Reis deur die Bybel: 'n Resensie

  • 2

Titel: Reis deur die Bybel. Ontdek die Bybel deur belangrike verhale
Skrywer: V Gilbert Beers
Uitgewer: Lux Verbi (2012)
ISBN: 9780796312952
Prys: R310

Koop Reis deur die Bybel van Kalahari.com



Hierdie mooi, ryklik geïllustreerde naslaanwerk waarin lesers veral agtergrond-inligting oor die belangrikste Bybelse verhale kan vind, is, soos die voorwoord self uitwys, een van vele wat gereeld op die mark kom.

Dit bly opvallend hoeveel publikasies oor die Bybel in hierdie genre nog steeds geskryf en gedruk word. Die Christendom is sekerlik, wat dit betref, nog springlewendig en die mark vir sulke boeke skynbaar onversadigbaar.

Nog opvallender is dat hierdie belangstelling bloot net op die Bybel gerig is. In ’n sekere sin is dit te verwagte. Die Bybel is immers die een konstante faktor wat die vele Christelike kerke en groepe as gemeenskaplike faktor het, maar wat tog self baie vrae en onsekerhede oproep. Mense wat na aan die teks leef, weet hoeveel bespreking een klein gedeelte daarvan kan uitlok. Boeke wat kan help met antwoorde, het dus skynbaar ’n gewaarborgde mark.

Die belangstelling in die Bybel blyk byvoorbeeld reeds al uit die baie vertalings van die Bybel uit die oorspronklike tale (Hebreeus, Aramees en Grieks) wat deesdae deur individuele uitgewers aangebied word en lankal nie meer in die hande van die bekende Bybelgenootskappe is nie. Soos taalkennis en taalvaardighede ontwikkel en hulle deur interdissiplinariteit die Bybelwetenskappe ingrypend beïnvloed, word Bybelboeke op sistematiese wyse deur goed-opgeleide kundiges vir ’n bepaalde teikengroep of volgens ’n bepaalde vertalingstrategie vertaal. Daar is vertalings vir jongmense, kleuters, tieners, seniors, en selfs vir dowes. Die teks word doelbewus aangebied as ’n parafrase, of in moderne, letterlike, keurige en selfs meer spirituele vertalingsvorme. En hierdie vertalings bly verkoop en maak geld vir uitgewers. Die mark is reeds op hierdie mees basiese vlak ook skynbaar onversadig.

Net so opvallend is hoeveel geïllustreerde werke van die Bybelse teks verskyn – waarvan hierdie boek een voorbeeld is. ’n Mens dink byvoorbeeld aan die feit dat die Afrikaanse Handboek by die Bybel (’n vertaling van die Lion Handbook) van David en Pat Alexander, wat in vele wêreldtale verskyn het, reeds ’n paar keer in ’n kort tydperk in Afrikaans herdruk is. In ’n sekere sin verteenwoordig hierdie naslaanboeke die koffietafel-genre: die Bybelse teks word kortliks in hervertelde formaat aangebied, maar dan veral met allerhande kleurryke en interessante inligting, sketse, tabelle, kaarte en foto’s aangevul. En hulle het ’n wye leserskring in die oog.

Hierdie lekkerlees-, goedversorgde en ryklik geïllustreerde naslaanboeke word, soos Reis deur die Bybel, in ’n sekere sin ’n aangename afwisseling op die Bybel as teks uit die antieke wat meestal in sy kriptiese en hoogs kultuurgebonde formaat nie altyd so direk en maklik in ’n moderne tyd kommunikeer nie. In ’n sekere sin is die enorme belangstelling in sulke boeke dus byna gewaarborg. Die Bybel is immers 2 500 jaar gelede al geskryf. Die kulturele gaping tussen moderne en antieke tye is besonder groot.

