Resensie: The Theory of Everything

  • 0

Hierdie resensie het oorspronklik op 18 Maart 2015 verskyn.


Regisseur: James Marsh

Spelers: Eddie Redmayne, Felicity Jones, Tom Prior, David Thewlis, Emily Watson

As jy nog nooit gehoor het van Stephen Hawking en A Brief History of Time nie, is dit tyd dat jy gaan fliek. Al die ingeligtes kan in elk geval na hierdie skitterende fliek gaan kyk. Naas Einstein is Hawking die bekendste fisikus van die twintigste eeu, en tussen die relatiwiteitsteorie en die Oerknal-teorie lê ’n beduidende deel van ons begrip van “life, the Universe and everything”.

Hawking (gespeel deur Eddie Redmayne) se verhaal is met een woord merkwaardig. Hy ontmoet Jane Wilde (Felicity Jones), sy toekomstige vrou, in 1963 by Cambridge Universiteit. Hawking is ’n briljante jong man, maar nie juis ’n toegewyde student nie. Toe motorneuronsiekte egter op 21 by hom gediagnoseer word, vuur dit hom aan tot sy lewenswerk.

Dis algemeen dat films op boeke gegrond word, maar dis minder algemeen dat dit so goed werk soos hier. Draaiboekskrywer Anthony McCarten en regisseur James Marsh het Jane Hawking se Travelling to Infinity: My life with Stephen aangepas om die belangrikste bakens in Hawking se werk te belig, maar dit skets bowenal ’n boeiende portret van hom as mens (met ’n onblusbare humorsin) en van hulle huwelik. Ook van die aftakelende siekte wat Hawking op 72 steeds oorleef, teen alle verwagting in.

“Die wonder van die lewe” is die soort cliché wat ek gewoonlik vermy, maar dis volkome van toepassing op hierdie fliek. En Eddie Redmayne verdien sy Oscar vir beste akteur deur en deur – sy vertolking alleen is genoeg rede om na The Theory of Everything te gaan kyk.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top