Repliek op Pieter Redelinghuys se Afrikanerskapskaal

  • 7

Op 15 Oktober lewer Pieter Redelinghuys spottenderwys kommentaar oor wat hy reken die tipiese Afrikaner sou wees.  Kennelik assosieer hy hom nie met hierdie 'tradisionele' Afrikaner nie; hy en sy 'demokraties-liberale' (Piet Croukamp se klassifikasie) genote is nou die 'Nuwe' Afrikaner, iets wat jy moet wees in Die Nuwe! Verbeterde! Suid-Afrika (erkenning aan Anton Barnard vir hierdie term).  Hier volg 'n paar tipiese eienskappe van hierdie Nuwe! Afrikaners:

  1. Hulle beveel aan dat jy dit moet vermy om jouself 'n Afrikaner te noem; dit gee blykbaar aanstoot.  Piet Croukamp noem dit 'verpak'; 'jy moet jouself nie as Afrikaner verpak nie.'  Terselfdertyd dring hulle daarop aan dat die bruines ook  Afrikaners genoem moet word.  Bietjie van 'n anomalie hier; hoe werk dit?  Miskien moet hulle ons hieromtrent inlig.
  2. Hulle speel vir die nuwe gehoor, probeer Browniepunte verdien; maak alles wat as Afrikaans beskou kan word verdag, agterlik en/of belaglik. 
  3. Rep nie 'n woord oor die agteruitgang van Afrikaans en Afrikaanse instellings nie want dit sal veroorsaak dat hulle Browniepunte verloor want dit stel die bedeling, waarvoor hulle hulself beywer het, in 'n swak lig.
  4. Sprak g'n sprook oor die straat- en dorpnaamveranderinge nie.  Om die waarheid te sê, hulle praat dit partykeer nog goed ook.  Max du Preez het op 'n stadium gesê ons het ook name verander, hulle (die nuwe regering) kan dit ook mos nou doen.
  5. Hulle praat goed Engels of probeer hulle bes om goed Engels te praat.  Hulle sal liewer tien dode sterf as om uitgevang te word dat hulle nie kan Engels praat nie.  Hulle is tot so 'n mate in die verleentheid dat baie van hulle hul kinders Engels grootmaak en die gevolglike verengelsing van die nageslag maak nie saak nie.
  6. Hulle praat swak Afrikaans.  Die ou Afrikaanse stasie is deur hulle gekaap (word nou RSG genoem) en die hoeveelheid Engels neem by die dag toe.  Baie van die omroepers se Afrikaans is so swak ek twyfel of hulle standerd 8 Standaard-afrikaans sal deurkom.
  7. Hulle vermy dit om na die mislukte staat te verwys – brandende bande, vervalle infrastruktuur, klipgooiery, gewelddadige stakings, korrupsie, onbekwaamheid, die soort van ding.  Mens kan hulle seker nie kwalik neem nie; hulle het hulself beywer vir die totstandkoming van hierdie bedeling. 
  8. Hulle is paternalisties by uitstek; niks mag gesê word wat as anti-swart vertolk kan word nie.  Die arme Annelie Botes en die sogenaamde Reitz-vier was verguis tot in die aarde in.  Malema se oproep tot geweld teen wittes is so te sê ignoreer.
  9. Hulle moet kort-kort daarop wys op die wonderlike en bevrydende gebeurtenis van '94, hoe slegter dit gaan hoe kort-korter verwys hulle daarna.  Terselfdertyd maak hulle dan ook weer verskoning vir sogenaamde apartheid.
  10. Hulle ignoreer grootliks die aanvalle op weerlose plaasmense.  Waar hulle nie anders kan nie, waar hulle byvoorbeeld direk daarmee gekonfronteer word, maak hulle dit af as óf gewone misdaad óf as verdiende wraak op die boer óf as ons slegte voorbeeld.

Wat 'n verleentheid.  Ek hoop die wêreld daarbuite besef Ons Is Nie Almal So Nie.

Jan Rap

  • 7

Kommentaar

  • Pieter Redelinghuys

    Beste Jan,

    Dankie vir jou brief en, glo dit of nie,  verstaan ek goed jou leed en pyn. Die feit van die saak is dié dat die Afrikaner ’n k-k hand deur die geskiedenis gedeel is, en hulle het hulle kaarte ook sleg gespeel. Die geskiedenis van Suid-Afrika  is die geskiedenis van twee botsende nasionalismes, een wit en een swart, en die einde van hierdie stryd kon mens van die staanspoor redelik goed voorspel weens die tiranie van syfers.

