Richard van der Ross: politieke aktivis én ‘n gentleman

  • 3

Richard van der Ross en Michael le Cordeur tydens die UWK se somergradeplegtighed in Februarie 1980 (foto verskaf)

Politieke aktivis, skrywer, navorser, opvoedkundige. Dis hoe ek die eerste swart rektor van die Universiteit van Wes-Kaapland sal beskryf. Self was hy baie lief om na die UWC te verwys as die University of the Working Class. Die studente verwys deesdae na “Udubs” – kort vir “UdoubleUC”. Daar is al spottenderwys verwys na UWK as die “Kollege in die bos” oftewel “Bush”. In hierdie geval het die “bos” bestaan uit plate en plate Port Jackson-bome, die indringerplant wat so vervuil is op die Kaapse Vlakte.

Dit was die jaar net na die jeugopstande van 1976 dat ek as 17-jarige op die Udubs aangekom het. 1977. Ek onthou hoe ons soggens deur hierdie bos moes stap vanaf die Unibell-stasie na die Kêf. Die koshuis was baie klein, en net bestem vir diegene wat van ander provinsies afkomstig is. Wellington was naby genoeg vir ’n treinrit in die derdeklas (wit mense het eersteklas gery en die gegoede bruin mense in die tweedeklas).

Derdeklasburgers. Indringerstudente.

Tuin van Digters 2013: Richard van der Ross, Michael le Cordeur, Adam en Rosalie Small, Ampie Coetzee (foto: Amanda Botha)

By Bellville klim jy uit nadat jy meestal gestaan het, want die derdeklas is vol. Dis goedkoop en bekostigbaar, veral as jou beurs net R165 per jaar bedra en jy boonop alle boeke daarvan moet verhaal, om van klasgeld nie eens te praat nie.

Die eerstejaars was ingeprop in die tydelike houtstrukture net oorkant die Kêf. Goedkoop akkommodasie, eksklusief vir bruin mense. Hulle is mos met alles tevrede.

Wat wel saak gemaak het, was die gehalte van die lesings daarbinne. Daar het ek dosente soos Jakes Gerwel leer ken, wat ’n ewige liefde vir letterkunde en veral Brink en Small se werk by my gekweek het. Dié dat ek vandag self ’n letterkundedosent is. Daar was ook Tony Links. Anders as Jakes kon jy hom altyd deur ’n ring trek. Grys pak en bypassende das en sakdoekie.

Van my klasmaats en tydgenote was Peter Witbooi (vandag professor in wiskunde aan die UWK); Russel Botman (later rektor van die US), die voorsitter van die Studenteraad saam met ysters soos Henry Matthys, Leonardo Appies en Cecyl Esau (almal politieke aktiviste), Hein Willemse, Tyronne Pretorius, Danny Titus en Llewellyn Macmaster. Laasgenoemde was self later ’n studenteraadvoorsitter wat tydens die oproer in die jare ’80 gearresteer was.

Maar terug na die Kêf, die naam wat die studente aan die baie beskeie kafeteria gegee het. Skaars plek vir 100 studente, maar tydens die middaguur was dit ’n miernes van bedrywigheid. Vir R5 kon jy ’n Copenhagen (’n doughnut met versiersuiker daarop) en ’n koffie koop. Dit was die meeste van ons se ontbyt voordat ons begin klas draf het. Vir middagete het jy en ’n klein groepie pelle ’n las gemaak vir ’n bunnychow. Dis ’n uitgeholde halwe brood volgestop met die heerlikste slamse kerrie op aarde. Tot vandag toe is dit een van my gunstelingdisse en ek vra dikwels my vrou om dit vir my te maak.

Richard van der Ross en Michael le Cordeur tydens die UWK se wintergradeplegtigheid in Junie 1981 toe Michael 'n HOD verwerf (foto verskaf)

Maar dit is in daardie kêf waar van die belangrikste politieke vergaderings gehou is. Daar het ek na toesprake geluister van Allan Boesak, Ebrahim Patel, Russel Botman, Henry Matthys en Leonarde Appies. Almal onverskrokke leiers wat ons denke help vorm het.

En oor dit alles was daar een man wat soos ’n engel oor ons gewaak het: prof Dicky – dis die bynaam wat die studente aan hul rektor gegee het. Hy sou in 1975 die leisels oorneem. Met die uiters moeilike taak om ’n universiteit in wording deur die stormagtige tydperk van die 1976-opstande sowel as die studente-onrus in die vroeë ’80’s te stuur, was dit ’n onbenydenswaardige taak. Dit het gevra vir ’n man met visie, bonatuurlike intelligensie, senuwees van staal, Job se geduld en Salomo se wysheid. Al hierdie eienskappe was gesentreer in een man: Richard van der Ross. Sy vermoë om die moeilikste vrae met vernuf te systap en jou te dwing om self te soek vir die antwoorde op die vrae in jou gemoed, het hom die verdere bynaam van Tricky Dicky besorg.

Ander skrywers van huldeblyke oor Richard van der Ross sal uitwei oor sy betrokkenheid by die Arbeidersparty; dat hy die redakteur was van die Engelse Kaapse dagblad Cape Herald, wat hoofsaaklik op bruin lesers toegespits is. Dis reg so en daarmee is niks verkeerd nie. Hy was immers ’n veelkantige persoonlikheid en geen enkele huldeblyk sal reg laat geskied aan ’n man wat in meer as een opsig sy mede-akademici ver vooruit was nie.

