Resensie: ATKV se Filmverse 2 spreek beelde

Filmmakers kyk al sedert die beginjare van die rolprentkuns na die digkuns vir inspirasie, en meer as net 'n handvol van die mees geliefkoosde films spruit uit digterspenne. Orson Welles meen dat 'n film nooit werklik goed is tensy die kamera die oog in die kop van 'n digter is nie. In 1958 skryf Welles van die film se afhanklikheid van die digkuns en beklemtoon die gehoor se inherente verstaan van poësie: “Without poets, the vocabulary of the film would be far too limited ever to make a true appeal to the public. The equivalent of a babble of infants would not sell many seats. If the cinema had never been fashioned by poetry, it would have remained no more than a mechanical curiosity, occasionally on view like a stuffed whale.”[1]

Die rolprentkuns se verhouding met poësie lewer dikwels fantastiese speelfilms wat spog met die filmmedium én met die gedig as bron daarvan. Ek dink byvoorbeeld aan die Coen-broers se O Brother, where art thou? (2000) wat deur Homeros se epos Odysseus geïnspireer is. Die film is 'n meesterklas in filmnarratief wat net genoeg aan die klassieke gedig ontleen om te wys dat die metafore daarin teenwoordig vandag steeds relevant is.[2]

Die ATKV se Filmverse 2 volg in dié tradisie en belig nie net die kern van die kortfilmgenre en die digkuns nie, maar ook die animasiekuns. Nes met die eerste Filmverse-projek het 'n dosyn animasiekunstenaars verskeie Afrikaanse gedigte met uiteenlopende media in kortfilmformaat uitgebeeld. Die gekose digters sluit gekanoniseerde en eietydse stemme in – die bloemlesing bied 'n lukrake oorsig van die Afrikaanse digkuns wat strek van DJ Opperman tot Nathan Trantraal. Soortgelyk is die animasiekunstenaars wat aan die projek deelgeneem het, beide gesoute kunstenaars en nuutkommers tot die veld. Elke kortfilm is 'n interpretasie van 'n gedig, 'n storie op sy eie en 'n venster op die wêreld van eersteklas animasiekuns. Sommige animasiefilms is letterlike uitbeeldings van die gekose gedig, terwyl ander weer abstrakte interpretasies daarvan is. Dit is wel die impak wat die projek in sy geheel skep wat jou laat regop sit.

Japie Gouws, besturende direkteur van die ATKV-groep, noem dat die ATKV Suid-Afrikaanse diversiteit wil bewerkstellig en dat Filmverse Afrikaanse digkuns deur middel van animasie meer toeganklik wil maak.[3] Daarom bied Filmverse 2 jou die opsie om na die klankbaan in Afrikaans, Engels, Zoeloe en Sotho te luister.

Uit die staanspoor is die moontlikhede wat die Filmverse-DVD vir klaskamergebruik inhou, byna legio. Dit is nie net die visuele uitbeelding van (party) abstrakte gedigte wat 'n nuttige hulpbron vir die taalopvoeder is nie, maar ook die feit dat die gedigte buite 'n Afrikaanse konteks vir opvoedkundige doeleindes ingespan kan word. In hierdie opsig kan die Afrikaanse gedigte in 'n breër konteks as Suid-Afrikaanse gedigte bestudeer en geniet word. Sodoende is Filmverse 2, soos Gouws ook uitlig, 'n ideale bemarkingsmiddel vir die Afrikaanse digkuns in al sy hoedanighede.

Hoewel die projek 'n positiewe impak op die meeste aanhangers van die dig-, animasie- en rolprentkuns sal hê – soos dit op my gehad het – is daar ruimte om fyner daarna te kyk. Die diverse media waarmee die animasiekunstenaars gewerk het, asook die konsepte waarop besluit is, getuig nie net van die hoëkaliber-kreatiwiteit waarmee die kunstenaars onderskeidelik spog en die bemeestering van hul onderskeie media nie, maar ook van die mate waarin die lees van 'n gedig op die interpretasie daarvan neerkom. Wanneer 'n literêre bron verfilm word, of gewoon wanneer 'n teks van een medium na 'n ander verwerk word, staar die verwerker die uitdaging van interpretasie in die gesig. Met betrekking tot die filmverwerkingsproses (in hierdie geval die verwerking van 'n gedig tot die kortfilmgenre soos uitgebeeld deur gekose media en animasietegnieke), en weens die visuele aard van die filmmedium, is die finale produk direk afhanklik van die verwerker se interpretasie van die gedig as bronteks. Die filmkyker sal uiteindelik sien wat die verwerker gesien het toe hy/sy die gedig gelees het. Dis hier waar die kyker versigtig moet trap en nie persoonlike nosies van “reg” of “verkeerd” aan die film koppel nie, wat op 'n enkele “korrekte” lees van die gedig sou dui.

