“Rassistiese identiteite”, meertaligheid en die toekoms van Afrikaanse skole

  • 26

Panyaza Lesufi, die LUR vir Onderwys in Gauteng, het die leiding geneem in ’n stryd teen Afrikaansmediumonderrig in dié provinsie. Die gesindhede waarmee die stryd gevoer word, of die verpakking daarvan, trek egter die aandag af van die onderwysdepartement se onderliggende logika ten opsigte van meertalige onderwys.

Hierdie logika vind aansluiting by taaldebatte op universiteitsvlak. Dit kan ook ’n groot impak hê op hoe meertaligheid deur die staat verstaan word en uitgeleef kan word. Kort gesê, die LUR en Gauteng se onderwysdepartement het ’n argument wat nie duidelik uitkom nie en waaraan die voorstanders van tradisionele moedertaalonderrig beslis meer aandag sal moet gee.

Afrikaans as “rassistiese identiteit”

Die verpakking van die stryd, hou direk verband met die negatiewe gesindhede wat daarby betrokke is. Lesufi argumenteer in ’n onlangse artikel op HuffPost dat rassisme vloei uit die idee dat mens “deel is van ’n kollektief” wat deur “ras, kultuur en selfs taal” gedefinieer word (’n verrassend liberale argument wat op individuele regte fokus).

Hoërskool Overvaal en talle ander maak hul dus aan rassisme skuldig deur die blote feit dat hulle Afrikaansonderrig wil aanbied. Hiervolgens is taalbeleide dan ook “niks meer as kru vorms van rassisme” wat gebruik word vir die mees “laakbare rassistiese doel denkbaar”, naamlik om toegang op grond van ras te beperk.

Is hierdie logika van “rassistiese identiteit” ook op die Vendatalige skool in Mamelodi toepaslik, wonder mens? Of op Zoeloetalige skole in die platteland, of die talle gemengde Afrikaanse skole met bruin, wit en swart leerders? Geld dit ook vir Engelse skole met Engelssprekende leerders? Is stokgevegte by tradisionele troues rassisties – of geld die logika van “rassistiese identiteit” slegs op grond van die kleur van mens se vel?

Indien hierdie idee deel is van Gauteng se onderwysdepartement se taalbeleid, dan bots dit met die Grondwet. Die Grondwet maak naamlik voorsiening vir die regte van “kulturele, taalkundige en geloofsgemeenskappe”. Dit maak selfs voorsiening vir ’n permanente kommissie wat die regte van hierdie “gemeenskappe” (of “kollektiewes”) moet beskerm en bevorder.

Suid-Afrikaners oor die hele spektrum heen gebruik taal, kultuur, tradisies, geloof, politieke filosofie, lidmaatskap van politieke partye en meer om vele oorvleuelende en buigsame identiteite te skep. Dit maak dus geen sin om mense wat taal of kultuur as deel van hulle identiteit beskou, te demoniseer nie.

Daar mag wel skole wees wat taal gebruik om ander rasse uit te sluit, maar mens het meer as negatiewe persepsies of stereotipes nodig om te kan sê dat dit inderdaad is wat in enige spesifieke situasie gebeur.

Meertalige onderrigmetodes

As volgende punt word geargumenteer dat openbare skole die volle diversiteit van die land behoort te weerspieël en dus nie op een taal behoort te fokus nie. Alle skole moet dus in beginsel veeltalig, multikultureel en veelrassig wees. Daar word nie werklik verduidelik wat dit in die praktyk sou beteken nie, hoewel dit lyk asof dit hier om meertalige onderwysmetodes gaan.

Sulke metodes gebruik gewoonlik ’n gedeelde taal soos Engels as die hoofmedium terwyl ander tale wat deur die leerders verstaan word, as hulptale gebruik word om lesse te verdiep.

