Reaksie op Angus se lesing van 29 deser

  • 33

Ai, ou Angus, ons is al so baie deur hierdie storie maar moet jou nie kwel nie; ek sal nie moed opgee nie want, in die belang van Afrikaans, is dit my plig om jou reg te help.

Jou eerste paragraaf:  Jy verstaan steeds nie die verskil tussen ’n leenwoord en ’n indringerwoord nie. ’n Leenwoord is ’n woord ontleen aan ’n ander taal waarvoor daar in die ontvangtaal nie ’n woord vir ’n sekere begrip bestaan nie. “Voetstoots” is ’n voorbeeld van ’n woord in Engels van Afrikaans (Hollands?) ontleen. ’n Indringerwoord is ’n woord vanuit ’n ander taal waarvoor daar wel ’n woord in die ontvangtaal bestaan; byvoorbeeld “ek achieve my goal” in plaas van “ek bereik my doel”.  Jy sê steeds grammatika “is deskriptief, nie preskriptief nie”.  Laat ek dit vir jou só stel – grammatika is voorskriftelik.  As jy in Engels sê “I is” of “I are” praat jy swak Engels (verkeerde Engels) want Engelse grammatika skryf voor dat jy “I am” moet sê.

Jy sê in jou tweede paragraaf dat Engels al vir 300 jaar in ons kele afgedruk word.  Verkeerd, dit is die geval na Uniewording (“I am a donkey, I may not speak Dutch”).  Jy sê dit het Afrikaans sterk gemaak as gevolg van die weerstand teen hierdie keelafdrukkery; taalkundiges “... het begin om Engels uit te roei uit Afrikaans, en dit het van hom ʼn stewige taal gemaak.”  Al weer ’n teenstrydigheid; die uitroei van Engels uit die taal destyds het van Afrikaans ’n stewige taal gemaak volgens jou maar in dieselfde asem sê jy die invoer van Engelse woorde verryk Afrikaans (kyk jou paragraaf vyf) en verskeie male het jy al gesê niemand kan iets daaraan doen nie. Was die taalkundiges van destyds dan magtiger as die taalkundiges van vandag, want hoe kon hulle destyds Afrikaans suiwer maar nie deesdae nie?

In jou derde paragraaf sê jy: “Nog nooit in al die duisende jare .... het ʼn bestaande taal verander in  ʼn ander bestaande taal nie.”  Ek stem daarmee saam en daarom het ek nog nooit so iets gesê nie.  Wat wel die geval is, is dat byna daagliks tale uitsterf omdat hulle vervang word deur ’n ander taal of tale.  Die wêreld is vol van tale op die gevaarlys; jy’t al self in een van jou skrywes na ’n taal verwys waarvan daar nog net een spreker oor is.  Niemand het nog ooit gesê Afrikaans gaan in Engels verander nie. Afrikaans word egter vervang deur Engels, kyk maar na jou eie voorbeeld in jou paragraaf vier van die kinders wat Engels praat waar die ouers Afrikaans praat. 

In jou vierde paragraaf probeer jy bietjie daardie ander soort sielkunde; ek sou nou Afrikaans as ’n “... swak ou taaltjie beskou wat sommer onder druk gaan vou en verdwyn.” Dit werk nie so nie; taal is abstrak, dis nie ’n fisiese entiteit wat kan boomklim of oor grense spring nie. ’n Taal se “krag” is ’n funksie van, direk eweredig aan, die aantal sprekers en die sprekers se toegewydheid.  ’n Taal kan tien miljoen sprekers hê maar as hulle slapgat is sal hulle maklik die taal versaak en ’n ander een aanhang.  Of, ’n taal kan min sprekers hê maar sal ’n kragdadige taal wees as hierdie sprekers trots en toegewyd is (byvoorbeeld Yslands en (dalk) Afrikaans).

In jou vyfde paragraaf sê jy daar is ’n verskil tussen Engels praat en om Engelse woorde te gebruik. Eersgenoemde kan lei tot verdwyning en laasgenoemde tot verryking volgens jou.  Angus, ’n taal verdwyn nie skielik nie; hy kwyn.  Al hoe minder praat hom en die min wat hom praat, praat hom al hoe slegter en slegter tot hy naderhand nie meer ’n effektiewe kommunikasiemiddel is nie en a) die taal word nie meer gepraat nie en hy sterf uit of b) die sprekers word al hoe minder tot hulle ook, en dus die taal, uitgesterf het.  As jy al hoe meer Engelse in plaas van Afrikaanse woorde gebruik praat jy die taal al hoe slegter dus is die taal besig om te kwyn en hoe meer hy kwyn hoe nader is hy aan sy dood.