Sy boek In our own skins (A political history of the coloured people) bly een van die gesaghebbendste navorsingsoorsigte wat nog oor bruin mense en hul politieke verlede geskryf is en het steeds ’n ereplek op my boekrak.

Van der Ross had die vermoë om onder die mees stresvolle omstandighede koelkop te bly en sy waardigheid te behou, en hy sou nooit, maar nooit iets anders as die volmaakte (en bes geklede) gentleman wees nie. Toe studente wat op ’n eetstaking was, na sy kantoor opgeruk het en gekla het dat hulle honger is, het prof Dicky sy toebroodjies met hulle gedeel.

Dis hy wat vir Adam Small teruggebring het na UWK toe (nadat Small in die vroeë jare ’60 die kampus moes verlaat toe hy hom aan die kant van die studente geskaar het). Meer as dit: hy het Small sommer as hoof van die Departement Maatskaplike Werk aangestel, want het hy opgemerk: Small is te waardevol, te belangrik vir die bevordering van die idee van die demokrasie om nie intens by die UWK betrokke te wees nie.

Male sonder tale sou hy hom tussen betogende en klipgooiende studente bevind. Dikwels was hy die front tussen sy studente en die polisie, soos daardie verskriklike dag toe ons almal agter hom ingeval het om aan die grootste protesoptog van my lewe deel te neem. Prof Dicky het self die optog gelei, met Jakes Gerwel (toe dekaan van Lettere en Wysbegeerte), Jaap Durand (toe dekaan van Teologie) en Jeram Reddy (toe dekaan van Tandheelkunde) wat saam met hom die voorhoede gevorm het.

Dit was hy: hy sou nooit sy studente vir die spreekwoordelike wolwe gooi nie. Hy sou lei, en die voortou neem. So het hy onteenseglik bewys dat UWK staan vir ’n ideaal: die droom van ’n demokrasie, en hy sou daardie droom self lewend hou in die koppe van sy studente. Sy passie vir mense, vriende en sy studente had geen perke.

Deur sy leiding en rustige styl het hy bewys dat ’n politieke aktivis nie met ’n gebalde vuis en luidkeels van ’n verhoog af hoef te staan en skreeu en vloek nie. Hy sou daarom beroemd raak onder sy studente as hy tydens die lewendige debatte tussen homself en ander altyd gesê het: “Don’t raise your voice, improve your argument.”

Dicky van der Ross het bewys dat beskaafdheid, passie en goeddeurdagte debatvoering ’n hele nasie kan transformeer. Dit het ’n onuitwisbare merk op my, en ek glo my medestudente, gelaat. Ons kon nie anders as om dieselfde droom te leef nie.

Hiervoor sal ek hom altyd onthou. En die kiekies waar hy my “cap” in 1980 (BA), in 1981 (HOD) en in 1985 (Hons) sal vir ewig van my kosbaarste besittings bly.

Dit is dan ook reg dat die Stad Kaapstad ereburgerskap aan hom toegeken het, maar gee my een rede waarom Modderdamweg wat langs die UWK verbyloop, of die nuwe saal op die kampus, of die ultramoderne biblioteek en studentesentrum nie na hierdie formidabele man vernoem is nie.

Stil broers. Daar gaan ’n man verby.

Lank lewe Richard van der Ross.

Michael le Cordeur is hoof van die Departement Kurrikulumstudies aan die Universiteit Stellenbosch en doseer Afrikaanse letterkunde.

  • 3

Kommentaar

  • Eduard S. Bantjes

    Sondag na Sondag sien ek Prof by Constantia Village. Jaar in en jaar uit.
    Altyd ge-baadjie en gedas – ’n regte gentleman. Met die Sondagkoerant onder die arm sal hy hier groet, daar ‘n geselsie aanknoop altyd met ’n glimlag.
    Ek het hom nooit persoonlik geken nie, hom nooit ontmoet nie maar ’n ongelooflike respek gehad vir hierdie Groot Gees. Soos die tyd verbygaan begin ek hom in die verbygaan groet met ’n “Goeie more Prof” en altyd met ‘n glimlag sal hy teruggroet.
    Oor die jare word die treë minder gemeet en meer versigtig. Daar word ook gestop om asem te skep. Meer onlangs begin Prof ook ’n kierie gebruik. Etlike maande gelede sien ek hom die laaste maal. Prof stap moeilik, iemand stap saam met hom en hy hou vas aan die arm. Maar die oë is helder en hy stel nog belang in wat om hom aan gaan.
    Net Sondag sit ek en drink weer koffie en kyk na al die mense. Ek sê vir my metgesel: “Sjoe ek sien nooit ooit meer vir Prof van der Ross nie ek wonder hoe gaan dit dit met hom.”
    Rus sag Prof. Dankie vir u leiding.

  • Dan wonder ek waarom is daar so klem gelê op die feit dat hulle nie kon studeer nie en almal agtergeblewe was. My oupa was 'n sendeling en my ouma het in Xhosa en Engels klas gegee. Ek is al 60 en ek dink die groot baklei oor die woordjie "apartheid" het meer gegaan oor die feit dat kleurlinge en swartes nie tussen blankes kon beweeg en bly nie. Het met die verwyder van die woordjie en die oopmaak van woonbuurtes/bee enigsins iets verbeter?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top