Regsgeskille en die kerk: lesse te leer uit die saak van Johannes Fortuin en die Church of Christ Mission

  • 0

Regsgeskille en die kerk: lesse te leer uit die saak van Johannes Fortuin en die Church of Christ Mission

Helena van Coller, Fakulteit Regsgeleerdheid, Rhodes Universiteit

LitNet Akademies Jaargang 14(3)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

 

Opsomming

Dit is opmerklik dat kerke al hoe meer betrokke raak by regsgeskille. Hierdie konflikte het verskeie oorsake en sluit aspekte van finansiële wanbestuur, wangedrag van kerklike werknemers, onbehoorlike en selfs diskriminerende praktyke binne baie gemeentes in. Opmerklik is ook die verskeie voorbeelde van onbillike en onregmatige optredes deur die kerk teenoor lidmate of predikante en die nienakoming van hulle eie kerkordes en regulasies, wat in hierdie bespreking uitgelig word. Met verwysing na die saak van Johannes Fortuin is aangetoon dat die howe die gemeenregtelike bevoegdheid het om die besluite van huishoudelike tribunale of vrywillige verenigings (wat kerke insluit) te hersien en dat ’n hof sal inmeng en die besluite van sulke tribunale sal hersien slegs indien die kerk sy eie reëls verontagsaam het en nie die basiese beginsels van billikheid gevolg het nie. Selfs na die inwerkingtrede van die nuwe Grondwet sowel as die Wet op Administratiewe Geregtigheid bly die gemeenregtelike beginsels steeds relevant. Veral met verwysing na die beginsels van natuurlike geregtigheid blyk dit dat die howe die hersiening van private funksies soos dié van kerke steeds in die lig van die toepassing van die gemeenregtelike beginsels sien.

Met verwysing na verskeie voorbeelde word aangetoon dat ’n kerk nie sy bevoegdhede mag oorskry nie, anders is die handeling onregmatig. Binne geloofsinstellings beteken die beginsel van regmatigheid dat die betrokke kerkvergadering sy bevoegdhede by ’n tughandeling ooreenkomstig die bepalings van die Kerkorde en betrokke kerklike bepalings moet uitoefen. In die Fortuin-saak is aangevoer dat die optrede deur die kerk onregmatig was aangesien die liggaam wat die betrokke besluit moes neem, nie die nodige bevoegdheid gehad het nie en is aangevoer dat die besluit gevolglik tersyde gestel moes word. Uit die betrokke bepalings van die dissiplinêre kode was dit duidelik dat die applikant slegs na afloop van ’n dissiplinêre verhoor aan wangedrag skuldig bevind kon word. Daar was egter geen sprake van ’n dissiplinêre verhoor nie en gevolglik sou daar aangevoer kon word dat die kerk nie sy dissiplinêre bevoegdhede ooreenkomstig die bepalings van die Kerkorde en die betrokke dissiplinêre kode uitgeoefen het nie. Die kerk het duidelik sy bevoegdheid oorskry en gevolglik sou die handeling onregmatig wees.

Die bespreking het ook gefokus op die vereiste van prosedurele billikheid wat behels dat ’n benadeelde persoon ten minste voldoende kennisgewing moet kry van enige optrede teen hom en ’n voldoende geleentheid moet kry om sy saak te stel alvorens ’n besluit geneem word. In die Fortuin-saak moes die hof bepaal of die kerk tydens die besluitnemingsproses waartydens die applikant uit sy amp ontslaan is, voldoen het aan die vereistes van prosedurele sowel as substantiewe billikheid. Die hof beslis dat hy nie ’n billike verhoor gehad het nie en dat die kerk nie die beginsels van prosedurele billikheid gevolg het nie. Die kerk se besluit om hom uit sy amp te skors word tersyde gestel en die hof bepaal dat Johannes Fortuin onmiddellik in sy amp herstel moet word. Die artikel toon aan dat geloofsinstellings hulle kerkordes, konstitusies en ander bepalinge moet evalueer en seker maak dat hulle tugprosedures en dissiplinêre kodes voorsiening maak vir die nodige prosesregtelike waarborge wat voldoen aan die vereiste vir ’n billike verhoor.

Trefwoorde: dissiplinêre optrede; hersiening; kerklike besluite; prosedurele billikheid; prosedures; regmatigheid

 

Abstract

Legal disputes and what the Church can learn from the case of Fortuin v Church of Christ Mission of the Republic of South Africa and Others

South Africa is a richly diverse society, and this statement pertains to religious diversity as well. As is the case in any religiously diverse society, it is inevitable that members of different religious communities who hold different religious views and have practices will experience conflicts within, but also outside of these communities. Often these disputes end up in court, and although it is widely accepted that courts, and even the state, should not force religious associations to exercise their religion in a particular way, they are not automatically exempt from procedural constitutional and other legislative provisions and measures.

Recently the Port Elizabeth High Court in the case of Fortuin v Church of Christ Mission of the Republic of South Africa and Others (3626/15) [2016] ZAECPEHC 18 was confronted with a case where a religious minister sought judicial review of the church’s decision to disfellowship him from the performance of his pastoral duties as an ordained minister of his church. This case emphasised important aspects that have frequently emanated from especially disciplinary action by religious associations and from which religious associations can learn valuable lessons.

The first aspect that arose from the said case focused on the power of a court to review decisions taken by a church and the element of fairness. In order to establish whether the respondents in the Fortuin case followed fair or equitable procedures as contemplated in their own constitution, the court embarked on an investigation into the powers to review a decision taken by a religious association. In this regard the applicant argued that the court has common law jurisdiction to review the decision of a domestic tribunal where it has disregarded its own rules or where the fundamental principles of fairness have not been adhered to. The court consequently held there was ample authority to empower it to intervene in the decision because fundamental principles of fairness had been flouted. It was clear from the evidence that the church failed to follow procedural fairness as required by its own constitution and consequently the court set aside the decision by the church to disfellowship and suspend the applicant. Therefore the Fortuin case aligned itself with numerous cases that have supported the understanding that civil courts have the authority to interpret a church order and to adjudicate accordingly. However, the position is generally supported by the courts that courts should act with deference in respect of church customs, doctrine and interpretations.

This view was further supported in a recent judgment in the case of Bishop Ngewu and the Anglican Church of Southern Africa. The KwaZulu-Natal High Court in Pietermaritzburg in Bishop Mlibo Ngewu v The Anglican Church of Southern Africa and Ten Others [2016] ZAKZPHC 88 confirmed the view that:

It is common cause between the parties that this court can review proceedings of the Church if there has been non-compliance with the Church’s Constitution and/or Canons or with the principles of natural justice. (Para. [33])

A second important aspect that was evident in the Fortuin case, but which did not attract as much attention by the court, was the requirement that the church exercise its powers and authority in accordance with the relevant church order or constitution. If the church exceeds its powers, the decision will be unlawful and can be set aside by a court. In Fortuin the applicant argued that the church acted unlawfully since “the Church’s National Assembly is the highest decision making body that is competent to take such a resolution and it in fact never took such a resolution at any of its Annual Assemblies that he attended” (para. [13]). The applicant argued that the church lacked the necessary authority to make such a decision and that it should be set aside. It was clear from the facts before the court that the applicant was merely informed of his suspension during a church conference. The church could not present any evidence of the fact that a disciplinary hearing was conducted. It could be argued that the church did not exercise its disciplinary powers in accordance with the provisions of the church order and thus exceeded its powers. The decision would therefore be unlawful and could be set aside.

The last element that came before the court in Fortuin was the important aspect of procedural fairness, also called the principle of natural justice, and this discussion focused in particular on the aspect of audi alteram partem as the minimum requirements for a fair hearing.In accordance with this principle an accused person must at least receive adequate notice of the case against him and be given a reasonable opportunity to state his case. In terms of our common law a person involved in a disciplinary hearing is entitled “to have the charge clearly formulated with sufficient particularity in such a manner as will leave him/her under no misapprehension as to the specific act or conduct to be investigated”. In Fortuin the applicant contended that the actions of the church had been in contravention of the tenets of natural justice and that he had had the right to be heard before the church could properly take a decision to disfellowship him. It was clear from the evidence that the church had failed to comply with fair processes as required by its own constitution. The decision of the respondents to disfellowship the applicant from the performance of his duties as minister of the Bloemendal Church was therefore set aside.

With reference to Fortuin this discussion has highlighted various important principles that a church needs to comply with in the exercising of its powers. Religious associations must make sure that they follow their own rules and procedures and that their internal church orders and rules provide for the necessary procedural guarantees in order to give effect to the basic requirements of a fair hearing.

Keywords: disciplinary hearing; domestic tribunal; judicial review; lawfulness; legal disputes; procedural fairness; religious association

 

1. Inleiding

Suid-Afrika is die toonbeeld van ’n pluralistiese samelewing met ’n groeiende godsdienstige verskeidenheid. Lede van verskillende geloofsgemeenskappe het egter verskillende geloofsoortuigings en praktyke en konflik binne en buite hierdie gemeenskappe is dikwels aan die orde van die dag. Dit gaan noodwendig behels dat die howe ingetrek gaan word by geskille tussen lede van geloofsinstellings ten einde sekere regte soos in die Grondwet verskans te beskerm en af te dwing. Hoewel daar algemeen aanvaar word dat die staat en selfs die howe nie ’n geloofsinstelling kan dwing om ’n sekere standpunt in te neem in die uitoefening van sy geloof nie, beteken dit nie dat geloofsinstellings gevrywaar word van prosedurele reëls of selfs die bepalings van die Grondwet en ander wetgewing nie. Dit blyk duidelik uit ’n onlangse regsaksie waar ’n aantal lidmate van die NG Kerk die Hooggeregshof in Pretoria genader het vir ’n versoek om die besluite van die Algemene Sinode ten aansien van selfdegeslagverbintenisse van 2016 tersyde te stel. Hulle voer onder meer aan dat die prosedures wat gevolg is tydens die besluitnemingsproses, onreëlmatig en strydig met die kerk se eie interne reëls was.