Die idee is nie om vas te stel of die animasiekunstenaar daarin geslaag het om byvoorbeeld 'n gedig soos Eybers se “Busrit in die aand” “korrek” vir die skerm vertaal het nie. Dit is ook nie die animasiekunstenaar se taak om 'n “korrekte” interpretasie daarvan na te streef nie. Soos elke leser 'n gedig moontlik anders kan interpreteer, sal verskillende animasiekunstenaars dieselfde gedig ook vanuit 'n ander hoek benader.[4] Uiteindelik is die doel van só 'n projek om te kyk hoe twee kunsvorme in 'n simbiotiese verhouding saam funksioneer om 'n nuwe teks, die animasiefilm, te skep.

Ek is daarin geïnteresseerd of die animasiefilm as interpretasie van die gedig die essensie daarvan behou, of dit daarop uitbrei of selfs nuwe lewe daaraan gee. Die besef van hoe een kunstenaar oor 'n ander se werk dink en hoe met die verskillende media gespeel word, is wat my opgewonde maak oor só 'n projek – des te meer as daar met die Afrikaanse letterkunde gespeel word. Is die animasiefilm 'n letterlike ? uitbeelding van die gedig? Hoe gemaak met poëtiese elemente soos metafore? Dit is immers vrae soos hierdie wat die geïnteresseerde poësieleser sal stel.

Slegs twee animasiefilms uit Filmverse 2 word kortliks as voorbeelde bespreek vanweë die klem wat hulle albei op die animasiekuns én op die gekose gedigte plaas.

In Jeanne Goosen se “My mamma is bossies” vertel die spreker van haar onperfekte ma: 'n alledaagse vrou wat mooi in haar eenvoud is. Hoewel die ma-karakter as eenvoudig geskets word, is sy 'n komplekse karakter wat die rol van 'n ma vertolk terwyl haar drome begrawe lê. Dan ook suggereer die titel en die herhaalde eerste reël van elke strofe dat sy “bossies” is. Die gedig lui:

My mamma is bossies
uit haar een oog huil sy Puccini
uit die ander oog betig sy my
snags kweel sy: Bedaar, my kind, bedaar
môre kry jy van soetpap en melk

My mamma is bossies
la sona molto felice, sing sy
en pak haar kaarte uit
Hoe mooi is sy nie
sy met haar hare soos pruimedante
my bossiesma met haar taai drome
en onverwagte uitgelatenheid.

My mamma is bossies
Sy is dood nou
ingeweef in die familietapisserie
Sy jaag haar ganse strandlangs
met 'n dun swepie aan
Sy draai om, sien my
my agterstevoorkind, sê sy
mag dit goed gaan met jou.
         (Uit: Versindaba, 2007)

Daar is talle aspekte wat die animasiekunstenaar in gedagte moet hou ten einde 'n bepaalde effek op die skerm te skep, onder meer die gedig as bronteks, die medium(s) waarin gewerk word en ook die filmmedium. Naomi van Niekerk, animeerder van Goosen se “My mamma is bossies”, werk met sandanimasie. Beelde word met sand op 'n ligboks geteken en afgeneem, met 'n effense verandering aan elke raampie om beweging te skep, en dít teen tien raampies per sekonde.[5] Dit is interessant dat Van Niekerk noem dat ooglopende “foutjies” in die animasiefilm – byvoorbeeld as die kamera die ligtafel stamp en die beeld effe spring – by die ma-karakter se imperfeksies pas.[6] Dit is sulke “imperfeksies”, om Van Niekerk se term te gebruik, wat positief bydra tot die finale produk omdat dit deel is van die kunstenaar se vingerafdruk op die lees van die gedig. Dit maak ook die kykervaring soveel meer interessant.