Die Bybel self is ’n massiewe biblioteek met minstens 66 boeke (afgesien van die apokriewe en pseudepigrafiese werke) wat almal ’n hele eie konteks en wêreld veronderstel wat oor eeue heen strek en wat die grootste wêreldryke betrek. Niemand kan die boeke ooit verstaan sonder toegang tot grondige inligting oor al die wêrelde nie. Met die tegnologiese vooruitgang, die ontwikkeling van fotografie, die argeologie en die maklike toegang tot Bybelse lande het ’n feitlik onoorsigbare klomp inligting beskikbaar geraak. Pragtige en selfs kunstige foto’s van Bybelse tye en plekke word gevolglik in sulke boeke opgeneem en gee lesers in een opslag toegang tot kontekstuele inligting waarvan vroeëre lesers nooit eers kon droom nie. Lesers kan deur eenvoudige illustrasies en foto’s agterkom presies hoe lyk bybelse items soos ’n strydwa, ’n fluit, ’n ramshoring, ’n houtjuk, seëls, plante, wynsakke, bottels, ’n warrelwind (waarin Elia opgeneem is) en die klaagmuur. Selfs bybelse gebruike soos wanning (skei van koring en kaf) en broodbak kan helder en sonder omhaal van woorde uitgebeeld word (130, 140). Dit is items wat in ’n moderne kits- en stadskultuur nie maklik sonder hierdie tipe inligting konnoteer nie.

Die massiewe klomp tekste en argeologiese vondste wat deur hoogs produktiewe Bybelwetenskaplikes versamel en nagevors word, maak konstant en op groot skaal nuwe materiaal vir publikasie beskikbaar. Daar is óf inligting wat voorheen ontbreek het, óf nuwe inligting wat vorige uitsprake verouderd maak en vervang. Die naslaanboeke van ’n jaar of vyf gelede sal dus in sommige opsigte anders lyk as die nuwes wat tans op die mark kom. Die ontwikkelinge op hierdie terrein is verstommend. ’n Mens verstaan dus die stroom van nuwe naslaanboeke wat steeds op die mark kom.

Reis deur die Bybel bespreek al die belangrikste Bybelverhale deur dit veral met agtergrondinligting in te vul. Beers, die skrywer, is gesout in die skryf van sulke materiaal. Hy het al 150 boeke geskryf, waarvan al meer as 13 miljoen kopieë verkoop is. Baie hiervan is boekies oor die Bybel wat veral vir die kindermark geskryf is. Hy is ook bekend as redakteur van die bekende en wydgelese Christianity Today en is dus iemand wat besondere ervaring in die mediawêreld het.

Die toon van die boek is evangelikaals en moet dus binne ’n gematigde, hoofstroom-konteks geplaas word. Daar is egter nie duidelike kerklike of ideologiese inhoude nie. Dit bly ’n boek wat veral op Bybelse inhoude en kontekste fokus, met min (indien enige) aandag aan leerstelling-interpretasie.

Die boek het ’n nuttige en goeie indeks, wat nodig is omdat sekere inligting in latere verhale in die lig van vroeëre inligting gelees moet word. Dit is in sekere opsigte dus ook ’n ensiklopedie in die kleine. Dit is voorts ’n naslaanboek wat nuttig vir voorbereiding vir ’n Bybelstudie of groepswerk gebruik kan word. Elke afdeling bied die tipe inligting wat nodig is as eerste stap in die besinning oor die inhoud van die Bybel.

Reis deur die Bybel wil egter nie net nog ’n naslaanboek wees nie. Die boek maak aanspraak daarop dat dit, anders as ander soortgelyke naslaanboeke wat die Bybelteks versie-gewys van begin tot einde volg, op die verhale in die Bybel fokus. Die boek Handelinge word byvoorbeeld op dié manier van storie tot storie deurgewerk vanaf die hemelvaart, pinkster, die genesing van ’n verlamde, die verskyning van die apostels voor die Joodse raad, die gelowiges en die sewe diakens tot by sy slot, wanneer Paulus in Rome aankom om voor die keiser te verskyn. Die aanbieding volg die Bybelse teks, maar laat sekere korter dele weg.

Baie anders lyk die gedeelte oor die evangelies. Lesers sal nie afsonderlik hoor van Matteus, Markus, Lukas en Johannes nie. Die materiaal in hierdie gedeelte word gerangskik volgens die verhale daarin. Jesus se laaste dae word byvoorbeeld aan die hand van verskillende episodes vertel: dit strek van Getsemane, Sy verhoor, Petrus se verloëning, Judas se selfdoding, Jesus voor Pilatus, Sy veroordeling, Sy lydensweg en Sy sterfdag tot die besoek aan die graf deur die vroue, Petrus en Johannes en Maria. Vir elke verhaal word verwysings in al vier die evangelies gebruik.