Onlangs moes die Hooggeregshof in Port Elizabeth in die saak van Fortuin v Church of Christ1 bepaal of the kerk die korrekte prosedures gevolg het soos in hulle Kerkorde uiteengesit toe hulle ’n predikant van die Bloemendal-gemeente geskors het en van sy pastorale pligte onthef het. Hierdie saak het weer eens die fokus geplaas op ’n paar belangrike elemente wat dikwels in kerklike geskille na vore tree en waaruit kerke beslis kan leer. Hierdie artikel sal die Fortuin-saak in meer besonderhede bespreek en ook die verskillende elemente wat na vore gekom het uitlig, bespreek en aandui hoe dit ten aansien van veral kerke deur die howe hanteer is. Dit sal ook die belangrikheid van die hierdie elemente vir kerke uitlig aan die hand van voorbeelde.

Die eerste element wat in die saak na vore getree het en bespreek sal word, behels die bevoegdheid van die hof om ’n kerklike besluit te hersien. Om te bepaal of die kerk die korrekte prosedures soos in hulle Kerkorde uiteengesit gevolg het, moes die hof in die Fortuin-saak ondersoek instel na die hof se bevoegdheid om so ’n kerklike besluit te hersien. In die artikel sal hierdie element in meer besonderhede bespreek word.

’n Tweede aspek van belang wat in Fortuin na vore getree het, maar dalk nie soveel aandag deur die hof geniet het nie, is die vereiste van regmatigheid. Binne geloofsinstellings beteken hierdie beginsel dat ’n kerk sy bevoegdhede moet uitoefen ooreenkomstig die bepalings van die Kerkorde en betrokke kerklike bepalinge. Indien hierdie bevoegdhede oorskry word, is die handeling gevolglik onregmatig en kan dit deur ’n hof tersyde gestel word.

Die laaste belangrike element wat in die saak na vore getree het en in meer besonderhede bepreek sal word, is die belangrike vereiste van prosedurele billikheid, oftewel die reëls van natuurlike geregtigheid, soos dit dikwels na verwys word in kerklike geskille. Hierdie beginsel behels dat ’n benadeelde persoon ten minste van enige optrede teen hom voldoende kennisgewing moet kry en ’n voldoende geleentheid moet kry om sy saak te stel alvorens ’n besluit geneem word.

Die bespreking sal vervolgens ’n kort feitelike oorsig van die Fortuin-saak gee en die bogenoemde elemente kortliks aan die hand van voorbeelde bespreek.

 

2. Feitelike oorsig

Die applikant, Johannes Fortuin, ’n predikant van die Church of Christ Mission of the Republic of South Africa in die Bloemendal-gemeente in Port Elizabeth, is in 2013 van sy vrou geskei weens ’n owerspelige verhouding met sy kollega se vrou. Hy het later weer in die huwelik getree. Tydens die kerk se Algemene Sinode in November 2013 het hy die kerk van sy egskeiding in kennis gestel. Die volgende dag is hy sonder enige skriftelike kennisgewing of selfs redes deur die kerk in kennis gestel dat hy uit sy pos as predikant ontslaan is. Hy voer aan nie net dat die besluit onregmatig was nie, maar ook dat die kerk se optrede ’n skending van die reëls van natuurlike geregtigheid daarstel en dat hy geregtig was op ’n billike verhoor alvorens die besluit geneem is om hom te skors en te ontslaan. Gevolglik nader hy die hof om die kerk se besluit te hersien om hom van sy pastorale verpligtinge te onthef. Die kerk voer aan dat die hof nie by magte is om godsdienstige geskille te hersien nie.

Om te bepaal of die kerk inderdaad ’n billike proses gevolg het en ooreenkomstig sy eie grondwet en dissiplinêre kode opgetree het, het die hof gaan kyk na sy bevoegdheid om kerklike besluite te hersien.

Die applikant voer aan dat die hof die gemeenregtelike bevoegdheid het om die besluite van huishoudelike tribunale of vrywillige verenigings te hersien en dat ’n hof sal inmeng en die besluite van sulke tribunale sal hersien slegs indien “it has disregarded its own rules or the fundamental principles of fairness have not been adhered to”.2 Gevolglik was die vraag voor die hof of die betrokke tribunaal wel bevoeg was om die betrokke besluit te neem en of die kerk tydens die besluitnemingsproses voldoen het aan die vereistes van prosedurele sowel as substantiewe billikheid. Die hof kom tot die gevolgtrekking dat die kerk nie sy eie prosedures soos vervat in die kerk se grondwet gevolg het nie. Die hof voer gevolglik aan dat daar voldoende gesag is wat die hof die bevoegdheid gee om in te meng en die besluit te hersien. Die kerk se besluit om die applikant te skors en van sy pastorale verpligtinge as predikant van die Bloemendal-gemeente te onthef, word gevolglik deur die hof tersyde gestel en die hof bepaal dat Johannes Fortuin onmiddellik in sy amp herstel moet word.

 

3. Hersieningsbevoegdheid van die howe

Geregtelike hersiening verwys na die bevoegdhede van die howe om administratiewe besluite te kontroleer, te ondersoek en waar toepaslik tersyde te stel. In die predemokratiese tydperk (voor 1994), was die hersieningsbevoegdheid van die hof ’n inherente bevoegdheid ontleen aan en beheer deur die gemenereg. In die nuwe demokratiese bedeling word hersiening (indirek) deur artikel 33 van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996 en (direk) deur die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid 3 van 2000 beheers. Dit gebeur wel dat ’n besluit nie voldoen aan die eng definisie van “administratiewe handeling” ingevolge die Wet op Administratiewe Geregtigheid nie en gevolglik hersien kan word kragtens die Grondwet (op grond van die grondwetlike legaliteitsbeginsel waar dit gaan oor die uitoefening van openbare gesag) of die gemenereg in die geval van private funksies. Die gemeenregtelike beginsels bly dus steeds ter sake, en veral met verwysing na die beginsels van natuurlike geregtigheid blyk dit dat die howe die hersiening van private funksies soos dié van kerke steeds sien in die lig van die toepassing van die gemeenregtelike beginsels. Dit blyk dus dat selfs na aanvang van die nuwe grondwetlike bedeling die gemeenregtelike beginsels steeds toepassing vind, maar wel binne wat beskou word as die beperkte terrein van “private administratiefreg”.

Dit word soos volg deur die hof beaam in Klein v Dainfern:3 I am in agreement with the following words [...] "Administrative action" is the conduct of public authorities and indeed private entities when they exercise public powers, perform public functions or are obliged to exercise authority in the public interest. This means that common-law review now only applies in a very narrow field in relation to private entities that are required in their domestic arrangements to observe the common-law principles of administrative law. This applies in relation to voluntary associations, such as sporting clubs and religious organisations.

Gevolglik het die nuwe bedeling en die inwerkingtrede van die Wet op Administratiewe Geregtigheid nie die hersiening van kerklike besluite noemenswaardig geraak nie. Aangesien huishoudelike tribunale en geloofsinstellings selde in hulle optredes en beslissings ’n openbare gesag uitoefen en geen “openbare funksie” vervul word nie, is dit dus nie ’n aangeleentheid binne die raamwerk van die Grondwet (meer spesifiek, artikel 33) of die Wet op Administratiewe Geregtigheid nie. Die gemeenregtelike beginsels vind steeds toepassing en daarom is dit dan ook opmerklik dat in die Fortuin-saak en ook ander kerklike sake wat na de nuwe grondwetlike bedeling beslis is, die howe steeds steun op die regspraak en gemeenregtelike posisie soos dit voor 1996 van toepassing was.

In die Fortuin-saak het die kerk aangevoer dat die Kerkorde en die Bybel die hoogste gesag in die kerk is en dat ’n kerklid gevolglik daarvan weerhou word om ’n besluit in die hof aan te veg. Verder voer hulle aan dat die kerk ’n vrywillige vereniging is waarvan die optredes deur hulle ampsdraers nie as ’n administratiewe handeling ooreenkomstig die Wet op Administratiewe Geregtigheid aangemerk kan word nie en gevolglik nie vatbaar is vir hersiening nie.4 Die applikant stem egter nie met hierdie benadering saam nie en voer aan dat die hof die gemeenregtelike bevoegdheid het om die besluite van huishoudelike tribunale of vrywillige verenigings te hersien. Uit die betekenis van ’n administratiewe handeling soos dit toepassing vind in artikel 33 van die Grondwet en die Wet op Administratiewe Geregtigheid is dit duidelik dat ’n administratiewe handeling grotendeels met die funksies van die staat en die gevolglike uitoefening van publieke funksies geassosieer word eerder as met private funksies. Dit is dikwels die vrywillige aard van die verhoudings wat die optrede van huishoudelike tribunale onderskei van dié van openbare liggame en staatsorgane. Kerke en ander geloofsinstellings beklee geen owerheidsgesag nie, word selde deur wetgewing in die lewe geroep en verrig selde ’n publieke funksie. Hulle beskik egter steeds oor ’n interne hiërargie en interne verhoudings gegrond op gesag, wat dikwels die toepassing van gemeenregtelike administratiefregbeginsels regverdig. Ons sien egter dat die howe wel vereis dat die dissiplinêre optredes van private liggame in ooreenstemming met die beginsels van natuurlike geregtigheid geskied. In Toerien v De Villiers5 beslis die hof byvoorbeeld dat

[d]it lankal nie meer gesê kan word dat die administratiefregtelike beginsels van natuurlike geregtigheid slegs op publiekregtelike verhoudings van toepassing is nie. In dissiplinêre aangeleenthede word dit op suiwer privaatregtelike verhoudings toegepas, en wel op die basis van ’n geïmpliseerde term in die kontrak.

