Regering moet skuld dra vir swak onderwys

  • 1

Jean Oosthuizen en Danie van Wyk (foto's: Naomi Bruwer)

Postapartheid Suid-Afrika het ’n onderwysstelsel geërf wat “deurspek was met ongelykhede”. Die skuld vir die huidige probleme in die onderwys moet egter vierkantig aan die voete van die huidige regering gelê word. Daar kan nie voortborduur word om apartheid die skuld te gee nie en die regering moet die verantwoordelikheid aanvaar om die ongelykhede reg te stel.

So sê Danie van Wyk, bestuurder van die Suid-Afrikaanse Ontwikkelingstrust in die Wes-Kaap, in ’n breedvoerige onderhoud oor die stand van onderwys in Suid-Afrika. Jean Oosthuizen wou ook by hom weet waarom sekere skole soveel beter presteer as ander en hoekom moedertaalonderrig belangrik is.

Dit is algemene kennis dat die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel in ’n krisis is. Hoe stel mens hierdie probleme reg?

Die oorgrote meerderheid van die probleme in die onderwys het ’n aanvang lank voor die huidige Minister van Basiese onderwys se ampstermyn.

Postapartheid Suid-Afrika het ’n onderwysstelsel geërf wat deurspek was met ongelykhede. Om hierdie ongelykhede reg te stel en die hoof te bied, benodig ons groter betrokkenheid vanuit die burgerlike samelewing.

Hoe kan die burgerlike samelewing meer betrokke raak?

Ouers, onderwysers, skoolbeheerliggame en geestelike instansies kan nie meer toeskouers wees en toekyk hoe die onderwys van hul kinders en kleinkinders deur ’n groep onbevoegde en onbekwame individue tot in die grond bestuur word sonder enige reaksie van hul kant nie.

Die regering is deeglik bewus van hierdie ongelykhede, maar leef in ontkenning en probeer op allerlei wyses die indruk te skep dat hulle aan die ongelykhede aandag gee. Die implementering van weldeurwinterde opvoedkundige beginsels is die enigste manier om die ongelykhede in die onderwys reg te stel en onderwys op ’n pad van sukses te plaas om met die bestes in die wêreld mee te ding.

Elke burger van hierdie land het ’n plig en ’n rol te speel om met werkbare en volhoubare oplossings vorendag te kom. Die staat en die besigheidsektor sal hande moet vat en opnuut kyk na die aanbevelings soos vervat in die Nasionale Ontwikkelingsplan, wat besig is om stof te vergaar in die presidensie. Uiteindelik is onderwys ons almal se verantwoordelikheid.

Maar waarom sukkel ons meer as 20 jaar na apartheid nog met hierdie ongelykhede en wie se skuld is dit?

Die skuld kan vierkantig aan die voete van die huidige regering gelê word. Soos vermeld, verwys die Nasionale Ontwikkelingsplan na die ongelykhede in die onderwys en bevat ’n reeks konkrete aanbevelings oor hoe dit aangepak moet word en hoe die gehalte van onderwys teen 2030 verbeter moet word.

Ons kan nie meer voortborduur om apartheid die skuld te gee nie. Die regering sal nou die verantwoordelikheid moet aanvaar om die ongelykhede aan te pak. Die politieke wil ontbreek egter en ek kan nie sien hoe daar in die afsienbare toekoms met werkbare oplossings vorendag gekom gaan word om hierdie diepgewortelde ongelykhede reg te stel nie.

Dit lyk dus of ons agteruit boer ten opsigte van ons onderwysstelsel in plaas van vorentoe?

Hier moet ons met mekaar eerlik wees en die realiteit in die oë kyk. Daar is die persepsie dat ons agteruitboer, en in sekere gebiede/provinsies mag dit wel so wees. Maar dan is daar skitterende voorbeelde van waar opvoeders en jongmense die eiesoortige uitdagings van die 21ste eeu aanvat en ’n groot sukses van hulle skoolloopbane maak – in so ’n mate dat hulle met die beste in die wêreld kan vergelyk en meeding.

Watter rol speel die finansiële welstand van die skoolgemeenskap ten opsigte van die prestasies wat behaal word?

Dit is ’n gegewe dat daar skole is wat ekonomies beter daaraan toe is as ander. Die meer gegoede en beter toegeruste skole gaan beter presteer, omdat die klasse kleiner is en individuele aandag aan leerders geskenk kan word. Gegoede skole kan ook bekostig om meer addisionele onderwysers en ondersteuningspersoneel aan te stel.

