Repliek op Dirk en Angus se kommentaar op my brief van 16 deser

  • 1

Dirk en Angus

Dirk jy yl as jy dink Afrikaans het ooit “die septer geswaai”; Afrikaans was destyds geensins in ’n beter posisie as wat Engels in Engeland, Pools in Poland en Turks in Turkye tans is nie.  Dat Afrikaans nou so oorheersend sou wees is dieselfde soort regverdiging vir die f#k#p as die floue "dit is nou 2017" of “daardie dae is vir ewig verby”.

In dieselfde raamwerk is die floue argument dat Afrikaanssprekendes nie voorkeurbehandeling moet verwag nie.  Hoe kan die weerstand teen die agteruitgang van Afrikaans nou vereenselwig word met “voorkeurbehandeling”?  As ’n ou jou motor kaap, of jou huis beroof, is jy dan skuldig daaraan dat jy voorkeurbehandeling verlang as jy die saak by die polisie gaan aangee?  Wat ek verlang, en waaroor my en Angus se gesprek hoofsaaklik gaan, is nie voorkeurbehandeling nie, maar gelyke behandeling en, baie belangrik, dat KykNET en RSG hulle ondermyning van Afrikaans moet staak.

Jy vra of ek nou “wragtig verwag” dat die staatsdiens aan al elf amptelike tale gelyke behandeling moet gee.  Snaakse vraag, hoekom sou ek nou verwag dat al elf tale gelyke behandeling moet kry as ek uitwys dat Afrikaans aan die agtertiet suig?  Ek wil hê die behandeling wat Afrikaans geniet het voor ’94 moet weer gebeur. 

As die Zoeloes, Basoetoes ens vir húlle tale gelyke behandeling wil hê is dit hulle keuse maar hulle verkies Engels; gaan skoon na Afrikaanse skole toe en dring daarop aan dat hulle kindertjies in Engels onderrig moet word.  Indien hulle sou aandring op gelyke behandeling vir hulle tale sal ek hulle egter nie kwalik neem nie; daar is per slot van rekening elf amptelike tale en “amptelik” beteken amptelik; daar is nie so iets soos semi-amptelik nie.

Die argument dat Afrikaans dan voorkeurbehandeling bo hulle tale kry is ’n versinning.  Omdat hulle Engels verkies en nog nooit dieselfde stryd en moeite ten opsigte van hulle tale gehad het nie moet ons Afrikaanssprekendes nou maar inval by hulle gier.  Afrikaans is afgradeer na ’94 en hulle tale het gebly waar hulle was en nou moet ons maar met hierdie afgradering verlief neem want dit gaan die swartes aanstoot gee.  Wat drek.

Nog iets, Dirk – jou stelling dat elke Afrikaanssprekende in die land Engels verstaan is loutere snert. Wat laat jou daardie stelling maak?  Die feit dat Engels ’n skoolvak is?  Dit sê niks; hier in my omgewing is Engelssprekendes wat niks, glad NIKS verstaan as jy met hulle Afrikaans praat nie ten spyte van die feit dat hulle die vak tot matriekstandaard gehad het.  Hulle het ’n vae begrip as hulle dit lees maar verstaan nie die gesproke woord nie omdat hulle weinig of geen oefening daarin gehad het nie.  Hoekom sou dit anders wees ten opsigte van sommige Afrikaanssprekendes in die platteland?  Of dink jy Afrikaanssprekendes is taalkundig beter beter aangelê as Engelssprekendes?  Moenie belaglik wees nie man.

Jy’t baie tevrede vertel hoe jy in jou omgewing in Afrikaans bedien word alhoewel die papierwerk in Engels was.  Ek wys jou toe daarop dat daar ’n tyd was wat die papierwerk in Afrikaans was en dit vertolk jy as Afrikaner-“supremacy”.  Nou toe nou, gelyke behandeling vir Afrikaans is Afrikaner-supremacy. 

Jy’s erg onthuts oor ek beweer dat RSG en KykNET deel het aan die ondermyning van Afrikaans maar terselfdertyd kom jy met stories wat as redes vir die agteruitgang van Afrikaans vertolk kan word soos dat Afrikaans die septer geswaai het, dat “Afrikaner-supremacy” vir ewig verby is en dat ons nie kan verwag dat Afrikaans voorkeur bo ander tale moet geniet nie (net Engels mag voorkeur kry want die “ander” wil dit hê), so soort van ’n  blinde-sambok-ding; dis ons verdiende loon.  So wat is dit nou?

Dit is duidelik dat jy insien dat Afrikaans erg status verloor het (maw agteruitgaan) maar jy troos jou daaraan dat dit karma is; ons word deur die blinde sambok gepiets.  Die implikasie is jou en my ouers, en ons oupas en oumas en oupa- en oumagrootjies was bose mense, meer boos as Kitchener- en Tsjaka-hulle en nou moet ons maar verduur.  Dis mos onsin man. Dit is kaartehuis-argumente opgedis deur mense wat weier om te erken die keiser is kaal. 

Angus, ek hoef nie jou vraag oor watter taal die miljoene Afrikaanssprekendes gaan praat te antwoord nie, want jy het homself geantwoord – Engels.  Ons is halfpad daar as jy na die sepies luister en met die gedienstige en gedwee houding van ouens soos jy en Dirk – wat lyk dit my die grootste gros van Afrikaanssprekendes verteenwoordig – is ons binne ’n ommesientjie driekwart pad en na nog ’n kort tydjie is dit koebaai Afrikaans soos jy sê.

Jan Rap.

 

 

 

 

 

  • 1

Kommentaar

  • Jan
    Ek het vooraf eintlik geweet dat dit nie moontlik is om met jou te debatteer oor die posisie van Afrikaans in SA nie. Soos ek alreeds in 'n onlangse skrywe uitgewys het, is jou standpunt ivm Afrikaans geheel en al ideologies gefundeer en geïnspireer. Ek sê dit weer: Jy stel Afrikaans gelyk aan Suid-Afrika. Hoekom moet Afrikaans bo-aan die Wildtuinbrosjure staan as slegs 12 persent van die RSA se bevolking Afrikaans eerste-taalsprekend is? Jou argument van "Engels in Engeland, Pools in Pole en Afrikaans in Suid-Afrika" is absurd.
    Verder: Jou swaard is nou al stomp gekap teen die windmeule van RSG en KykNET wat Afrikaans "aktief ondermyn" soos jy sê. RSG het 1.7 miljoen luisteraars wat 24 uur per dag in Afrikaans na die radio luister en KykNET en drie ander suster-kanale saai óók uit in Afrikaans, 24 per dag! Dis nou aktiewe ondermyning van Afrikaans.
    Nog iets: Het jy al ooit gedink wat die koste sal wees om Afrikaans oor die hele staatsdiens "gelyke behandeling" te gee? Elke personeellid, elke vorm, elke rekenaarprogram, elke kennisgewing, elke ...?
    Hou op om die arme Afrikaanse mense op die platteland te beledig. Hulle verstaan almal Engels, want hulle word van kleins af daaraan blootgestel.
    Laastens: Afrikaans se posisie het alles te doen met demografie en niks met "swartes aanstoot gee" nie.
    O ja, en die uitdrukking is "vir lief neem" en nie "verlief neem" nie. Jy is verlief op jou vrou, maar jy neem vir lief met 'n saak (of nie).
    Afrikaanse groete.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top