Jy sê ook die ou wat sê “ek achieve my goal” sê dit “omdat dit vir HOM beter kommunikeer ...”.  Maak nie sin nie want hy praat mos nie met homself nie en dit kan godsonmoontlik beter kommunikeer omdat dit woorde uit ’n vreemde taal is. Die werklike rede is hy gebruik die Engelse woorde omdat hy nie die Afrikaanse woorde ken nie; hulle het in die vergetelheid verdwyn om nou jou woorde te gebruik.  En wie sê dié met wie hy kommunikeer verstaan Engels?  Jou Riemvasmakervoorbeeld is niksseggend; dit impliseer hy gaan sê “ek het my goal achieve” as hy klaar geëet het en dis absurd.  Buitendien, hoekom sal ’n Riemvasmaker nou Engels praat?

In paragraaf ses beweer jy my albasterstorie werk nie vir taal nie.  As jy dit moeilik vind om te verstaan, dink maar aan wat ek hierbo gesê het – mense praat die taal al hoe slegter totdat die taal nie meer ’n effektiewe kommunikasiemiddel is nie, want sy woordeskat “het in die vergetelheid verdwyn” om nou jou woorde te gebruik.  Hoe kan jy nou ’n taal praat as jy nie die woordeskat het nie?  Hoe is dit nou so moeilik om te verstaan?

Wat ou Willem betref, jou ou vriend wat nou al twintig jaar in Amerika sit, is ek seker hy het nog steeds Afrikaans as deel van sy identiteit, net soos Japie Van Zyl, grootkop by NASA se Jet Propulsion Laboratory.  Hulle word nog hartseer as hulle Koos Doep se Molberge of  Lucas Maree se Victoriabaai luister.  Hulle voel steeds trots as die Springbokke (veral die Sewes) presteer.  Ek weet, ’n ou vriend van my sit al jare in San Antonio en van my familie sit al jare in België, Nieu-Seeland en Nederland.  Dis soortgelyk aan die Iere in New York; St Patrick’s Day is ’n groot storie vir hulle wanneer hulle hul Ierse identiteit vier. Hulle kan nou wel nie meer Iers praat nie (soos meeste mense in Ierland maar ook) maar sou ’n paar voortande gee om dit wel te kon doen. Taal is onlosmaaklik deel van jou kultuur en dus jou identiteit.

Groetnis

Jan Rap

 

  • 33

Kommentaar

  • Ek wonder net, die Afrikaans wat daar in Argentinië deur die nasate van die wat destyds daarheen emigreer het, gepraat word, is dit nog Afrikaans?

  • Jan Rap,
    Jy vra hierbo: "Was die taalkundiges van destyds dan magtiger as die taalkundiges van vandag, want hoe kon hulle destyds Afrikaans suiwer maar nie deesdae nie?"
    Die antwoord hierop is eenvoudig: Die sogenaamde "suiwer" Afrikaans van destyds was 'n direkte gevolg van die opbloei van Afrikanernasionalisme. Instansies soos die destydse SAUK en die groot Afrikaanse persgroepe het 'n obsessie gehad om Afrikaans te "suiwer" van veral Engelse invloed, soos Angus al telkemale hier aan jou uitgewys het. Die lyste en lyste van Anglisismes wat ons op skool moes leer is 'n sprekende voorbeeld. Hierdie "suiwering" van Afrikaans is nou verby, want Afrikanernasionalisme se vlammetjie het dof geword.
    So terloops, taalkundiges bepaal nie hoe 'n taal gepraat of geskryf word nie, dis die taal se gebruikers wat dit bepaal. En in ons (Afrikaans) se geval is die taal nou meer loslittig as ooit vantevore. Al Afrikaans se variante kry nou blootstelling waar dit in die verlede uitgesensureer is deur die omies met die grys en swart skoene.

    • Dirk, die vraag oor die taalkundiges was na aanleiding van Angus se stelling dat taalkundiges destyds Afrikaans van alle anglisismes gesuiwer het maar omtrent in dieselfde asem sê hy dat niemand iets deesdae kan doen aan die indringing van Engelse woorde nie. 'n Teenstrydigheid tensy, natuurlik, die destydse taalkundiges van 'n beter kaliber was.
      Jy reken Afrikaans is nou meer loslittig as ooit. Hoe is dit moontlik? Hoe is deesdae se loslittigheid nou intenser as destyds se loslittigheid? Of beskou jy loslittigheid as die gebruik van Engelse woorde?

