Reaksie op Nico Koopman se "Transformerende Afrikaans": Danny Titus

Dit was werklik aangenaam om ’n taalgebruiker op die vlak van prof Koopman te kon aanhoor en sy argumente met belangstelling te volg. Sy betoog vir die voortbestaan van ’n Afrikaans wat goeie nuus moet wees vir ons land het by my op goeie aarde geval. Hy ryg ’n aantal omskrywings vir Afrikaans in: vergewend, vrysprekend, versoenend, helend, regmakend, vermenslikend, vernuwend en hoopgewend. Dit troon uit bo die oppervlakkige kommentaar van die gerespekteerde prof Jonathan Jansen, wat die debat oor Afrikaans sien as “grotendeels ’n volkseie gesprek ... met geringe gevolge vir die land of die onderwys”. Koopman, daarenteen, het dit oor ’n transformerende Afrikaans. ’n Afrikaans wat help om Suid-Afrika te transformeer deur middel van sy “inhoude, woordeskat en grammatika, sy prosa en poësie, sy sang en musiek”. Hierdeur skep Afrikaans nuwe werklikhede. Verder argumenteer Koopman dat om die wêreld waarin hy funksioneer te transformeer, moet Afrikaans en sy sprekers self ook getransformeer word.

Mens kan Koopman seker daarvoor verwyt dat sy toespraak veel meer van ’n preek is as ’n taalkundige referaat. Maar dit is “to state the obvious” en druk ons terug na die dissipline apartheid waar slegs taalkundiges oor taal mag praat, slegs ekonome oor globalisering en slegs medici oor MIV en VIGS. Die eise van ons tyd laat gewoon nie meer ruimte vir die ek-en-my-dissipline-gedagte nie.

Koopman se mens, lyk dit my, is die volledige mens.

Mens vra dus waar hierdie positiewe kyk inpas by die soberheid van ’n Ampie Coetzee, wat Afrikaans sien as aan die uitsterwe teenoor Engels wat ons enigste taal gaan word. Aan die ander kant (van Koopman, maar byna ter ondersteuning van Coetzee) is daar die regering se argumente hierdie jaar in die Cornelis Lourens-saak:

Government has taken notice of the dominance of English, particularly in the business and scientific community, and has recognised that for the development of the people of the country it is in the best interest that English be used as one of the official languages for government purposes.

The applicant is essentially seeking for government to elevate Afrikaans to the level of English even though Afrikaans has not been able to establish a wider usage by the business and scientific community. Government cannot be held responsible for the fact that Afrikaans has failed to achieve a status equivalent to that of English.

Dit lyk my hierdie opvatting gaan nog lank by die regering bly, en verder is die kanse sterk dat die hof die regering gelyk gaan gee. Dan lyk dit my dat ’n ander benadering dalk gevolg sal moet word om by Koopman se transformerende Afrikaans uit te kom: maak Afrikaans aantreklik vir al sy sprekers. Laat vaar maar die taalaktivisme wat wil voorgee dat ander tale daarmee gehelp word; die vyeblaar maak net nie genoeg toe nie. Verder sal ons afskeid moet neem van die persepsies van bevoordeling en die taal van die verdrukker. Dan lyk dit my om die rol van Engels te erken en die vyandsbeelde van verengelsing te laat vaar. Die gebruik van Engels deur swart Suid-Afrikane het tog bloedweinig met die Afrikaanse verengelsing te make. Ons sal moet vernuwend werk met Afrikaans in haar volle diversiteit van veral bruin mense, Moslems en ’n beduidende aantal swart Afrikaanssprekendes. Die 1996-sensus wys dat Afrikaanssprekende bruin mense 400 000 meer as wittes was, en in 2001 was ons 600 000 meer. Maar waar lê die bronne? Die koerante, radio en TV?

Nico Koopman se vraag na Afrikaans se rol as versoenend, vergewend, en al daai grênd woorde is lekker kraakvars en vol uitdagings. Anders as die muwwe, uitsiglose en miskien realistiese benadering van die donker kant.

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top