Jeugresensie: Spooksoene deur Troula Goosen

  • 3

spooksoeneSpooksoene
Troula Goosen
Proteaboekhuis
ISBN: 9781485304074

Resensie deur Zoë Salzwedel (sestien jaar oud)

Wat sal jy doen as jy ‘n geheimsinnige uitnodiging kry na die hotel op Skimbaai? Dieselfde hotel waar die Haunted Hotel-saga verfilm word, en beslis dié spookhotel in die land?

Micki – of Muis, soos haar agterbakse vriendin Roxanne Foxx haar noem – kry op ‘n dag ‘n silwer boksie by ‘n wildvreemde ou in ‘n lang swart, sakkerige jas. Die boksie bevat ‘n uitnodiging vir twee persone vir drie dae en vier nagte in die Skimbaai Hotel. Dis hier waar Micki se silwerdoekheld, Voltaire X, se nuwe riller verfilm word. Aaaaa, Voltaire X, die aantreklike skimridder met die lui glimlag en die kepie in die ken! Micki sal enigiets doen om ‘n rol teenoor hom los te slaan, maar daar is ‘n klomp dinge wat hierdie droom pootjie. Soos die feit dat Roxy beeldskoon is, en dat daar skielik ‘n yslike puisie op haar wat Micki is se neus uitslaan …

Dis gou duidelik dat dinge in die spookhotel net nie sin maak nie. Hoekom lyk dinge bedags in die helder daglig soveel anders as snags? Watter geheime lê agter kamer 13 se deur? Hoekom trek die koerantopskrif van TONEELGESELSKAP VERONGELUK IN STEIL PAS NABY SKIMBAAI, haar aandag so? Dwarsdeur die boek word Micki geteister deur vrae. Soos wie is die Sielieslurper? Was dit net ‘n droom of gebeur die vreemde goed regtig met haar? Wie is Joachim, en hoekom duik hy orals op?

Saam met Aldo, ‘n seun wat vakansiewerk in die hotel doen, beleef Micki ‘n spookagtige avontuur terwyl hulle die hotel se donker geheime probeer ontrafel. Sy leer vinnig dat mense nie altyd is wie hulle voorgee om te wees nie. Soos die Sielieslurper, wie se ware identiteit haar verstom! Skielik word haar wildste nagmerries ‘n nare werklikheid, en moet sy Charlie se geheim ontrafel om haarself te red.

Een middag gaan wys Aldo vir Micki ʼn swart-wit film in die solder. Dit is ʼn stilfliek waarin Charlie speel. Daar was ook beelde van ʼn huis, maar die huis wat presies lyk soos die Skimbaai Hotel. Micki is totaal gefassineer deur die beelde wat deur die projektor op die wit muur geprojekteer word, maar wat sê die beeldskone meisie? Die volgende oomblik flikker die lig en die skerm word swart en skielik kom Micki tot ʼn besef: die rok ... dit is dieselfde silwer rok waarvan sy die vorige nag gedroom het.

Vra jy dalk ook nou duisende vrae soos Micki? Wil jy ook weet wat toe geword het van die silwer rok? Wie is die vreemde Joachim? En wie is die Sielieslurper? Lees dan gerus die boek en kyk hoe Micki se avontuur ontvou.

Ek het die storie geniet, maar het tog enkele punte van kritiek. Dit het hier en daar gevoel of die storie bietjie meer uitgebrei kon word, asof ek inligting kort. Daar was min groei by die karakters, iets wat mens tog sou verwag moet gebeur tydens so ʼn intense ervaring. Die skrywer kon gerus ook meer beskrywend geskryf het – dit sou die boek ‘n lekkerder leeservaring gemaak het. (Ek sou byvoorbeeld baie meer agtergrond oor elke spook wou gehad het.) Dit was ook nie altyd duidelik presies watter dag dit is nie – soms het dit gevoel asof die storie veel langer as net drie dae geneem het om te ontvou. Daar was ook ander dinge wat gepla het, soos dat Roxy nooit eers die moeite gedoen het om enigsins na Micki te gaan soek nie.

Maar ten spyte van hierdie kritiek kan ek Spooksoene steeds aanbeveel vir almal wat van spookstories hou. Dit sal veral gewild wees by jonger lesers van so tussen tien en dertien – dis nie heeltemal vir ouer kinders nie.


Kollig op kinderboeke:

'n Babalela vir Kersfees

LitNet
ATKV-Portaal

Die laaste geveg deur CS Lewis

Nina Swart
Jeugresensies

Die silwer stoel deur CS Lewis

Marike van der Watt
Resensies

Stories deur Julia Donaldson leer kinders om te lag

Amanda Botha
Resensies

Lotta se lewe – my skilpad kruip uit sy dop deur Alice Pantermüller

Suzanne Swart
Jeugresensies

KlasKamer

Skolenuus op LitNet


 

  • 3

Kommentaar

  • Paula Hartzenberg

    Die resensent het die verhaal mooi opgesom, maar ek stem nie heeltemal saam dat karakterontwikkeling in 'n spookstorie so belangrik is nie. Dit gaan meer oor die lekker grillerigheid van die leeservaring!

    • Paula Hartzenberg

      Dit sal nietemin 'n onreg wees teen hierdie boek om te sê dat daar nie groei is by Micki as karakter nie. Sonder dat ek die pret bederf deur iets te vertel oor die einde kan lesers self besluit of daar nie 'n radikale ommekeer in die hoofkarakter te sien is nie. Soos so dikwels in die ware lewe, is daar nie altyd by alle karakters groei nie. Die skurk bly meesal 'n skurk en selfsug is iets wat nie altyd kan verander nie. Let asseblief op 'n spel- of selfs denkfout in die resensie, nl "sielieslurper". Die regte woord is "sieleslurper". Hierdeur word 'n belangrike tema van die boek misgekyk.

  • Antoinette Diedericks

    Dankie vir 'n deeglike resensie. Die teikengroep (9-13jaar) sal Spooksoene beslis geniet en veral meisies sal met die hoofkarakter kan identifiseer. Die skrywer kry dit reg om ongesiens 'n belangrike kwessie aan te raak naamlik: Wees getrou aan jouself. Die enkele punte van kritiek wat genoem is neem niks weg van die feit dat dit 'n lekkerlees spookstorie is nie en ek stem saam met die resensent dat Spooksoene met vrymoedigheid aanbeveel kan word.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top