Dis maklik om in te sien dat sulke metodes inderdaad in meertalige klaskamers nuttig kan wees, iets wat ook die norm in baie stedelike skole in Gauteng is. Dis ook maklik om te verstaan dat ’n departement wat rasse-ongelykhede in onderwys wil uitwis, die potensiaal van sulke metodes sal raaksien. Dit vergelyk, interessant genoeg, ook goed met soortgelyke benaderings wat op universiteitsvlak oorweeg word of reeds in werking gestel is. Daar steek dus waarskynlik veel meer hieragter as net ’n goeie idee in Gauteng.

Die belangrikste kwessie hier ter sprake is egter dat sukses met sulke metodes – nes met uitkomsgebaseerde onderwys – afhang van ’n enorme verbetering van onderwysvaardighede en -kapasiteite. Sonder onder andere uitstekende taalbestuur is die waarskynlikheid van onbedoelde gevolge, soos die vinnige verengelsing van skole en die vernietiging van moedertaalonderrig, groot. Hierdie skade sal nie gou herstel word nie. Oppas vir goeie idees.

Meertalige onderwysmetodes is slegs een van etlike nuttige metodes wat tans eksperimenteel toegepas word, en dit sou onverantwoordelik wees om dit onmiddellik in alle kontekste te probeer afdwing – veral nie in die aangesig van oorweldigende bewyse vir die effektiwiteit van moedertaalonderrig nie, iets wat nagestreef moet word waar ook al moontlik.

Unesco verwerp byvoorbeeld die idee dat moedertaalonderrig te duur is, dat voormalige koloniale tale soos Engels beter is as inheemse tale, of dat moedertaalonderrig kinders verhinder om ander tale te leer. Hulle moedig regerings in Afrika sterk aan om moedertaalonderwys tot op die hoogste vlakke te gebruik.

So terloops, die Grondwet maak ook vir enkelmediummoedertaalonderrig voorsiening.

Slotsom

Die vooroordele jeens Afrikaans en Afrikaanssprekendes behoort niemand te verras nie. Ons is op verskeie maniere gewond en dit sal meer as net een generasie vat om almal se pyn te verwerk.

Nietemin doen die stereotipes wat die afgelope jaar in die veldtog teen Afrikaans in Gauteng en elders gebruik is, die taal en sy sprekers ’n onreg aan. Om ’n skool te demoniseer, met massa-aksie te probeer vergruis en hulle te dwing om Engels te aanvaar, is allesbehalwe progressief. Daar moet tog meer kreatiewe en respekvolle maniere wees om meningsverskille soos dié te hanteer.

Afrikaans was ook die taal van die struggle, en die taal is gedeelde goed. Die meeste Afrikaanse skole is bruin. Daar is selfs swart Afrikaanse skole, en feitlik geen Afrikaanse skole is uitsluitlik wit nie. Selfs Hoërskool Overvaal – die teiken van al die onlangse woede – het gelukkige swart leerders wat hul skool verdedig.

Ons moet egter ook besef dat blote aanspraak op die diversiteit van die taal se sprekers onvoldoende is. Dit gaan polities al moeiliker word om oorwegend wit openbare skole te handhaaf – ongeag wat die Grondwet sê, hoeveel hofsake geveg word, of hoe gebelgd ’n mens daaroor mag voel.

Die sprekers van Afrikaans moet nou saamspan om die inherente diversiteit van die taal agter ons skole te mobiliseer. Ons kan ook baie meer doen om Afrikaanse skole en Afrikaansmediumonderrig vir swart ouers en kinders aantreklik te maak.

Laat ons probeer om verskille uit die howe en strate te hou en ’n inklusiewe gesprek oor taal en onderwys van stapel te stuur. Ons benodig ’n nuwe konsensus. Die voortbestaan van Afrikaanse openbare skole hang daarvan af.

 

Conrad Steenkamp

Hoof van die Afrikaanse Taalraad

Die Afrikaanse Taalraad verteenwoordig Afrikaans en sy sprekers in hulle volle diversiteit.