Hierdie siening is deur die howe toegepas met betrekking tot verskeie organisasies, insluitende kerklike liggame.6 Reeds in Odendaal v Loggerenberg en Andere7 bevestig die hof die bevoegdheid om besluite van huishoudelike godsdienstige tribunale te hersien:

Dit is gemene saak dat ’n geregshof met ’n beslissing van ’n huishoudelike hof van ’n vrywillige vereniging van persone, soos die kerk in die onderhawige geval, sal inmeng slegs waar daar by die verhoor en veroordeling van die veroordeelde ’n skending van die reëls of statute van die betrokke vereniging plaasgevind het of die elementêre beginsels van geregtigheid verontagsaam was, en sodanige skending of verontagsaming die veroordeelde werklik benadeel het.

Hierdie benadering is dan ook in ooreenstemming met die bevinding van die hof in die Fortuin-saak. Met verwysing na Turner v Jockey Club of SA 1974 3 SA 633 bevestig die hof in Fortuin dat daar genoegsame gesag is wat die hof die bevoegdheid gee “to interfere with the decision made by a tribunal where the fundamental principles of fairness have been flouted”.8 Gevolglik is dit duidelik dat, ooreenkomstig die Suid-Afrikaanse gemenereg en soos deur die howe op verskeie geleenthede beslis, die dissiplinêre tribunale van vrywillige verenigings vatbaar is vir geregtelike hersiening deur die howe.9

Ten aansien van die gronde van hersiening sal daar nou onderskeidelik na die vereiste van regmatigheid en prosedurele billikheid gekyk word.

 

4. Regmatigheid

Artikel 33 van die Grondwet maak spesifiek voorsiening vir administratiewe optrede wat regmatig is. Handboekskrywers is dit eens dat die legaliteitsbeginsel onder meer vereis dat handelinge en optrede van die administrasie aan die algemene voorskrifte van die reg, hetsy geskrewe of ongeskrewe, moet voldoen.10 Regmatige administratiewe optrede soos tans vervat in die Grondwet is basies dieselfde as die gemeenregtelike beginsel van administratiewe geregtigheid. Die gemeenregtelike vereiste vir legaliteit is al dikwels omskryf as “applying one’s mind to the matter”, wat vereis het dat ’n administrateur moes voldoen aan “all the requirements for administrative legality”11 en wat ooreenkomstig die gemenereg onder die breë vaandel van ultra vires12 sou tuishoort. Die reëls van natuurlike geregtigheid, daarenteen, ressorteer gewoonlik onder die vaandel van die audi alteram partem-reël (oftewel prosedurele billikheid) en gevolglik word dit as ’n aparte aspek in die volgende gedeelte bespreek. Hierdie gedeelte sal fokus op die element van bevoegdheid as ’n belangrike onderdeel van die breër regmatigheidsbegrip wat in die Fortuin-saak na vore gekom het en ook dikwels ’n rol speel tydens kerklike konflikte.

Bevoegdheid vereis veral dat die administrateur wat die handeling deur ’n magtigende bepaling verrig, die bevoegdheid verleen is om daardie handeling te verrig. Dit is ’n voorbeeld van die gemeenregtelike ultra vires-leerstuk in die eng sin, wat ook vereis dat die besluitnemer bevoeg is om die funksie te verrig en die bevoegdheid uit te oefen.13 ’n Besluit kan ook hersien word indien die besluitnemer opgetree het kragtens ’n delegasie van bevoegdheid welke delegasie nie deur ’n magtigende bepaling toegelaat is nie, en dit is ook ’n voorbeeld van ultra vires in die eng sin. Soos die hof in Pharmaceutical Manufacturers Association of SA In Re: Ex Parte Application of President of the RSA beslis:14

What would have been ultra vires under the common law by reason of a functionary exceeding a statutory power is invalid under the Constitution according to the doctrine of legality. In this respect, at least, constitutional law and common law are intertwined and there can be no difference between them.

Binne geloofsinstellings beteken die ultra vires-leerstuk gewoon dat binne ’n kerk byvoorbeeld die betrokke kerkvergadering sy bevoegdhede by ’n tughandeling moet uitoefen ooreenkomstig die bepalings van die Kerkorde en betrokke kerklike bepalinge. Indien hierdie bevoegdhede dus oorskry word, is die handeling ultra vires en gevolglik onregmatig. Sadler15 voer aan dat nie elke geringe oortreding van hierdie kerkregtelike bepalinge as ’n ultra vires-handeling beskou moet word nie. In De Vos v Die Ringskommissie van die Ring van die N.G. Kerk, Bloemfontein16 tref ons ’n goeie voorbeeld aan. Die betrokke reëls het bepaal dat ’n klag by die voorsitter ingedien moet word, maar die klag is by die ringskriba ingedien. Die hof beslis dat dit nie ’n beregbare oortreding is nie, aangesien niemand daardeur benadeel is nie. In Theron en Andere v Ring van Wellington van die N.G. Sendingkerk in Suid-Afrika en Andere17 beslis die hof dat om af te wyk van die bepaalde stemprosedures soos dit in die betrokke reëls omvat is, in die bepaalde geval nie ’n fatale gebrek in die verrigtinge daarstel nie. Ook nie soos in Du Plessis v The Synod of the DR Church18 waar die Moderatuur ’n sinode byeengeroep het in plaas van ’n sinodale kommissie, soos die reëls voorgeskryf het, nie.19

Ultra vires-optrede binne ’n kerk of geloofsinstelling kan dus beteken dat ’n bepaalde ring of sinode hom skuldig maak aan ’n magsweiering (waar ’n betrokke vergadering byvoorbeeld weier om ’n klag teen ’n ampsdraer te ondersoek) of magstoe-eiening (waar ’n betrokke vergadering ’n klag ondersoek wat binne die bevoegdheid van ’n ander of meerdere vergadering val). ’n Kerkvergadering kan ook die magte wat aan hom toegeken is ooreenkomstig die Kerkorde of kerklike bepaling vir ’n ander doel aanwend, byvoorbeeld waar ’n kerkraad kerkfondse wanbestee. Die optrede is dan vir ’n ongeoorloofde doel. Dit kan ook insluit dat ’n kerkraad of -vergadering sy mag misbruik en te kwader trou teenoor ’n lastige lidmaat optree. ’n Kerkvergadering kan selfs ’n handeling verrig wat onredelik is of hom skuldig maak aan ’n regs- of feitedwaling.20

Die vereiste van bevoegdheid ooreenkomstig die gemenereg het bestaan uit die vereiste van ratione personae (die persoonlike hoedanighede en kwalifikasies van die outeur); ratione loci (die plek en omstandighede waarin die administratiewe handeling moet geskied); ratione materiae (magtiging moet ten aansien van die objek van die administratiewe handeling geskied); en ratione temporis (magtiging word verleen om ’n handeling binne ’n bepaalde tydsduur te hê).21 Die inhoud en reikwydte van die bevoegdheidsvereiste word bepaal aan die hand van onder andere die ter sake magtigende bepaling, ter sake wetgewing, die reëls ten aansien van die uitleg van wette en die algemene beginsels soos deur die howe ontwikkel.22

In Du Preez en Andere v Nederduitse Gereformeerde Gemeente, De Deur23 het die kerkraad van die NG Gemeente De Deur ’n besluit geneem om kragtens artikel 37 van die Kerkorde van die Nederduitse Gereformeerde Kerk uit die algemene sinodale verband te tree. Op grond van ’n interpretasie van die onderskeie bepalings in die Kerkorde beslis die hof dat dit duidelik is dat die “samestellende kerke” wat volgens artikel 37 uit die “algemene sinodale verband” mag tree, net dié is wat daartoe toegetree het en dat plaaslike gemeentes, oftewel kerke, nie “samestellende kerke” binne die bedoeling van die Kerkorde en artikel 37 is nie.24 Die hof beslis dat die kerkraad van die NG Gemeente De Deur regtens buite sy bevoegdheid gehandel het met die neem van die betrokke besluit en stel die betrokke besluit tersyde.25

In Nederduitse Gereformeerde Kerk in Afrika (OVS) v Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika26 het die Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Afrika tydens sy gewone vergadering besluit om met die Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk in Suid-Afrika te verenig. Dit het ingrypende wysigings aan die Kerkorde genoodsaak wat aangebring is en wat verband gehou het met die besluit tot kerkvereniging. Verskeie gemeentes was egter nie gediend met die kerkvereniging en die wysigings van die Kerkorde nie en het aangevoer dat dit ongeldig was. Die hof beslis dat die Algemene Sinode nie by magte was om ’n besluit te neem in stryd met die Kerkorde nie en dat die Algemene Sinode nie by magte is om ’n bepaling in die Kerkorde te wysig ten einde ’n doel te bereik wat buite sy magte is nie.27 Die belydenis was in artikel 36 van die Kerkorde verskans en die Algemene Sinode was nie by magte om die verskansing te omseil deur ’n eensydige wysiging van artikel 36 nie. Die hof is gevolglik van mening dat die Algemene Sinode buite sy magte gehandel het en beslis soos volg:

Die gehele besluit van die algemene sinode van die NGKA op sy vergadering van Julie 1991 om met die NGSK te verenig (besluit 1.1.33) sowel as die besluite wat daarmee in verband staan (besluite 1.1.34 tot 1.1.38) was gevolglik ultra vires en ongeldig. Daarbenewens was die wysiging van art. 36, soos ek reeds bevind het, ook ongeldig.28

Die geldigheidsvereiste ratione personae verwys ook na die vereiste dat ’n administratiewe orgaan wat ’n bepaalde bevoegdheid het, daardie bevoegdheid self moet uitoefen. Dit geld ook waar ’n diskresie verleen word. So ’n diskresie wat aan ’n administratiewe orgaan verleen is, mag nie aan ’n ander orgaan oorgedra word nie.29 Die begrip delegasie word soos volg deur Baxter30 omskryf:

A less complete transfer of powers is delegation, in terms of which one public authority authorizes another to act in its stead. Though the practical necessity of delegation has always been recognized, the power to delegate does not automatically exist: it must be provided for, either expressly or impliedly.

