Repliek op Willie Burger se kommentaar aangaande literêre teorie

  • 1

Bron: www.chess.com

Henning Snyman het onlangs hierdie artikel omtrent literêre teorie op LitNet geskryf. Die artikel het heelwat gesprek uitgelok. Hy het repliek gelewer op kommentaar van Helize van Vuuren onderaan die oorspronklike artikel. Hier lewer Henning Snyman repliek op kommentaar wat Willie Burger gelewer het.

Teks en teorie: Leser se spel met teks, of teks se spel met leser?

Repliek: Elke teks is 'n vorm van taalhandeling


 

Willie Burger se reaksie op my essay dat dit  met die denke van die laat-vyftigs resoneer, is duidelik bewys daarvan dat hy my essay uiters enkelvoudig lees. Nêrens gee ek te kenne dat 'n teks net op een manier gelees kan en moet word nie. Dit is ook duidelk dat Burger kennelik nie my gepubliseerde resensies en teksontledings onder oë  gehad het nie. Die doel en betoog in my essay was om te kla teen interpretasies wat die teks uit die staanspoor verbind met 'n oënskynlik-toepaslike teorie en dan die teks daarmee belaai. Die sikliese aard van 'n goeie teks maak dit natuurlik moontlik om die teks in vele vorme te ervaar. My beswaar is dat te veel huidige resensente en teksinterpreteerders 'n teks wil etiketteer, of net so erg, om aan te neem dat elke goeie teks hom setel in watter teorie ook al. Moet ons dus aanneem dat 'n skrywer 'n teks skep vir/binne 'n bepaalde denkraamwerk en dat die resensent daardie raamwerk moet openbaar? Teksteorie is 'n filosofiese kwessie, nie primêr 'n literêre een nie.

Ek is nie so naïef om te dink dat die semantiek 'n eenvoudige kwessie is nie, inteendeel. My argument is/was dat die gedig as taalkunswerk eerstens vanuit daardie beginpunt gelees moet word, en nie noodwendig 'n politieke of sosiologiese of psigologiese insig of openbaring moet wees nie. Die belangrike faktor wat ook vir Helize van Vuuren pla is iets wat ek nie genoem het in my essay nie, maar wel impliseer, naamlik die hermeneutiese lesing van 'n teks. Dit sou 'n doodvonnis vir 'n teks wees om so in isolasie te gaan en dus te stagneer.  Die werklik goeie teks leef werklik telkens opnuut, en kan sekerlik ook 'n bepaalde teoretiese belading agterlaat. Resensies en ontledings wat ek self skryf, getuig wel van 'n deeglike kennisname van die sikliese aard van 'n goeie teks.  Werk van die ouer digters kan opnuut toegepas word op die moderne situasie in die wêreld en in ons eie land. Min van die huidige geslag digters lewer beduidende en volhoubare bewys daarvan. Dit hang ook daarmee saam dat resensente dikwels mindere werk behoorlik "komfortina" met 'n mooi lagie teoretiese vernis.

Die kommentaar van Burger en Helize het interessante insigte gebring. En terloops Helize, jou lesing van "Vuurbees" is nou meer ter sake as toe jy dit geskryf het!

  • 1

Kommentaar

  • Helize van Vuuren

    Nagedagte en belangrike korrektief op ons aller gestoei tot helderheid:

    Paul Celan:
    "Die gedig hoort net so min in die huis van die Betrokkenes, as in die tuiste van die Estete (...) dit beweeg sig op ander bane; dit slaan ag en dit luister; en van hierdie agslaan en luister, praat dit, met sy kommer en sy gram, met jou - praat dit uiteindelik, vanaf die horison van sy oneindigheid - na jou self toe".

    [Das Gedicht hört ebensowenig auf das Hüh der Engagiertien, wie es auf das Hott der Ästheten (...) hört; es bewegt sich auf anderen Bahnen; es horcht und es lauscht; und von seimen Horchen und Lauschen her spricht es sich, mit seinem Kummer und seinem Gram, dir zu - spricht es dich - endlich, d.h. vor dem Horizont seiner Unendlichkeit - dir selbst zu.]

    Aangehaal in PAUL CELAN. DIE GEDICHTE. KOMMENTIERTE GESAMTAUSGABE IN EINEM BAND. (herausgegeben und kommentiert von Barbara Wiedemann). Frankfurt: Suhrkamp: 2003: 706.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top