 

  • 26

Kommentaar

  • Melvina Mason Hearne

    Conrad, jy is op die regte spoor. Goeie stuk. Jy sien beslis die groter prentjie. As ons ons taal behoue wil laat bly, sal ons aandagtig na mense soos jy moet luister.

  • Ben Raubenheimer

    Conrad ons moet liewer Afrikaanse skole nog meer aantreklik maak vir Afrikanerkinders oftewel leerlinge.

    • Conrad Steenkamp

      Beste Ben

      Alle Afrikaanssprekendes moet aangemoedig word om hulle kinders na Afrikaanse skole te stuur. Die 'liewer' is die dood in die pot.

      Groete

      Conrad

  • Dr Pieter Mulder breek 'n lansie vir Afrikaans in sy brief( By, 20/1)
    Vir hom is die behoud van Afrikaans soos gepraat deur talle nie onderhandelbaar nie. Daardie getalle is ongeveer 2.5 miljoen wittes , sommige bruines en ook Afrikane. Kom ons skat rofweg 3-5 miljoen. Dis ongeveer 9% uit 'n totaal van 56 miljoen Suid- Afrikaners.
    Familie en vriende sal kan getuig dat ek ook hartstogtelik lief is vir Afrikaans.
    Ek hou egter vol dat Afrikaanssprekendes disproporsioneel en onregverdige voordeel geniet gebaseer op getalle. Hoekom moet bykans 90% van alle burgers in hul tweede (indien nie derde) taal skoolgaan terwyl Afrikaanssprekendes aandring op moedertaal-onderrig? Die dae is verby dat ons na Suid-Afrika se uitdagings kyk bloot vanuit 'n enge “eiesake”-perspektief. Ons as Afrikaanssprekendes kan nie meer vasklou aan die onregmatige voordeel van die verlede nie. Gesien vanuit die oogpunt dat ons 11 amptelike tale het is dit onregverdig, onprakties en onbekostigbaar.
    En ja , ek besef maar te goed dat die Grondwet uitgebreide minderheidsregte waarborg. Ek het destyds gewaarsku teen groepsregte toe die skrywers van die Grondwet 'n kompromis aangegaan het .Die handves van Menseregte sou voldoende gewees het. Die meeste suksesvolle moondhede het net individuele regte verskans in hul juridiese en konstitusionele bedelings. Ons, daarenteen, is behep met groepsgebondenheid en stamme.
    Die skrywers van die Grondwet het die saak "gefudge" om destyds die vrede te bewaar, maar vandag byt dit ons in die boud.
    Die 1976-opstande en nou Overvaal het een ding in gemeen.
    Afrikaans.
    Mulder praat van 'terugbaklei'. Besef hy nie dat sulke taal juis 'n vonk is in die kruitvat nie?
    Ek weet dit gaan miskien vir hom en sy party 'n paar stemme werf , maar myns insiens is dit hoogs onverantwoordelik gegewe hoe plofbaar gevoelens in ons land tans is. En dan waarsku hy universiteite dat hulle het "... naïef gedink hulle kan die goedgesindheid van die regering koop. Die ANC werk nie so nie".
    Dit komende van iemand wat bereid was om as adjunkminister in Zuma se regering te dien!
    Ons sal moet aanvaar dat Afrikaans in trurat is. Jongmense besef vandag dat hul heil lê in Engels.
    Die sakewêreld is Engels en ons howe en ander instellings is bykans ten volle Engels.
    Dus is my voorstel dat Afrikaanse skole ten volle geprivatiseer word.

