Regter verstaan nie taaldiversiteit nie

  • 4

Die Afrikaanse Taalraad verskil ernstig van Regter Cynthia Pretorius se pleidooi voor die Regterlike Dienskommissie dat Engels maar die enigste hoftaal in Suid-Afrika moet wees. Sy het die stelling gemaak in haar onderhoud vir die pos van adjunk-regter-president van Noord-Gauteng. Regter Pretorius het volgens koerantberigte gesê dat die feit dat sy Afrikaanssprekend en Afrikaans gebore is nie teen haar gehou moet word nie. Na bewering is ’n beroep op haar gedoen om haar aan die aanstellingsproses te onttrek omdat sy Afrikaans is en aan die Universiteit van Pretoria gegradueer het.

Met haar pleidooi vir Engels as enigste hoftaal toon Regter Pretorius weinig begrip vir die diversiteit van Suid-Afrika se mense waar die Grondwet duidelik voorsiening maak vir elf amptelike tale. Met Engels as enigste hoftaal word die monde gesnoer van die sprekers van ander tale wat in die howe beland en wat dan slegs deur middel van die meer kunsmatige middel van tolking kan opereer. Haar aanname dat die “meeste hofgeskrifte in Engels is en die meeste mense Engels magtig is” berus op ‘n verkeerde siening van Suid-Afrika se taaldiversiteit en Suid-Afrikaners se grondwetlike regte en geldige aansprake op “moedertaalbediening” deur die owerheid. Die nuwe Taalwet maak origens voorsiening vir drietaligheid in die owerheidsektor. Regter Pretorius se pleidooi is heeltemal strydig met die taalrealiteite van Suid-Afrika, aldus die Taalraad.

Prof J van der Elst
HUB Afrikaanse Taalraad

  • 4

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    Die Afrikaanse Taalraad behoort die moed van sy oortuiging te hê om Engels en die ANC as die twee hoofbedreigings van Afrikaans te identifiseer en aan te dring op Afrikaans wat so vry moontlik van onnodige Engelse woorde en anglisismes gehou word.

    Johannes Comestor

  • Selfs 'n blinde kan "sien" wat hier aan die gang is. Regter Pretorius probeer haar kanse om 'n bevorderingspos te kry verbeter. Ek wed haar R10 dat dit nie sal slaag nie. Nie net haar taal nie maar haar velkleur is verkeerd. Dit help haar totaal niks om haar eie mense te verloën nie. Indien haar vertoë sou slaag sal sy talle swartmense in die proses benadeel.

    Prof Van der Elst is besig om sy amptelike plig na te kom. Eintlik ook 'n nuttelose oefening. Nogtans, sterkte aan hom.

    George

  • ookmaarjohanna

    Prof Van der Elst fouteer deur aan te dring op suiwer Afrikaans. Tale verander van dag tot dag. Almal weet woordeboeke is taalgeskiedenis. Engels, Maleis, Bruin, Swart, almal het bygedra en dra steeds by tot wat Afrikaans vandag is en ons behoort dankbaar te wees daaroor. Maar laat ons Afrikaans praat soos ons praat solank ons net aanhou praat en aandring op ons reg om ook in Afrikaans gehoor en gelees te word.

  • Ek was ook aanvaklik geskok deur die uitspraak - maar gaan dit nie dalk prakties wees nie? (PS ek is baie lief vir my taal) 

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top