Robbie Wessels: "Dit het al hoe meer gemaklik vir my geraak om oor te slaan na dieper liedjies"

  • 0

Die sanger en akteur Robbie Wessels, mees bekend as ’n grapjas maar ook met ’n swetterjoel minder humoristiese liedjies in sy arsenaal, het pas ’n nuwe album, Als wat ek het, vrygestel ... nie sonder omstredenheid nie. Hy beantwoord ’n paar vrae.

Goeiedag, Robbie. Hoe's dinge?

Gaan lekker, dankie.

Geluk met die vrystelling van jou nuwe album, Als wat ek het. Dit is 'n tydjie sedert jou vorige vollengte-album, Kaalvoet (2011), verskyn het – waarom het dit relatief lank geneem vir die nuwe album om te verskyn? Hoe het die skryf- en opnameproses verloop, vergeleke met jou vorige albums?

Ek was redelik besig met acting goedjies, maar ek het ook maar gewag dat die inspirasie my beetkry. Die opnameproses was soos altyd lekker en dit was weer lekker om die musikante te sien speel oppie album.

Een van die snitte van Als wat ek het het al gesorg vir omstredenheid – "All Blacks teen die All Blacks". Die musiekwebwerf Pressto het uitgevaar teen die snit en ook die video, en Huisgenoot het berig oor "verdeeldheid" wat heers oor die video en snit. Wat is jou gevoel oor hierdie reaksie? Wat was volgens jou die essensie van die snit en video? Dink jy van die kritiek is geregverdig, of wat sal jy graag wil sê vir mense wat ontsteld is oor die inhoud en dit as neerbuigend sien?

Wel, eintlik het die kritiek gekom en weer vinnig gegaan. Ek sou sê as daar regtig enigiets in die lied was wat skade veroorsaak het, sou die kritiek nog steeds aangegaan het, maar die stof het vinnig gan lê.

Humor is natuurlik een van jou kenmerke en sterkpunte as musikant en akteur. Waar kom jou liefde vir humor vandaan? Het jou verstaan van humor se waarde in musiek, en die hantering van die lewe, oor die jare verander? Met die video en snit "All Blacks vs All Blacks" in gedagte, asook dat jy 'n bekende en gewilde figuur is, voel jy soms druk om op 'n sekere manier humor in te span met dit wat jy skep, soos byvoorbeeld dat borge of aanhangers verwag daar moet nasiebou-elemente in die inhoud wees, of voel jy of jy vryheid het om te doen wat jy graag wil in hierdie opsig? Hoe dink jy moet kunstenaars in die algemeen omgaan met hierdie soort vraagstuk?

Ek dink die snaaksste materiaal is dit wat vanself gebeur. Met komedie voel ek daar moet nie te veel inspanning wees met die skryfproses nie. Toe ons afgekom het op die idee van die All Blacks teen die All Blacks het ek geweet dis ’n sensitiewe onderwerp en het ek vir myself gesê, indien ek die lied begin skryf en daar kom nie vinnig lekker idees nie, gaan ek nie aanhou karring om iets te probeer ryp druk nie. Toe ek egter begin skryf, was dit lekker en lig en daar het vinnig idees opgepop soos straatnaamveranderings, die haka van die All Blacks en die nuwe haka van die Suid-Afrikaanse All Blacks, naamlik die toi-toi. Toe ek ná Afrikaans is Groot vir twee swart meisies wat gedans het oppie show presies vertel waaroor die lied gaan, toe lag hulle lekker. Toe sing ek en die een meisie sommer saam “di chelete chelete, jô jô jô”. 

Humor is egter ook glad nie al wat op Als wat ek het verskyn nie. Onder meer getuig die titelsnit, "Als wat ek het", van diepsinnige temas en skryfprosesse. Trouens, van jou aanhangers sal sê dié soort snitte staan meer uit op die album as die meer grappige snitte. Is dit vir jou gemaklik om oor te slaan van die grapperige persona en skryfproses na die meer ernstiges, ook tydens optredes? Waarin voel jy deesdae die gemaklikste? Hoe dink jy sal die balans van albums en optredes in hierdie opsig vir jou in die toekoms lyk?