  • Goed gestel, Dirk. Die suiweringsproses is ook nie meer nodig nie. Afrikaans is nou sterk genoeg om soos ander tale te kan groei.

    • Angus, Afrikaans se krag, soos enige taal s'n, lê in sy sprekers. As jy sê “Afrikaans is nou sterk genoeg ...” dan beteken dit eintlik die sprekers is nou sterk genoeg. Dit blyk egter dat dit nie die geval is nie - Afrikaanssprekers se rol in die land is sodanig dat Afrikaans nêrens meer te sien is nie (etikette, verpakkings, parke, staatskantore ens ens). Ons is nie meer sterk nie; ons het gaan lê.

      • Beste Jan
        Stem volkome saam met jou. Angus het die kat aan die stert beet. Die vernaamste rolspelers in enige mens se lewe, is opvoedkundige inrigtings, die staat en die sakewêreld en godsdienstige instellings.
        Al die instansies buig agteroor om Engels te akkomodeer. Baie van die mense veral die in die staat en sakewêreld weier eenvoudig om in Afrikaans navrae te beantwoord.
        Die gevolg is dat baie Afrikaanssprekendes oorslaan na Engels. Afrikaans kan nie groei nie as dit in die belangrike instansies eenvoudig doodgedruk word, maak nie saak of dit in die huis of straat gebesig word nie, want Afrikaans verengels agv die kontak met die genoemde instansies.
        Angus noem dit groei, maar ek sê Afrikaans bloei as gevolg daarvan.

  • Jan, die krag van 'n taal lê in die mond van die sprekers, nie in parke, en staatskantore en op blikkies en verpakkings nie. Dis die wonder van enige taal; dit geld ook vir Afrikaans.

    Jy het gaan lê, nie die ander Afrikaanssprekendes nie.

  • Beste FC Boot,
    Hier was ek nie naby 'n kat nie, en ek sal beslis ook nie 'n kat aan die stert gryp nie. Ek stem saam met Jan: Engels oorheers die sakewêreld ten koste van Afrikaans. Ek stem ook saam dat baie Afrikaanssprekendes oorslaan na Engels. Wat ek nie mee saamstem nie, is Jan se bewering dat die taal Afrikaans die taal Engels word. Nog nooit in die geskiedenis van die wêreld het een taal verander in 'n ander bestaande taal nie. Engels het bv nie Frans geword na 1066 met die oorvloed van Franse woorde wat ontleen is nie.
    Dankie vir die woord 'bloei'. Dis nog beter en sterker as my 'groei'. Afrikaans bloei! Dit beteken 'kragtig ontwikkel'. Ek hoop Suid-Afrika ondervind een van die dae weer 'n bloeitydperk.
    Groete,
    Angus

    • Beste Angus
      'n Goeie begryper het 'n halwe woord nodig. As ek saamstem met Jan en sê: “Afrikaans bloei” dan is dit soos bloed wat uitvloei. Afrikaanse woorde verlaat die Afrikaanse taal teen 'n verstommende spoed om deur Engelse woorde vervang te word.
      Ek wonder of Haar Majesteit, die Koningin van Engeland tevrede sou wees as haar “Queen's English” so verafrikaans soos Afrikaans verengels word en ek jou betoog aan haar voorlê as motivering daarvan.
      Ek wonder wat sal gebeur as ek vir haar sê: “Dear madame, please roer jou agterent, if you do not wish to be late for your next travel indaba.”
      Lekker dag

  • Beste FC Boot en Angus
    FC, jy slaan die spyker op die kop.
    Angus, die krag van taal lê in sy sprekers soos ek al jare gelede en onlangs weer vir jou gesê het. Onthou jy, toe jy sê Afrikaans is nou 'n sterk taal wat nie deur Engels oorrompel sal word nie sê ek vir jou taal is abstrak, dis nie 'n fisiese entiteit met allerhande vermoëns soos boomklim en swem nie. As die sprekers in tel is, en saak maak, en 'n invloed het, sal hierdie kragdadigheid manifesteer in parke, staatskantore, blikkies en pakkies.
    Maar dit gebeur nie; die teenswoordige afjak van Afrikaans is juis aanduidend van die feit dat sy sprekers geduldig en gedienstig gaan lê het.
    Groetnis
    Jan Rap