    • Conrad Steenkamp

      Beste Charl
      Dit is feitelik verkeerd dat Afrikaans gebaseer op getalle proportioneel meer as sy regverdige aandeel kry. Gaan kyk gerus na statistieke oor die aantal Afrikaanse skole.
      Kyk gerus ook na UNESCO se studie oor die kostes verbonde aan nie-moedertaalonderrig. Dit skiet gate in die idee dat moedertaalonderrig te duur is.
      Hoewel mens pragmaties moet wees oor die situasie waarin Afrikaans hom bevind, is dit oordrewe om te wil beweer dat besigheid en alles om ons net Engels is. Daar bestaan altyd meer geleenthede vir diegene wat meer as net Engels kan praat. Dit bly 'n goeie strategie om te sorg dat mens se kinders Afrikaans en goed meertalig is.
      Die privatisering van Afrikaans verteenwoordig in isolasie ongelukkig ook 'n eng "eiesake-perspektief" soos jy dit stel. Dit is sekerlik 'n goeie oplossing vir die middelklas, maar mens sal baie hard moet werk om te verseker dat die meeste Afrikaanssprekendes nie agtergelaat word nie. Gesprekke hieroor is aan die gang. Intussen bly dit onverantwoordelik om op te hou om Afrikaans in die openbare onderwys te bevorder.
      Die idee van Afrikaans in trurat is vir my hopeloos te negatief. Doen eerder iets om toe te sien dat ouers die taal na hulle kinders oordra en dat ons positief gebruik maak van alle moontlike ruimtes vir Afrikaans, selfs daar waar mense dink dat ons die onderspit gedelf het.

      • Conrad hoe op dees aarde kan jy beweer dat Afrikaanse skole nie disproporsioneel voorrang geniet nie? Watter ander taalgroep (behalwe Engels natuurlik) het eksklusief moedertaal-onderrig?
        Om moedertaal-onderrig vir al 11 taalgroepe te bied sal natuurlik onbekostigbaar wees. Die enigste opsie is alle staatskole word in Engels bedryf en anderstaliges soos reeds die Duitsers, Jode ens kry hul eie private skole. Meertaligheid is 'n debat op sy eie. Die uitdaging sal wees vir veral laer inkomstegroepe wat in Afrikaans wil skoolgaan.

        • Conrad Steenkamp

          Charl
          Ek stem saam dat moedertaalonderrig voordelig is. Hoekom alle skole as gevolg daarvan na Engels toe moet oorskakel, bly egter vir my duister.
          Soos jy self noem, word wit Engelssprekende kinders ook deur moedertaalonderwys bevoordeel, sekerlik die mees bevoorregte groep in die bevolking as mens na die opvoedkundige statistieke kyk.
          Terselfdertyd stel jy nou voor dat die armste gedeelte van die Afrikaanse bevolking se toegang tot moedertaalonderrig weggeneem word, ʼn groep waarteen struktureel reeds enorm gediskrimineer word (en ja, daar is ook statistieke wat hierdie stelling ondersteun). Daar is naamlik 'n klasse-dimensie hier waarna niemand kyk nie. Die kinders van die elite praat oor die algemeen goed Engels.
          Jou idee dat moedertaalonderwys onbekostigbaar is, is eenvoudig net verkeerd. UNESCO beklemtoon die koste-effektiwiteit van moedertaalonderwys en raai Afrikaregerings aan om hulle onderwyssisteme met behulp van die inheemse tale te hervorm en te verbeter. Afrikaanse moedertaalonderrig maak dus effektief gebruik van beperkte hulpbronne, iets wat jy nou wil beëindig deur hulle te verengels. Die netto effek hiervan sal negatief wees. Almal sal nóg minder hê.
          Nog belangriker, deur moedertaalonderrig te vernietig, vernietig jy ook werklike meertaligheid, iets wat enorme politieke en sosio-ekonomiese gevolge het (en waaroor ek nie nou wil uitbrei nie).
          Net soos wat daar baie nie-Engelse leerders in Engelse skole is, is daar nie-Afrikaanse leerders in Afrikaanse skole. Afrikaansmediumonderwys vir tweedetaalsprekers het die bykomende voordeel dat die leerders die skool met baie sterker meertalige vaardighede verlaat.
          Afrikaans kan dus ook as die “common language” gebruik word, ʼn neiging wat mens net kan ondersteun. Om te beweer dat verengelsing die enigste oplossing is, spreek van onkunde en vooroordeel.
          Ek stel voor jy dink weer.

