Referaat: Die ontbeplanning van Afrikaans aan die Universiteit van die Vrystaat

theo_duplessis650

Die Universiteit Gent se 3de Colloquium Afrikaans het van 27–28 Oktober 2016 plaasgevind.
Hierdie internasionale kongres word deur die Gent Sentrum vir Afrikaans en die Studie van Suid-Afrika gereël. Innoverende navorsing op dié studiegebiede word by die kongres voorgelê.
Theo du Plessis was vanjaar een van die sprekers. Hieronder is sy volledige referaat.

Inleiding

Een van die gevare omtrent die aangekondigde titel is dat ’n mens maklik van samesweringsteorieë die slagoffer kan word omdat daarop gesinspeel word dat die verwyding van Afrikaans aan die UV die gevolg is van ’n enigsins sinistere, georkestreerde taalaksie. Volksblad se spotprent op julle kongreswebblad beeld hierdie denkwyse treffend uit; ’n mens kry beslis die indruk dat ’n soort aanslag teen Afrikaans uitgebeeld word.

spotprentVolksblad se spotprent van 8 Desember 2015

Waarskynlik veroorsaak die term “ontbeplanning” die semantiese ontsporing, so laat ek ter aanvang vinnig iets daaromtrent sê. Michael Clyne, wat saam met ’n aantal kollegas die “undoing and redoing” van korpusbeplanning in verskeie wêrelddele bekyk het, kom in sy slotwoord tot die gevolgtrekking dat taalbeplanningsaksies in heelwat meertalige lande dikwels eintlik maar neerkom op ontbeplanning of herbeplanning; veral binne kontekste waar samelewings spreekwoordelik besig is om “van rigting [te] verander” (Clyne, 1997, p 500). Hy het terloops niks oor “rigting verloor” genoem nie. Fishman (2006, pp 72–3) gaan ’n stappie verder en konstateer dat Clyne se bundel uitwys dat die meeste taalbeplanning in die wêreld in werklikheid die ontbeplanning van vorige beplanning behels, en dat hierdie ontdoeningsaksies beslis nie beperk word tot korpusbeplanning nie.

So gesien, kom dit daarop neer dat ontbeplanning uiteindelik ’n nadelige uitwerking kan hê op gemeenskappe se linguistiese opsies en dus verband hou met ’n verskynsel wat Kaplan en Baldauf (1997, p 230) as “negatiewe taalbeplanning” beskryf, oftewel taalintervensies wat daarop gemik word om linguistiese opsies in te perk eerder as betekenisvol te vermeerder. Australië se beleid dat kinders op skool meer as een taal moet aanleer en die erkenning van taaldiversiteit in terme van die 1992 Verdrag van Maastricht (wat individuele meertaligheid bevorder) verteenwoordig volgens Kaplan en Baldauf voorbeelde van intervensies wat linguistiese opsies vermeerder. Petrovic (2010, p 5) koppel sulke taalintervensies aan “positiewe taalbeplanning”. Pogings in die VSA om Engels as enigste ampstaal geproklameer te kry om sodoende skynbaar die sogenaamde verdelende uitwerking van taaldiversiteit hok te slaan, noem Kaplan en Baldauf (1997, p 230) weer as tipiese voorbeeld van intervensies wat die inperking van linguistiese opsies op die oog het. Ons kan uiteraard nog ’n hele lys voorbeelde by elke tipe toevoeg.

Hoe ook al, die uitrangering van Afrikaans as alternatiewe voertaal aan die UV skyn hiervolgens tog neer te kom op ’n inperking van taalopsies. Aangesien die betrokke intervensie beleidmatig gedoen word, lyk dit dus inderdaad na ’n moontlike geval van negatiewe taalbeplanning. Omdat die jongste taalbeleid in werklikheid die vorige een volledig vervang, en nie ’n wysiging daarvan is nie, lyk dit daarom na ’n tipiese geval van ontbeplanning. In plaas daarvan om nou in te gaan op samesweringsteorieë hieromtrent wil ek liefs die taalbeleidshersieningsproses aan die UV gedurende 2015 kortliks probeer bekyk aan die hand van heersende opvattinge oor beleidshersiening (“policy review”) en uiteindelik as ’n geval van ontbeplanning.

’n Tergende vraag hieromtrent is hoe dit gekom het dat ’n taalbeleidshersieningsproses gedurende 2015 van stapel gestuur is terwyl teen die einde van 2014 niks hieromtrent gedokumenteerd aan die hand was nie. Nóg die UV se 2014-jaarverslag (UFS, 2014a) nóg die strategiese plan vir 2015–2020 (UFS, 2015), twee kerndokumente wat teen die einde van 2014 gefinaliseer is, laat enige aap uit die mou. Inteendeel, die 2014-jaarverslag spog ’n bietjie met die sukses wat in die taalstudieklasse met taalontwikkeling in Engels en Afrikaans behaal word terwyl die 2015–2020 strategiese plan die instelling nogeens tot die parallelmediummodel verbind, soos trouens ook die strategiese plan vir 2012–2016 (UFS, 2012b). Vandaar ’n mens se uiterste verbasing oor die rede (wat mettertyd deurskemer) waarom die plotselinge beleidshersiening noodsaaklik was, naamlik “... die moontlike ongeskiktheid van die UV se huidige parallelle voertaalbeleid om die diepgaande transformasie by die instelling te ondersteun” (vervat in ’n uitnodiging aan konvokasielede – UV, 2015c). Iets moes dus die bestuur aan die begin van 2015 laat besluit het dat hersiening onvermydelik is. Dit bring ons by die vraag na die tipiese faktore wat normaalweg aanleiding kan gee tot taalbeleidshersiening aan universiteite.

Enkele gedagtes oor beleidshersiening

’n Verslag van die sogenaamde Institutional Policy Project waaraan verskeie Australiese, Nieu-Seelandse en Amerikaanse universiteite deelneem, suggereer dat beleidshersiening eintlik deel geword het van hoëronderwysinstellings se “beleidsiklus” (Freeman et al, 2014); dat dit met ander woorde ’n roetine-aangeleentheid geword het. ’n Tipiese beleidsiklus behels volgens Wilson (2016, p 45) ’n aantal identifiseerbare beplanningskomponente wat teoreties ook beleidsevaluering behels. Freeman (2012, p 3) moet egter toegee dat beleidsevaluering ’n aspek van die siklus is wat nog nie heeltemal posgevat het nie. Trouens, sy noem dit selfs die “wit olifant” van beleidshersiening aan universiteite. Nietemin bevind sy dat die meta-beleide (m.a.w. beleide oor beleide) van universiteite nogtans breedweg vir periodieke beleidshersiening voorsiening maak.