    Daar was in die verlede die Afrikaner soos Jannie Hofmeyer wat reeds aan die begin van die vorige eeu  samewerking tussen alle Suid-Afrikaners, onafgesien van kleur, gepleit het, ook Generaal Smuts, wat ’n visie gehad het van ’n Suid-Afrikaanse nasie, maar hulle beide is uigekryt as verraad teen die Afrikanervolk deur elemente in die Transvaal. Laasgenoemde se mentaliteit was natuurlik gevorm deur die geskiedenis van die Groot Trek, die Anglo-Boere Oorlog, en die herinnering van die konsentrasiekampe, almal traumatiese ondervindinge wat die meeste inwoners van die Kaap nooit geraak het nie. Die resultaat hiervan is dat die Afrikaner nooit ’n homogene nasie was nie omdat hy nie ’n gemeenskaplike geskiedenis deurleef of ondervind het nie.

    Daar is van ons wat altyd ’n Suid-Afrikaanse burgergerskap voorgestaan het omdat dit op lange duur onsinnig sou wees om 80% van die bevolking uit te sluit. Onder die vorige bestel was so iets nie moontlik gewees nie. Elke individu was ingehok in sy eie boksie, en geen nasie kan op langeduur so voortgaan nie. Suid-Afrika was nooit ’n "normale" land in enige sin van die woord gewees nie, maar ’n geografiese area aan die Suidpunt van Afrika waar verskillende stamme, wit en swart, apart van mekaar geleef het. As hierdie bestel regverdig toegepas was sodat almal daarby kon baat, kon mens nog ’n saak daarvoor uitgemaak het. Maar die konsensus bestaan dat  die wittes ten koste van die res bevoorreg is.

    Die "nuwe Afrikaners" wat jy so minag en verag wend ’n poging aan om hulle aan te pas by veranderde omstandighede. Hulle posisie is nie benydenswaardig nie, en dalk die beste oplossing vir hulle sou wees om met hulle kinders te emigreer waar hulle kinders nie die las van die verlede op hulle skouers hoef dra nie, en hulle kan smelt in ’n nuwe nasie. Een dag toe ek so "surf" op die internet het ek toevallig afgekom op ’n webblad van ’n Nieu-Seeland koerantblad wat ’n foto vertoon het van ’n tweeling  Redelinghuys broers ( nou 15 jaar oud) wat ’n toernooi in stoei daar gewen het. Volgens die berig het hulle soontoe geimmigreer toe hulle 8 jaar oud was. Hulle sal daar grootword en nie gesaal sit met die komplekse van Afrikaner-identiteit nie.

    Om af te sluit sal ek ’n beroemde kwotasie van die ou Krokodil wil aanhaal:  Afrikaners wat Afrika hulle tuisland wil maak sal eenvoudig moet "adapt or die"

    Beste groete,

    Pieter Redelinghuys

  • Jan Rap

    Jou glas is nie net halfleeg nie – die hele glas met halwe inhoud en al is skoonveld!

    Kry solank daardie Aussie-visumaansoek reg.

    Thomas

  • Thomas, ek lei af ek is pessimisties volgens jou maar dat jy saamstem anders sou jy tog gesê het waar jy dink ek mistas. 
    Hoekom Australië? Hulle praat Engels daar en ek hoor die plek is so oorreguleer jy moet toestemming kry om ’n braaivleisvuur te maak.  Kanada is bedompig in die somer en yskoud in die lang winter, amper 9 maande lank glo en die plek is net so oorreguleer soos Australië - jou kinders mag blykbaar nie eers in jou eie tuin kaalvoet loop nie. 
    Orania is ’n opsie maar ek twyfel of hulle Sondae rolbal speel.  Ek het lanklaas gespeel maar as ek die dag gaan speel is dit gewoonlik op ’n Sondag.  Ek glo ook nie hulle gaan toelaat dat ek my tuinboukundige assistent saambring nie.
    Maar watse vermetelgeid is dit met jou? Julle ouens fok die land op en as mens julle daarop wys wil julle ons wegjaag. Jy kan nie so maklik wegkom nie; jy moet maar die kritiek vat en dan probeer regmaak waar julle verbrou het en besig is om te verbrou.