    • Johannes Comestor

      Charl, 90% van die skoliere hoef nie in 'n tweede of derde taal skool te gaan as die staat afdoende onderriggeriewe in hulle moedertale verskaf nie. As swart mense nie op moedertaalonderrig aandring nie, volg dit nie dat Afrikaanssprekendes noodwendig ook moedertaalonderrig moet ontbeer nie. Dit is geen onregmatige voordeel nie. Op grond waarvan kan Engelssprekendes in hulle moedertaal onderrig ontvang en nie Afrikaanssprekendes nie? Dit lyk na 'n onregmatige voordeel vir Engelssprekendes.
      Sover ek weet, is daar grondwetlik geen groepregte nie; net individuele regte. Swart mense kan egter, weens hulle getalsoorwig, vir hulle al die groepregte wat hulle verlang, toe-eien, soos met Swart Ekonomiese Bemagtiging. Dit is die blankes, bruin mense en Asiate wat geen groepregte het nie.
      Jy wil hê dat Afrikaanssprekendes nie moet terugbaklei as Afrikaans misken word nie. Myns insiens is verset teen onreg noodsaaklik, anders volg net meer onreg. Jy beweer jy is hartstogtelik lief vir Afrikaans maar dat Afrikaans maar deur Engels vervang kan word, bv in staatsskole. Nogeens laat jy jou 'n onreg teen Afrikaanssprekendes welgeval. Afrikaanssprekendes betaal belasting en is geregtig op Afrikaanse skole en universiteite wat van owerheidsweë gesubsidieer word. Op grond waarvan wil jy Afrikaanssprekendes benadeel met die koste van private onderwys terwyl dit nie vir Engelssprekendes genoodsaak word nie?

    • johan pienaar

      Privatisering van Afrikaanse skole sal dit buite bereik plaas van die meerderheid Afrikaanse kinders. Dit sal lei tot ’n vorm van ekonomiese apartheid. Die feit van die saak is Afrikaanse mense betaal OOK belasting en is OOK geregtig op Afrikaanse skole. Sowat 14% Suid-Afrikaners is Afrikaans. Terwyl slegs sowat 5% skole klasse in Afrikaans aanbied. Hoe enige een dit as onregverdige bevoordeling kan beskou gaan my verstand te bowe. Die feit dat die meerderheid swart kinders in Engels klas moet ontvang is nie omdat hulle benadeel word nie. Dis hulle keuse! Die skrywer van die artikel preek vir die bekeerdes. Hy moet eerder probeer om die EFF en ANC te oorreed tot sy vorm van redelikheid.

      • Conrad Steenkamp

        Johan,

        Dit is heeltemal moontlik om privaatskole ook in arm gemeenskappe te vestig met kruissubsidies deur ryker privaatskole. Baie sukses is reeds in die VSA hiermee behaal.

        Nietemin is jy reg dat Afrikaanssprekendes ook 'n reg het op toegang tot Afrikaanse openbare skole, selfs al mag ons hoofregter anders daaroor dink.

        Sommige van die reaksies hierbo wys egter dat daar nie net "bekeerdes" in hierdie forum is nie - veral nie wanneer mens geluide maak oor die integrasie van Afrikaanse skole, of oor die bemarking van Afrikaansmediumonderrig onder ander nie-Engelssprekendes. Inteendeel.

        Jy is egter heeltemal reg dat mens nie net binne Afrikaanse kringe hieroor kan praat nie. Glo my, ons doen dit ook in Engels - selfs in die ander inheemse tale van die land.