Tipiese faktore wat tot beleidshersiening en by implikasie beleidsevaluering aanleiding kan gee, sluit in interne ontwikkelinge, nuwe institusionele risiko’s en die noodsaak daaraan om verskillende beleide met mekaar in ooreenstemming te bring. Ander weer, en meestal die dwingender faktore, is ekstern van aard en spruit voort uit onder meer strukturele veranderinge (byvoorbeeld samesmeltings, amalgamerings), nasionale beleidswysiginge, nuwe wetgewing en ander relevante nasionale tendense (Freeman, 2012, p 3). Ook internasionale faktore, byvoorbeeld met betrekking tot dinge soos prestasie-yking en die hoogs kompeterende (en betwisbare) gradering van instellings, speel ekstern ’n rol. Dit spreek vanself dat sommige van hierdie faktore kleiner hersienings verg maar andere mag aanleiding gee tot meer ingrypende hersienings wat kan uitloop op beleidswysiginge. Dit alles word gedoen met beleidskontinuïteit in gedagte. Waar sodanige kontinuïteit verbreek word, kry ’n mens waarskynlik met ’n vorm van revolusionêre beleidshersiening te make. Dit is egter ook so dat nie alle taalbeleidshersieninge noodwendig sigbare of overte beleidsveranderinge (moet) oplewer nie, soos ons onder meer by taalbeleidskenners soos Schiffman (1998), Spolsky (2004) en Shohamy (2006) leer.

Beleide verander dus na gelang van veranderende omstandighede. Die indruk wat die werk van Freeman en andere skep, is dat dit vir universiteite toenemend belangrik raak om deurlopend kritiese vrae oor die relevansie van hulle beleide te stel en om hulle beleide so in te rig dat die evalueringskomponent roetinematigheid kan verseker (Freeman, 2012, p 3). Dieselfde geld sekerlik ook vir universiteite se hantering van taalbeleid. Grin (2010, p 10) voel egter minder positief hieroor. Alhoewel hy ’n groot voorstander is van taalbestuur aan universiteite meen hy dat universiteitsowerhede meestal die komplekse aard van taalbesluitneming totaal onderskat en as gevolg daarvan gewoonlik ewe vrolik heengaan en beleide daarstel sonder om ’n snars van hulle uiteindelike implikasies te begryp. Hy bepleit gevolglik ’n soberder benadering wat wegbeweeg van die populistiese en slagspreukagtige aansprake wat tipies oor Engels gemaak word na “behoorlike taalbeleidsevaluering” aan die hand van gepaste analitiese instrumente.

Of Suid-Afrikaanse universiteite beter vaar as van die Europese universiteite waarna Grin gekyk het, laat ek vereers onbeantwoord. Wel lyk dit of daar universiteite in ons suidland bestaan wat ten minste periodiek hulle taalbeleid beoordeel en selfs roetinematig hersien. Ons kyk saaklik na enkele voorbeelde.

Taalbeleidshersiening by enkele voormalige Afrikaanstalige universiteite

Ons weet dat Kader Asmal se Language Policy for Higher Education (LPHE) (MoE, 2008) van alle universiteite verwag het om teen 31 Maart 2003 ’n taalbeleid aan hom voor te lê. Vier van die universiteite wat tans op een of ander manier in taalstryde gewikkel is, het inderdaad dié opdrag nagekom, soos uit ’n 2005-rektoreverslag blyk. Ondertussen het drie van hierdie universiteite ook reeds hersiene beleide beskikbaar gestel, die UP op 20 Augustus 2010 (UP, 2010), die NWU op 23 November 2012 (NWU, 2014) en US op 22 November 2014 (US, 2014). Snel veranderende omstandighede het verdere hersienings genoodsaak, twee hiervan gedwonge. NWU was verplig om na aanleiding van ’n taakspanverslag (IITT, 2014) hulle taalbeleid ongeskeduleerd gedurende 2014 te hersien en US na aanleiding van die Open Stellenbosch-beweging (OS, 2015) hulle s’n gedurende 2015. Hierteenoor het die UP sy taalbeleid op eie houtjie gedurende Februarie 2015 begin hersien; dit is egter nog nie gepubliseer nie (UP, 2016). Tukkies beklemtoon in ’n hersieningsverklaring die instelling se bewustheid van die noodsaak om te verseker dat die institusionele taalbeleid relevant bly, gegewe die snel veranderende demografiese omstandighede op Suid-Afrikaanse kampusse. Dit lyk asof die UP die belang van taalbeleidsevaluering goed begryp en as’t ware die voortou neem wat taalbeleidshersiening in Suid-Afrika betref.

Miskien het die afwesigheid in hierdie bespreking van die UV as vierde universiteit u al opgeval? Waar die ander instellings sedert 2005 reeds ten minste twee taalbeleidshersienings beleef het, weliswaar in twee gevalle gedwonge, het Kovsies se 2003-taalbeleid desondanks soortgelyke veranderende omstandighede en druk tot hiertoe op die oog af onveranderd gebly. Nie net het die demografiese prentjie aan die UV sedert 2003 drasties verander nie, twee nasionale verslae ses jaar gelede het ernstige tekortkominge aan die instelling se taalbeleid blootgelê. Ook het die instelling vanaf 2009 ’n nuwe leierskap gekry wat vanuit die staanspoor ’n kritiese standpunt teenoor die bestaande taalbeleid ingeneem en kontrasterende taalsentimente begin predik het. Ons sal vervolgens saaklik stilstaan by die rol wat hierdie klompie faktore by taalbeleidshersiening aan die UV gespeel het.

Die taalsituasie aan die UV

Eers iets omtrent die 2003-taalbeleid en die taalsituasie. Oorhoofs word met die UV se 2003-taalbeleid (UV-Raad, 2003) beoog om dit moontlik te maak vir nie-Afrikaanstaliges om in Engels as tweede hooftaal naas Afrikaans te kan funksioneer en om sodoende ’n taaltolerante omgewing te skep, een wat weliswaar ’n beperkte taalkeuse bied. Die onderliggende beginsel van parallelisme behels wat die klasopset betref dat dieselfde lesing afsonderlik in die twee tale aangebied word (twee keer eentalig) en wat die administrasie betref dat die twee tale op gelyke basis gebruik word. In prinsiepe word van dosente en administratiewe personeel verwag om tweetalig te wees; nie van studente nie; natuurlik ook nie van stomme Engelstalige dosente nie.

Almal is dit grootliks eens dat die beleid ’n betekenisvolle bydrae gelewer het om integrasie tussen wit en swart te bewerkstellig. Meningsverskil bestaan of die beleid integrasie verder kan voer, wat dit ook al mag beteken. Dit is egter noodsaaklik om te begryp dat die beleid van twee sentrale veronderstellinge uitgaan, naamlik ’n nagenoeg 50/50-taalverdeling enersyds en andersyds ’n redelike mate van taalgetrouheid onder Afrikaanstaliges. Toe die parallelmediumstelsel in 1994 afgeskop het, was 68% van die destydse 11787 ingeskrewe studente Afrikaanstalig en 32% nie-Afrikaanstalig. Ironies genoeg het hierdie prentjie reeds in 2004 drasties verander met slegs 36% van die 25765 studente toe Afrikaanstalig en 64% nie-Afrikaanstalig. In 2014, tien jaar later, lyk die prentjie nóg ongelyker met slegs 26% van die 31481 studente toe nog Afrikaanstalig en 72% nie-Afrikaanstalig.1 Absolute parallelmedium aan Kovsies was reeds met die aanvaarding van die 2003-taalbeleid nie meer haalbaar nie.