Dit moet egter ook vermeld word dat daar lande is waar daar baie hoër vlakke van armoede is, maar waar leerders beter akademiese vordering toon. Die ongelykheid in die ekonomiese status van gemeenskappe moet ook in ag geneem word, omdat ongelykheid sosiale kohesie vernietig en dit veral sosiale kohesie is wat steun/ondersteuning aan onderwys voorsien.

Ten spyte van finansiële agterstande is daar ook skole in agtergeblewe gebiede wat goed presteer, soos die Thengwe Secondary School en Mbilwe Secondary School in Limpopo. Albei is kwintiel 2-skole, maar het uiters goed gevaar wat hul algehele slaagpersentasie en onderskeidings in wiskunde en fisiese wetenskap betref. Wat doen hulle reg om, ten spyte van hulle omstandighede, goeie resultate te lewer?

Ek is nie bekend met wat hierdie twee genoemde skole gedoen het om hul slaagpersentasie in wiskunde en wetenskap so dramaties te verbeter nie, maar kan slegs bespiegel op grond van ander skole, in veral die Wes-Kaap, waar soortgelyke prestasies bereik is.

In die eerste plek moet die toegewydheid van die onderwysers in hierdie vakke die lof toegeswaai word. Ek is bewus daarvan dat naweekklasse aangebied word, asook ekstra lesse gedurende die skoolvakansies. Dit spreek ook van goeie leierskap van die skoolhoof en sy senior bestuurspan, asook die ondersteuning van die skoolbeheerliggaam. Hulle passie vir hul vakke spreek boekdele, want die sukses van hul leerders is uiteindelik ook hulle sukses.

Dit bly egter ’n feit dat die voormalige model C-skole oor die algemeen beter presteer as die res. Waarom is dit so?

Daar is verskeie redes waarom voormalige model C-skole beter presteer:

  • Ouerbetrokkenheid en deelname aan die aktiwiteite van die skool, hetsy akademies of buitekurrikulêr. Hier kan ook die kapasiteit van ouers ten opsigte van vermoëns en kundigheid vermeld word.
  • Die skole het ’n strewe na goeie prestasie op vele terreine en dit word meegehelp deur die beskikbaarheid van beter bronne, meer personeel en beter infrastruktuur.
  • Hierdie skole was deur die ou bedeling bevoordeel met beter befondsing en die skep van infrastruktuur en het dus ’n goeie basis van waar hulle goeie onderrig kan verskaf.
  • Hierdie skole is oor die algemeen in beter woonbuurte geleë, wat bydra tot die veiligheid van leerders en onderwysers, in vergeleke met townshipskole.
  • Voormalige model C-skole trek vandag nog die sterker akademiese leerders, en selfs onderwysers, want almal skakel in by die etos van uitnemendheid en kwaliteitonderrig.
  • Baie van hierdie skole het ook ’n demografiese verskuiwing ervaar omdat baie meer ouers dit vandag kan bekostig om hulle kinders daar in te skryf.

Afrikaanse skole het oor die algemeen goed presteer. Waarom is dit so en gaan dit nie daartoe bydrae dat daardie skole onder groter druk geplaas word om te verengels nie?

Afrikaanse skole het oor die algemeen ’n strewe na uitnemendheid. Dit word nie slegs weerspieël in akademiese prestasie nie, maar ook op sportgebied. Hierdie skole is oor die algemeen waardegedrewe skole en is toegerus om van reëlgedrewe skole na waardegedrewe skole te beweeg en hul leerders positief in te stel.

Die verengelsing van baie van hierdie skole het reeds plaasgevind, maar hulle presteer steeds goed. ’n Voorbeeld is Hoërskool Hermanus. Die skool het 100%-slaagsyfer met die onlangse matriekeksamen behaal, en ook die bes-presterende leerder in die land opgelewer.

Die druk (tot verengelsing) neem toe omdat die persentasie funksionele skole ’n klein deel uitmaak van die totale aantal hoërskole in die land. Ouers verlang, en vereis, die beste onderrig vir hul kinders.

Die integrasie van woonbuurte van voorheen Afrikaanse gemeenskappe dra daartoe by dat tradisionele Afrikaanse skole se beheerliggame self die taalbeleid van die skool aanpas om by die demografiese verandering van gemeenskappe te pas.