      • Ek stem saam met Johan Pretorius. Preek vir die onbekeerdes. Die problem is egter dat dit nie vir die ANC en EFF oor rasionale argumente oor moedertaalonderrig gaan nie, maar oor ideologie. Hulle WIL Suid-Afrika verengels omdat hulle 'n monochrome, swart SA kultuur wil skep, waarin witmense (veral Afrikaners) onbelangrike rolspelers is. Jy gaan hulle nie met rasionele argumente oortuig nie. Dit is 'n baie moeilike situasie om te bowe te kom.

    • Philippus Janse van Rensburg.

      Charl, ek is nie "hartstogtelik lief" vir Afrikaans nie, ek ís Afrikaans! Ons is gelukkig om in Afrikaans te lééf, Engels kan ons wel praat en soms méér as dit, ook daarin vir ons uitleef.
      Dink net, hoe lekker moet dit nie wees om in jou eie taal, die taal wat jy van jou eerste dag af in die huis gehoor het, jou skooldae te kan begin nie! En nou moet jy noodgedwonge 'n tweede, "anderster" taal gebruik as jy onderwys word! ( Eens op 'n tyd was ons voorouers 'Donkeys' genoem ad hulle nie Engels in die klas gepraat het nie!) Foei, dat mense iets só kosbaar kan verag!

  • Johannes Comestor

    Enigeen wat Afrikaans wil bevorder moet, wat onderrigtaal betref, meertaligheid en diversiteit agterweë laat. Wat onderrigtaal betref moet Afrikaanse skole en universiteite eentalig Afrikaans wees. Sodra Engels naas Afrikaans as onderrigtaal ingevoer word, word daardie skool of universiteit spoedig eentalig Engels. Wat aan die Universiteit Stellenbosch gebeur, is 'n sprekende voorbeeld. Pas is die eerstejaarstudente uitsluitlik in Engels verwelkom en dit in die US se eeufeesjaar waarin hy veronderstel was om kragtens sy stigtingsvoorwaarde nie aan Afrikaans 'n mindere plek as aan Engels te gee nie.

    • Johannes Comestor – ek stem saam. Afrikaners moet begin ophou om vir meertaligheid te staan: anderstaliges moet dit self doen. As 'n Sepedi-spreker nie belangstel daarin om sy kinders in Sepedi onderrig te laat kry nie, is dit sy saak. Ek veg vir myself en my eie mense – ander mense moet vir hulself veg.

  • Geld práát hard! Afrikaans moet geld lonend wees. Bv gebruik BORGE om Afrikaanssprekende ouers wat keuse moet maak, sit met besluit, selfde skool MAAR skryf ek my kind in AFRIKAANS Hoofstroom in, kwalifiseer ek vir bv 50% afslag van skoolfonds.
    So kan almal wat nou net praat 'n WERKLIKE verskil maak.

  • Hans Richardt

    Oor al die politieke korrektheid ideologieë hier, waarom was daar nog nooit optogte by wittes om êrens in townships se skole wat vry is, toegelaat te word nie?
    Hoekom is dié politieke korrektes se kinders in privaatskole?
    Hoekom het bv BBC soveel klagtes van seksisme en rassisme oor hul redaksionele beleid?
    Hoekom wil immigrante in bv Duitsland hul eie skole hê?
    SA se politieke korrektheid ideologieë is soos ou albatros wat rigting verloor, want geen mens is sonder identiteit gewortel in kultuurgoedere nie.