Interessant genoeg het hierdie syfers nie eintlik in die onlangse taaldebatte na vore gekom nie. Ander syfers het wel, en tot vervelens toe, om aan te toon dat Afrikaanstalige studente “oorskuif” na die Engelse baan. Die prentjie wat geskets word, is dat 31% van ingeskrewe studente in 2004 in die Afrikaanse klasse gesit het en 69% in die Engelse klasse terwyl tien jaar later die verhouding verander het na 20% Afrikaans teenoor 80% Engels. Oppervlakkig beskou, lyk dit asof daar ’n lekkasie by die Afrikaanse groep voorkom. Dit is trouens die beweerde tendens wat as argument voorgehou word waarom dit onnodig is om nog vir 20% van studente ’n volledige Afrikaanse taalbaan oop te hou. Kombineer ’n mens egter die huistaalsyfers met die voertaalsyfers kom die “lekkasie” neer op ’n beskeie 1,15% verskil tussen 2004 en 2014.2 Die negeerbare resultaat van so ’n sobere vergelyking word egter selde genoem.

Oor die UV se meta-beleid. Die UV beskik inderdaad oor ’n meta-beleid wat dateer uit 2005 (UV, 2005). Dit is ’n ooglopend konserwatiewe beleid wat onnodige beleidshersienings ontmoedig en beleidmakers aanmoedig om eerder alternatiewe maatreëls te ondersoek om beleidsprobleme op te los. In ieder geval word beleidswysiginge as allerlaaste uitweg beskou. Beleidsvervanging word uiteraard nie gemeld nie.

Iets omtrent die gemelde twee verslae. Die eerste is die ouditverslag van die Higher Education Quality Committee (HEQC) wat in 2008 gepubliseer is (HEQC, 2008). Dit volg op ’n roetinematige institusionele oudit wat in 2006 aan die UV onderneem is. Die verslag identifiseer ten minste 10 spesifieke probleme omtrent parallelmediumonderrig aan die UV, onder meer dat die afsonderlike taalbane studente op ’n rassebasis verdeel, ongelyke assessering tot gevolg het as gevolg van vertaalprobleme, gelyke indiensneming belemmer en in elk geval op die lang duur waarskynlik nie volhoubaar is nie. Ofskoon die HEQC die instelling waarsku dat die beleid ernstige institusionele risiko’s inhou, word ’n grootskaalse beleidswysiging as sodanig nie vereis nie. Nietemin word ’n aantal konstruktiewe aanbevelings gemaak, waarop die UV, soos ons straks sal sien, wel positief gereageer het.

Die tweede verslag is die van ’n ministeriële komitee wat na aanleiding van die sogenaamde Reitz-insident van Februarie 2008 aan die UV onder meer transformasie op alle kampusse ondersoek het; die sogenaamde Soudien-verslag (Ministerial Committee, 2008). Hierdie verslag gaan verder en identifiseer parallelmediumonderrig as die enkele grootste struikelblok in die weg van transformasie omdat dit skynbaar verdeling teweegbring. Nietemin maak ook hierdie verslag geen direkte aanbevelings oor die UV-situasie nie maar konsentreer eerder op dinge wat die Minister moet doen. Hy word onder meer getaak om transformasie te moniteer deur middel van ’n taalbeleidmoniteringsmeganisme. Dit doen hy deels deur middel van ’n oorsigkomitee oor transformasie wat hy ondertussen opgerig het, gereelde nasionale hoëronderwysberade en ’n deurlopende gespreksforum met die hoëronderwysleierskap.

Die nuwe leierskap. Een van die gevolge van die Reitz-insident is die aanstelling van die eerste swart en nie-Afrikaanstalige rektor aan die UV in die persoon van prof. Jonathan Jansen. Hy neem op 1 Julie 2009 die leisels oor. Etlike UV-verslae gee hoog op oor hoe sy aanstelling ’n nuwe era aan die UV inlui, aangedryf deur sogenaamde nuwe strategiese prioriteite. Desnieteenstaande word sy werklike invloed eers vanaf 2012 in beleidsdokumente opgemerk, ’n tydperk waarin hy skynbaar die konseptuele basis gelê het van prestasies waaroor hy in die UV se 2015–2020 strategiese plan geloof word. Hy maak egter vanuit die staanspoor kontroversiële uitsprake oor Kovsies se taalkonvensies, wat waarskynlik ’n rol moes gespeel het om die taalklimaat aan die UV te begin verander. Die uitsprake kulmineer in twee trefferstellings omtrent Afrikaans kort voor en na die hernuwing van sy termyn as rektor vanaf 1 Julie 2014. Tydens ’n gedenklesing in Oktober 2013 by die English Academy of South Africa beweer hy dat Engels die taal van versoening is en dat Afrikaans in die weg staan van transformasie aan skole en universiteite (SAPA, 2013). Vir sy benoeming vir die Chivas Humanitarian Award in honour of Chief Rabbi Cyril Harris in Augustus 2014 verwys hy na ’n “fassinerende revolusie” wat besig is om uit te speel aan Kovsies deurdat daar “geen merkbare spanning” meer bestaan oor die gebruik van Engels wanneer byeengekom word vir amptelike geleenthede nie (Jansen, 2014). Nogtans bly hy Afrikaans in die openbaar gebruik, dikwels terwille van effek maar soms ongelukkig ook binne ’n ietwat onkiese register.

’n Mens sou redelikerwys kon verwag het dat die gemelde faktore aanleiding moes gegee het tot konstruktiewe taalbeleidshersiening aan die UV. Die feit dat die 2003-beleid ongewysig oorleef het, skep die indruk dat so iets nie gebeur het nie; dit is nou indien ’n mens jou blindstaar teen overte veranderinge aan die kernbeleid.

Taalbeleidshersiening aan die UV

Uit sentrale dokumente blyk dat die UV-taalbeleid sedert 2008 inderdaad meer as een keer hersien is. Om myself te beskerm, maak ek in hierdie referaat slegs staat op dokumente wat in die openbare domein beskikbaar is. ’n Analise van hierdie dokumente dui op ten minste drie onderskeie hersieningsfases, te wete

  • ’n eerste fase tussen 2008 en 2010 en in reaksie op die twee eerder gemelde nasionale verslae,
  • ’n tweede fase vanaf 2011 tot 2014 onder Jansen se leierskap, en
  • ’n derde vanaf 2015, wat saamval met die intensivering van transformasie aan die UV.

Saaklik iets oor elkeen.

Taalbeleidshersiening 2008–2010

Tussen 2008 en 2010 het twee hersieningsoefeninge voorgekom, een deur middel van die UV se Institusionele Verbeteringsplan (UFS, 2008a) wat gedurende Oktober 2008 aan die HEQC beskikbaar gestel is en ’n tweede deur die UV se Taalkomitee se taalbeleidshersieningsverslag op versoek van Jansen gedurende Oktober 2010 (Du Plessis, 2015). Beide hersienings het konkrete resultate opgelewer:

Die UV se Institusionele Verbeteringsplan reageer konstruktief op die bevindinge en aanbevelings van die HEQC se ouditverslag en stel ’n aantal maatreëls in werking wat spesifiek op implementeringsaspekte konsentreer. Hierdie maatreëls sluit in beter monitering van die taalbeleid, ’n klashulpstelsel, modules om taalvaardighede te verbeter, beide van studente en dosente, strenger assesseringsreëls, ’n Sense of Belonging-verslagreeks en ’n taalombudsmanfunksie gekoppel aan die Taalkomitee. Hierdie maatreëls word geïntegreer by die UV se strategiese planne vir onderskeidelik 2006–2008 en 2008–2012, die transformasieplan vir 2007–2010 en die onderrig- en leerplan vir 2009–2012 (sien UFS, 2008b; UFS, 2009; UV, 2009).

