Resensie: JM Coetzee and the Life of Writing deur David Attwell

  • 2

David Attwell (foto: Imke van Heerden)

Skrywer: David Attwell
Titel: JM Coetzee and the Life of Writing. Face to Face with Time
Uitgewer: Jacana
ISBN: 9781431421534

Daar is weinig studies oor JM Coetzee wat nie twee vorige boeke van David Attwell oor JM Coetzee in hulle biografie opneem nie. Hierdie boeke, JM Coetzee. South Africa and the Politics of Writing (1993) en Doubling the Point. Essays and Interviews (1992), wat onder Coetzee se naam uitgegee word, maar waarin Attwell as onderhoudvoerder en redakteur ’n onmisbare rol speel, word nou met JM Coetzee and the Life of Writing. Face to Face with Time aangevul. Dis nie moeilik om te voorspel dat dit eweneens ’n rigtinggewende rol in Coetzee-resepsie gaan speel nie.

Die boek van 13 hoofstukke is die neerslag van Attwell se studie van al Coetzee se manuskripte, amptelike korrespondensie en skryfnotas. Dit is in 2011 deur Coetzee aan die Harry Ransom Sentrum van die Universiteit van Texas, Austin, geskenk. Attwell het spesiale vergunning vir vroeë (en eerste) volledige toegang tot hierdie omvattende dokumentasie gekry.

Attwell bestudeer die genese van al Coetzee se romans, ook die outobiografieë en Giving Offence, na aanleiding van manuskripontwikkeling en -veranderings, van Coetzee se eie indringende, selfkritiese en romantegniese notas wat die wysigings toelig, en met verwysing na Coetzee se leeswerk tydens die skryf van spesifieke romans. Benewens die baie welkome toegang tot hierdie dokumentasie wat ons via Attwell se werk kry, is die inligting oor die boeke en skrywers wat die skryf van die romans beïnvloed het, ook uiters waardevol.

Die titel vat die kernafleiding van Attwell se studie saam. Die “lewe” van skryf is by Coetzee die eie werklike oftewel biografiese lewe en die politiese en persoonlike “tye” waarin hy hom bevind. “Coetzee’s point of departure in his fiction are his origins,” merk Attwell ten opsigte van die eerste twee romans op (Attwell, 49).

Die titel is ontleen aan ’n paragraaf in Life and Times of Michael K:

I have retreated and retreated and retreated, till I am on the highest mountaintop and there is nowhere more to go save up into the heavens. Now I am face to face at last with time: everything else is behind me, only the huge block of the day is before me every day … Now there is nothing for me to do but live, through time, like an ant boring its way through a rock. (ibid, 26)

Dit gaan oor ’n “retreat” van historiese, identiteitsdefiniërende tyd. Ook ’n ander onttrekking is hierin vervat. Attwell demonstreer op grond van sy materiaal dat Coetzee ’n oorweldigende behoefte het om vry te kom van ’n realistiese, “naturalistiese” skryfwyse . Die verisimilitude van plek, tyd en karakter is vir hom beperkend. Dit gee aanleiding tot die bekende “selfreferensiële” dimensie in sy werk. Vrae soos “(I)s there room for me, and my history, in this book?” lei dikwels tot metafiksionele ingrypings. Hierdie vrae verwys nie na ’n persoonlike of emosionele werklikheid wat tot uitdrukking gebring moet word nie, maar, soos Attwell verduidelik, na die skryfproses, die bewussyn van die skrywende self. Coetzee self en, vermoedelik in navolging van hom ook Attwell, verwys hierna as skrywerlike “self-consciosusness”. “Self-consciousness” in skryfwerk getuig volgens Coetzee, van “one’s existence in the act of writing” (139).

Die metafiksionele word dus ook gesien as deel van die “life of writing”. Attwell wil hiermee sy hoofhipotese versterk. Hy doen dit ook deur die outobiografieë nie volgens die chronologie van publikasiedatums te bespreek nie, maar volgens ’n biografiese chronologie. Summertime word dus alreeds na Age of Iron bespreek.

Die sogenaamde selfreferensiële, of ook modernistiese/postmodernistiese, aspek van Coetzee se skryfwyse word in ’n mate gedeteoretiseer en, gegee die magtige volume navorsing hieroor, selfs gedemitologiseer. Dit word deel van probleme, eksperimente met oplossings, kritiese selfondervragings en die soektog na geskikte skryfwyses waarvan die manuskripte getuig. Die poststrukturalistiese impuls in die skryfwerk word verlê na die dinamika van die skryfproses, wat nie beteken dat Coetzee nie Roland Barthes, Derrida, Levinas en Foucault geken, gewaardeer en gebruik het nie.