Verengelsing van skole verskil dus van skool tot skool. Sommige word nie geraak nie, terwyl ander wel die druk ervaar, soms van die kant van die onderwysdepartement, soos in sommige provinsies die geval is.

Daar is egter talle voorbeelde dwarsoor die land waar die veranderende demografie die handhawing van Afrikaans nie meer “redelikerwys doenlik” maak nie, of waar daar ’n geleidelike invloei van anderstaliges is.

Jy voel sterk oor moedertaalonderrig. Waarom is dit vir jou so belangrik?

Dit is ’n internasionaal erkende feit dat kinders beter presteer in hul moedertaal. Navorsing het ook bewys dat kinders wat nie in hul moedertaal onderrig ontvang nie, in later jare uitsak of in hul laer grade druip. Kinders se huistaal is die optimale taal vir geletterdheid en syfervaardigheid in die laerskooljare. Ouers besef nie altyd watter ernstige gevolge dit vir kinders inhou sou hulle die geleentheid ontsê word om in hul moedertaal te studeer nie. Hierdie kinders sal swakker vaar omdat hulle nie goed onderleg is in die taal van onderrig is nie; en in baie gevalle ook die onderwysers nie.

In watter opsig sal hulle swakker vaar?

Hulle sal probleme ervaar om veral basiese konsepte baas te raak en sal nie oor die vermoë beskik om aan eenvoudige onderrigtake deel te neem nie. Hierdie leerders sal nie taalkundig vaardig raak in die taal van onderrig nie. Dit lei tot frustrasie en is in baie gevalle ’n bydraende faktor tot dissiplineprobleme.

Dit is ook ’n welbekende feit dat leerders in ontwikkelde lande beter vaar, waar die moedertaal die onderrigtaal is, as leerders in ontwikkelende lande, waar die leerders onderrig ontvang in die koloniale taal en min of geen poging aangewend word om die inheemse taal/tale te ontwikkel nie.

Daar sal ’n grootse poging aangewend moet word tot die ontwikkeling van die inheemse tale tot tale van onderrig en geletterdheid om leerders die geleentheid te bied om in hul moedertaal te studeer.

Waarom gebeur dit nie?

Die politieke wil ontbreek aan die kant van die regering om dit moontlik te maak en te verwesenlik. As ’n voorbeeld kan die Filippyne genoem word, waar onlangs ’n projek van stapel gestuur is om kinders se moedertale te ontwikkel en moedertaalonderrig in skole te vestig – ’n les vir Suid-Afrika.

Maar hoekom sal leerders nog na Afrikaanse skole wil gaan as hulle in elk geval by feitlik al ons universiteite in Engels gaan studeer? Waarom dan nie sommer al van skool af in Engels studeer nie?

Kinders wat goed onderleg is in hul moedertaal (in hierdie geval Afrikaans), sal baie beter presteer aan ’n universiteit waar die voertaal Engels is. Afrikaanse skole presteer oor die algemeen beter akademies. Daar is baie goeie parallelmedium skole – laer- én hoërskole – waar beide Afrikaans en Engels die medium van onderrig is en waar leerders reeds op ’n vroeë ouderdom blootgestel word aan ’n multikulturele en taalgemeenskap.

Daar is talle voorbeelde dwarsdeur die land waar die veranderende demografie die handhawing van Afrikaans nie meer “redelik doenlik” maak nie of waar daar ’n geleidelike invloei van anderstaliges is. Dit beteken dat enkelmediumskole parallelmedium word en dat die dominante taal uiteindelik sal seëvier.

Ouers is egter die hoofbesluitnemers oor hul kinders se voertaal. Afrikaanse ouers mag besluit om, in afwagting van hul kinders se toetrede tot Engels as voertaal op tersiêre vlak, hul kinders in ’n Engelse baan van ’n parallelmedium skool te plaas.

Daar is veral in die bruin gemeenskap ’n sterk tendens dat ouers hulle kinders liewer na Engelse skole stuur, selfs al is hulle huistaal Afrikaans. Waarom is dit so?

Bruin mense wat hulle in stedelike gebiede bevind, het reeds lank gelede hul kinders in Engels grootgemaak en na Engelse skole gestuur. Dit was tot ’n groot mate ’n politieke besluit teen die apartheidsbestel.