In die film wissel huishoudelike tonele van een dag na die ander terwyl Puccini se “O mio babbino caro” speel, wat, soos Van Niekerk noem, 'n groot bydrae lewer tot die toon en emosie van die prent.[7] Haar uitbeelding van die eenvoud van die ma-karakter is treffend: geskoei in pantoffels, met krullers in die hare, speel sy kaart by die kombuistafel. Sy luister Puccini terwyl die hond huil, breek borde in frustrasie en lê snags en huil. Hierdie is beelde van eenvoud, maar ook van 'n vrou wat hartseer en frustrasie in haar eenvoud ervaar. Tog is dit die gebruik van sandanimasie as medium wat dieper in die gedig delf: sand waai weg; mense gaan dood. Die spreker sê uiteindelik dat haar ma oorlede is, dat sy “ingeweef [is] in die familietapisserie”, wat onder andere dui op temas van familiebande en verlies. Die film is getrou aan hierdie temas, veral in een van die laaste tonele wanneer die ma-karakter vir 'n oomblik terugkyk na die spreker en sê “my agterstevoorkind [...]/ mag dit goed gaan met jou” (strofe 3) en dan oplos – soos sand wat wegwaai. Hierin vind die toon en emosie wat deur die gedig gekommunikeer word, uiting op die skerm, met die tydelikheid van die mens wat visueel gesimboliseer word.

Van Niekerk se interpretasie van die gedig is 'n goeie voorbeeld van hoe die animasiekuns en poësie gekombineer kan word om 'n komplete ? kortfilm te skep. Die teks verskaf konteks terwyl die visuele gegewens daarop uitbrei. Van Niekerk se visuele interpretasie is veral getrou aan die “oop” gedeeltes in die lees van die gedig – die gedeeltes wat oop is vir interpretasie. Dit is hierdie oop gedeeltes wat poësie so treffend kan maak. Die animasiefilm lewer byvoorbeeld nie antwoorde op 'n vraag soos “Waarom is die spreker se ma bossies?” nie, maar fokus eerder op die toon en emosie van die gedig. My mamma is bossies is 'n treffende animasiefilm.

Skermgrepe geneem uit Naomi van Niekerk se animasiefilm My mamma is bossies (Filmverse 2, 2016)

'n Tweede treffende animasiefilm is Jac en Wessel Hamman se interpretasie van DJ Opperman se bekende “Stad in die mis”. Opperman se gedig is ryk aan spanning en 'n donker, onheilspellende atmosfeer wat heers oor die stadbeskrywing. In die gedig word die stadsruimte metafories vergelyk met 'n dierlike monster wat wag op sy prooi.

Met gespanne spier
loop ek deur die mis
want om my sluip 'n dier
onder wit duisternis;
ek hoor hom knor en in oop mote
waggel sy pilare-pote
en sy kantelende rug metaal;
op hoeke van die strate blink
sy oë bloedbelope,
en met sy hap sluit staal op staal.
      (Uit: Heilige Beeste, 1945)

Jac en Wessel Hamman, die animasiekunstenaars, het gekies dat die beskrywende aard van die gedig hulle interpretasie en konsep lei. Hulle verduidelik dat hulle 'n illustratiewe benadering gekies het weens die beskrywende aard van die vers.[8] Die film is 'n letterlike uitbeelding van die beskrywing in die gedig en volg 'n liniêre narratief waarin die filmkarakter (die gedig se spreker) gespanne in die stad ronddwaal en hom byna hallusinerend verbeel dat die stadsruimte monsteragtig en bloeddorstig daarop uit is om hom te vang. Mistige beelde van kronkelende snelweë verander in die kronkellyf van 'n slang en 'n brug se pote (“pilare-pote”) word vir 'n oomblik met ysterkloue aan verbeel. Die klimaks wat in die laaste reël van die gedig gevind word, sinspeel op die brutaliteit van die stad en word soortgelyk in die film uitgebeeld met 'n stel ysterkake wat met 'n slag toeklap terwyl die karakter toekyk, of moontlik in die slag bly.

