Richmond – ’n woordlandskap tussen vergeet en onthou

  • 0

Clinton V du Plessis het Richmond se sewende Bookbedonnderdfees bygewoon en deel sy herinneringe.

I

Terwyl ek voorberei vir my sessie by Richmond se sewende Bookbedonnerdfees (23 tot 25 Oktober 2014), kom ek op die volgende af: Orhan Pamuk ontvang in 2006 die Nobelprys vir letterkunde. Tydens sy lesing, getiteld “My father’s suitcase”, wat hy by die aanvaarding van die prys gelewer het, maak hy die volgende uitspraak: “What literature needs most to tell and investigate today are humanity’s basic fears: the fear of being left outside, and the fear of counting for nothing, and the feeling of worthlessness that come with such fears.”

(PG du Plessis se Tiemie sê dan juis ook vir haar ma: “Ek wil van geweet wees” (Siener in die suburbs).)

En verder, sommige van sy antwoorde op die vraag oor waarom hy skryf:

I write because I am angry at all of you, angry at everyone.
I write because I want others, all of us, the whole world, to know what sort of life we lived, and continue to live, in Istanbul, in Turkey.
I write because I am afraid of being forgotten.
I write because I have a childish belief in the immortality of libraries, and in the way my books sit on the shelf.
I write because I have never managed to be happy.
I write to be happy.

(Antjie Krog het ook eens geskryf omdat sy “woedend” is.)

In 2013 verskyn my bundel Rangeer – opgedra aan my pa. Hy kon – anders as Pamuk se pa – nie vir my ’n koffer vol geskrifte nalaat nie, net herinneringe wat, indien ek dit nie self sou opteken nie, verlore sou raak, verdwyn van die radar.

Met die skryf van Rangeer besef ek skielik: ek is nie meer so kwaad vir almal nie – tyd bring berusting, blus die vlamme, temper die wrewel, leer jou om (miskien) poësie te skep uit die pyn.

Ironies – dat ek nog steeds in Afrikaans skryf, op Richmond in ’n dorpsbiblioteek (van die Ubuntu Municipality!) mag staan en Afrikaans lees. Aan die hand van die gedig “Die groen ghoen”, uit dié bundel, vertel ek die gehoor dat sommige mense nie wil hê dat ons moet praat oor die ongemaklike dinge van die verlede nie, maar dat ons dan, deur ons stilswye, benewens die slegte uit daardie tye, juis soms óók die goeie dade deur die groterwordende sifgate in die geheue laat val.

Daarna volg nog gedigte uit die nuwe bundel, Woorde roes in die water. Tydens die pouse vir tee en meer koop ywerige woordliefhebbers my hele besending bundels. Ek bekeer selfs een of twee afvalliges tot die woord. “Am not really one for poetry,” merk hy op, “but I enjoyed it.” 

Ek is aangenaam verras.

II

’n Man, effe bles, met die oorblywende hare grys, blou T-hemp stap vinnig oor die straat na my en kom skud opreg hand. Sy naam is Brand … Christo Brand. Hy oorhandig sy visitekaartjie: “Former Apartheid Prison Warden”. Hy is hier om sy boek bekend te stel. En die rede vir die kom groet? Hy soek ’n Engelse vertaling van my gedig, opgedra aan Madiba, wat ek voorgelees het …

Brand se voordrag die Saterdagoggend is onopgesmuk, uit die hart en vol rou emosie. Die gehoor is duidelik aangedaan. Ek kan sien waarom Ahmed Kathrada in sy voorwoord tot Doing life with Mandela, my prisoner, my friend die volgende oor Brand skryf: “My lasting impression of Christo Brand is that he’s a very good human being. He’s not a politician; he’s just a very caring man who took chances for other people, which could have brought him trouble.”

III

Vroeër het Derick van der Walt (ons ruil boeke uit) gesels oor sy bekroonde jeugroman. Dennis Walters bring ’n pragboek uit, Old brigdes of the Eastern Cape.

