie eienskap van ons nie. Dis soos rooi in die reënboog wat elke ander kleur raaksien, behalwe homself. En anders as vet perskes, blink appels en lang piesangs, kan ’n ingesteldheid nie uitgevoer word nie en miskien is dit juis ons sterkste produk, geslyp deur jare se friksie. “Die eelt wat in die oester blink,” soos Sheila Cussons dit sê. Ons vermoë om op te staan en om te just get on with it.

Kommentaar

  • Juliana, jy is 'n hartsmens, en skryf vir die hart - die trane loop vrylik oor die liefde vir my land, die hartseer vir my land ...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top