Ja, dit het al hoe meer gemaklik vir my geraak om oor te slaan na dieper liedjies toe in my optredes. Soms laat dit my orkeslede vir my sê: “Robbie jy raak nou dalk bietjie te diep,” maar dis tog asof ek soms ervaar die mense by my vertonings wil graag meer dieper songs van ons hoor.

Die sanger Riana Nel het saam met jou gewerk aan twee liedjies op die album – "Als wat ek het" en "Iets bekends". Kitaarman Mauritz Lotz het ook heelwat werk aan die album gedoen. Hoeveel waarde lê vir jou daarin om saam met ander kunstenaars te werk aan liedjies en opnames? Met ander woorde, hoeveel sterker word 'n lied in so 'n proses, en watter uitdagings is daar wat betref kompromieë wat bereik moet word tussen uiteenlopende idees en inslae? Is daar ander kunstenaars saam met wie jy nog graag wil skryf en/of opneem?

Die laaste twee jaar of wat het ek nogals saam met mense gewerk soos Ewald Coleske, maar meer met idees uitruil oor liedjies, en veral Arnold en Ewald Coleske se musikale talent het my al baie gehelp met liedjies, maar ek hou maar daarvan om alleen aan die woorde te skryf. Daarmee voel ek nog nie baie gemaklik om dit saam iemand te doen nie. Riana Nel se bydrae tot my laaste album het baie gehelp en van haar melodieë en woorde het regtig die album baie gehelp, so ja, dit is soms ’n uitdaging om saam met ander kunstenaars te skryf, maar op die ou einde kan dit net positief vir ’n mens se album wees.

Jou storievertelvermoëns is ook welbekend, en dit slaan weereens sterk deur op die nuwe album. Mense vra graag vir sterk storievertellers soos Dana Snyman die vraag: "Hoeveel daarvan is waar?" Hoe reageer jy op dié vraag oor die stories wat in jou liedjies vertel word, byvoorbeeld op die snitte "Floyd McClung", "Krummel en Baksteen" en "Chakile en Jimanzi", asook die groot Youtube-treffer "Liewe ouers"? En dan natuurlik, hoeveel daarvan hóéf waar te wees?

Ja, mense vra my nogals watter stories is waar. Soms is die stories wat waar is die treffendste, want dis gewoonlik iets waarmee mense kan identifiseer, omdat dit miskien al met hulle ook kon gebeur het. Dis vir seker makliker om ’n lied te skryf wanneer jy ervaringe het van regte dinge wat gebeur het, al is die storie nie heeltemal waar nie, maar gebaseer op ’n ware verhaal. Ek dink nie noodwendig die stories moet almal waar wees nie, maar ek voel dit moet elemente hê van regte mense en dinge wat met regte mense kan gebeur.

Jy is nou al jare lank een van die meer gewilde kunstenaars op die Afrikaanse toneel. Watter hoogtepunte staan vir jou uit wat skryf, opnames, optredes en toer betref? Is daar enige voorvalle of plekke wat bietjie vreemd uitgedraai het, of wat jy eerder sal wil vergeet?

Hoogtepunte is vir seker die groot konserte, soos Skouspel ’n paar jaar terug en ook nou Afrikaans is Groot, waar daar ’n klomp kunstenaars saam is. Daar gebeur snaakse dinge backstage, waar kunstenaars mekaar soms aanmoedig om snaakse goed op stage te doen, soos daai jaar by Skouspel toe ek net in ’n ski pant en T-shirt oppie verhoog geklim het nadat Kurt Darren my gedare het. Dan ook by Afrikaans is Groot waar die orkes my gedare het om sekere goedjies anders te doen tydens die komedieskets. Daar’s net ’n ander atmosfeer wanneer al die kunstenaars saam is. Iets wat nie altyd so vloei by mens se eie konserte nie.

Wat hou die nabye en verre toekoms vir Robbie Wessels in (insover jy iets daaraan kan doen)? Sal musiek jou fokus bly, of is daar nog terugkere na toneelspel op die horison?

Oppie oomblik sal ons nog met die nuwe album toer, maar daar is vir seker acting innie toekoms. Ek en my broer werk reeds aan ’n film wat ons volgende jaar wil maak.

Wat is die sin van die lewe?

Die sin van die lewe vir my lê by die Skepper van die hemel en die aarde. God die Vader, Seun en Heilige Gees.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top