Tesame met die gedig se rykdom aan beskrywing, dra allitererende klanke ook by tot die skep van die gespanne atmosfeer en toon, byvoorbeeld die herhaling van die s-klank in woorde soos “gespanne spier”, “mis”, “sluip”, “duisternis”, “sluit staal op staal”. Verdere klankassosiasies word onder andere gevind in die reëls “ek hoor hom knor en in oop mote/ waggel sy pilare-pote/ en sy kantelende rug metaal.” Die pa-en-seun-span se animasiefilm is veral getrou aan die toon van die gedig en het gekies om die voorlesing (deur Chris van Niekerk) van die visuele uitbeelding te skei. Hierdeur word die sterk visuele aard van die gedig beklemtoon. Effektiewe gebruik van klank om die visuele interpretasie te steun speel ook 'n groot rol hierin en is ook getrou aan die gedig se klankrykheid. Uiteindelik is slegs 'n stadsbeeld van wolkekrabbers en hyskrane in die mis sigbaar terwyl die gedig voorgelees word. Terwyl die kragtige impak van die visuele vertelling nog in die gedagtes maal, kan 'n mens nie anders as om op te let hoe angswekkend Opperman se stadsbeskrywing is nie. Met beide die visuele uitbeelding van die animasiefilm en die voorlesing van die gedig verstaan die kyker die karakter/spreker se angs en vrese omtrent die stad: dis 'n vrees wat iedereen ken. Hierdie skeiding van die visuele en die voorlesing is veral effektief omdat dit die visuele medium se mag om jou vasgenael te hou, beklemtoon, maar so ook die beskrywende mag van die gedig.

Jac en Wessel Hamman se film is nog 'n goeie voorbeeld van hoe visuele kuns en poësie mekaar kan aanvul en uitbrei. Die stadsruimte wat Opperman in 1945 geskets het, word byvoorbeeld in die visuele vertolking daarvan in die hede geplaas, wat die angs omtrent Opperman se stadsbeskrywing as 'n universele beklemtoon. Die animasiefilm is verder ook 'n goeie voorbeeld van hoe 'n film literêre metafore kan uitbeeld sonder om die intensie en krag van die metafoor te verloor.

Skermgrepe uit Jac en Wessel Hamman se animasiefilm Stad in die mis (Filmverse 2, 2016)

Dit is nie net bogenoemde twee voorbeelde wat spog met die meesterlike samekoms van animasie- en digkuns nie. Al 12 gekose gedigte en die mate waarin dit geanimeer is, is 'n hupstoot vir beide die animasiekuns en die digkuns, wat nuwe generasies van kunstenaars en skrywers sal aanwakker tot die potensiaal wat die Suid-Afrikaanse kunste inhou. Uiteindelik maak die mate waarin die gedigte vir die animasiekortfilms interpreteer is, nie saak nie, maar eerder dát visuele kunstenaars – beide kenners en nuwelinge in die veld – die Afrikaanse digkuns so hoog ag dat hulle hul talente daarop spandeer. Die ATKV se motivering met die projek om Afrikaanse poësie en die animasiekuns te bevorder, verdien daarom ook 'n luide applous.

Diek Grobler, kreatiewe regisseur van die Filmverse-projek, noem dat die projek ten doel het om “'n forum vir onafhanklike animasie in Suid-Afrika te skep; om Afrikaanse poësie meer sigbaar en toeganklik te maak” en om “Afrikaanse animasiefilms van internasionale gehalte te maak”[9]. Met die aantal pryse wat die projek op plaaslike kunstefeeste ingepalm het, asook die internasionale erkenning wat van die animasiekunstenaars al verwerf het, is hulle beslis op die regte spoor. Mag daar nog talle projekte onder dié vaandel verskyn.

[1] Orson Welles on the use of wide screen processes. 2007. [Intyds] Beskikbaar: http://www.wellesnet.com/orson-welles-on-wide-screen-processes (4 Oktober 2016 geraadpleeg).

[2] Kyk byvoorbeeld na die toneel waar Ulysses Everett McGill (George Clooney) en sy makkers deur sirenesang verlei word. (Skakel na toneel: https://www.youtube.com/watch?v=Amps6EVfB00.)

[3] Filmverse 2-boekie (2016:6).

[4] ‘n Insiggewende TEDed-eksperiment van drie animasiekunstenaars se interpretasies van 'n Walt Whitman-gedig toon die verskil wat die animasiekunstenaars se onderskeie interpretasies van dieselfde gedig op die uiteindelike film het. Die films kan hier gekyk word: http://ed.ted.com/lessons/a-poetic-experiment-walt-whitman-interpreted-by-three-animators-justin-moore.

[5] Filmverse 2-boekie (2016:9).

[6] Filmverse 2-boekie (2016:9).

[7] Filmverse 2-boekie (2016:9).

[8] Filmverse 2-boekie (2016:13).

[9] ATKV Filmvers 2 boekie (2016:7)

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top