Attwell maak die skerpsinnige, insiggewende opmerking dat Coetzee groot vertroue het in die skryfproses as sodanig. Dit is afleibaar van die volgehoue herbewerking en herskryf van romans (in die geval van Waiting for the Barbarians tot 14 keer) voor hulle by hulle uiteindelike, dikwels aanvanklik onvoorsiene, gepubliseerde formaat uitkom.

Daar is baie soortgelyke vernuwende en samevattende insigte in The Life of Writing. Dit raak die gevestigde interpretasie van baie van Coetzee se romans. Die bevinding dat die Michael K van Life and Times of Michael K op Heinrich von Kleist se vroeë 19de-eeuse novelle Michael Kohlhaas berus, het die publikasie van Attwell se boek vooruitgeloop. Daar is ander verrassende bevindings. Die antirasionalistiese parodie in “The Vietnam Project” (Dusklands, 1974) kan deels herlei word na Coetzee se eie rekenaargedrewe statisties-linguistiese studie van Beckett by die Universiteit van Texas wat sy debuutroman voorafgegaan het. Waiting for the Barbarians is nie in die eerste instansie antikoloniale magskritiek nie, maar ’n ondersoek na die effek van ’n staat van beleëring op die psige en selfs seksuele libido van diegene aan die kant van die magshebbers. Die rol van die kinders in hierdie roman word deur Attwell verbind met Coetzee se eie situasie tydens die skryf van Waiting for the Barbarians. Attwell toon ook aan dat die dood van Steve Biko ’n sentrale rol speel in Waiting for the Barbarians as politieke allegorie. Michael K se uiteindelike vorm het ontwikkel na die prysgee van die Kleistiaanse model en die burgerlike-verset-motief daarvan. Volgens die notas het Coetzee van hierdie model afgesien vanweë sy eie histories bepaalde verbondenheid aan die bevoorregte wit middelklas. ’n Versetsroman sou impliseer dat hy aan die onderdrukte klas behoort. Soortgelyke oorwegings blyk trouens reeds by die skryf van Waiting for the Barbarians.

Oor die protagonis Susan Barton in Foe maak Coetzee dié aantekening: “I have no interest in this woman, there is no potential in her as there was in the magistrate or Michael K” (Attwell, 148). Interessant genoeg is Barton, anders as die protagoniste in die meeste ander romans, nie ’n verplasing van JM Coetzee nie – die fiktiewe Defoe of Mr Foe vervul hier so ’n rol. Die notas wat tydens die skryf van Disgrace gemaak is, bevat ’n soortgelyke chauvinisties aandoende opmerking. Dit spreek van die skrywer se frustrasie as hy moet erken dat hy hom nie die binnewêreld van Lucy kan verbeel nie. Hier word die manlike protagonis en die emosionele verhoudings waarin hy hom bevind, dus sterk ontwikkel om die draer van die storie te word en sodoende die probleem met Lucy romantegnies op te los.

In Attwell se interpretasie van die materiaal in Austin val die klem dus op die performatiewe aspek van literêre skryfhandelinge.

Die belangrikste dryfveer agter die skryf van Age of Iron was, aldus Attwell, die skrywer se moeder en haar dood. Attwell wys op grond van die dokumentasie daarop dat Coetzee sy moeder se konserwatiewe politiese uitkyk sterk afgekeur het. Age of Iron is ’n poging om die teenstrydige gevoelens van “trust and ethical misgiving” (169) jeens die moeder te ondersoek. Dit lei tot ’n roman wat stem wil gee aan die gemarginaliseerde mening, die verouderde uitkyk – ’n nuwe interpretasie van hierdie roman. In ooreenstemming met sy hoofargument noem Attwell die hoofstuk oor Age of Iron “Mother”.

Die hoofstukke oor The Master of Petersburg en Disgrace behandel bekende kritiek op die roman. Vanuit feministiese hoek is die karakterisering van Lucy as ’n stereotipering van die vrou as die swakkere en as slagoffer beskryf. Attwell kan op grond van sy ontleding van manuskripnotas verduidelik waarom Disgrace nogtans slaag.

Verrassend is ook dat daar by Coetzee ’n werklike woede en bitterheid was oor gebeure in Suid-Afrika na 1994 by die skryf van Disgrace. Dít was in hierdie geval die “life of (the) writing”. Attwell skroom nie om in hierdie hoofstuk opmerkings van Coetzee te boekstaaf wat die skrywer uit ’n polities-korrekte oogpunt in ’n ongunstige lig laat verskyn nie. Disgrace word as ’n byna uitdagende gebaar na die nuwe magshebbers en hulle diskursiewe dwang beskryf.