  • Beste FC Boot,
    Jy ken nie jou eie taal nie. As iemand sê die Afrikaanse letterkunde bloei, Afrikaans bloei. die kunste bloei, die ekonomie bloei, het dit allermins iets met die vloei van bloed te make.
    Groete,
    Angus

    • Beste Angus
      Rêrig? Uit HAT. Bloei (werkwoord)Bloed laat uitvloei. 'n Wond wat sterk bloei. 'n Bloeiende vinger.
      Ai en so kom alle goeie dinge tot 'n einde, net toe ek begin glo ...
      Lekker dag

      • Beste FC Boot,
        In Afrikaans is daar twee woorde 'bloei'. Jy het jou HAT maar net halfpad gelees sodat dit jou pas. Christene cherriepick ook so as hulle die Bybel lees.
        Bloei¹ I snw. Die dra van bloeisels: Rose in volle bloei.
        Bloei² ww. 'n Wond wat sterk bloei.

        Nou behoort jy nie meer te glo nie; jy weet nou!
        Groete,
        Angus

        • Beste Angus

          Presies, dus was jou kommentaar verkeerd,van:
          "Beste FC Boot, Jy ken nie jou eie taal nie. As iemand sê die Afrikaanse letterkunde bloei, Afrikaans bloei. die kunste bloei, die ekonomie bloei, het dit allermins iets met die vloei van bloed te make.
          Groete,"

          Nou kom jy soos 'n papegaai agterna en kom tot die verstommende ontdekking dat 'bloei' ook 'n werkwoord kan wees en dat dit ook letterlik en figuurlik gebruik kan word!

          My hart bloei vir jou!

          Lekker dag

          • Beste FC Boot,
            Hoe meer jy oor 'bloei' skryf, hoe groter hang jou onkunde uit.
            Die woord 'bloei' is polisemie, en dit beteken dat twee of meer verskillende woorde met verskillende oorsprong, toevallig dieselfde woordvorm het. "Bloei"= 'blossom', en 'bloei'= 'bleed' is twee verskillende woorde. Daar is hoegenaamd hier nie sprake van letterlike en figuurlike betekenisverskil nie.
            'Bloei'='blossom' kan letterlik en figuurlik gebruik word: 'Afrikaans bloei' (figuurlik), en 'die perskebome bloei' (letterlik). So kan 'bloei'='bleed' ook letterlik en figuurlik gebruik word, bv. 'my hart bloei vir jou' (figuurlik), en 'jou neus bloei' (letterlik.)
            Groete,
            Angus

          • Beste Angus
            'n Poliseem is 'n woord met verskeie maar verwante betekenisse.
            Dit gaan dus om die verwantskap en dit is wat jy miskyk. Gaan lees Jan Rap se kommentaar.

            Wanneer ek dus praat van Afrikaans wat bloei, is dit in die sin dat Afrikaans besig is om dood te gaan, want Afrikaanse woorde verlaat die Afrikaanse taal, soos bloed wat uit 'n wond vloei. Dit is 'n figuurlike en nie letterlike betekenis.

            Lekker dag.
            NS. Wat is jou definisie van tyd nou weer?

  • Beste Jan,
    Wat vir 'n ding is 'n didiese entiteit?
    As ek sê Engels kan nie Afrikaans oorrompel nie omdat Afrikaans 'n sterk taal is, stel ek dit metafories of beter nog, allegories.

    As sprekers dan "gedienstig gaan lê het" dan moet daar tog 'n rede voor wees. As hulle nie meer omgee vir hulle taal nie, en 'n ander taal aanneem, dan is dit omdat hulle eie taal nie meer vir hulle tot nut is nie. Ek dink jy is reg, en ek kan dit nou insien: Afrikaans is 'n nuttelose taal. Dis beter om maar Engelssprekend te word, want dan kan almal regoor die wêreld jou verstaan en jy kan met almal kommunikeer.
    Groete,
    Angus

    • Beste Angus
      Daardie didiese moer fisiese wees - weet nie hoe ek dit regkry nie; dit is nie die eerste keer nie.
      Die rede vir "gedienstig gaan lê" is bloot slapgatgeit.
      Groetnis
      Jan Rap