Oor die amptelike 2010 taalbeleidshersiening op versoek van Jansen is ongelukkig in die openbaar min bekend. Wel bekend is dat die Senaat na aanleiding van ’n hersieningsverslag van die UV-Taalkomitee besluit het meertaligheid word as taalbeleidsbeginsel behou en dat die posisie van Engels en Afrikaans (in die taalbeleid is die rangorde andersom) as hooftale onveranderd gelaat word. Nietemin word ook besluit dat dringend ingegaan moet word op die “negatiewe” aspekte van die taalbeleid en dat meer aandag geskenk sal word aan die taalvaardighede van studente en personeel. Jansen gee sy eie vertolking van die besluit weer in sy 2010 D.F. Malherbe-gedenklesing deur “aan te kondig” die UV bly verbind tot ’n tweetaalmodel (let wel nie parallelmedium nie) maar dat die beleid in sy geheel meer pragmaties toegepas sal word (Jansen, 2010). Jaap Steyn het terloops hierdie mededeling as die proklamering van ’n nuwe taalbeleid vertolk (Steyn, 2010).

Dit gaan in die onderhawige tydperk oor implementeringsaspekte, maar die subtiele koverte veranderinge is opvallend. Die UV se nuwe drietalige handelsmerkidentiteit wat teen die einde van 2010 gefinaliseer word, voer die “meer pragmatiese” benadering ’n stap verder (UV, 2010). Engels verplaas Afrikaans in die prominente posisie, ook wat betref die afkorting “UFS/UV”. Weer eens is die verandering subtiel sonder om teenstrydig te wees met die bestaande taalbeleid.

Taalbeleidshersiening 2011–2014

Waar in die voorafgaande periode duidelik versigtig met die taalkwessie omgegaan is, het die aard van taalbeleidshersiening sedert 2011 ietwat verander.

’n Tweede amptelike taalbeleidshersiening word skynbaar tydens hierdie periode uitgevoer. Ek sê “skynbaar” omdat min mense daarvan bewus was, tensy jy toevallig die dokumente wat ek hierna noem, gelees het. Hierbenewens word die taalbepalings van twee belangrike beleidsdokumente, te wete die koshuistoelatingsbeleid en die billike-indiensnemingsplan teenstrydig met die bepalings van die taalbeleid gewysig.

Eers die sogenaamde 2012-hersiening. Die 2012-hersiening word aangekondig in die UV se jaarverslag vir 2012 (UFS, 2012a) en uiteengesit in die strategiese plan vir 2012–2016. Dit hou in dat die bestaande beleid weer eens bekragtig word; so ook die posisie van Afrikaans. Desnieteenstaande word die sogenaamde “taallas” wat die gewaande duplikasie van lesings meebring, as ernstige probleem uitgelig. Dan voer die plan drie gewysigde taalmaatreëls in:

  1. Engels en Afrikaans sal voortaan aangewend word binne die parallelmediummodel, “waar prakties moontlik” (die taalbeleid stel die aanwending van beide tale as verstekopsie).
  2. Sotho sal as bykomende onderrigtaal ontwikkel word en kan reeds aangewend word in studieklasse, vir werkstukke en buitekurrikulêre aangeleenthede (die taalbeleid voorsien die “aanvullende gebruik” van Sotho)
  3. Sekere eerste- en tweedejaarsklasse kan in al drie tale aangebied word (glad nie in die 2003-taalbeleid voorsien nie).

Terugskouend gesien, verteenwoordig hierdie maatreëls in werklikheid ’n progressiewe hersiening aan die taalbeleid. Trouens, die groter rol aan Sotho word selfs in die plan verdedig op basis van die bewese pedagogiese oorwegings dat grondige leer die beste in leerders se primêre taal plaasvind! Uit verdere dokumentasie (onder meer jaarverslae) blyk dat die maatreëls egter nooit deurgevoer is nie en geen verdere woord word oor die betrokke hersiening gerep nie.

Wat die wysiginge aan die koshuistoelatingsbeleid en die billike-indiensnemingsplan betref. Die hersiene koshuistoelatingsbeleid van 2011 (UFS, 2011) skrap al die taalmaatreëls wat in vorige beleide getref is ten einde amptelike kommunikasie in die twee hooftale van die UV binne koshuise te fasiliteer. Ofskoon die taalbeleid nie enige reëlings omtrent taalgebruik in koshuise bevat nie, druis hierdie afskaffing nietemin in teen die gees van taalgelykheid. By implikasie word voortaan slegs Engels gebruik. Die billike-indiensnemingsplan vir 2013–2016 (UV, 2013) bring ’n nuwe reëling in dat Engels voortaan gebruik sal word binne situasies waar taal (lees: Afrikaans) ’n hindernis word. Ook hierdie reëling ondermyn die beginsel van taalparallelisme en hou ernstige implikasies in vir hoe voortaan met taaldiversiteit omgegaan sal word.

Skynbaar het die UV-bestuur begin besef daar moet iets omtrent die taalbeleid gedoen word, maar dit wil voorkom asof hulle onseker was oor presies wat. Dit lyk asof daar op ’n deus ex machina-moment gewag is alvorens daadwerklik opgetree sou word. Hierdie moment het waarskynlik gedurende 2015 aangebreek. Ons kyk vervolgens na 2015 se taalbeleidshersiening, sommige sal sê “die ware Jacob”! Dit val op dat die Soudien-verslag se uitwerking eers in hierdie periode te bespeur is.

Taalbeleidshersiening 2015

Op 11 Maart 2016 maak die Universiteitsraad bekend dat ’n “nuwe taalbeleid” met ’n “oorweldigende meerderheid” goedgekeur is (UV-Raad, 2016). Al opsigtelike verband met die 2003-beleid is dat die UV verbind bly tot die beginsel van meertaligheid, naas die beginsel van inklusiwiteit, as deel van twee “nuwe” beleidsbeginsels. Heeltemal in stryd met hierdie twee beginsels verklaar die nuwe beleid nogtans Engels as die UV se primêre onderrigtaal en taal van administrasie. As toegif word voorsien dat parallelmedium nog in professionele programme in stand gehou sal word maar uitbrei om ook Zoeloe en Sotho in te sluit. Ook voorsien die beleid aan eerstejaars taalsteun in Afrikaans, Zoeloe en Sotho binne die klasstudiestelsel. Origens maak die beleid grootliks simboliese geluide omtrent meertaligheid, soos dat die gebruik van slegs Engels as administrasietaal “met die nodige buigsaamheid” deurgevoer sal word met die oog op die “uiteindelike praktyk van meertaligheid” aan die UV. Nog ’n goeie voorbeeld is die vereiste dat formele interaksies op studentevlak slegs in Engels sal plaasvind maar dat meertaligheid aangemoedig word op sosiale vlak.

Ten einde nou te probeer begryp hoe van ’n verbintenis teen die einde van 2014 tot die parallelmediummodel by Maart 2016 se aanvaarding van ’n grootliks eentalige beleid uitgekom is, kyk ons vlugtig na die 2015-beleidshersieningsproses.