Die hoofstuk oor The Master of Petersburg is miskien die mins oortuigende, hoewel daar uitstekende en weer eens vernuwende verklarings vir Coetzee se gebruik van Dostojewski gegee word, hoewel die hoofstuk ook reeds in artikelformaat bekendheid verwerf het. Attwell rig homself veral tot Joseph Frank, die Dostojewski-biograaf, se kritiek op die “verdraaiings” in Coetzee se fiksionalisering van Dostojewski en die skryf van The Possessed (waarop The Master of Petersburg gebaseer is). Dit gaan veral oor die kritiek op die ongemotiveerde heftigheid van die fiktiewe Dostojewski se verdriet oor sy aangenome seun se dood. Attwell se repliek is dat The Master of Petersburg biografies – en dus eintlik outobiografies – gelees moet word. Dit los egter nie die strukturele probleem op nie. Coetzee wou sy seun, aldus Attwell se interpretasie van die dokumente, laat “heropstaan” deur hom te skryf. Dostojewski se aarselende en ontwykende skryf aan die karakter Stavrogin in The Possessed is Coetzee se eintlike aanknopingspunt. ’n Voorwaarde vir die “verskyning” van die oorlede seun Pavel is dat dit heeltemal onafhanklik van die vader se wêreld moet geskied. Die vader (skrywer) moet bereid wees om daardie ander wêreld te betree. Stavrogin, die siniese en amorele teenpool van dit waarin Dostojewski sterk geglo het, is daarvoor die perfekte figurasie.

Attwell wy ’n hele hoofstuk aan Afrikaanse agtergronde en taal in byvoorbeeld Coetzee se keuses omtrent dialoogtaal, tot Summertime. Dit geld ook vir ’n Afrikaanse landskap, die Karoo, in Coetzee se skryfwerk, waaraan Attwell eweneens ’n hele hoofstuk wy.

In die Preface baken Attwell sy werk af teen Kannemeyer se Coetzee-biografie, ’n Geskryfde Lewe (A Life in writing). Waar Kannemeyer hom met die lewe van die skrywer bemoei het, gaan dit vir Attwell om die lewe of genese van die romans. Die twee boeke is nie interafhanklik nie, hoewel Attwell erkenning gee aan Kannemeyer se werk en ook daarvan gebruik maak. Self beskryf hy sy boek as ’n kritiese biografie (17) wat deel is van ’n groter “biografistiese wending” (“turn”) in die literatuurkritiek en spesifiek in Coetzee-kritiek. Vir my is die selfbeskrywing problematies, omdat dit eerstens om ’n interpretasie van manuskripte en notas omtrent skryfprobleme en -doelwitte gaan. Dis moontlik dat Attwell hierdie beskrywing gebruik om ’n ander, positiewe aspek van sy eie boek te dek. Baie van die belangrikste en insiggewendste stellings word nie direk deur die ondersoekmateriaal gemotiveer nie, maar voer dit verder tot omvattende perspektiewe op Coetzee se skrywerskap. Hier moet die leser op Attwell se ingeligtheid, persoonlike agtergrondkennis en integriteit ten opsigte van sy onderwerp, JM Coetzee, vertrou.

Gelukkig is dit in die geval van David Attwell nie moeilik nie.

Sommige van Attwell se gevolgtrekkings kan betwis of genuanseer word – soos die interpretasies van die slotte van Disgrace en Summertime.

The Life of Writing rekonstrueer die genese van elkeen van die romans deur op vernuwende wyse skryftegniese probleme te verbind met die persoonlike, emosionele, politiese en etiese impulse van die skrywer. Dit lei tot verrassende insigte in die motiewe en visies van JM Coetzee se skrywerskap. Attwell formuleer besonder helder, bondig en leesbaar sonder dat die kompleksiteit van sy gegewe daardeur vereenvoudig word. The Life of Writing bring die leser effektief en intiem van aangesig tot aangesig met die al skrywende skrywer JM Coetzee.

 

  • 2

Kommentaar

  • Helize van Vuuren
    Helize van Vuuren

    Dankie, Marianne - 'n Insiggewende, helder geskrewe resensie wat belangstelling prikkel in die andersoortige aard van hierdie tweede Coetzee-biografie.

    • Mariaqnne de Jong

      Dankie. Jammer dat ons nie weet watter Coetzee-aantekening NIE deur Attwell genoem word nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top