    • Gerhard Scheepers

      Dankie Hans vir jou waar en mooi woorde: "..., want geen mens is sonder identiteit gewortel in kultuurgoedere nie".
      Kinders wat sonder mense opgroei leer g’n taal nie. Jou taal ontneem jou nie jou menswees nie maar gee jou jou woordetuig, jou woordesin se karakter as deel van jou kultuur. Hoekom jou oor tale bekommer terwyl jy liefde onder die alie skop? Die eintlike, of ergste rassiste in die land moet ons eenvoudig harder oor praat, konstant, duidelik en helder in die lig bring. Aan politiese korrektheid moet ons doen wat die se voorstanders alewig met liefde maak hoe mens dit ook al metafories sou bybring. Dis ongewortelde abstrakte woorde, (want van denke is daar nie ter sprake nie) behalwe vir die se wortels in ander sulke woorde, wat in ons omgewing politieke balle of byle word, reeds omdat die woorde negatiewe betekenis het, betekenisloos is, want dan kan luisteraars se emosies vrylik met spreekwoorde en baniere toegespreek word. Dit sluit opvlammende verwysings in, soos bv die groot ou slang Apartheid wat party Afrikaners laat koes sommer by aanhoor van en vir almal anders onmiddellik Thor se hamer is om mee na ons te slaan, al word die betekenis daarvan tot sovêr altyd alleen deur vyande, dekades lank al, verklaar, vyande as sleggesindes.

  • Die rede, Hans, is eenvoudig: wit skuldgevoelens teenoor mense van ander nasies. Veral nasies wat deur Europese magte gekoloniseer was. Dit is 'n gevoel van verpligting om na die welsyn van die genoemde nasies om te sien. Voeg daarby die tradisioneel Christelike obsessie met die armes en die verpligting van die 'rykes' om vir hulle te sorg. Die liberaal Christelike wereld het dekadent geword ...

  • As pragmatis kan ek nie sien hoe Afrikaans kan oorleef in ons openbare skole en universiteite nie. Privaat-instellings sal voortgaan om in hierdie behoefte te voorsien. Feit is dat vanuit huis Afrikaanssprekendes al hoe meer aandring op Engelse onderrig om hulle voor te berei vir die sakewêreld, akademie en die openbare sektor. Om 'n parallelle universum te skep is nie bekostigbaar of haalbaar nie. Die uitdaging lê by veral die minder gegoede agtergeblewe gemeenskappe wat Afrikaanssprekend is. Deur subsidies en private inisiatiewe kan voorsiening gemaak word vir diesulkes.
    Die Konstitusionele Hof se uitspraak in Afriforum vs UVS is 'n aanduiding dat die land spoedig in daardie rigting beweeg. Dis onafwendbaar.

  • Hans Richardt

    Ek het 'n kleintjie dood aan die tonnelvisie oor bv Europa en VSA. Bv in VSA is daar net Amerikaans as onderrigtaal in skole en kolleges. Merkel het in Duitsland groot steun verloor en sukkel na ses maande nog om haar regering saam te stel. Die immigrante weier om in Duits skool te gaan. Merkel se politieke korrektheid ideologie het niks gedoen om Turke, Siriërs ens tot etniese politieke korrekte amalgamasie te dwing nie, soos wat politieke korrektes in SA media probeer afdruk in wit Afrikaners se kele nie.
    Feit is, nêrens in die 1996 SA Grondwet is daar 'n artikel wat etniese amalgamasie forseer nie. Ek glo dat die Hooggeregshof se uitspraak teen die MEC juis hierop gebaseer was en groot hou na geforseerde etniese amalgamasie agenda gebaseer in albatros politieke korrektheid ideologie! Liefde het niks hiermee te make nie. Feite bevat nie liefde nie ...

  • Albrecht Beer

    Sitaat van Marthinus Theunis Steyn , staatspresident van die Republiek van die Oranje-Vrystaat: "De taal is het volk, en indien wij onze taal verwaarlozen dan moeten wij ook verwachten dat ons volksbestaan langzamerhand zal kwijnen, en uiteindelik ten gronde gaan. Onze taal is ´n erfstuk dat wij van onze vaderen gekregen hebben: laten wij die getrouw bewaren. Wij moeten zoveel talen leren als wij kunnen, maar onze moedertaal lief hebben boven alle."

    Die laatste sin is die pad naar vrede en sukses.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top