Die aanvoorwerk vir die hersiening van die UV se taalbeleid is gedoen by ’n universiteitsvergadering (UV, 2015b) wat (ook uit die bloute) op 28 April 2015 belê is. Hierdie vergadering volg op twee belangwekkende geleenthede, enersyds ’n dringende vergadering van die Minister met universiteitsleiers op 16 April 2015 (Nel, 2015) waar brandende vraagstukke na aanleiding van die #RhodesMustFall-beweging behandel is en universiteite hulle verbintenis tot verandering opnuut bevestig het, en andersyds ’n reeks gesprekke wat die Instituut vir Versoening en Sosiale Geregtigheid vroeër die maand rondom die tema “Transformation of the university space” (let wel, slegs in Engels) georganiseer het, weer eens na aanleiding van die #RhodesMustFall-beweging (UV, 2015a). Die oogmerk met hierdie universiteitsvergadering, ook deur die Instituut gefasiliteer, was om vraagstukke met betrekking tot simbole, beleid, praktyke en die kurrikulum te behandel. Met bemiddeling van die Instituut is uiteindelik 12 aanbiedings gemaak waarvan vier oor taalbeleid gehandel het. Volgens Jansen het dit by híérdie vergadering duidelik geword dat die bestaande taalbeleid vir die “meeste Kovsie-studente en heelwat personeellede” problematies geraak het. In sy openbare terugvoer hieroor (sien Smith, 2015a) vat Jansen die besware soos volg saam: parallelmedium segregeer, bevoordeel Afrikaanse studente en verswaar dosente se werkslas. Die opsomming is insiggewend en kom spoedig weer ter sprake.

Op 5 Junie 2015 mandateer die Raad die UV-bestuur om ’n omvattende konsultatiewe proses met alle belanghebbers te open met die oogmerk om die taalbeleid formeel te hersien (UV, 2015d). In verdere communiqués het die neutrale woordjie “hersien” stilweg begin verander na “wysig”. ’n Hersieningskomitee is vir hierdie doeleinde saamgestel, kontra die voorskrifte van die 2003-taalbeleid omtrent wie advies oor taalsake aan die Senaat en Raad mag verskaf. Die konsultasieproses het ’n OVK-beheerde taalopname onder personeel en studente tussen 29 Oktober en 4 November 2015 ingesluit; uiteindelik is die resultaat daarvan geïgnoreer toe die meerderheid (ongeveer 50%) ten gunste van die behoud van die bestaande stelsel gestem het. Nietemin word die hersieningskomitee se verslag volgens en aanbevelings (ongelukkig nie as openbare dokumente beskikbaar nie) op 20 November 2015 by ’n Senaatsvergadering behandel. Volgens Volksblad, wat op 19 November 2015 ’n uitgelekte weergawe van die verslag behandel, het die voorsitter van die hersieningskomitee toegegee dat hulle werksaamhede so kontroversieel geraak het dat etlike lede uit protes bedank het (Smith, 2015b). Nogtans gaan die Raad op 4 Desember 2015 voort en maak riglyne bekend vir die formulering van “’n nuwe” taalbeleid (UV, 2015e). Hiermee word die stille evolusie vanaf “hersien” na “wysig” na “nuut” (dus vervang) voltrek.

Die nuwe beleid wat op 11 Maart 2016 goedgekeur word, verskil nie wesenlik van die raamwerk wat die Raad in Desember 2015 goedgekeur het nie. Opdrag word gegee dat ’n implementeringsplan gedurende 2016 saamgestel sal word en dat die nuwe beleid op 1 Januarie 2017 in werking gestel sal word. Hiermee word tans volstoom voortgegaan, desondanks die litigasieproses waarin die UV-bestuur gewikkel is ten einde die nietigverklaring van die nuwe beleid opgehef te probeer kry (Van Rooyen, 2016a).3

Indien die universiteitsvergadering van 28 April 2015 as beginpunt beskou word, sien ons dat hierdie uiteindelik drastiese hersieningsproses in minder as een jaar voltrek is. Terugskouend kan ’n mens dit eintlik as ’n blitzkrieg tipeer, ’n aksie wat sekerlik nie sonder ’n mate van planmatigheid voltrek kon word nie. Ek wil daarom ten besluite probeer om die ontbeplanning van Afrikaans aan die UV hieraan te koppel.

Die ontbeplanning van Afrikaans aan die UV

Die klinkklare sukses wat met die 2015-hersieningspoging behaal is, moet na my mening toegeskryf word aan ’n goed georkestreerde poging om Afrikaans uit die prentjie te verwyder. Dit kon slegs op ’n legitieme wyse bereik word deur die parallelmediummodel as primêre struikelblok by die “verdieping” van transformasie te stigmatiseer en verkieslik met steun van die menigte, vandaar die noodsaak aan ’n breë raadplegingsproses. Die dwingendheid van die verdieping van transformasie word trouens pertinent in die strategiese plan vir 2015–2020 benadruk, ofskoon ’n hernieude verbintenis tot die “struikelblok” parallelmediumonderrig daar ironies genoeg nog in dieselfde asem genoem word. Dit val vreemd op aangesien die saak teen die parallelmediummodel teen die einde van 2014 eintlik reeds voldoende opgebou was, en vanweë ’n noue assosiasie daarmee, ook die saak teen Afrikaans. Beide die HEQC- en Soudien-verslae het deels hiertoe bygedra. Omdat die betrokke bevindinge reeds meer as ses jaar vantevore gemaak is, moes mense se geheues natuurlik weer verfris word. Myns insiens lê die sleutel tot die ontknoping van die verhaal hier: hoe daarin geslaag kon word om enkele van die destydse negatiewe bevindinge omtrent die parallelmediummodel opnuut te populariseer en weer deel te maak van die taaldiskoers op kampus; as’t ware dit af te stof en opnuut as nuwe insigte op te dis; asof sedertdien net mooi heeltemal niks omtrent die probleme gedoen is nie. ’n Ander verslag wat stilletjies teen die einde van 2014 opgeduik het, het hierin ’n besondere rol gespeel.

Nadat die HEQC in 2010 die UV se vorderingsverslag met betrekking tot die Institusionele Verbeteringsplan aanvaar het (UFS, 2010, p 66), het die komitee se bevindinge daarna nie in enige van die UV se jaarverslae of strategiese planne te sprake gekom het nie. Die eerste amptelike woord daaromtrent duik op in ’n amptelike transformasieverslag (UFS, 2014b) wat rondom Oktober 2014 onder die vaandel van die Instituut bekendgestel word4, skynbaar saamgestel deur die huidige Viserektor en ook eertydse lid van die HEQC-taakspan wat die institusionele oudit gedurende 2006 onderneem het. Sonder om in te gaan op die aanbevelings van die HEQC-verslag of op die taalbeleidshersiening wat daarna plaasgevind het, beklemtoon die UV se 2014-transformasieverslag drie probleemaspekte omtrent parallelmediumonderrig: parallelmedium segregeer, bevoordeel Afrikaanse studente en verswaar dosente se werkslas. Bekend? Presies die opsomming wat Jansen na afloop van die universiteitsvergadering gegee het. Origens beklemtoon die transformasieverslag die dringendheid omtrent die verdieping van transformasie aan die UV.

Uiteraard val die 2014-transformasieverslag nie uit die lug nie. Drie verwikkelinge het hier betrekking: ’n bestuursbosberaad, ’n transformasiecolloquium en ’n belangrike aanstelling.