  • Jan

     'Julle (Afrikaanse) ouens fok die land op en as mens julle daarop wys wil julle ons wegjaag. Jy kan nie so maklik wegkom nie; jy moet maar die kritiek vat en dan probeer regmaak waar julle (Afrikaners) verbrou het en besig is om te verbrou.

    Nou hoe kom jy daaraan Jan? Sover my kennis strek, is dit die ANC regering wat die land opfok, en dat die Afrikaner nie eers ’n faktor in hierdie party is nie. Of is dit wanneer ander Afrikaners met jou verskil sien jy hulle as deel van die ANC soos Judge Dredd dit die gewoonte het.

    Ek sou graag feitlike voorbeelde van jou wou sien hoe Afrikaners soos Thomas die land opfok.

    Jaco Fourie

  • In haar Rapport-blog week van 18 Oktober skryf Cathy Kotzé dat sy ’n Afrikaner is en dat sy ’n Afrikaner sal doodgaan. Só is daar ’n paar miljoen van ons. Dan is daar diegene wat die Afrikaner verguis, wat elke nou en dan die motiewe van die werklike Afrikaner bevraagteken om  hom in ’n swak lig te stel.

    Op 10 Februarie 2012 het Rapport ’n brief van my geplaas: "Die Afrikaner-karwatse" waarin ek uitgelig het dat die Afrikaanse rubriekskrywers die Afrikaner se geskiedenis teen die vergrype van die huidige regering s’n afspeel om die ANC se vergrype sag op die oor te laat val. Natuurlik ook om die Afrikaner in ’n swak lig te stel. Propaganda? 

    Op 10 Maart 2012 het Rapport ’n skrywe van my geplaas: "Taal en kultuur: die totale aanslag". 

    Dawie skryf in sy rubriek in Die Burger van 15 September 2012: "Haal die angel uit die Afrikaner". 

    Tim Du Plessis skryf in sy rubriek in Rapport van 14 Oktober 2012: "Sonder die ou establishment". 

    By die afgelope Aardklop-kunstefees debatteer Flip Buys en dr. Jackie Grobler wie van Pres. Paul Kruger of Genl. Koos de la Rey die grootste Afrikaner van alle tye was. Ook koerant-webblaaie vra dié vraag aan hul lesers. 

    In die week van 10 Oktober op Radio RSG die oggend hier by half agt, gesels Cobus Bester met gaste dr. Piet Croucamp en nog ’n persoon. Daarin betoog dr. Croucamp dat die Afrikaner nie meer bestaansreg het nie. Dat die Afrikaner-organisasies die land nie ’n guns doen nie. Stem Cobus Bester saam en vertel hy dat hy die vraag "Wat is ’n Afrikaner?" op sy webblad gevra het, dat daar soveel uiteenlopende antwoorde was dat daar nie werklik meer ’n Afrikaner is nie. 

    Die middag gesels Ian Wessels in sy program met inbellers om hul opinie te verneem van destydse groot leiers. Daarin vertel hy dat Piet Retief maar ’n obskure karakter was, blykbaar ook maar korrup. Dat Piet Retief in geldelike verknorsing was en dat dit die beweegrede was wat hom by die Groot Trek laat aansluit het.

    So kan ons aangaan met die verdagmakery. Kalwe so elke nou en dan, ook sommer aanmekaar as die geleentheid hom voordoen, aan die geloofwaardigheid van die Afrikaner en sy verlede. 

    Die groot oogmerk?

    Nie nodig om te raai nie. 

    Aan diegene hier bo wat nie ’n Afrikaner is nie, wil ek graag sê: "Ons het bestaansreg in die land en julle sal ons nie verhoed om Afrikaner te wees, om ekonomies aktief te wees en om die land wat ons lief het positief met bydraes en energie die toekoms te help ingaan nie."  

  • Thys Human (PTA)

    My enkele opmerking van "uitstekend" was kommentaar op Jan Rap se stuk, nie op Redelinghuys se antwoord nie. My kommentaar op Redelinghuys word net met drie letters gespel ...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top