  • Beste Jan,
    Ek glo dis slapgatgeit as iemand sy moedertaal versaak en 'n ander taal aanneem nie. Jy moet eers kyk na daardie persoon se omstandighede. 'n Man het dalk vir hom 'n Russiese vrou gevat, hy ken nie Russies nie, en sy ken nie Afrikaans nie, maar albei ken Engels. Dit kan ook gebeur dat die vrou Russies versaak en begin Afrikaans leer. 'n Niggie van my is met 'n Italianer getroud, en sy is nou Italiaanssprekend. 'n Goeie ou vriend van my was eers Afrikaanssprekend, maar is nou 'n Engelsman omdat hy in 'n omgewing werk wat hoofsaaklik Engels is. Hy het met 'n Portugese meisie getrou.
    Sou dit nie maar beter wees as ons almal liewer net Engelssprekend word nie? Dit het tog 'n baie groter woordeskat as Afrikaans, dit het beter seggingskrag, en is orals in die wêreld aanpasbaar. Afrikaans is 'n ou taaltjie wat met groot gesukkel gepraat word. Gedurig moet die spreker waak teen verkeerde taal, verkeerde woorde, en as Engels met 'n woord kom, dan moet dit of oorgeneem word, of vertaal word, of 'n Afrikaanse woord moet daarvoor geskep word. Afrikaans is 'n regte vertaaltaal.
    Groete,
    Angus

  • Beste Angus
    Italiaans, Russies, Nama, Zoeloe ens is geen bedreiging vir Afrikaans nie. Engels is, net soos dit was vir die tale wat die Kelte gepraat het en uiteindelik het hulle hul tale verloor. Om 'n taal te versaak maak vir baie mense nie saak nie (kennelik is jy een van hulle) en dis hulle saak, niemand kan hulle kwalik neem vir hulle spesifieke voorkeure nie. Daar is egter dié vir wie dit wel saak maak (soos ek) en insgelyks kan hulle ook nie kwalik geneem word nie.
    Engels het wel 'n groter woordeskat maar die hoeveelheid woorde wat die gemiddelde Engelssprekende gebruik is min of meer dieselfde aantal as wat die gemiddelde Duitser of Hollander van hulle onderskeie tale gebruik (ek wou Afrikaans insluit maar skielik onthou ek Afrikaans is alreeds erg verarm deur die vreemde Engelse woorde wat gebruik word deesdae). Geen Engelsman het die hele Engelse woordeskat in pag nie en dieselfde geld vir, sê, die Duitser ten opsigte van Duits of die Rus ten opsigte van Russies.
    Jou stelling dat Engels beter seggingskrag het is absolute onsin. As ek dit nie mis het nie het jy self op ‘n kol gesê geen taal is beter as enige ander taal nie. Daar is goed wat jy in Afrikaans kan sê wat net nie in Engels vertaal kan word sonder om ‘n groter omhaal van woorde te gebruik nie. Natuurlik is die omgekeerde ook waar trouens, dit geld vir alle tale; daar is goed wat jy in, sê Russies, kan sê wat jy gaan sukkel om in sê nou maar Duits te vertaal en omgekeerd en so ook wat betref Frans en Timbuktu of watter tale ook al. Die Engelssprekende broers Hobson het byvoorbeeld hulle dierestories in Afrikaans geskryf want volgens hulle het Engels net nie by die veld gepas nie.
    Jy sê Engels is oral in die wêreld “aanpasbaar”; wat bedoel jy daarmee? Hoe pas Engels nou byvoorbeeld in Finland aan as, sê, Russies? Jy sal bietjie beter hier moet verduidelik.
    Groetnis
    Jan Rap