Tydens die apartheidsbedeling het baie van hulle wat dit kon bekostig hul kinders na Engelse privaatskole gestuur. Hierdie tendens het sterker geword namate universiteite verengels het en daar groter toegang tot tersiêre instellings is.

Vandag neem skoolbeheerliggame die besluit om hul taalbeleid aan te pas en Engels as voertaal in te stel. Ouers glo ook dat Engels die taal is wat hul kinders suksesvol sal maak in ’n kompeterende wêreldekonomie. Wat hulle egter nie besef nie, is dat ’n goeie grondslag in moedertaalonderrig nodig is om ander tale te kan baasraak.

Daar is egter nog ’n hele aantal “bruin” skole wat Afrikaansmediumskole is en wat goed presteer. Ouers in hierdie gemeenskappe wat uit huis Afrikaans is, verkies dat hul kinders nog in Afrikaans onderrig moet word. Daar is dus nog baie bruin Afrikaanse ouers met Afrikaanse harte, maar daar is ook baie van hulle met Engelse harte. Is dit politieke korrektheid? Slegs hulle sal kan sê.

Maar selfs op ’n universiteit soos Stellenbosch waar Afrikaans darem nog een van die tale is, verkies baie Afrikaanse studente om in Engels te studeer. Waarom bodder ons dan nog oor die taalkwessie? Moet ons nie maar aanvaar Engels is die taal waarin ons kinders uiteindelik gaan studeer nie?

Tersiêre inrigtings, soos die Universiteit Stellenbosch, waar daar ’n sterk moontlikheid bestaan dat Engels die primêre voertaal gaan word, sal ’n invloed op die voertaal op skoolvlak hê.

Ouers neem soms die besluit om hul kinders vroegtydig oor te plaas van Afrikaanse skole na Engelse skole in afwagting op die onderrig van Engels op tersiêre vlak.

Sekere verstellings is egter nodig van Afrikaansmedium skole. Dit is ’n mite dat dit enigsins nodig is om na Engelse skole te migreer om Engels te leer. Daar is talle voorbeelde en getuienis van Afrikaanse studente wat puik presteer daar buite en hulself bewys het sonder om deur medium van Engels te studeer.

Is daar nog ’n toekoms vir Afrikaanse skole?

Afrikaansmedium skole het ’n toekoms, mits ’n saak uitgemaak kan word dat die “nuwe taalstryd” broodnodige vernuwing in denke by Afrikaanse skole te weeg kan bring mits skole vroegtydig daarvoor beplan. Afrikaanse skole moet aan die onderwysbehoeftes van hul leerders beantwoord en hulle voorberei vir ’n tersiêre werklikheid waarin hulle gaan studeer deur baie meer klem te lê op Engels as gebruikstaal in die skool. Leerders se vermoë om in Engels te kommunikeer mag nie agterweë bly nie.

Afrikaanse ouers en skole moet hul kinders aanmoedig om aan bedrywighede in Engels deel te neem. Vaardigheid in Engels mag nie ’n meulsteen word nie. Ouers en kinders moet dit as ’n nuwe uitdaging vir Afrikaans sien wat Afrikaans net sterker sal maak.

Is daar enigiets om oor opgewonde te raak oor die jongste matriekuitslae? Daar word gespog met ’n slaagsyfer van 72,5%, maar wat van die grootste persentasie leerlinge wat maar net-net deurgeskraap het?

Ja, daar is wel dinge waaroor ons opgewonde kan raak wat nie deur die koue, kliniese statistieke uitgelig word nie. Dit is dinge soos die volgende wat die goeie uitslae wat daar wel is, onderlê:

  • Leierskap van skoolhoofde
  • Aktiewe en funksionele beheerliggame
  • Betrokke ouers
  • Passie en toewyding aan die kant van opvoeders én leerders
  • Jongmense wat hoop vir die toekoms het, in hulleself glo en hard werk

Dit is liefs die dinge waarop ons in die media moet fokus en uitbou.

Die rede vir die groot persentasie leerders wat uitgesak of deurgeskraap het, kan gesoek word in die die onvoldoende onderrig in die grondslagfase in die onderwys.

Watter rol speel die feit dat leerlinge eenvoudig net deurgesit word na ’n volgende graad in die gehalte van ons onderwys?