Die bosberaad en colloquium het gedurende 2013 plaasgevind waar die noodsaak aan die verdieping van transformasie aan die UV benadruk is, in die geval van die bosberaad binne die konteks van ’n besinning oor die uitskakeling van risiko’s wat die volhoubaarheid van die instelling kan benadeel (UFS, 2015); en by die Hesa5-georganiseerde colloquium binne die konteks van die ministeriële oorsigkomitee se werksaamhede met betrekking tot die transformasie van hoëronderwysinstellings (Hesa, 2013). Die belangrike aanstelling (eintlik aanstellings) is die van André Keet, direkteur van die Instituut, eerstens as lid van die ministeriële oorsigkomitee oor transformasie in 2013 en tweedens as spesiale adviseer van die UV-bestuur in April 2014 (Keet, 2014). ’n Mens kan aanvaar dat die transformasieverslag ’n logiese uitvloeisel is van die resulterende momentum rondom die sogenaamde transformasieprojek wat sedert 2013 aan die opbou was. Daarom speel dit onteenseglik ’n wesenlike rol by die aanvoorwerk om ’n breër gesprek oor die verdieping van transformasie op kampus op gang te kry.

Omdat ons weet dat verslae op hulle eie meestal nie aardverskuiwende resultate oplewer nie, sou dit misplaas wees om nou die 2014-transformasieverslag as die deus ex machina-moment te wil tipeer. Na alle waarskynlikheid val hierdie betwisbare eer die #RhodesMustFall-beweging te beurt. Hierdie beweging, wat sedert Maart 2015 ’n kragtige veldtog voer vir daadwerklike en selfgeldende transformasie aan universiteite het baie vinnig vanaf Ikeys na ander kampusse uitgebrei (Chaudhuri, 2016). Dit is juis na aanleiding van hierdie uitkringeffek dat onse Instituut vroeg in April 2015 ’n reeks gesprekke op die Kovsie-kampus georganiseer het om te besin oor uitdagings rondom transformasie. Die universiteitsvergadering later die maand het hieruit voortgevloei.

Slotsom

Ek sluit af. Om nou tot die gevolgtrekking te kom dat die uitfasering van Afrikaans noodwendig die resultaat is van ’n fyn beplande aksie, is waarskynlik ietwat oordrewe, en kom inderdaad samesweringsagtig voor. Wat ’n mens nogtans kan besluit, is dat planmatigheid tog ter sprake gekom het deurdat Afrikaans se status as mede-hooftaal van die UV deur middel van ’n beleidsingreep opgehef is en dat hierdie beleid sekerlik die resultaat is van ’n nogal omvattende beplanningsaksie (sien Van der Merwe, 2015). Hierin het die beleidshersieningskomitee en die Instituut ’n belangrike rol gespeel, asook die UV-bestuur, en uiteindelik die skynbaar meegevoerde Senaat en Raad as hoogste besluitnemende instansies aan die UV.

’n Mens kan verder besluit dat sekerlik strategies te werk gegaan is toe negatiewe bevindinge omtrent parallelmediumonderrig op hoogs geselekteerde wyse opgediep en opnuut aan die orde gestel is. Omdat volgens Van der Merwe (2015) soveel moeite gedoen is met die konsultasieproses moet ’n mens aanvaar, en verdere dokumentasie behoort dit te kan staaf, dat die drie kernprobleme wat Jansen uitgewys het in die verbandhoudende taaldebat waarskynlik mantra-status verkry het. As gevolg van Afrikaans se noue assosiasie met die parallelmediummodel het die effektiewe stigmatisering daarvan meegewerk aan die skep van ’n ongunstige denkklimaat oor die taal se voortgesette rol op kampus. Dit is uiteindelik glad nie verbasend nie dat die nuwe taalbeleid met ’n oorweldigende meerderheid aanvaar is, vandaar my sinspeling hierbo op meevoering.

Die volle prentjie oor taalbeleidshersiening aan die UV – beide interne en eksterne faktore wat dit genoodsaak het, verskillende werklike hersieningspogings, effektiewe beleidswysiginge as resultaat hiervan, ensovoorts – is opvallend genoeg nooit behoorlik aan die orde gestel nie. Om die waarheid te sê, dit wil my voorkom asof die UV-bestuur ietwat van ’n volstruis-benadering hieromtrent gevolg het. Daarom is ook is nie werklik ingegaan op die meriete van die verskeie overte en koverte hersieningspogings nie. Dit lyk dus asof beleidsevaluering aan die UV voorlopig nog ’n wit olifant (sal) bly.

Of meer besonderhede oor taalbeleidshersiening en ’n indringende besinning daaromtrent alvorens met drastiese beleidshersiening weggespring word, ’n wesenlike verskil sou gemaak het, word ten besluite ’n spekulatiewe vraag. Nie alle mense word altyd ewe veel gefassineer deur feite nie en sake raak besonder gekompliseerd wanneer ’n Zeitgeist (Steyn, 1980, p 49) soos die een wat ons by Kovsies omgewe, jou eers beetgepak het.

Ek dank u vir u aandag!

 

Bibliografie

Chaudhuri, A. 2016. The real meaning of Rhodes Must Fall, theguardian 16 March 2016. theguardian>uk news>university of oxford>: http://www.theguardian.com/uk-news/2016/mar/16/the-real-meaning-of-rhodes-must-fall. [25 Mei 2016]

Clyne, M. 1997. Epilogue. In M. Clyne, Undoing and redoing corpus planning (pp. 477-500). Berlin/New York: Mouton de Gruyter.

Du Plessis, T. 2015. Is tolking op universiteitsvlak volhoubaar? Die geval Universiteit van die Vrystaat. Muratho, 15(1), pp. 6-12.

—. 2016. Taalbeleidshersiening aan die Universiteit van die Vrystaat, 2003–2015. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 56(4-1), 1048-1070.

Fishman, J. 2006. Diglossia and societal multilingualism: Dimensions of similarity and difference. In N. H. Hornberger, & M. Putz, Language loyalty, language planning, and language revitalization: Recent writings and reflections from Joshua A. Fishman (pp. 69-76). Clevedon/Buffalo/Toronto: Multilingual Matters.

Freeman, B. 2012. University policy review: What? Why? How? What’s the big elephant? Paper delivered at the Association for Tertiary Education Management (ATEM) Policy development Forum VIII, 26 October 2012, University of Melbourne. https://www.academia.edu/2060244/University_policy_review_What_Why_How_What_s_the_big_elephant. (14 Junie 2016 geraadpleeg.)

Freeman, B., Capell, N., Goldblatt, A., Lapan, M., Mafile'o, T. & Thompson, S. 2014. An international comparative perspective on institutional policy to enhance institutional governance, policy-making and policy infrastructure, for improved institutional outcomes. Association of University Administrators (AUA) Annual Conference, University of Manchester, UK, 13-16 April, 2014. https://www.academia.edu/6917016/An_international_comparative_perspective_on_institutional_policy_to_enhance_institutional_governance_policy-making_and_policy_infrastructure_for_improved_institutional_outcomes?auto=download. (14 Junie 2016 geraadpleeg.)