  • Beste Jan,
    Dit maak nie aan my saak as iemand sy taal verruil vir ʼn ander taal nie. Ek kan buitendien nie die persoon voor die bors gryp en hom uitskel vir slapgattigheid nie. Al wat ek kan sê, is dat dit wel gebeur, en as ek werklik belang stel, sal ek ondersoek instel waarom dit so is.
    Behalwe dat mense hulle taal mag versaak, hou tale geen gevaar vir mekaar in nie. Engels het ʼn heel ingewikkelde begin en geskiedenis. Die eerste inwoners van Engeland, die Kelte, het van Europa gekom. Kelties is ʼn Germaanse taal, en met die aankoms van die Angele en die Saksers, het die taal van Engeland Anglo-Saksies geword. Linguiste verwys na laasgenoemde as Ou Engels, en dit was wat struktuur en woordeskat betref, ʼn Germaanse taal. Geen Engelsman sal Ou Engels verstaan nie, tensy hulle dit spesiaal bestudeer het. (Ek het bv kennis gemaak daarmee in Engels II.) Dit is veral na 1066 met die inval van Normandië dat Ou Engels begin verander het. Normandië is ʼn provinsie van Frankryk, dus het Ou Frans (wat ontstaan het uit gesproke Latyn) gehelp met die vorming van moderne Engels. Natuurlik het Engels weer deur die Normandiërs ook nog weer ʼn skoot Keltiese invloed gekry. Engels is dus, wat struktuur betref, ʼn Germaanse taal, maar as ʼn mens na die woordeskat kyk, lyk dit Romaans. Om die vorming en geskiedenis van enige taal te verstaan, moet jy besef dat tale nie afgebakende goed met onoorkomelike grense is nie.
    Geen mens het, watter taal hy ook al praat, die hele woordeskat daarvan “in pag “ nie. Geen taal ter wêreld is nog verswak deur ʼn ander taal se woordeskat by te kry nie, waarom dink jy dat dit die geval is met Afrikaans? Ou Engels, ʼn Germaanse taal, is verryk deur die inname van Romaanse woorde, waarom sal Engelse woorde nou juis Afrikaans verswak. Afrikaans is juis ʼn bruikbare taal as gevolg van Engels. Engels is die bron deesdae van byna al Afrikaans se woordeskat.
    Engels het ʼn groter seggingskrag as Afrikaans, want waarom gebruik Afrikaanssprekendes so baie Engelse woorde? Waarom steek Afrikaanssprekendes soms vas en dan voltooi hulle die sin met “soos die Engelsman sou sê”? Met Engels kan ʼn mens oral in die wêreld regkom, selfs in Finland. Gaan kyk maar na die tennis op TV. Daar word selfs in Japan in Engels telling gehou. Onderhoude met Sjinese, Japannese, Russe, Franse, Spanjaarde, word in Engels gevoer. In Duitsland word nou wel in Duits getel, maar die skeidsregter herhaal wat hy gesê het, in Engels. Ek het nog nooit gehoor ʼn speler of skeidsregter praat Russies nie. Ek twyfel of Sharapova Russies ken. Ek het ook nog nooit Afrikaans op die tennisbaan gehoor nie. Gaan kyk maar Rugby. Al speel die Franse in Italië, die skeidsregter se bevele is in Engels, selfs hier in Suid-Afrika. Om van Krieket nie eens te praat nie.
    Jy vra dat ek die aanpasbaarheid van Engels beter moet verduidelik. Goed, jy beweer dat Russies beter aanpasbaar is as Engels. Kom ons kyk. Watter taal praat die Amerikaners? Russies of Engels? En in Australië? En in Kanada? En in Suid-Afrika? Natuurlik Engels, en wat meer is, Engels het hom so aangepas dat daar ʼn duidelike verskil is tussen Amerikaans, Australiese, Kanadese en Suid-Afrikaanse Engels. Sjinese en Japannese Engels is ook duidelik kenbaar. Enige taal is eintlik aanpasbaar; selfs Afrikaans, daarom kan ons onderskei tussen Kaapse, Griekwa-, Vrystaatse en Natalse Afrikaans. Dan is daar ook nog die Afrikaans van Namibië, en die Weskus. En wat van Riemvasmaak se Afrikaans? Afrikaans aard maar net hier aan die suidelike punt van Afrika. Dit kon nogal posgevat het in Argentinië, maar het ongelukkig toe doodgeloop.
    Feit van die saak is Engels het ʼn leeueaandeel in die vorming van veral moderne Afrikaans. Haal Engels uit Afrikaans, en jy sit met ʼn ou taaltjie heel arm aan woordeskat.
    Groete
    Angus

  • Angus, Afrikaans wat 'bloei' wat jy van praat, maw dat Afrikaans gedy, sal mens eerder die ww 'blom' gebruik. Die verstekbetekenis van 'bloei' hier is soos in ly, kwyn, doodgaan. Mens sal slegs uit die konteks kan sien dat jy met 'bloei' die bedoeling het dat Afrikaans gedy.