Die verbod om ’n administratiewe bevoegdheid te delegeer word vervat in die stelreël delegatus delegare non potest.31 Hierdie reël word soos volg omskryf:

The maxim delegatus delegare non potest is based upon the assumption that, where the legislature has delegated powers and functions to a subordinate authority, it intended that authority itself to exercise those powers and to perform those functions, and not to delegate them to someone else, and that the power delegated does not therefore include the power to delegate. It is not every delegation of delegated powers that is hit by the maxim, but only such delegations as are not, either expressly or by necessary implication, authorised by the delegated powers.32

So bepaal die NG Kerkorde byvoorbeeld in artikel 6 dat die verlening van ampsbevoegdheid as bedienaar van die Woord in al sy gestaltes of die wegneem daarvan slegs deur die Algemene Taakspan Regte namens die Algemene Sinode kan geskied. Daar word geen voorsiening gemaak vir enige delegering van bevoegdheid nie. By ’n amptelike tugondersoek ooreenkomstig artikel 63 word die ondersoek deur ’n ondersoekliggaam hanteer wat óf die kerkvergadering self kan wees óf ’n gevolmagtigde kommissie van die kerkvergadering. Die ondersoekliggaam kan dus sy bevoegdhede aan ’n bevoegde kommissie delegeer. Die kerkvergadering besluit of die vergadering self die tugondersoeke gaan doen en of daar van ’n gevolmagtigde kommissie gebruik gemaak gaan word. Indien ’n kerkraad van ’n gevolmagtigde kommissie as ondersoekliggaam gebruik maak om ’n amptelike tugondersoek te hanteer, moet ’n kommissie ooreenkomstig die bepalings van artikel 63 aangewys word. Indien die bevoegdheid nie ooreenkomstig die bepalings van die Kerkorde aan die bevoegde kommissie verleen of gedelegeer is nie, kan die besluit tersyde gestel word.

In Yiba and Others v African Gospel Church33 was die appellante almal pastore van die African Gospel Church, ’n godsdienstige liggaam ooreenkomstig die grondwet, met die moderator as hoof van die kerk. Die appellante is deur die moderator geskors ooreenkomstig artikel XXX van die grondwet en ingelig dat die aangeleentheid tydens ’n dissiplinêre verhoor hanteer sou word. Die appellante het aangevoer dat die liggaam wat hulle van lidmaatskap geskors het, nie die nodige bevoegdheid gehad het om dit te doen nie. Artikel XXV van die grondwet maak voorsiening vir dissiplinêre prosedures. Ooreenkomstig artikel XXV 2(b) mag geen persoon van lidmaatskap geskors word alvorens die betrokke bepalings nagekom is nie. Lede kan slegs na die hou van ’n verhoor voor ’n distrikskomitee geskors word, en ’n distriksuperintendent of “minister of high authority” kan slegs na die hou van ’n verhoor voor die sentrale uitvoerende komitee geskors word. Die appellante is opgeroep om voor die uitvoerende komitee en die sentrale komitee gesamentlik te verskyn. Die besluit om die appellante te skors, is gesamentlik geneem deur die uitvoerende en sentrale uitvoerende komitee. Ooreenkomstig artikel IXD (c) is slegs die uitvoerende komitee bevoeg om dissiplinêre stappe teen lede te doen, en geen bevoegdheid berus by die sentrale uitvoerende komitee nie. Artikel XXV 2(b) maak dit duidelik dat “no person shall be expelled from membership of the church unless there has been compliance with its terms”.34 Volgens die hof:

As such, they could only have been expelled pursuant to a trial before a district committee as contemplated in art E XXV(2)(b). It is further common cause that this did not take place and accordingly their purported expulsion from membership of the church is invalid.35

Gevolglik beslis die hof dat die appellante se skorsing ultra vires die bepalings van die kerk se grondwet was en gevolglik dat die liggaam wat hulle geskors het, nie bevoeg was om dit te doen nie. Die hof bevind dat die skorsing onregmatig is en die appèl word gehandhaaf.

In die saak van Fortuin voer die applikant aan dat die optrede deur die kerk onregmatig was aangesien “the Church’s National Assembly is the highest decision making body that is competent to take such a resolution and it in fact never took such a resolution at any of its Annual Assemblies that he attended”.36 Gevolglik word aangevoer dat daar nie die nodige bevoegdheid was om die besluit te neem nie en dat die besluit tersyde gestel moet word. Die hof gaan egter nie in meer besonderhede op die kwessie van die regmatigheid van die besluit in nie, maar fokus eerder op die billikheid van die besluit. Artikel XV van die kerk se grondwet bevat wel die dissiplinêre kode van die kerk, wat soos volg bepaal:

15.3 Should the NEC [National Executive Committee] satisfy itself of any misconduct prohibited in terms of the Constitution by a member, the NEC may decide to institute disciplinary proceedings against such member in respect of such misconduct and then refer the matter to the National Disciplinary Committee (NDC) or any other body authorised to conduct disciplinary proceedings.

15.4 A National Disciplinary Committee, which has conducted a disciplinary hearing in terms of this Constitution, may find any member guilty of any misconduct referred to Article 15.5 or any other misconduct prohibited in terms of the Constitution, only if it is satisfied that the evidence presented is of such cogent and sufficient nature as to prove the guilt of such member on a balance of probabilities.

Uit die betrokke bepalings van die dissiplinêre kode blyk dit duidelik dat die applikant slegs na afloop van ’n dissiplinêre verhoor aan wangedrag skuldig bevind kan word. Tydens die kerk se Algemene Sinode in 2013 is die applikant versoek om ’n vergadering wat deur die National Ministers’ Executive Committee belê is, by te woon, met die uitsluitlike doel om die feite rondom sy egskeiding te bevestig. Tydens die laaste aand van die Algemene Sinode is hy egter meegedeel dat die president van die kerk tydens die konferensie bekend gemaak het dat hy geskors is. Daar was geen sprake van ’n dissiplinêre verhoor nie. Gevolglik sou daar aangevoer kon word dat die kerk nie sy dissiplinêre bevoegdhede ooreenkomstig die bepalings van die Kerkorde en die betrokke dissiplinêre kode uitgeoefen het nie. Die kerk het duidelik sy bevoegdhede oorskry en gevolglik is die handeling onregmatig.

By die onregmatige optrede van kerke speel diskresie-uitoefening ook dikwels ’n rol. Waar ’n hof die diskresionêre bevoegdheid van ’n administratiewe orgaan moet hersien, behoort die hof nie sy mening of beslissing ten aansien van die feite in die plek van die huishoudelike tribunaal te stel nie.37 Die hof sal ’n beslissing hersien wanneer ’n huishoudelike tribunaal nie sy diskresionêre bevoegdheid uitgeoefen het nie om te bepaal of die tribunaal sy bevoegdheid behoorlik uitgeoefen het.38 Die omstandighede wat daarop kan dui dat die tribunaal versuim het om sy diskresie uit te oefen, is byvoorbeeld waar die tribunaal die aard en omvang van sy bevoegdhede verkeerd verstaan het, of waar hy willekeurig of met mala fides opgetree het.39 In Theron en Andere v Ring van Wellington van die N.G. Sendingkerk in Suid-Afrika en Andere40 aanvaar die hof wat na verwys word as die formele maatstaf met betrekking tot die hersiening van ’n diskresionêre bevoegdheid. Die hof beslis:

Daar is dus ’n beroep op die algemene beginsel dat ’n hof hom nie kan inlaat met die vraag van hoe ’n liggaam, met diskresie beklee, sy bevoegdheid uitgeoefen het nie, maar slegs met die vraag of die liggaam sy diskresie wel uitgeoefen het; dat dit gaan oor die wyse waarop die handeling tot stand gekom het en nie oor die inhoud van die handeling nie; of, anders gestel, dat ’n hof hom nie met die "meriete" van ’n uitoefening van ’n diskresie sal inlaat nie. Gerieflikheidshalwe sal die betrokke maatstaf vervolgens, waar nodig, die "formele maatstaf" (in teenstelling tot ’n materiële) genoem word.41

Wiechers42 lê ’n paar riglyne neer wat van toepassing is indien die geldigheidsvereistes vir ’n administratiewe handeling op administratiewe diskresie-uitoefening toegepas word. Eerstens moet vasgestel word of die besluitnemer wat die diskresie uitgeoefen het, die nodige bevoegdheid gehad het. Daar moet ook vasgestel word of die besluitnemer die korrekte prosedures in die uitoefening van die diskresie gevolg het. Daar moet ook ondersoek word of die besluitnemer wel die nodige aandag aan die saak bestee het. Met betrekking tot ’n diskresie-uitoefening mag die besluitnemer hom in die uitoefening van sy diskresie verder nie deur irrelevante en onbehoorlike oorwegings laat beïnvloed of sy diskresies onbehoorlik uitoefen nie. Mala fides word deur Wiechers43 omskryf as ’n “opsetlike gebrek aan aandagbesteding” en kom ter sprake waar ’n besluitnemer nie sy diskresie behoorlik uitoefen nie. In Du Plessis v The Synod of the DR Church44 beslis die hof dat:

If the tribunal acts with mala fides, then the Court will protect the individual affected. If, for instance, a church tribunal, in order to acquire jurisdiction, were to call something heresy which the members could not reasonably have considered heresy, then this Court would upset their decision, not because the words complained of were not heresy, but because the tribunal acted irregularly, in being governed by mala fides.45

In Evangelical Lutheran Church in Southern Africa (Western Diocese) v Sepeng and Another46 is ’n pastoor van die betrokke kerk, tesame met 22 ander pastore van dieselfde kerk, ooreenkomstig sekere bepalings van die Kerkorde verplaas. Die Evangelical Lutheran Church word bestuur ooreenkomstig ’n grondwet getiteld “Constitution of the Evangelical Lutheran Church in Southern Africa”.47 Artikel 9.1.1 van die Kerkorde maak dit duidelik dat:

When a pastor, called and ordained according to para 4, has been entrusted with the care of the congregation, he shall be inducted by the dean of the circuit and is in duty bound to observe the rules and regulations of the church. He shall be transferable to any place within the area of the church in accordance with para 17.4.4.48

Die respondent het aangevoer dat sy verplasing onregmatig is en dat dit neerkom op ’n verlaging van sy pos. Die vraag wat die hof gevolglik moes beantwoord, was of die verplasing van die respondent gegrond was op “bias, malice and ulterior dishonest motives”.49 Die hof beslis dat die kerk ’n ware behoefte aangetoon het waarom die betrokke pastore, insluitende die respondent, verplaas moes word en dat dit geskied het om te voorsien in en voldoen aan die behoeftes en vereistes van die kerk. Die hof beslis gevolglik dat die besluit van die kerk om die respondent te verplaas nie geskied het op grond van enige “malice or any improper or ulterior motive” nie.50 Daar is hofsake wat aantoon dat waar ’n huishoudelike tribunaal met mala fides opgetree het, die ondersoek onafhanklik van ’n skending van die reëls van natuurlike geregtigheid beantwoord kon word. Die reëls van natuurlike geregtigheid behoort egter wyd genoeg te wees om ook mala fides aan die kant van die tribunaal in te sluit.51 Die reëls van natuurlike geregtigheid, oftewel prosedurele billikheid, sal nou in verdere besonderhede bespreek word.

 

5. Prosedurele billikheid

5.1 Inleidende opmerkings

Soos tereg opgemerk deur Wiechers,52 is die reëls van natuurlike geregtigheid gemeenregtelike reëls wat van toepassing is op administratiewe ondersoeke en verhore. Na die gemeenregtelike reëls van natuurlike geregtigheid word onder andere ook verwys as “due process” ooreenkomstig een van die mees fundamentele waarborge in die Amerikaanse Grondwet. Die verband tussen natuurlike geregtigheid en “due process” word omskryf as “different ways of expressing [the same idea]”.53 Ander terme sluit in “fair play in action” – prosedurele billikheid of bloot billikheid. Prosedurele billikheid vind uiting in twee belangrike beginsels, naamlik die audi alteram partem-reël, wat verwys na die reg van ’n benadeelde persoon om sy of haar saak behoorlik te stel en letterlik beteken “luister na die ander kant”. Die ander beginsel is die nemo iudex in sua causa-reël, wat vereis dat die besluitnemer vry van vooroordeel moet wees en nie regter in sy eie saak kan wees nie. Hierdie bespreking sal hoofsaaklik op die audi alteram partem-reël fokus.

Die audi alteram partem-reël hou in dat wanneer ’n openbare liggaam of amptenaar ooreenkomstig ’n magtigingswet of magtigende bepaling ’n handeling verrig wat ’n persoon se bestaande regte, vryhede of regmatige verwagtinge nadelig aantas, so ’n persoon geregtig is om ’n billike geleentheid gegun te word om sy of haar kant van die saak te stel, alvorens die betrokke handeling verrig word, ’n besluit geneem of ’n bevoegdheid uitgeoefen word. Die howe is duidelik ten gunste van die feit dat die vereiste van ’n billike verhoor ’n buigsame begrip is en dat die inhoud daarvan konteksspesifiek is. Vir geloofsinstellings beteken dit dat die betrokke aard van die tugverhoor, tesame met die reg op godsdiensvryheid in bepaalde situasies, sekere prosedurele vereistes kan stel of ’n geloofsinstelling in bepaalde omstandighede kan vrywaar en toelaat om van sekere formaliteite af te wyk. Die howe bevestig verder dat, ten spyte van die wisselende inhoud in sekere omstandighede, daar tog sekere minimumvereistes vir die reg op ’n billike verhoor is. Die twee belangrikste vereistes van prosedurele billikheid is seker dat ’n benadeelde persoon ten minste voldoende kennisgewing moet kry van enige optrede teen hom en ’n voldoende geleentheid moet kry om sy saak te stel. “Voldoende” veronderstel dat genoeg inligting verskaf moet word om ’n persoon in staat te stel om sy of haar regte uit te oefen.

Die belangrikheid van hierdie twee beginsels vir geloofsinstellings sal nou verdere aandag geniet.

5.2 Voldoende kennisgewing en geleentheid om saak te stel

Ooreenkomstig die gemenereg is ’n persoon betrokke by dissiplinêre verrigtinge daarop geregtig “to have the charge clearly formulated with sufficient particularity in such a manner as will leave him/her under no misapprehension as to the specific act or conduct to be investigated”.54 Ooreenkomstig die gemenereg is dit noodsaaklik dat die kennisgewing die tyd en plek waar voorleggings gemaak sal word, moet insluit.55 In Turner v Jockey Club of South Africa56 word die dissiplinêre optrede van die jokkieklub tersyde gestel nadat dit aan die lig gekom het dat die betrokke jokkie skielik met ernstige bewerings gekonfronteer is waarvan hy geen kennis gedra het nie en wat nie voor die verhoor aan hom gekommunikeer is nie.

Die Konstitusionele Hof in Zondi v Member of the Executive Council for Traditional and Local Government Affairs57 bevestig en beklemtoon dat die reg op ’n behoorlike kennisgewing voor ’n besluit geneem word ’n fundamentele vereiste van billikheid is en dat dit die benadeelde persoon die geleentheid bied om sy saak te stel. Baxter58 beskryf hierdie element van prosedurele billikheid as “the essence of a fair hearing”.

Met betrekking tot geloofsinstellings staan dit vas dat huishoudelike tribunale hulle funksies moet uitoefen in ooreenstemming met die vereistes soos neergelê in die konstitusie, maar ook in ooreenstemming met die gemeenregtelike reëls van natuurlike geregtigheid. Wat belangrik is, is dat daar sprake is van ’n huishoudelike tribunaal van ’n vrywillige vereniging, en gevolglik moet die volgende woorde van regter MT Steyn in Motaung v Mukubela59 in gedagte gehou word:

In considering whether there has been a material breach of the constitutional provisions of a voluntary association (such as a Church), a Court of law should not view the matter as if under a strong magnifying glass and should not carpingly ferret out and unduly enlarge every minor deviation from the strict letter of the constitutional provision being examined. Much rather should it adopt a practical, common-sense approach to the matter, constantly bearing in mind that the persons called upon to administer such a constitution are usually laymen who are unversed in the ways of the law. Where, however, despite the adoption of this benevolent approach, the Court is satisfied that there has in fact been a serious breach of the constitutional provisions of such an association and that such breach is therefore not a "mere matter of form without any interference with the substance" of the decision involved, it should not hesitate to give full effect to the legal consequences of such a breach.

In De Vos v Ringskommissie van die Ring van die N.G. Kerk, Bloemfontein60 beslis regter Brink, met verwysing na Garment Workers’ Union v De Vries and Others61 dat:

In considering questions concerning the administration of a lay society governed by rules, it seems to me that a Court must look at the matter broadly and benevolently and not in a carping, critical and narrow way. A Court should not lay down a standard of observance that would make it always unnecessarily difficult – and sometimes impossible to carry out the constitution. I think that one should approach such enquiries as the present in a reasonable commonsense way, and not in the fault-finding spirit that would seek to exact the uttermost farthing of meticulous compliance with every trifling detail, however unimportant and unnecessary, of the constitution. If such a narrow and close attention to the rules of the constitution are demanded, a very large number of administrative acts done by lay bodies could be upset by the Courts. Such a state of affairs would be in the highest degree calamitous – for every disappointed member would be encouraged to drag his society into Court for every trifling failure to observe the exact letter of every regulation. There is no reason why the same benevolent rules should not be applied to the interpreting of the conduct of governing bodies of societies as one applies to the interpretation of by-laws.

In United Methodist Church of South Africa v Sokufundumala62 is ’n predikant van die Metodistekerk se diens eensydig deur die gemeente beëindig. Die hof bevestig dat die respondent die reg het om sy saak te stel en dat die reëls van natuurlike geregtigheid nie nagekom is nie. Die hof bevestig ook die vroeëre siening van regter Steyn in Turner v Jockey Club of South Africa,63 waar appèlregter Botha weer eens beklemtoon dat die reëls van natuurlike geregtigheid nie vereis dat ’n huishoudelike tribunaal die streng prosedurele vereistes en tegniese reëls van ’n geregshof hoef te volg nie, maar dat:

[T]hey do require such a tribunal to adopt a procedure which would afford the person charged a proper hearing by the tribunal, and an opportunity of producing his evidence and of correcting or contradicting any prejudicial statement or allegation made against him.

