Resensie: Voor-bode deur Cas Vos

  • 0

Voor-bode
Cas Vos
Proteaboekhuis
ISBN: 9781485305422

Voor-bode is Cas Vos se negende digbundel en bevestig weer eens sy digterskap en plek in die Afrikaanse poësieveld.

Die titel Voor-bode suggereer reeds die belangrikste temas van die bundel: onheil en boodskappe/boodskapper. ’n “Voorbode” is ’n onverklaarbare gevoel van onheil wat dikwels deur mense as ʼn bonatuurlike verskynsel ervaar word. Dit is ook ʼn  voorteken, ʼn voorspelling.  Maar “voor-bode” verwys tweedens na eerste draers van boodskappe of die “voorste” bode wat daar is.

Die bundel bestaan uit 124 gedigte – dalk ’n knap te veel en fyner snywerk kon geslaag het om die hooftemas en ander subtemas beter uit te lig. Die 124 gedigte is in sewe afdelings verdeel, naamlik “Eerste woorde”, “Eerstelinge”, “Bodes”, “Liefdesbodes”, “Voorlopers”, “Pyngesante” en “Volheid”, wat ’n duidelike progressie toon: Dit verwoord die mens se lewensgang van geboorte tot afsterwe of vernietiging. Die titels van elke afdeling koppel voorts aan die belangrike hooftemas van onheil en boodskappe.

In die bundel kom etlike vertalings van werke van die Griekse digters Konstantinos Kavafis en Giorgios Seferis voor. Hierdie vertalings is nie afsonderlik in ’n afdeling opgeneem nie, maar is verweef tussen Vos se eie gedigte – wat ’n ander dimensie van intertekstualiteit en ’n wyer wêreldbeeld aan die gelokaliseerdheid van Vos se gedigte bied. So maak die Afrikaanse leser kennis met hierdie Griekse digters. Verdere kennismaking vind plaas in die aantekeninge wat Vos agter in die digbundel opneem. Sodoende word ’n ander historiese en kulturele wêreld aan die Afrikaanse leser bekendgestel.

Tipies Vos as religieuse digter kom die kenmerkende simboliek en beelde ook in hierdie bundel voor. Daar is onder meer die verwysings na engele soos in byvoorbeeld “Engel van marmer” en “’n Engel se reis na Ysland” en “Engels in die sneeu”; Bybelse figure en plekke soos in “Maria van Nasaret” en “Daniël se vriende” en “Via Dolorosa” en “Getsemane” en ander religieuse motiewe soos “In die begin”, “Kersfees” en “Kerse”.

Geykte beelde en woorde pla tog: “’n Engel se woorde streel vir ‘n oomblik veerlig aan jou oor:”, “ en die sterre lig op die veld gedrup het” en “Ons het oud geword, die water brak. Met geloof, hoop en liefde reis ons oor die rooi- en turfgrond na ‘n nuwe hemel, ‘n nuwe aarde.”

Die intertekstuele gesprek wat Vos voer rondom digkuns (en kreatiwiteit) is verblydend vernuwend. Daar is verwysings na soos Wolfgang Amadeus Mozart en die digters John Keats, Sheila Cussons en William Yeats. Maar dit is veral die gedig “Voor-skrywers” wat  ‘n amperse huldeblyk aan die Afrikaanse digkuns en digters, soos Van Wyk Louw, Peter Blum, IL de Villliers en Marlene van Niekerk gee met as slotstrofe wat Vos se plek in hierdie veld verwoord. Daar is ’n onderliggende satiriese toon in die gedig en ’n goeie spel met woorde.

Vos bly egter nie net in die verlede delf met die vertaling van die Griekse gedigte nie, maar bied ook ’n eietydse perspektief op Suid-Afrika en die wêreld. Hy dig oor “Marikana” met die treffende strofe “Marikana, jou afstammelinge se onthou kleef soos bloed hier in die putte van duisternis.”; oor “ISIS” met as beginstrofe “Nalopers van geloofsgeweld reik na ‘n bruid se hand om vir die jihad aan te meld.”; en oor die afskiet van die vliegtuig in die Oekraïne in “Mespunt”.

Ander belangrike temas is die liefde en die aftakeling van ouderdom en die uiteindelike dood. Afdeling 4 “Liefdesbodes” handel veral oor die liefdestema met sommige gedigte wat byna soos liefdesbriewe lees soos in “Aan Lida, 24 Maart 2013” en “John Keats aan Fanny Browne, 1820”. Weer eens hinderlik met tye is die geykte beelde soos “Broos soos ‘n vlinder sal ek in jou hart fladder” en “Het jy al gesien hoe die son met ‘n sonneblom flankeer?”. Maar dan is daar weer gedigte wat vernuwend en emosioneel na die liefde kyk. Ook die aftakeling van die ouderdom en die naderende dood word met deernis uitgebeeld.

Hierdie bundel met sy treffende voorblad is ʼn moet-lees vir die poësieliefhebber.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top