Leslie Howard verduidelik die ontstaan van, en vertel staaltjies uit, Barrydale Unplugged.

IV

Peter Cleary, ’n voormalige motorhandelaar, wie se aanbieding ek die Donderdag gemis het, gee my ’n gratis eksemplaar van sy boek No country to call their own – oor die weë van iemand wat onder die Bevolkingsregistrasiewet op ’n dag as “Cape Coloured” herklassifiseer word.                                                                    

Meg Vandermerwe (so word dit op die boekomslag gespel), verbonde aan UWK se kreatiewe skryfskool en dosent in Engelse letterkunde, se Zebra Crossing ishaar debuutroman. Die verhaal handel oor ’n Zimbabwiese vrou – ’n albino – en die stigmas wat aan haar toestand kleef, asook xenofobie. Die netelige en hoogs emosionele kwessie van of Vandermerwe (as wit vrou) hoegenaamd ’n verhaal oor iemand van ’n ander kleur durf skryf, kom onder bespreking.

V

Darryl David doen ’n tweetalige onderhoud met Dominique Botha. Sy verduidelik die kompleksiteit rondom haar skrywe, Valsrivier: Is dit biografie of roman? Botha verkies om net daarna te verwys as “’n teks”. Sy móés net begin skrywe, omdat die gebeure rondom haar broer se dood besig was om in haar geheue te vervaag. Botha sê dat skryfskole jou help in die opsig dat dit aan jou sperdatums gee en dat jy baie moet lees. Daarna lees sy voor uit die boek (eers uit die Afrikaanse een) oor hul kinderjare, dan (uit die Engelse een) oor die besoek deur haar en haar moeder aan die militêre hospitaal na haar broer se poging om selfmoord te pleeg. Dié gedeelte is ’n brutale voorhamerteks; sy word ’n Loftus Marais met sy “fokken lugdrukboor” en laat die fyn en delikate glasware in die voorkamer aan skerwe spat. Ongelukkig het sy nie eksemplare vir verkoop saamgebring nie.

VI

Die bekende kunskurator en -versamelaar en kenner van Walter Battiss se werk, Warren Siebrits, skilder en weef ’n hoogs onderhoudende mosaïek van dié kunstenaar se eksentrieke, aweregse en eiesinnige blik op die lewe. Battiss met Nike’s – lank voor dit in Suid-Afrika mode geword het; Battiss met sy lang hare, sy Rolls; en dan ’n vermaaklike swart-wit foto van hom (sonder klere) met ene “Su” besig om die “rain dance” uit te voer. Die skepper van Fook Island, met sy eie alfabet, geldeenheid, paspoort en alles wat daarmee saamgaan. Die paradys, geskep binne die kop, die enigste plek waar jy werklik vry kan wees ...

Later volg CJ (Jonty) Driver, tans woonagtig in Engeland, vyand van die vorige bestel, lank toegang tot die land geweier, boeke verbied, eensame aanhouding. Hy lees roerend voor. Ek koop sy boek, ’n huldeblyk aan sy jonger broer wat dood is aan kanker, en hy teken dit: “For Clinton fellow-poet with best wishes.” Die boekie gaan ’n spesiale plek op my boekrak kry!

Louis Esterhuizen beken dat sy eerste liefde musiek en nie skryf is nie; dat hy eerder sou wou komponeer of ’n musiekinstrument sou wou bespeel. Na sy sessie verkoop hy flink Die afwesigheid van berge.

Daar is uitstallings: Willem Boshoff, Francois du Plessis, Maja Marx, en andere.

Ek gesels informeel met feesgangers oor die invloed van kreatiewe skryfskole, selfpublikasie, die konsep van “laatverse” (ek is te jonk daarvoor, gooi ek wal).

Joanne Hichens (misdaadfiksieskrywer) gesels entoesiasties oor Adults Only, ’n bloemlesing erotiese verhale deur hoofsaaklik debuutskrywers.

Letters of Olive Schreiner is ’n pragpublikasie waaroor Elizabeth van Heyningen gesels.