Die hof beslis dat die respondent in United Methodist Church nie ’n billike verhoor en ’n geleentheid om sy saak te stel gehad het nie. In Motaung v Mukubela64 word ’n hersieningsaansoek deur die hof aangehoor en ’n besluit tersyde gestel omdat beginsels van natuurlike geregtigheid verontagsaam is. Die applikant is in ’n laer pos aangestel sonder dat hy van enige oortreding aangekla is of enige voorafgaande waarskuwing van die voorneme om hom te degradeer gekry het. Die hof beslis dat “[t]he effect of this demotion was to reduce his status from that of one of the high officers of the Church to that of a junior officer, operating at parish level. His means of livelihood was obviously also seriously diminished thereby.”

In Ndara v Umtata Presbytery, Nederduitse Gereformeerde Kerk in Afrika (Transkei), and Others65 is ’n predikant van die Umtata-gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Afrika (Transkei) tydens ’n dissiplinêre verhoor skuldig bevind aan ernstige wangedrag ten aansien van sy pligte as predikant van die gemeente. Die applikant voer aan dat hy nie tydig en voldoende ingelig is van die klagtes teen hom nie en dat die aantygings so vaag geformuleer is dat hy nie ’n genoegsame geleentheid gehad het om behoorlik voor te berei nie. Hy voer aan dat hy nie net van ’n billike geleentheid ontneem is om die getuienis teen hom te toets en te betwis nie, maar ook nie die geleentheid gegee is om die respondent aan te spreek nie.66 Die hof bevestig die basiese beginsels van ’n billike verhoor deur soos volg te beslis:

It is, of course, a fundamental tenet of legality and justice that every party to a dispute must be afforded a fair opportunity of stating his case and of producing his evidence. Equally, in disciplinary proceedings, as in criminal prosecutions, the charges must be so notified and framed that the person accused is timeously and adequately informed of the case he has to meet.67

Die hof beslis dat dit gemenesaak is dat die applikant glad nie ’n verhoor gehad het nie. En verder:

He was not even advised of the time when, or place where, the appeal would be considered. The only representations from him that were before the second respondent when it adjudicated the appeal are those that were contained in the letter of one page only in which he "tendered" his appeal. There was no reason to think that the applicant intended that short letter to constitute the only presentation that he intended to make of his case on appeal. It seems obvious that he was doing no more in that letter than recording his wish to appeal and stating, in broad and general terms, the grounds of his dissatisfaction. It would be quite wrong to assume that by means of that letter he was allowed to make an adequate presentation of his case. It is trite that there can be no judicially conducted adjudication of an appeal unless, among other things, each of the parties has been afforded the opportunity of adequately presenting his case.68

Gevolglik beslis die hof dat die aansoek moet slaag en dat as gevolg van die gebrek aan ’n billike verhoor en fundamentele onregmatighede in die appèlverrigtinge die besluit van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Afrika (Transkei) tersyde gestel moet word.

In Smith v Ring van Keetmanshoop van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, SWA, en Andere69 is ’n predikant uit sy amp geskors. Hy doen aansoek om sy skorsing tersyde te stel op grond van growwe onreëlmatighede aan die kant van die respondente. Namens die applikant is aangevoer dat hy geregtig is op die fundamentele beginsels van natuurlike geregtigheid. Artikel 59 van die Kerkorde bepaal dat tugmaatreëls nie toegepas mag word voordat ’n klag grondig ondersoek is en sonder dat die beklaagde genoegsame geleentheid gehad het om homself te verdedig nie. Namens die applikant is aangevoer dat die Ring se optrede strydig met die bepalings van die Kerkorde was dat ’n beklaagde genoegsame geleentheid moet kry om homself te verdedig en dat daar inbreuk gemaak is op die fundamentele vereistes van natuurlike geregtigheid dat ’n aangeklaagde ’n billike en behoorlike geleentheid gegun moet word om hom teen die klag te verweer.70 Die hof beslis dat die respondent wel sekere fundamentele onreëlmatighede begaan het wat die applikant benadeel het, en gevolglik word die skorsing tersyde gestel.

In Taylor v Kurtstag 71 is ’n lid van die Joodse gemeenskap deur die Beth Din, die bevoegde Joodse kerklike gesag, geëkskommunikeer uit die Joodse geloof deur middel van ’n Cherem(bevel). Hy voer aan dat die besluit ’n skending van die reëls van natuurlike geregtigheid was en dat die Beth Din verplig is om billik op te tree en ten minste die audi alteram partem-reël moet eerbiedig. Hy voer aan dat hy nie ’n geleentheid gebied is om sy saak voor die Beth Din te stel alvorens die besluit geneem is om hom te ekskommunikeer nie. Die hof, by monde van regter Malan, bevestig weer eens dat die billikheid van ’n verhoor aan die hand van die bepaalde omstandighede bepaal moet word:

Clearly, when deciding the fairness of the process, its nature must be taken into account. A religious tribunal is subject to the discipline of the Constitution, but its being a religious body giving effect to the associational rights of its members, must be accounted for.72

Op grond van die feite beslis die hof egter dat die applikant genoegsame kennis gegee is van die verhore en die nodige besonderhede van die Cheremen beslis dat die verhoor en daaropvolgende besluit om hom die Cherem op te lê, billik was onder die omstandighede, en gevolglik word die aansoek van die hand gewys.

In Theron v Ring van Wellington van die N.G. Sendingkerk in SA73 is die appellante deur die Ring van Wellington aan sekere klagtes van oortreding van die Kerkorde skuldig bevind. Daar is onder andere aangevoer dat die Algemene Sinodale Kommissie fouteer het deur oorweging te skenk aan die geldigheid al dan nie van die besluit van die Ring sonder om die appellante ’n geleentheid te bied om vertoë te lewer oor daardie besondere aspek van die saak. Die uitslag van die appèlverrigtinge was egter dat die appèl teen die skuldigbevinding afgewys is, maar dat die appèl teen die straf wat opgelê is, geslaag het, hoewel op ander gronde as wat deur die appellante aangevoer is. Gevolglik beslis die hof:

Na my oordeel, gesien die uitslag van die appèl met betrekking tot strafoplegging, was dit glad nie nodig vir die Algemene Sinodale Kommissie om die appellante ’n geleentheid te bied om vertoë te rig met betrekking tot die grond waarop die appèl teen die straf in die appellante se guns uitgewys is nie. Daar kan nouliks gesê word dat die versuim om hulle so ’n geleentheid te bied die appellante werklik benadeel het.74

Die hof beslis egter wel dat die Kommissie mero motu gehandel het toe sekere inligting wat nie aan die appellante bekend gemaak is nie, in oorweging geneem is. Die Kommissie het die appellante geensins in kennis gestel dat so ’n uiters ernstige beslissing teen hulle oorweeg sou word op nuwe gronde waaromtrent daar geen formele beswaar aanhangig gemaak is nie. Daar is ook nie aan die appellante kennis gegee of die geleentheid gebied om ’n verweer op te werp nie.75 Appèlregter Hofmeyr is gevolglik van mening dat die beginsels van natuurlike geregtigheid deur die Kommissie geskend is en dat die appellante ernstig benadeel is deur die Ring se beslissing deur omstandighede in oorweging te neem en deur hulle ’n behoorlike en billike verhoor aangaande die straf wat hulle wettiglik opgelê kon word, te ontsê. Die hof beslis gevolglik dat alle verrigtinge van die Sinodale Kommissie en die Ring met betrekking tot die straf aan die appellante opgelê, ongeldig en nietig is.

In die Fortuin-saak moes die hof bepaa lof die kerk tydens die besluitnemingsproses waartydens die applikant uit sy amp ontslaan is, voldoen het aan die vereistes van prosedurele sowel as substantiewe billikheid. Die kerk voer aan dat die applikant “appeared before structures of the Church and that there is no doubt that he was given a fair hearing at various stages”.76 Daar is egter geen rekord van die verrigtinge nie en die hof is van mening dat die kerk voldoende geleentheid gegun is om aan te toon dat daar wel ’n verhoor was. Die kerk kon egter geen notule van ’n vergadering of enige rekord van enige verrigtinge aan die hof toon nie.77 Dit is duidelik dat die applikant nie ’n billike verhoor gehad het nie en dat die kerk nie die beginsels van prosedurele billikheid gevolg het nie. Die hof kom tot die gevolgtrekking dat “it is clear that the respondents failed to comply with their own Constitution and in the circumstances, the applicant has clearly made out a case for the relief sought”.78 Die kerk se besluit om die applikant te skors en van sy pastorale verpligtinge as predikant van die Bloemendal-gemeente te onthef, word gevolglik deur die hof tersyde gestel en die hof bepaal dat Johannes Fortuin onmiddellik in sy amp herstel moet word.

Dit blyk dus duidelik uit bostaande bespreking en voorbeelde dat daar ’n verpligting op geloofsinstellings rus om te verseker dat hulle optredes en prosedures voldoen aan die basiese prosedurele vereistes van ’n billike verhoor. Geloofsinstellings moet toesien dat hulle kerkordes en dissiplinêre kodes en optredes bepalings bevat wat aan ’n benadeelde persoon voldoende kennisgewing bied van enige optrede teen hom tydens enige dissiplinêre of tugoptrede en aan die benadeelde persoon ’n voldoende geleentheid bied om sy saak gedurende die verrigtinge te stel. Geloofsinstellings moet ook toesien dat hulle in die uitoefening van hulle bevoegdhede hierdie prosedures korrek volg en nie onregmatig optree nie.