  • Beste Jan,
    Om nie daarvan beskuldig te word dat ek dinge herhaal nie, is my raad: gaan lees wat ek vir FC Boot geskryf het oor polisemie.
    Groete,
    Angus

  • Beste FC Boot en Jan,
    Ek blaai hier deur SêNet en toevallig val my oog op my geskryf oor “bloei”. Ek het net die verkeerde terminologie gebruik, en wil hier ʼn regstelling maak.
    Bloei = Eng Blossom, en bloei = Eng Bleed/blood, staan bekend as homonieme. Dis woorde wat dieselfde woordvorm het, maar verskillende stamme. Die HAT dui homonimie so aan: bloei¹ en bloei². Haas¹: grysbruin knaagdier; haas²: sagte vleis; haas³: drang om vinnig te handel; ens.
    Woorde met twee of meer betekenismomente word polisemie genoem: maw verskillende gebruike van ʼn woordvorm het dieselfde stam. HAT dui dit aan deur die verskillende betekenismomente te nommer. Kat 1. Viervoetige huisdier; 4. Valse of snipperige vrou of meisie; 5. Aangename meisie: sy is ʼn lekker katjie, ens.
    Met homonieme is dit maar die woorde waarmee dit gebruik word, wat die betekenis genereer.
    Dit spyt my as ek julle deurmekaar gemaak het.
    Groete
    Angus

    • Beste Angus
      Hier is 'n herhaling van my vorige kommentaar.

      Beste Angus
      'n Poliseem is 'n woord met verskeie maar verwante betekenisse.
      Dit gaan dus om die verwantskap en dit is wat jy miskyk. Gaan lees Jan Rap se kommentaar.

      Wanneer ek dus praat van Afrikaans wat bloei, is dit in die sin dat Afrikaans besig is om dood te gaan, want Afrikaanse woorde verlaat die Afrikaanse taal, soos bloed wat uit 'n wond vloei. Dit is 'n figuurlike en nie letterlike betekenis.

      Lekker dag.
      NS. Wat is jou definisie van tyd nou weer?

  • Beste FC Boot,
    As jy sê “Afrikaans bloei”, en jy kwalifiseer dit met “daarmee bedoel ek dat Afrikaans besig om dood te gaan, want Afrikaanse woorde verlaat die Afrikaanse taal, soos bloed wat uit 'n wond vloei”, dan verstaan die hoorders of lesers wat jy bedoel met “Afrikaans bloei”. As jy egter net sê “Afrikaans bloei”, of “die handel bloei”, of “die kunste bloei”, of “die wynbedryf bloei”, sonder jou omslagtig-bloederige verduideliking, dan genereer jy die betekenis van “Afrikaans beleef 'n bloeitydperk”, ens.
    As jy so verskriklik belang stel in die definisie van tyd, sou jy lankal 'n studie van tyd gemaak het, en dan kon jy dit vir my definieer. Aangesien jy so aanhou met die vraag na 'n definisie van tyd, sal ek dit vir jou gee. Jy moet eers darem sê watter soort definisie jy wil hê. Wil jy die populêre definisie hê, of dalk die filosofiese? Dan moet jy maar by Nietzsche gaan pyp opsteek. Dalk smag jy na 'n religieuse definisie; dan moet jy maar vir Dominee gaan vra. Ek glo nie aan die bonatuurlike nie. Miskien wil jy die wetenskaplike definisie van tyd hê, maar dan moet jy my eers laat weet hoe ver jy die fisika bestudeer het. Ek het al my les geleer ...
    Groete,
    Angus

    • Beste Angus
      ''n Goeie begrip (begryper) het 'n halwe woord nodig, iemand wat gou verstaan, het nie 'n breedvoerige uiteensetting nodig nie.' HAT

      Lekker dag

  • FC Boot, amper vergeet ek tot my skade en skande die linguistiese definisie van tyd, maar miskien is jou belangstelling meer evolusionities? Laat weet, dan kan ons die saak uitpluis.

  • Albert Oosterhuis

    My kinders het ek Engels groot gemaak. Ek kan nie vir julle vertel hoe dankbaar ek vandag is dat ek dit 25 jaar gelede gedoen het nie. Afrikaans stink van die twotone hemde, dubbelcab rugby supporters tot die heiliges in Stellenbosch.

    • Oosterhuis, daar is verskeie redes hoekom Afrikaanssprekendes hulle kinders Engels grootmaak maar dit is duidelik wat jou rede is naamlik selfveragting. Ek hoop maar jou kinders deel jou gebrek aan nasietrots anders gaan hulle jou eendag baie kwalik neem - dit is duidelik dat jy die besluit vir hulle geneem het en, afhangend van hulle ingesteldheid is dit moontlik dat van hulle ongeërg sal wees daaroor maar die moontlikheid is ook daar dat van hulle jou kan verwyt.
      Jy moet maar hulle vanne ook verander want hulle gaan bekendstaan as tweedehandse Engelse (al sê niemand dit vir hulle nie) en diep binne in hulle wese dal hulle die verwerping aanvoel want niemand hou van oorlopers nie.