Grin, F. 2010. Managing languages in academia: Pointers from education economics and language economics. Paper presented at the Conference Professionalising Multilingualism in Higher Education, Luxembourg, 4 February 2010.

HEQC. 2008. Executive Summary. Audit Report of the University of the Free State. Report of the Higher Education Quality Committee to the University of the Free State, March 2008. Pretoria: Higher Education Quality Committee (HEQC).

Hesa (Higher Education South Africa). 2013. Hesa assesses progress on transformation. Press relase: 10 May 2013. http://hesa7.websiteinprogress.co.za/sites/hesa7.websiteinprogress.co.za/files/2013%20-%20HESA%20Press%20Release%20Transformation%20Colloquium_May%202013.pdf. (2 Junie 2016 geraadpleeg.)

IITT (Independent Investigation Task Team). 2014. Synthesis of the Report of the Independent Investigation Task Team on the Welcoming and Introduction of First Year Students at North West University. http://www.dhet.gov.za/Commissions%20Reports/NWU%20Investigation%20Task%20Team%20Report%20revised%2025%20September%202014.pdf. (13 Junie 2016 geraadpleeg.)

Jansen, J. 2010. Die politiek en vooruitsigte van Afrikaans, asook van Afrikaanse skole en universiteite. Die 29ste DF Malherbe-gedenklesing, 12 Augustus 2010, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein. http://humanities.ufs.ac.za/dl/userfiles/Documents/00000/89_eng.pdf. [22 Mei 2016]

—. 2014. Professor Jonathan Jansen. Chivas Humanitarian Award in Honour of Chief Rabbi Cyril Harris, Z''tl. Absa Jewish Achievers Awards 2014. Johannesburg: SA Jewish Report.

Kaplan, R.B. & Baldauf, R.B. Jr. 1997. Language planning from practice to theory. Clevedon: Multilingual Matters.

Keet, A. 2014. Prof André Keet. http://www.andrekeet.co.za/. [29 Mei 2016]

MoE (Ministry of Education). 2002. Language policy for higher education. Pretoria: Department of Education.

Ministerial Committee. 2008. Report of the Ministerial Committee on Transformation and Social Cohesion and the Elimination of Discrimination in Public Higher Education Institutions. 30 November 2008. Final Report. Pretoria: Department of Education.

Nel, C.-A. 2015. Nzimande, universiteite vergader. Volksblad, 17 April 2015, p. 7.

NWU (North-West University). 2014. Institutional Language Policy of the North-West University. Date of approval 23 November 2012. Reviewed in 2014. http://www.nwu.ac.za/sites/www.nwu.ac.za/files/files/i-governance-management/policy/2P-2.5_Language_e.pdf. [9 Junie 2016]

OS (Open Stellenbosch). 2015. Open Stellenbosch@OpenStellies. Joined April 2015. https://twitter.com/openstellies. [13 Junie 2016]

Petrovic, J. 2010. Language minority education in the United States: Power and policy. In J. E. Petrovic, International perspectives on bilingual education: Policy, practice, and controversy (pp. 3-20). Charlotte: Information Age Publishing.

SAPA. 2013. English-only comments distorted - Jansen, 2 October 2013. news24: http://www.news24.com/SouthAfrica/News/English-only-comments-distorted-Jansen-20131002. [1 Oktober 2014]

Schiffman, H. 1998. Linguistic culture and language policy. Paperback edition. London: Routledge.

Shohamy, E. 2006. Language policy: Hidden agendas and new approaches. London & New York: Routledge.

Smith, C. 2015a. UV bekyk Afrikaans in klasse. Hersiening van taalbeleid aangeroer, 7 Mei 2015. http://www.netwerk24.com/nuus/2015-05-07-uv-bekyk-afrikaans-in-klasse. [25 Mei 2016]

—. 2015b. Engels, vra UV se taalskimme, 19 November 2015. http://www.netwerk24.com/Nuus/Onderwys/engels-vra-uv-se-taalskimme-20151118?mobile=true. [5 April 2016]

Spolsky, B. 2004. Language policy. Cambridge: Cambridge University Press.

Steyn, J. 1980. Tuiste in eie taal. Die behoud en bestaan van Afrikaans. Kaapstad: Tafelberg.

—. 2010. Jansen: Nuwe taalbeleid aan die UV. Brief. Volksblad, 30 Augustus 2010, p. 4.

SU (Stellenbosch University). 2014. Language Policy of Stellenbosch University. Revision approved by Stellenbosch University Council on 22 November 2014. http://www.sun.ac.za/english/Documents/Language/Language%20Policy%202014%20Final%2012%20Dec%202014.pdf. [13 Junie 2016]

UFS (University of the Free State). 2008a. University of the Free State institutional improvement plan, October 2008. http://www.ufs.ac.za/docs/default-source/policy-documents-documents/institutional-improvement-plan-oct-2008-849-eng.pdf?sfvrsn=0. [14 April 2016]

—. 2008b. Annual report to the Minister of Ecucation 2008. http://www.ufs.ac.za/docs/default-source/annual-report-to-the-minister-of-educatoin/2008-annual-report-94-eng.pdf?sfvrsn=0. [7 April 2016]

—. 2009. Annual report to the Minister of Higher Education and Training 2009. http://www.ufs.ac.za/docs/default-source/almal-dokumente/2009-annual-report-93-afr.pdf?sfvrsn=0. [7 April 2016]

—. 2010. Annual report to the Minister of Higher Education and Training 2010. http://www.ufs.ac.za/docs/default-source/belesidsdokumente-dokumente/jaarverslag-846-afr.pdf?sfvrsn=0. [7 April 2016]

—. 2011. Policy and additional regulations concerning the placement of students in junior residences, Main Campus, 2011-07-19. http://www.ufs.ac.za/docs/librariesprovider32/housing-and-residence-affairs-documents/services-documents/placement-policy-junior-residences-103-eng.pdf?sfvrsn=0. [28 Julie 2016]

—. 2012a. University of the Free State Integrated Report 2012. 1 January - 31 December 2012. http://www.ufs.ac.za/docs/default-source/all-documents/2013-integrated-report-2309-eng.pdf?sfvrsn=0. [5 April 2016]

—. 2012b. University of the Free State Strategic Plan 2012-2016. http://www.ufs.ac.za/docs/default-source/all-documents/strategic-plan-931.pdf?sfvrsn=4. [25 Mei 2016]

—. 2014a. 2014 Integrated report University of the Free State. http://www.ufs.ac.za/docs/default-source/all-documents/2013-integrated-report-2309-eng.pdf?sfvrsn=0. [5 April 2016]

—. 2014b. Transformation report 2004-2014. http://institute.ufs.ac.za/dl/Userfiles/Documents/00000/74_eng.pdf. [5 April 2016]

—. 2015. University of the Free State Strategic Plan 2015-2020. http://www.ufs.ac.za/docs/default-source/all-documents/ufs-strategic-plan-2015---2020.pdf?sfvrsn=0. [30 Maart 2016]

UP (University of Pretoria). 2010. Language policy. Document number: R 16/10. Approved by Council on 20 August 2010. http://www.up.ac.za/media/shared/Legacy/sitefiles/file/1/elzanie/r1610languagepolicy.pdf. [15 Junie 2016]

—. 2016. Announcement: Revision of the University of Pretoria's Language Policy, 1 February 2016. [Online]
Available at: http://www.up.ac.za/en/news/post_2222129-announcement-revision-of-the-university-of-pretorias-language-policy. [13 Junie 2016]

UV (Universiteit van die Vrystaat). 2005. Riglyne vir beleidsformulering, -ontwikkeling en –hersiening: Universiteit van die Vrystaat, 10 Junie 2005. http://www.ufs.ac.za/docs/default-source/almal-dokumente/riglyne-vir-beleidsformulering--ontwikkeling-en-hersiening-157-afr.pdf?sfvrsn=0. [5 April 2016]

—. 2009. Die onderrig- en leerplan van die Universiteit van die Vrystaat, 2009-2012. In UFS (2008), Annual Report 2008, pp. 140-153. http://www.ufs.ac.za/docs/default-source/annual-report-to-the-minister-of-educatoin/2008-annual-report-94-eng.pdf?sfvrsn=0. [25 Mei 2016]

—. 2010. Promosie: Universiteit van die Vrystaat UV wil leiding neem. Volksblad, 4 Desember 2010, p. 7.