 

6. Gevolgtrekking

Daar word algemeen aanvaar dat die uitoefening van sekere bevoegdhede of veral ’n skorsing ’n ernstige impak op en gevolge vir die benadeelde persoon se reputasie kan inhou en dat so ’n besluit voorafgegaan moet word deur ’n verhoor.79 Reeds so vroeg soos 1864 in Kotze v Murray80 beslis die hof dat ’n skorsing van ’n predikant sy status in die gemeenskap en sy karakter nadelig kan beïnvloed en in die afwesigheid van ’n verhoor, die skorsing tersyde gestel kan stel.

In ’n interessante saak van De Boer wat in Nederland afgespeel het, waar ’n predikant deur die klassis van die Christelijke Gereformeerde Kerk van Zeewolde geskors is, het die hof die toepassing van basiese beginsels van prosesreg weer eens beklemtoon:

De toepassing van het kerklijk recht heeft ander doelstellingen dan het wereldlijk recht. Dat neemt echter niet weg dat bij de toepassing van het kerklijk recht elementaire beginselen van een goede rechtsgang gewaarborg horen te zijn, zoals zorgvuldigheid, het beginsel van hoor en wederhoor enzovoort.81

Wat uit hierdie bespreking duidelik na vore getree het, is dat kerke nie onaantasbaar is vir hersiening deur die howe ten aansien van hulle besluite nie. Hoewel ’n hof nie geredelik sal inmeng by ’n geskil van ’n duidelike godsdienstige aard nie, kan ’n hof wel inmeng waar ’n kerk nie sy eie prosedures gevolg het nie en gevolglik onbillik en onregmatig opgetree het. Die kerk in die Fortuin-saak het tereg aangevoer dat die hof nie by magte is om godsdienstige geskille te hersien nie. Soos dit duidelik na vore getree het in die onlangse saak van De Lange v Presiding Bishop, Methodist Church of Southern Africa82 is Ecclesia de Lange uit haar pos as predikant van die Metodistekerk geskors nadat sy aangekondig het dat sy beoog om met haar lewensmaat in die huwelik te tree. Sy het onder andere aangevoer dat die betrokke reëls van die Metodistekerk nie duidelik was nie. Die Hoogste Hof van Appèl beklemtoon die feit dat die tersaaklike geskille sensitiewe aspekte van kerklike doktrine en gebruike behels en dat hierdie

are issues that the Church should be left to determine domestically, as far as is possible, without interference from the Court. The Court should only become involved in the dispute where it is strictly necessary to do so. Even then, I am advised and submit that it will refrain from determining doctrinal issues, in order to avoid religious entanglement. 83

Die hof beslis verder dat “a proper respect for freedom of religion precludes our courts from pronouncing on matters of religious doctrine, which fall within the exclusive realm of the Church”.84 Dit was egter duidelik in die Fortuin-saak dat daar geen sprake van ’n godsdienstige geskil was nie en dat dit suiwer gehandel het oor die regmatigheid en billikheid van die besluit. Met betrekking tot die regmatigheid van die besluit word aangevoer dat die kerk nie die nodige bevoegdheid gehad het om Johannes Fortuin uit sy amp te ontslaan nie. Daar was geen sprake van ’n dissiplinêre verhoor nie en die kerk het nie sy dissiplinêre bevoegdhede ooreenkomstig die bepalings van die Kerkorde en betrokke kerklike bepalinge uitgeoefen nie. Die kerk het duidelik sy bevoegdhede oorskry en gevolglik was die handeling onregmatig.

Die howe bevestig verder die minimumvereistes vir die reg op ’n billike verhoor, wat insluit dat die benadeelde persoon wie se regte nadelig deur die besluit geraak is, ingelig moet word van die optrede teen hom of haar en die geleentheid gegun moet word om sy saak te stel en aangehoor te word. Aangesien daar in die Fortuin-saak geen dissiplinêre verhoor was nie en hy tydens ’n vergadering waarvan die doel uitsluitlik was om inligting in te win, verneem het dat hy ontslaan is, is dit duidelik dat hy nie vooraf ingelig is dat die kerk van plan is om hom uit sy amp te ontslaan nie en het hy gevolglik ook geen geleentheid gekry om sy saak te stel nie. Die kerk het duidelik die beginsels van natuurlike geregtigheid geskend en die hof was korrek in sy optrede om te bevind dat die kerk nie billik opgetree het nie en te bevind dat die skorsing tersyde gestel moet word.

Binne die gereformeerde kerkreg in Nederland vind die beginsels van ’n billike verhoor en die audi-reël binne geloofsinstellings eweneens toepassing en volg die Nederlandse howe dieselfde benadering ten aansien van die toepassing van die reëls van prosedurele billikheid soos dit uit die bovermelde bespreking ook in die Suid-Afrikaanse konteks na vore gekom het.85 Die beginsel van “hoor en wederhoor” is een van die belangrikste beginsels van ’n regverdige optrede en word beskryf as ’n beginsel wat “zonder meer ook van toepassing [is] op de kerkelijke geschilsbeslechting”.86

Bouwman87 beklemtoon hierdie siening deur verder op te merk:

Nodig is het ook, dat de aangeklaagde gehoor wordt, en hem ruimschoots gelegenheid gegeven wordt, zich te verantwoorden en te verdedigen. Ongehoord iemand veroordelen is ten zeerste af te keuren.

Tugmaatreëls het die vermoë om ernstige gevolge vir die betrokkene in te hou en die belange van die betrokkene moet juis met die grootste omsigtigheid en sorgvuldigheid hanteer word. ’n Hof moet die basiese beginsels van billikheid handhaaf wanneer by die toepassing van so ’n tugmaatreël ingegryp word. Lede van bepaalde geloofsinstellings het die bevoegdheid om organisasies te stig en hulself te organiseer as uiting van hulle geloof. Geloofsinstellings het eweneens die reg om te besluit oor die interne struktuur van die organisasie en om self bepaalde gedragsreëls, regulasies en prosedures neer te lê vir die uitoefening van gesag en interne orde binne die organisasie, ooreenkomstig die bepaalde geloofsidentiteit van die geloofsinstelling. Dit gee egter nie aan geloofsinstellings ’n blanko tjek om op te tree soos wat hulle wil nie. Geloofsinstellings moet hulle Kerkordes, grondwette en ander bepalinge evalueer en bepaal of daar moontlik sprake kan wees van diskriminasie of differensiasie in enige van die geloofsinstelling se aanstellings-, lidmaatskaps-, indiensnemings-, tug- of enige ander prosedures of bepalinge. Geloofsinstellings se tugprosedures en dissiplinêre kodes moet ook voorsiening maak vir die nodige prosesregtelike waarborge wat voldoen aan die vereiste vir ’n billike verhoor.

 

Bibliografie

Anoniem. 2010. Uitspraak in zaak Zeewolde positief. Reformatorisch Dagblad. 21 Januarie.

Baxter, L. 1984. Administrative law. Kaapstad: Juta.

Bouwman, H. 1934. Gereformeerd kerkrecht. Het recht der kerken in de practijk. Deel II. Kampen: Kok.

Burns, Y. en M. Beukes. 2006. Administrative law under the 1996 Constitution. Durban: LexisNexis Butterworths.

De Ville, J. 1993. Die legaliteitsbeginsel in die staats- en administratiefreg onder ’n nuwe grondwetlike bedeling – ’n vergelykende toekomsperspektief. SA Publiekreg, 8(1):68-85.

Pretorius, D.M. 2002. The defence of the realm: contract and natural justice. South African Law Journal, 119(2):374–99.

Sadler, T.H.N. 1979. Die kerklike tughandeling. Pretoria: N.G. Kerkboekhandel.

Santing-Wubs, A.H. 2002. Kerken in geding. Den Haag: Boom Juridische Uitgewers.

Van Coller, E.H. 2013. Geloofsinstellings en prosedurele billikheid. Die toepassing van die reëls van natuurlike geregtigheid by die prosedures, besluite en optredes van geloofsinstellings. Recht Religie en Samenleving (RRS), 1:71-106.

Wiechers, M. 1984. Administratiefreg. 2de uitgawe. Durban: Butterworths.

—. 1995. Administrative law. Durban: Butterworths.

 

Lys van sake

Alexander v Union Club of SA 1949 1 SA 301 (W).

Attorney-General, OFS v Cyril Anderson Investments (Pty) Ltd 1965 4 SA 628 (A).

Bredell v Pienaar 1922 KPA 578.

Cohen v Committee of Harrismith Hebrew Congregation 1924 OPD 25.

Crisp v SA Council of the Amalgamated Engineering Union 1930 AD.

De Lange v Presiding Bishop, Methodist Church of Southern Africa 2015 1 SA 106 (HHA).

De Vos v Die Ringskommissie van die Ring van die N.G. Kerk, Bloemfontein 1952 2 SA 83 (O).

Du Plessis v The Synod of the DR Church 1930 KPA 403.

Du Preez en Andere v Nederduitse Gereformeerde Gemeente, De Deur 1994 2 SA 191 (W).

Evangelical Lutheran Church in Southern Africa (Western Diocese) v Sepeng 1988 3 SA 958 (BG).

Forbes v New South Wales Trotting Club 1979 143 CLR 242.

Fortuin v Church of Christ Mission of the Republic of South Africa (3626/15) [2016] ZAECPEHC (5 Mei 2016) 18.

Garment Workers’ Union v De Vries 1949 1 SA 1110 (W).

Johannesburg Local Road Transportation Board v David Morton Transport (Pty) Ltd 1976 1 SA 887 (A).