  • Beste Albert Oosterhuis,
    Ons hoop en vertrou maar dat jou kinders nie twotone Engels praat nie, maar ek betwyfel dit sterk. As jy Afrikaanssprekend is, en jy het hulle Engels grootgemaak, sal jy nie sufefrikin iengliesh hoor wat hulle praat nie.
    Groete,
    Angus

  • Beste Angus

    Met die skoonmaak van ou boodskappe (gmail) kom ek toe agter ek het nog nie op jou brief van 19 Februarie 2018 geantwoord nie. So jammer vir die mosterd na die maal maar ek voel dis my plig om jou reg te help waar jy dwaal.

    Jy sê “Goed, jy [Jan Rap] beweer dat Russies beter aanpasbaar is as Engels.” Ek het so iets nooit gesê nie, ek weet nie waar jy daaraan kom nie. Dit nou daar gelaat, jy gaan dan voort en noem dan al die voormalige kolonies en dominiums van die Empire wat Engels praat as bewys vir die ‘aanpasbaarheid’ van Engels. Dis mos nou absurd; dit het niks met Engels per se te doen nie, dis bloot waar die Engelse heerser sy taal afgedwing het. Die Kongo en Gaboen praat Frans en Mosambiek en Angola nou weer Portugees om dieselfde rede. Dit het niks met ‘aanpasbaarheid van taal’ te doen nie, dit is die ónderdaan wat moet maar aanpas by die heerser.

    Jy sê ook in jou brief “Kelties is ʼn Germaanse taal . . .”. Dis nie so nie, Kelties is nie ‘n spesifieke taal nie maar die naam van ‘n groep tale wat tale soos Gaelic en Manx insluit. Soos jy Germaanse, Romaanse, Slawiese ens tale kry, kry jy Keltiese tale. So Kelties is alles behalwe ‘n Germaanse taal, trouens, ek dink selfs die Kelte word gereken as ‘n ander ras. Ou Engels, wat “more like to Dutch than to English” was, om Chaucer nou aan te haal, het wel ‘n Romaanse inspuiting gekry met ou Willem se inval in 1066 maar Engels bly steeds (volgens hedendaagse klassifikasie) ‘n Germaanse taal.

    Dis goed jy noem die Keltiese tale want dit sluit aan by my betoog naamlik dat Engels besig is om Afrikaans te versmoor. Die Keltiese tale het grootliks verdwyn; die Iere, Skotte en Walliesers praat nou omtrent almal Engels en Engels het maar weinig Keltiese invloed. Terloops, die Engelse is hoofsaaklik Hollanders het onlangse DNS-analises onlangs bewys. Ek weet nie of daar heeltemal uitsluitsel hieroor is nie.

    Hoe dit ook al sy, ek ontken nie dat tale verander nie, die Afrikaans van vandag is anders as wat jy in ‘Di Patriot’ sien. Ek ontken ook nie dat tale verryk word deur woorde van ander tale, waarvoor daar nie woorde in die een taal bestaan nie, oor te neem. So het Engels baie woorde uit Chinees, Gujerati. Afrikaans ens ingeburger en Afrikaans het weer heelparty woorde uit die swart- en Khoitale gekry, en selfs vanuit Engels, Frans en Duits.

    Deesdae egter, met dié nou dat ons in ‘n see van Engels leef en Engels die amptelike taal is (die ou wat dink ons het 11 amptelike tale moet sy kop laat lees) word Engelse woorde lukraak gebruik in plaas van Afrikaanse woorde. ‘Ek achieve die goal wat ek vir myself geset het’ is bloot swak, eintlik patetiese, taalgebruik. Dis nie die inneem van Engelse woorde vir begrippe waarvoor daar nie Afrikaanse woorde bestaan nie; dis aanduidend van ‘n onverskilligheid teenoor ordentlike taalgebruik en die mate waarin Engels reeds Afrikaans verarm het.

    Jy sluit af met die volgende toonbeeld van belaglike onsinnigheid: “Haal Engels uit Afrikaans, en jy sit met ʼn ou taaltjie heel arm aan woordeskat.” Jy is kennelik nie ‘n taalkundige en/of ‘n kenner van Afrikaans nie.

    Groetnis

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top