Daar is verskeie redes waarom die deurgang/progressie van leerders ’n negatiewe effek op die gehalte van ons onderwys het. Van die redes wat aangevoer kan word, is die volgende en kan beaam word deur die meeste goeie en bekwame onderwysers:

  • Die onderrigstandaard het beslis verlaag vanaf graad 1 tot graad 12. Kringbestuurders en ander onderwysamptenare plaas druk op skole om leerders te laat slaag, en op hierdie wyse word die herhalers eenvoudig net oorgeplaas en geakkommodeer in die stelsel wat reeds breekpunt bereik het.
  • ’n Groot persentasie graad 12-leerders kan nie die mas opkom op universiteit nie, omdat hulle nie oor die kennis en vaardighede beskik nie en dan in hul eerste jaar van studie óf uitval óf nie slaag nie. Dit het ’n geweldig negatiewe uitwerking op die arbeidsmark, omdat werkers nie toegerus is om in ’n mededingende mark te kompeteer en te oorleef nie.
  • As leerders reeds byvoorbeeld 40% en minder in wiskunde en tale behaal het – en dit is wat die meeste Suid-Afrikaanse leerders behaal – sal hulle moeilik kan vorder en presteer, want die basis is net te swak.
  • ’n Onderwyser verwag en aanvaar dat ’n leerder oor voldoende kennis moet beskik om in die volgende graad die werk te kan bemeester. Dit gebeur egter nie en lei tot erge frustrasie, nie net aan die kant van die onderwyser nie, maar ook aan die kant van die leerder. Dit is dus ’n verloor-verloor-situasie waaruit ons nie gou sal ontsnap nie.
  • Die uitvalsyfer styg jaarliks want leerders beskik nie oor die nodige vaardighede wat van hulle verwag word in veral die seniorfase nie.

Word wiskunde en wetenskap nie dalk te veel beklemtoon nie? Waarom is hierdie vakke so belangrik?

Uitslae in wiskunde is oor die algemeen baie swak in Suid-Afrika. Hoër onderwys vereis dat ’n leerder ’n goeie punt behaal in beide wiskunde en wetenskap. Daar word onvoldoende tyd afgestaan aan wiskunde-onderrig en leesvaardigheid, want indien ’n leerder nie met begrip kan lees nie, sal hy probleme ervaar om wiskundige begrippe te kan bemeester.

Goeie taalonderrig en goeie wiskunde-onderrig gaan dus hand aan hand. Om reg te laat geskied aan wiskunde, sal daar groter klem gelê moet word op die onderrig van die vak in die grondslagfase. Die wortel van die kwaad kan nie op hoërskool gesoek word nie, maar wel op laerskool, waar basiese begrippe vasgelê moet word.

Ek glo steeds dat ons leerders ook in wiskunde en wetenskap sal kan presteer en met die bestes in die wêreld sal kan meeding indien ons slegs ons benadering tot die vakke sal verander en aanpas. Kry die basiese begrippe onder die knie en beweeg daarvandaan vorentoe.

Wat egter uit die oog verloor word, is dat leerders sonder wiskunde en wetenskap tog suksesvolle beroepe kan beoefen en poste kan beklee. Dit hang meer af van die leerder se ingesteldheid om ’n moontlike suksesvolle entrepreneur te word.

Suid-Afrika se onderwysstelsel word beskou as van die swakste in die wêreld en tog spandeer ons ’n groter persentasie van ons bruto binnelandse produk aan onderwys as enige ander land ter wêreld. Hoe op aarde is dit moontlik dat ons dan so swak vaar?

Ruimskootse voorsiening is nie noodwendig gelyk aan prestasie nie. Mense moet weet wat om met die finansies/bronne/materiaal te doen, hoe om dit aan te wend, ten einde gehalte-onderwys te verseker.

As daar dalk meer klem gelê word op die ontsluiting van potensiaal (van opvoeders én leerders) en ’n groter mate van verantwoordelikheid/aanspreeklikheid aan die kant van die opvoeders, mag ons vind dat ruimskootse voorsiening van finansies en ander bronne nie so algemeen nodig is ten einde internasionaal mededingend te wees nie.

  • 1

Kommentaar

  • Rita van Niekerk

    Ek is besig om fondse by AfriSake se plan van aksie te kry en wil graag net nog meer skietgoed hê om digenering van fondse uit die sakegemeenskap vir spesifieke projekte in my geval die behoud van Afrikaans as onderrigtaal en gelyktydig Engels as tweede taal te regverdig.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top