Resensie: I Have Life: Alison's Journey, soos aan Marianne Thamm vertel

  • 1

I Have Life: Alison’s Journey
Marianne Thamm
Penguin Random House South Africa
ISBN: 9780140280791

Ek kon nooit verstaan waarom Alison Botha 20 jaar ná die gewelddadige aanval op haar waarin sy op brutale wyse deur twee gewetenlose mans verkrag en vir dood langs die pad gelaat is ’n bestaan kan maak deur motiveringspraatjies oor hierdie verskriklik ervaring te lewer nie.

Hoekom plaas sy nie hierdie traumatiese gebeure agter haar en gaan met haar lewe voort nie, het ek gewonder. Hoekom doen sy nie iets anders nie?

Maar nadat ek I Have Life gelees het, het ek begrip daarvoor dat sy ná die gebeure juis geroepe voel om vir ander verkragte vroue ’n stem en ’n simbool van hoop te wees nadat sy díe geweldsmisdaad na die beste van haar vermoë verwerk het. Sy wil doodeenvoudig ander mense wat erge trauma van watter aard ook al beleef het, bemoedig.

Haar verhaal soos deur die ervare en bekroonde joernalis Marianne Thamm vertel word, is tegelykertyd grusaam en inspirerend. Alison is deur talle as ’n uitsonderlike dapper mens beskryf omdat sy hierdie tragiese gebeure in ’n oorwinning kon omskep.

In die boek word vertel hoe sy gekaap word, meer as 35 keer met ’n mes gesteek word en meer as 16 kapwonde aan haar keel opdoen nadat haar aanvallers probeer om haar keel af te sny. Sy is ook herhaaldelik en gewelddadig in haar maag gesteek.

Alison het egter met byna bomenslike wilskrag daarin geslaag om vanuit die bosse na ’n hoofpad te kruip terwyl sy haar kop met haar een hand en haar ingewande in haar ander hand vasgehou het waar ’n motoris haar lewe gered het.

Volgens ’n dokter wat in die Rhodesiese oorlog geveg het, het hy nog nooit iemand met die omvang van Alison se beserings gesien wat dit oorleef het nie. Nie net het sy ondraaglike fisieke en emosionele pyn verduur nie, maar sy moes ook talle operasies waar onder plastiese chirurgie, ondergaan.

’n Groot deel van die boek fokus dan ook op haar reis na genesing.

Nooit is daar ’n sweem van selfbejammering of bitterheid by haar te bespeur nie. Sy is wel by tye woedend, maar sy fokus eerder op haar vasberadenheid dat haar wrede aanvallers haar nie van haar gesonde verstand, selfvertroue of karakter beroof nie. Sy wil as veel meer as net "die Noordhoek-verkragtingslagoffer" bekend staan.

Dit moes uit die aard van die saak vir beide Alison en Thamm emosioneel dreinerend gewees het om aan die boek te werk.

Thamm vertel Alison se verhaal op ’n spannende, boeiende en eerlike wyse.  Die leser word nie die skrikwekkende besonderhede gespaar wat in detail beskryf word nie, maar die storie is terselfdertyd gestroop van melodrama en sentiment. Die feite spreek vanself.

Dis interessant hoe die verhaal in sekere hoofstukke ook deur die stemme van  Alison se vriende, familie, eksman, die ondersoekbeampte en die man wat haar lewe daardie aand langs die pad gered het vertel word. Dit bevestig baie van Alison se eie verhaal, maar bied ook ’n breër blik op haar as mens soos wat ander haar beskou.

Hoewel Alison as ’n sterk figuur beskou word, erken sy dat sy nie altyd so sterk gevoel het as wat sy uiterlik voorgekom het nie. Sy beskou haarself nie as ’n heldin nie, maar as ’n doodgewone vrou met wie die ongewone gebeur het. Sy het soms selfs soos ’n "bedriegster" gevoel  terwyl sy hierdie beeld aan die wêreld voorgehou het .

Sy skroom ook nie om van haar erge depressie en lusteloosheid ná die aanval te vertel nie. So het sy dan ook belangstelling in haar werk verloor wat eens haar trots was.

Een van die belangrikste aspekte wat in die boek aangespreek word is die feit dat sy die mite dat verkragte vroue met skuldgevoelens moet worstel, nek omdraai.

Hoekom moet slagoffers verantwoordelik voel vir wat gebeur het? Sy het nooit vir ’n enkele oomblik gedink die verkragting was háár skuld nie en dit ook nooit probeer wegsteek dat sy verkrag is nie.

Die laaste deel van die boek herinner wel aan ’n uitgerekte motiveringspraatjie, maar dit is seker te verwagte aangesien Alison ’n motiveringspreker is wat op een of ander wyse sin uit hierdie tragiese gebeure wou maak.

Hierdie boek sal baie verkragte vroue hopelik daartoe beweeg om nie gesiglose en swygsame slagoffers te bly nie, maar eerder die booswigte te ontmasker sodat die gereg sy gang kan gaan en hulle hopelik  met skuldigbevinding en vonnisse ’n mate van afsluiting kan kry.

Alison Botha en Marianne Thamm slaag daarin om ’n kragtige verhaal van hoop te vertel en hoe dit nie nodig is om diegene wat jou wou vernietig het mag oor jou te gee nie. Woede kan jou só verswelg dat jy nie die magic in die lewe raaksien nie. Jy is uiteindelik vir jou eie geluk verantwoordelik.  

  • 1

Kommentaar

  • Yolinda Thomas

    Ek het vir Allison ontmoet toe ek na George verhuis het en sy beeld die krag uit van 'n vrou wat oorleef het om haar storie te vertel en alle vroue weer die moed te gee om nie te gaan lê nie. Om op te staan en aan te gaan met jou lewe. Sy is 'n sterk vrou en stel 'n voorbeeld vir ons vroue wat seergekry het dat daar weer lewe is na al die seerkry.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top