Die gevolg hiervan is dat die niehistoriese materiaal, soos die Pauliniese en katolieke briewe, nie ter sprake kom nie, behalwe in kort besprekings (bv Paulus se sendingreise en, as ’n vonds, Filemon). ’n Ander belangrike gevolg is dat die eie aard van die verskillende verhale in hul oorspronklike literêre kontekste nie tot hul reg kom nie. ’n Leser sal deur hierdie boek nie besef hoe verskillend elkeen van die vier evangeliste die verskillende verhale in die laaste dae van Jesus vertel nie en watter unieke geestelike boodskap die evangeliste deur hul weergawe van ’n gebeurtenis wou aanbied nie.

Nog ’n nadeel is dat die geestelike boodskap van die verhale nie altyd helder genoeg na vore kom nie. In ons wêreld, waar kerke nog koppe stamp in eindelose debatte oor die historiese realia agter Bybeltekste, en kundiges mekaar nydiglik verketter oor historiese kwessies, help so ’n boek die leser nie genoeg om te besef dat die geskiedenis agter die boek alleen maar ’n toegang bied tot die belangriker, groter vraag na die geestelike betekenis daarvan nie. Die Bybel wil immers nie ’n lysie van historiese en interessante feite aanbied nie. Dit wil vertel hoedat in die geskiedenis mense in die antieke in hul geestelike reis lewensin gesoek en ontdek het. Hierdie boek met sy reis deur die Bybel vra daarom gedurige bewustheid dat ’n mens met die inligting daarin maar net begin met die groot proses van interpretasie en dat hierdie interpretasie veral gerig moet bly op die belangriker spirituele transformasie waarop die Bybel ingestel is.

’n Goeie voorbeeld in dié verband is die bespreking van die ryk verhaal van die Emmausgangers (336–7). Dit is ’n merkwaardige verhaal wat die vroeg-Christelike perspektief op die opstanding as bemagtigingservaring illustreer deur te vertel van die radikale omkeer van geestelike ontnugtering tot geestelike ywer deur ’n mistieke ervaring van sekere volgelinge van Jesus van Nasaret kort na sy dood. Lukas wil dus vir sy lesers vertel watter dinamiese kragte na Jesus se dood deur bepaalde ervaringe van sy dissipels losgelaat is. Die lang verhaal is oorlaai met diep geestelike insigte in hierdie mistieke ervaring. Al wat egter oor hierdie verhaal in Reis deur die Bybel ter sprake kom, is die vraag wie die twee dissipels was en waar Emmaus was – albei vrae wat vir Lukas heeltemal ondergeskik was aan die geestelike betekenis wat hy wou kommunikeer.

Die opmerkings beteken nie noodwendig dat die boek onbelangrik is nie. Inteendeel. Die Bybel laat sy geestelike impak ook deur die historiese, kulturele, poëtiese en literêre dimensies voel. Sonder hierdie konkrete inligting vergeestelik ’n mens die Bybel op ’n willekeurige en ongedissiplineerde manier. Die opmerkings beteken egter wel dat ’n mens steeds weer moet onthou dat al hierdie kontekstuele dimensies funksioneel is en in diens van ’n geestelike kommunikasieproses deur die teks self staan. Daarom is die dieper vrae belangriker.

Steeds weer moet die leser dus by die lees van hierdie Reis deur die Bybel bewustelik vra hoe al die nuttige inligting in hierdie boek die intensie van die Bybel om ’n geestelike boodskap oor te dra, dien. Lesers moet bewus bly dat hierdie netjiese boek nie bedoel is om antwoorde te gee aan mense wat met diepsinnige geloofsvrae worstel nie, maar om mense in te lig oor hoe stewig die Bybel gewortel is in ’n tyd wat totaal anders as ons tye lyk, sodat hulle teen dié agtergrond verder oor die geestelike implikasies van die Bybel kan nadink.

 


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief
. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

 

 

 

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top