Resensies: Oorlewingsgids vir ’n bedonnerde diva en Joernaal vir ’n bedonnerde diva deur Sophia Kapp

  • 0

Titel: Oorlewingsgids vir ’n bedonnerde diva en Joernaal vir ’n bedonnerde diva
Outeur: Sophia Kapp
Uitgewer: LAPA Uitgewers
ISBN, Joernaal vir 'n bedonnerde diva9780799380965
ISBN, Oorlewingsgids vir 'n bedonnerde diva9780799378009

As jy die woord “diva” hoor, dink jy waarskynlik aan ’n opstêrse popsie wat sommer maklik haar speelgoed rondgooi as die lewe haar ontevrede laat. Simoné Bekker, die hoofkarakter in Sophia Kapp se jongste roman, Oorlewingsgids vir ’n bedonnerde diva, is egter nie hierdie popsie nie. Sy is ’n sterk vrou van 44 wat al tromp-op deur die lewe geloop is en gesig eerste in die stof beland het. Sy het twee mislukte huwelike op haar kerfstok en ’n buierige tienerseun om mee huis te hou. Sy is beneuk, verontwaardig en keelvol vir mans.

Dit is in haar grootworddorp, Boekenhoutskloof, waar sy haar wonde gaan lek, stuk-stuk die flenters van haar lewe optel en haar waardigheid begin herwin. Daar is ook natuurlik ’n aantreklike ridder, Barnard Richter, en ’n aardskuddende liefdestoneel wat die liefdesromanleser se tone sal laat krul.

Simoné se verhaal is verweef met bladsye uit haar dagboek, waar al haar hartseer en woede aan die leser ontbloot word, en onkonvensionele selfhelpwenke vir divas. Dit is hierdie wenke wat uiteindelik ’n Joernaal vir ’n bedonnerde diva word. Die joernaal is ’n selfhelpgids wat enige bedonnerde vrou kan help om weer koers te kry nadat die lewe haar ’n paar dwarsklappe gegee het.

In Joernaal vir ’n bedonnerde diva raak Kapp belangrike temas aan. Daar word onder andere raad gegee vir die vrou wat pas ’n eksvrou, stiefma of enkelouer geword het. Tussendeur is daar eenvoudige resepte van gunstelingdisse en ook leë bladsye waar jy jou kreatiwiteit kan uitleef. Jy kan jou eie wenke en resepte neerpen en selfs foto’s, briefies, kaartjies en breipatrone inplak om jou te herinner dat jy “’n skeppende wese is wat iets kosbaars het om vir die wêreld te gee”.

Die blinkste juweel in hierdie joernaal is egter die kort essays. Die vrou wat afgeleef en verlep voor die winkelrak met Valentynsdagbederfies staan, oom Thys en die kinders in die kosmos, en die moedelose ma wat voor die bokspap staan en bid, sal jou bybly lank nadat jy die joernaal volgeskryf het.

Met Kapp se diva-boeke is dit weer eens klinkklaar hoekom sy soveel getroue lesers het. Sy ken haar karakters én haar lesers. Sy skep lewensgetroue helde en heldinne vir intelligente, ingeligte lesers. Kapp skryf eerlik, dikwels pynlik eerlik, en sy draai nooit doekies om nie: jy word gestroop van jou pretensie en gekonfronteer met die onregte van die lewe. Boweal word jy aangehits om self die leisels in die hande te neem en nou jou eie lewensbesluite te neem ten spyte van die foute wat jy in die lewe gemaak het.

As vloekwoorde en kras taalgebruik jou sooibrand gee, moet jy dalk maar ’n ekstra Rennie drink voordat jy een van die diva-boeke oopslaan. ’n Diva is nie op haar bek geval nie en sy vloek vlot.

Koop die diva-boeke vir jouself, jou suster, ma of vriendin. Enigeen wat al deur die lewe (of ’n man) bedonner is. Koop dit ook vir diegene wat oënskynlik die perfekte verhouding en lewe het, want alles is nie altyd rooskleurig nie en hulle gaan waarskynlik nog eendag bedonner word. Pantser hierdie vrou met Joernaal vir ’n bedonnerde Diva sodat sy weer kan opstaan, die stof van haar hoëhakskoene kan afskud en die aanslae van die lewe onwrikbaar kan aandurf.

Daar is ’n diva in elke vrou. Dit is eers wanneer sy oor ’n paar hobbels op haar lewenspad is dat dié diva begin blom. Bly te kenne, Diva.

Oorlewingsgids vir ’n bedonnerde diva en Joernaal vir ’n bedonnerde diva is by toonaangewende handelaars asook direk by LAPA Uitgewers beskikbaar. Kontak LAPA by (012) 401-0700 of besoek hul webblad:

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top