Resensie: die bome reusagtig soos ons was deur Hilda Smits

  • 0

 

die bome reusagtig soos ons was
Hilda Smits
Protea Boekwinkel
ISBN: 9781485306405

Hilda Smits se debuutbundel, die bome reusagtig soos ons was (2016), verskyn drie jaar nadat ses van haar verse in Nuwe stemme 5 (2013) opgeneem is. Al ses die gedigte wat in Nuwe stemme 5 verskyn het, is met klein veranderings by die bundel ingesluit.

Die veranderings is nie hinderlik nie, en die reputasie van die gedigte word nie hierdeur skade berokken nie. Dit skep veel eerder die verwagting dat die leser deeglik afgeronde verse in die bundel sal aantref. Daar is byvoorbeeld twee woordveranderings in die gedig “die lig val geel ongeskend” (bl 7): “wankelende geel lig” word “weifelende geel lig”, en “my dronklap-pa” word “my dromer-pa”:

die lig val geel ongeskend swem ons daar was
dae groter as ons wat gesneuwel het en ek
is lief ek is lief vir julle ongeskend swem ons
onder weifelende geel lig broos teen broos
in die stroom want ons het lief die lewe teen
my bors kinderjare brandend teen my bors on-
geskend brandarm dae groter as die heelal
my dromer-pa ek het jou lief ons swem julle die lig
val geel in lamplig weifel my hande skadu
teen die muur spitse vingers vorm ek beelde
silhoeëtte van ons en ek het julle lief meer as
die jare meer as ongeskend het ek julle lief

Die eerste twee versreëls van die eerste gedig illustreer hoe vernuftig die digter met taal omgaan: “ongeskend swem ons daar was / dae groter as ons wat gesneuwel het ...”. Uit hierdie versreëls kan die volgende drie betekenisgrepe gehaal word: “ongeskend swem ons daar”, “daar was dae groter as ons” en “ons wat gesneuwel het”. Let op die wyse waarop die laaste woord van die eerste betekenisgreep die eerste woord van die volgende betekenisgreep word. Die leser moet gevolglik meer as een keer deur die versreëls lees om die betekenisse daarvan raak te lees.

Die tema fotografie word reeds geïmpliseer op die voorblad van die vrouefiguur wat ʼn foto neem. In “vir klaasman” (bl 8) word die oog en die kamera oormekaar geskuif en tot ʼn soort digterlike meganisme gemaak: “... my kamera-oog is ʼn kamer vir twee mense / broer ek raam die lente daar vir jou ...”.

Dié meganisme kom ook in ander gedigte soos “pa die sluise bruis vanaand weer” (bl 9) na vore: “... die flits van fietse in lane / my kamera-oog het geknip gefokus die dag het silwer geskarrel / in die tonnel van my oog”.

Die beskrywing “die tonnel van my oog” herinner aan ʼn kameralens. Die indrukke wat deur die digter versamel word, word getransformeer tot ʼn argief van indrukke wat ʼn stryd tussen hede en verlede aktiveer. Fotografie is egter nie net ʼn metaforiese digterlike meganisme nie, maar ook een van die onderwerpe waaroor daar gedig word. Die gedigte “variasies op Tarkofski-foto’s” (bl 48) is byvoorbeeld deur foto’s van die Russiese rolprentmaker Andrei Tarkofsky geïnspireer.

Daar is ook heelwat plekgedigte in die bundel. Voorbeelde sluit die erotiese gedig “Gorkana” (bl 16) wat afspeel aan die Weskus van Indië; indrukke van landskappe wat deur die treinvensters in die “stoomtrein na Ooty” (bl 17) waargeneem word; Egipte se piramides word in “Menkaure en die woestyn” (bl 18) verken. Die gewaarwordings van die spreker is egter nie net visueel van aard nie, maar word deur verskeie sintuie gekonkretiseer en die gevoel van die spreker word telkens raak verwoord.

Die tema van expat-wees word in die gedig “deesdae is Londen my stad” (bl 10) na vore gebring en word in reliëf geplaas met die uitbeelding van die spreker se grootwordjare in Suid-Afrika.

In “ma ek dink vanaand” (bl 12) word die kinderwêreld besonder effektief deur die reuksintuig gekonkretiseer: “ma ek dink vanaand aan hoe die Mooirivier ruik wanneer / ʼn somerreëntjie uitgesak het ...”. ʼn Gedig soos “onthou julle die Zephyr” (bl 23) bied ʼn nostalgiese blik op verskeie objekte uit ʼn vergange tyd soos “die Zephyr met sy reusesitplekke sonder safety belts”.

“Marian se suster het drie tweelinge” (bl 26) en “in die dam geswem op Welverdiend” (bl 27) bring nie net ʼn reeks beelde van die spreker se kinderjare as collage bymekaar nie, maar handel spesifiek oor die narratief wat vertel word en laat dink aan die gedigte van Gert Vlok Nel:

in die dam geswem op Welverdiend
slikkerig die water was dik groen sop
op die oewer die seuns en my broer is 13
stuiptrek van eerste spiere op sy bors
ek en jy platbors skaam onthou jy
vir Kobus wat ouer was hy het sy hande
op my heupe gesit toe swaai ons oor die dam
maande later het die polisie hom en sy hande
agter sy rug vasgebind op die bodem uitgevis 

Die om en by 50 gedigte in die bome reusagtig soos ons was laat die leser toe om die verskillende beleefde wêrelde deur die “kamera-oog” van die spreker te sien en te ervaar.

Die digterstem sleur die leser mee deur klankryke en goed versorgde verse. Die bundel bring ook heelwat spannings aan bod, tussen naby en ver en hede en verlede. Dit sorg vir heelwat variasie wat die leser enduit boei. Smits se bundel is voorwaar ʼn merkwaardige debuut wat beslis weer gelees sal word.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top