Klein v Dainfern College 2006 3 SA 73 (T).

Kotzé v Murray 1864 5 Searle 39.

Lucas v Wilkinson 1926 NPA 10.

Mankatshu v Old Apostolic Church of Africa 1994 2 SA 458 (TkA).

Moodley v Shri Siva Subramanier Aulayam 1979 2 SA 696 (SE).

Motaung v Mukubela and Another, NNO; Motaung v Mothiba, NO 1975 1 SA 618 (O).

National Transport Commission v Chetty’s Motor transport (Pty) Ltd 1972 3 SA (A).

Ndara v Umtata Presbytery, Nederduitse Gereformeerde Kerk in Afrika (Transkei) 1990 4 SA 22 (Tk).

Nederduitse Gereformeerde Kerk in Afrika (OVS) v Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika 1999 2 SA 156 (HHA).

Odendaal v Loggerenberg en Andere 1961 1 SA 712 (O).

Pharmaceutical Manufacturers Association of SA In Re: Ex Parte Application of President of the RSA 2000 2 SA 674 (KH).

Smith v Ring van Keetmanshoop van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, SWA 1971 3 SA 353 (SWA).

Taylor v Kurtstag 2005 1 SA 362 (W).

Theron v Ring van Wellington van die N.G. Sendingkerk in Suid-Afrika 1976 2 SA 1 (A).

Toerien v De Villiers 1995 2 SA 879 (K).

Turner v Jockey Club of SA 1974 3 SA 633 (A).

Union Government v Union Steel Corporation (South Africa) Ltd 1928 AD 220.

United Methodist Church of South Africa v Sokufundumala 1989 4 SA 1055 (O).

Van Rooyen v Dutch Reformed Church, Utrecht 1915 NPA 323.

Yiba v African Gospel Church 1999 2 SA 949 (K).

Zondi v Member of the Executive Council for Traditional and Local Government Affairs 2005 4 BCLR 347 (KH).

 

Eindnotas

1 Fortuin v Church of Christ Mission of the Republic of South Africa (3626/15) [2016] ZAECPEHC (5 Mei 2016) 18.

2 Fortuin par. 19.

3 Klein v Dainfern College and Another 2006 (3) SA 73 (T) par. 20.

4 Sien Fortuin par. 17.

5 Toerien v De Villiers 1995 2 SA 879 (K) 882E-F.

6 Sien byvoorbeeld Van Rooyen v Dutch Reformed Church, Utrecht 1915 NPD 323; Bredell v Pienaar 1922 CPD 578; Cohen v Committee of Harrismith Hebrew Congregation 1924 OPD 25; Theron v Ring van Wellington van die N.G. Sendingkerk in Suid-Afrika 1976 2 SA 1 (A); Moodley v Shri Siva Subramanier Aulayam 1979 2 SA 696 (SE); Ndara v Umtata Presbytery, Nederduitse Gereformeerde Kerk in Afrika (Transkei) 1990 4 SA 22 (Tk); Mankatshu v Old Apostolic Church of Africa 1994 2 SA 458 (TkA).

7 Odendaal v Loggerenberg en Andere 1961 1 SA 712 (O) 719C-E.

8 Fortuin par. 18.

9 Sien Turner v Jockey Club of SA 1974 3 SA 633 (A) (dissiplinêre verhoor van ’n lid van die Jokkieklub); Theron v Ring van Wellington van die N.G. Sendingkerk in Suid-Afrika 1976 2 SA 1 (A) (tugverhoor van ’n kerk); Sien verder Taylor v Kurtstag 2005 1 SA 362 (W) (rakende die ekskommunikasie van die Joodse geloof).

10 De Ville (1993:69).

11 Burns en Beukes (2006:198).

12 Ultra vires in die eng sin verwys na die vereiste dat die administratiewe handeling aan die vereistes van die magtigende wet moet voldoen en niks meer nie. Dit vorm dus slegs ’n onderdeel van wat Wiechers beskryf as administratiewe legaliteit. Ultra vires in die wyer sin word deur Wiechers beskryf as ’n kollektiewe begrip vir al die vereistes vir regmatige administratiewe optrede en dit is dan ’n begrip wat sinoniem is met die totale regsvereistes vir die geldigheid van alle administratiewe optrede en wat voldoen aan die vereistes van legaliteit. Sien Wiechers (1995:177).

13 Burns en Beukes (2006:205).

14 Pharmaceutical Manufacturers Association of SA In Re: Ex Parte Application of President of the RSA 2000 2 SA 674 (KH) par. 50.

15 Sadler (1979:182).

16 De Vos v Die Ringskommissie van die Ring van die N.G. Kerk, Bloemfontein 1952 2 SA 83 (O).

17 Theron v Ring van Wellington.

18 Du Plessis v The Synod of the DR Church 1930 CPD 403.

19 Sadler (1979:182).

20 Sadler (1979:183).

21 Wiechers(1984:205).

22 Burns en Beukes (2006:289).

23 Du Preez v Nederduitse Gereformeerde Gemeente, De Deur 1994 2 SA 191 (W).

24 Du Preez par. 197G-H.

25 Du Preez par. 198B.

26 Nederduitse Gereformeerde Kerk in Afrika (OVS) v Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika 1999 2 SA 156 (HHA).

27 Nederduitse Gereformeerde Kerk in Afrika 170A-C.

28 Nederduitse Gereformeerde Kerk in Afrika 175G.

29 Wiechers (1984:210).

30 Baxter (1984:432).

31 Wiechers (1984:210).

32 Attorney-General, OFS v Cyril Anderson Investments (Pty) Ltd 1965 4 SA 628 (A) 639C-D.

33 Yiba and Others v African Gospel Church 1999 2 SA 949 (K).

34 Yiba v African Gospel Church par. 962I.

35 Yiba v African Gospel Church par. 963A.

36 Fortuin par. 13.

37 Sien Wiechers (1984:322 e.v.); Theron v Ring van Wellington 14; 34.

38 National Transport Commission v Chetty’s Motor transport (Pty) Ltd 1972 3 SA (A) 735.

39 Union Government v Union Steel Corporation (South Africa) Ltd 1928 AD 220 235 en verder.

40 Theron v Ring van Wellington.

41 Theron v Ring van Wellington 13F-G.

42 Wiechers (1984:331–2).

43 Wiechers (1984:277).

44 Du Plessis v The Synod of the DR Church 1930 CPD 403.

45 Du Plessis 422.

46 Evangelical Lutheran Church in Southern Africa (Western Diocese) v Sepeng and Another 1988 3 SA 958 (BG).

47 Evangelical Lutheran Church 962E.

48 Evangelical Lutheran Church 962I-J.

49 Evangelical Lutheran Church 961A.

50 Evangelical Lutheran Church 968A.

51 Sien onder andere Alexander v Union Club of SA 1949 1 SA 301 (W) 305–6; Du Plessis v The Synod of the DR Church 1930 CPD 403 422; Lucas v Wilkinson 1926 NPD 10 16–7; Crisp v SA Council of the Amalgamated Engineering Union 1930 AD 225 237–8; Johannesburg Local Road Transportation Board v David Morton Transport (Pty) Ltd 1976 1 SA 887 (A) 895; Theron v Ring van Wellington 10D-E.

52 Wiechers (1984:217).

53 Sien regter Murphy in Forbes v New South Wales Trotting Club 1979 143 CLR 242 275.

54 Regter Claassen in Klein v Dainfern College 2006 3 SA 73 (T).

55 Sien byvoorbeeld Bredell v Pienaar 1922 KPA 578 585.

56 Turner v Jockey Club.

57 Zondi v Member of the Executive Council for Traditional and Local Government Affairs 2005 4 BCLR 347 (KH).

58 Baxter (1984:553).

59 Motaung v Mukubela and Another, NNO; Motaung v Mothiba, NO 1975 1 SA 618 (O) 618H-619A.

60 De Vos v Ringskommissie van die Ring.

61 Garment Workers’ Union v De Vries and Others 1949 1 SA 1110 (W) 1129.

62 United Methodist Church of South Africa v Sokufundumala 1989 4 SA 1055 (O).

63 Turner v Jockey Club of South Africa 1974 3 SA 633 (A) 646F.

64 Motaung v Mukubela.

65 Ndara v Umtata Presbytery, Nederduitse Gereformeerde Kerk in Afrika (Transkei), and Others 1990 4 SA 22 (TK).

66 Ndara v Umtata Presbytery 27B–D.

67 Ndara v Umtata Presbytery 28G–29A.

68 Ndara v Umtata Presbytery 29B–D.

69 Smith v Ring van Keetmanshoop van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, SWA, en Andere 1971 3 SA 353 (SWA).

70 Smith v Ring van Keetmanshoop 363G–H.

71 Taylor v Kurtstag 2005 1 SA 362 (W).

72 Taylor v Kurtstag 2004 4 All SA 317 (W) par. 63.

73 Theron v Ring van Wellington.

74 Theron v Ring van Wellington 44F–G.

75 Theron v Ring van Wellington 46 A.

76 Fortuin par. 21.

77 Fortuin par. 23.

78 Fortuin par. 23.

79 Pretorius (2002: 377 vn 23).

80 Kotzé v Murray 1864 5 Searle 39.

81 Reformatorisch Dagblad (2010:1).

82 De Lange v Presiding Bishop, Methodist Church of Southern Africa 2015 1 SA 106 (HHA).

83 De Lange 30.

84 De Lange 39.

85 Vir ’n volledige bespreking van die posisie in Nederland, sien Van Coller (2013:71).

86 Santing-Wubs (2002:109).

87 Bouwman (1934:622).

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top