—. 2013. Plan vir Billike Indiensneming, 1 Oktober 2013 – 30 September 2016. 1 Oktober 2013 – 30 September 2016. http://www.ufs.ac.za/docs/default-source/billike-indiensneming-dokumente/2014-02-03---employment-equity-three-year-plan-(oct-2013---sept-2016)-2471-afr.pdf?sfvrsn=0. [1 Junie 2016]

—. 2015a. Diskoers oor standbeelde en simbole plaas transformasiekwessies onder die soeklig 12 Apr 2015. http://www.ufs.ac.za/af/template/nuusargief-item?news=6337. [25 Mei 2016]

—. 2015b. Universiteitsvergadering fokus op simbole, beleid, praktyke en kurrikulums 30 Apr 2015. http://www.ufs.ac.za/af/template/nuusargief-item?news=6337. [25 Mei 2016]

—. 2015c. Hersiening van die UV se Taalbeleid. Uitnodiging aan lede van die UV-konvokasie. http://www.ufs.ac.za/af/taalbeleid/taalbeleid/uv-taalbeleid. [2 Junie 2016]

—. 2015d. Sake deur die UV-Raad goedgekeur tydens ’n vergadering op Vrydag 5 Junie 2015, 11 Jun 2015. http://www.ufs.ac.za/af/template/nuusargief-item?news=6368. [5 April 2016]

—. 2015e. UV-Raad keur riglyne vir die ontwikkeling van ’n nuwe Taalbeleid goed, 4 Des 2015. http://www.ufs.ac.za/af/template/nuusargief-item?news=6582. [7 April 2016]

UV-Raad (Raad van die Universiteit van die Vrystaat). 2003. Taalbeleid van die Universiteit van die Vrystaat. Deur die UV-raad goedgekeur op 6 Junie 2003. http://www.ufs.ac.za/docs/default-source/almal-dokumente/taal---beleid-335-afr.pdf?sfvrsn=0. [4 April 2016]

—. 2016. UV-Raad keur ’n nuwe Taalbeleid goed, 11 Maart 2016. http://www.ufs.ac.za/af/template/nuusargief-item?news=6694. [2016-04-12]

Van der Merwe, J. 2015. Leaked language report: UFS sets the record straight. Council to decide next week. The Journalist, 60 (2015). thejournalist.org.za>spotlight>leaked-language-report-ufs-sets-the-record-straight: http://www.thejournalist.org.za/spotlight/leaked-language-report-ufs-sets-the-record-straight. [2 Junie 2016]

Van Rooyen, M. 2016a. AfriForum, Solidariteit vandag in hof oor UV-taalbeleid. Volksblad, 30 Maart 2016, p. 2.

—. 2016b. Hof gee groen lig vir Engels. Mag nuwe beleid in 2017 toepas. Volksblad, 18 November 2016, p. 1.

 

Eindnotas

1 Soos blyk uit inligting wat op 26 Mei 2016 deur die UV se Direktoraat vir Institusionele Navorsing en Akademiese Beplanning verskaf is.

2 Ook afgelei uit inligting op 26 Mei 2016 deur die UV se Direktoraat vir Institusionele Navorsing en Akademiese Beplanning verskaf.

3 Die Appèlhof het ondertussen beslis dat die UV wel met die implementering mag voortgaan (Van Rooyen, 2016b).

4 Die webblad van die Instituut vir Versoening en Sosiale Geregtigheid waar die 2014-transformasieverslag afgelaai kan word, is laas op 20 Oktober 2014 bygewerk http://institute.ufs.ac.za/content.aspx?id=38, soos op 25 Mei 2016 vasgestel.

5 Nou Universities South Africa (sien http://www.universitiessa.ac.za/).

  • Theodorus du Plessis is direkteur van die Eenheid vir Taalfasilitering en -bemagtiging, Universiteit van die Vrystaat

Hierdie artikel is deel van LitNet Akademies se universiteitseminaar. Klik op die “University Seminar 2016”-banier hierbo om alle essays wat deel vorm van die gesprek, te lees.

This article forms part of the ongoing university seminar, with new essays continually being added. Please click on the “University Seminar 2016” banner above to follow the ongoing conversation and to read more essays on education, access, transformation, language and the Constitution.

Lees ook

Referaat: Die impak van taalpolitiek op universiteite in Suid-Afrika – die geval Afrikaans

Wannie Carstens
NeerlandiNet

Wannie Carstens was vanjaar een van die sprekers by die Universiteit Gent se 3de Colloquium Afrikaans. Lees sy volledige referaat: "[E]nige mens wat in SA woon, is bewus dat politiek en taal nie juis van mekaar geskei kan word nie, veral as jy Afrikaans praat."

Derde Gentse colloquium over het Afrikaans

Yves T'Sjoen
NeerlandiNet

"Vanuit het buitenland ondersteunt het onderzoekscentrum alle pleidooien voor de studie van het Afrikaans en het gebruik van Afrikaans op universitaire campussen als wetenschaps- én onderwijstaal."

Kommentaar

  • Hoe "oorweldigend" die nuwe beleid aanvaar is, blyk seker nie uit die een statistiek wat nie tussen die hordes hierbo genoem word nie, naamlik die studente wat verlede jaar ten gunste van die ou beleid gestem het. Ongelukkig het die kommitee hierdie inligting verswyg in hulle verslag. Hierdie verswyging, sowel as die ignorering van navorsing oor moedertaalonderrig wat telkens voorgelê is, én die koste wat aangegaan is om Afrikaans uit die Universiteit te verdryf met hofsake, dui myns insiens op meer as net "ontbeplanning", ek sou dit as verwytende verjaging bestempel.

  • Johannes Comestor

    Met Theodorus du Plessis is dit gelukkig anders gesteld as met sy eweknie op Stellenbosch. Al is daar tekens van groot selfbeheersing in sy skrywe is daar geen twyfel oor sy hartstog vir Afrikaans nie.

  • Dankie vir die moeite Theodorus wat jy gedoen het om die verloop van sake met die ondergang van Afrikaans aan die Universiteit van die Vrystaat aan te teken, anders gaan die waarheid dalk velore in toekomstige geskiedskrywing - soos dit ongelukkig so baie die geval is. Die geskiedenis sal die betrokkenes oordeel - daarvan kan jy ten minste seker wees.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top