VII

Saterdagoggend is dit ook tyd vir die jaarlikse draadkarkompetisie. Na afloop van die “resies” probeer van die kinders die karretjies aan feesgangers en inwoners verkwansel. Ek sit vir ’n wyle op die bank buite die biblioteek toe hy my nader. “Net R33,” probeer hy. “Is jy lief vir lees?” vra my vriendin hom. “Nee, ek is lui vir lees,” antwoord hy eerlik.

Hy het ’n wit plakker op sy linkerbors. Sy naam is netjies met swart kokipen daarop geskrywe. Ons lag vir sy naam: Tivole. Hy sien ons kyk geamuseerd na die naam en spreek dit vir ons pront uit net soos daardie wulpse dame in die wit hempie in die kraanadvertensie op televisie – Tivoli! Sy karretjie kry hy nie aan my verkoop nie. “Wie het dit gemaak?” wil ek weet. “Self,” probeer hy, maar sy gewete pla en hy erken: “My pa; ek het net gehelp.”

Die volgende oggend ry ons verby hom. Sy T-hemp is nou binnekant buitetoe aangetrek. Hy het nog vier ander knapies saam met hom, dra skoolsokkies by sy skoene – ’n meisie se sokkies. Hulle dwaal doelloos.

Ek gee hulle geld vir koeldrank.

VIII

Dawn Garish, ’n mediese dokter, met ’n belangstelling in die helende effek van kuns en kreatiwiteit en met ’n hele aantal publikasies op haar kerfstok, doen van die laaste sessies. Op Books Live sê sy: “I am slowly changing from a doctor who writes into a writer who doctors.”

Gepas verskyn die volgende aanhaling op haar PowerPoint-aanbieding: “Play is characterised by unpredictability and spontaneity, and requires the unexpected. Play may be the daytime version of dreaming. (J Panksepp J)”

Is alle kunstenaars nie maar net kinders wat nie wil opgroei nie, nie ophou droom nie?

IX

Elvis maak sy verskyning; hy rock ’n roll die biblioteek aan die brand. “Suspicious minds”, “Blue suede shoes”, “Love me tender”, “In the ghetto”, “Jailhouse Rock”, “Heartbreak Hotel” en ander.

Richmond se eie kitaarman, ene Spokie Klaaste, kom maak sy verskyning in die deur. Sy skaduwee val oor Elvis, Sy lyftaal spreek van verwondering en terselfdertyd bemerk ek ’n tikkie “professionele jaloesie”. Iemand anders sien dit ook raak en vra Elvis vriendelik om die plaaslike talent ’n oomblik voor die gehoor te gee. Hy gryp, donkergebril en kitaarkordaat, die geleentheid aan en sing sy eie Afrikaanse volksliedjie. Iewers in die liedjie maak Beaufort-Wes en die p-woord ook hul onverwagte opwagting. Hy kry sy applous en staan verleë terug … oorweldig deur die oomblik.

Later die middag ontspan ons op die stoep van die gastehuis. Christo Brand sit ook buite, ons gesels. ’n Omie luister in sy motor na die stryd tussen die Stormers en Lions.

“Wat is die telling?” vra ek, en dink aan daardie apokaliptiese kortverhaal van Henk Wybenga getiteld “Haak Vrystaat”.

Elvis daag op, vra vir ’n foto saam met Brand en bied ons koeksisters aan.

X

Die volgende dag vertrek ons. Iewers in Loopstraat, teen ’n lamppaal, hang ’n verbleikte plakkaat van ’n politieke party. Die tyd, wind en verweer sal afreken met die boodskap/waarskuwing daarop.

Net die legendes sal voortleef: Elvis, Battiss en Madiba.

Snaaks dat ek juis tóé dink aan Johnny Clegg:

Asimbonanga (We have not seen him)

We are all islands till comes the day
We cross the burning water

Who has the words to close the distance
Between you and me.

Ns. Ek het hier bo net oor die sessies wat ek Vrydag en Saterdag bygewoon het, verslag gedoen.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top