Reaksie op Angus se “Jan ek glo jou nou”

  • 3

Jy snap nog steeds nie.  Ek sê Afrikaans HET verdwyn van etikette, verpakkings, plek- en straatname, universiteite, die openbare lewe ens en is BESIG om te verdwyn wat die spreektaal betref.

 ’n Taal groei nie “deur ander tale se woordeskat” soos jy beweer nie. Woorde aan ander tale ontleen brei wel die woordeskat uit maar in ’n baie geringe mate en, soos ek jou al gesê het, meestal wat betref spesifieke vakgebiede.  Die taal van ’n oeie skrywer van die 1930’s, sê Eugene Marais, verskil van die taal van ‘n goeie skrywer deesdae, sê Dan Sleigh, net soos die ontwerp van klere, of geboue, of motors van die onderskeie tydvakke verskil. 

Die Afrikaans van Dan Sleigh is anders as dié van Eugene Marais omdat die taal sedert die 30’s anders aangewend word, NIE omdat meer Engelse woorde “kaalkop” oorgeneem is nie.  Net soos, sê, James Joyce se Engels verskil van Shakespeare s’n; dis ’n ander tydvak en die taal is intussen anders gebrei kan jy maar sê.  So, James Joyce skryf anders as Shakespeare beslis nie omdat Engels ander woorde “net so kaalkop oorgeneem het en die oorspronklike Engelse woorde in die vergetelheid verdwyn het” nie.  Net so met Afrikaans; Dan Sleigh gebruik nie Engelse woorde wat net so “kaalkop oorgeneem is en die oorspronklike Afrikaanse woord in die vergetelheid verdwyn het” soos jy beweer nie.

 Ek sê weer vir jou:  As Engelse woorde Afrikaanse woorde vervang brei dit nie Afrikaans se woordeskat uit nie, inteendeel, dit verskraal Afrikaans, veral ook omdat dit nie pas by die geluidstroom en ontwerp van Afrikaans nie.  Dit is tog logies – as jy twee items het en jy vervang een van die items het jy nog steeds net twee items, dis kleuterskoolwiskunde. 

Taal is ’n vaardigheid en om bedrewe te wees moet jy dit eers leer en dan, soos enige vaardigheid, in oefening bly. ’n Kind leer self loop (ook deur aanmoediging van sy ouers se kant af natuurlik) maar gimnastiek, byvoorbeeld, verg ekstra leerwerk en baie oefening om bedrewe te bly.  So ook met sy taal; hy leer aanvanklik aan moedersknie maar word later bedrewe deur verdere studie en oefening – dit is hoekom in  Frankryk Frans ’n skoolvak is, en Duits in Duitsland en Russies in Rusland en Engels in Engeland en so aan.

In ons geval, met dié nou dat Engels die amptelike taal is en gedurig in ons kele afgedruk word, kry die Afrikaanssprekers meer oefening in Engels en, logieserwys, begin hulle in hul spreektaal die Engelse woorde gebruik waaraan hulle meer gewoond is.  Afrikaanse woorde “verdwyn in die vergetelheid” om nou jou woorde te gebruik en Afrikaans word op die wyse geleidelik vervang deur Engelse woorde en sal Afrikaans naderhand heeltemal in onbruik raak as ons, die sprekers, nie iets daaraan doen nie.

Hierdie vervangingsverskynsel is veral prominent onder die jeug hier in Suid-Afrika en, soos jy tereg sê in jou brief van 11 deser (As Tale Verdwyn) as “ ... die jeug eers die dominante taal aanvaar, is dit sterwend, en op die afdraande pad [wat hulle moedertaal betref]”.  Dit is vir my verbysterd dat jy hierdie verskynsel herken (en erken) tov dominante tale soos Spaans en Russies maar hier in Suid-Afrika dink jy dit is ‘n verryking van Afrikaans.

Soos jy sê, “amazing” het “wonderbaarlik” vervang en dat dit net ’n waarneming van jou is (jy stem nie noodwendig saam daarmee nie).  Dit is presies my waarneming ook, vandaar my stelling dat Afrikaans besig is om te kwyn omdat al hoe meer Afrikaanse woorde deur Engelses vervang word.  Afrikaans is dus op die afdraandepad om nou jou woord te gebruik en afdraandepad dui daarop dat hy NIE gedy of floreer nie.  Jou stelling dat niemand iets aan hierdie vervanging kan doen nie is natuurlik onsin; die sprekers van Afrikaans kan iets daaraan doen net soos die sprekers van Engels die rede is hoekom Engels gedy. 

Terloops, ek het nooit “Engfrikaans” voorgestel nie as naam vir wat jy dink ’n nuwe taal is nie; dit is maar wat ek die geradbraakte mengelmoes noem wat baie mense deesdae praat (kyk veral na die sepies).

Groetnis

Jan Rap

 

  • 3

Kommentaar

  • Beste Jan,
    Hoeveel keer moet ek nog sê ek glo jou? En ek snap dit, ek snap dit ek snap dit nog beter as jy!
    Wat ook snap is as ek sou sê Afrikaans verdwyn, dan sal jy sê issie. Sou ek sê Afrikaans verdwyn nie, sal jy ook sê issie.
    Groete,
    Angus

  • Beste Angus
    Nou as jy my glo, waarom dring jy nog steeds daarop aan dat verengelsing (die vervanging van Afrikaanse woorde deur Engelse woorde) taalgroei verteenwoordig?
    Groetnis
    Jan Rap

  • Beste Jan,
    Jou logika laat jou in die steek. Ek glo jou as jy sê Afrikaans verdwyn dat jy dink dat Afrikaans verdwyn. Vir my verdwyn dit glad nie. Jy dink Afrikaans verdwyn omdat dit nie meer op etikette ens verskyn nie. Ek dink Afrikaans groei, want byna daagliks kry dit nuwe woorde via Engels by.

    Groete,
    Angus

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top