Ramaphosa: The man who would be king deur Ray Hartley: ’n resensie

  • 2

Ramaphosa: The man who would be king
Ray Hartley
Uitgewer: Jonathan Ball
ISBN: 9781868428342

Die merkwaardige van dié boek is sy tydsberekening. Dit het verskyn kort voor Cyril se verkiesing as leier van die ANC, wat beteken die skrywer het nie geweet of Ramaphosa verseker was van die partyleierskap nie – nóg minder van die presidentskap. Tog het hy die kans gewaag en lyk dit toenemend of sy implisiete geloof in Ramaphosa geslaag het.

Hartley, wat Ramaphosa van vroeg af ken – sedert die onderhandelings oor die Grondwet al – fokus sy verhaal op Ramaphosa se potensiaal as toekomstige president. Dis geen biografie dié nie.

Maar dis ook nie ’n hagiografie nie. Wat die boek juis interessant maak, is dat die skrywer sonder doekies omdraai soveel inligting moontlik oordra as wat nodig is om die leser te bemagtig om sélf te oordeel of die man het wat dit verg om leier van ons troebel land te word. En daarby ’n suksesvolle een. En lees ’n mens die boek, is die prentjie wat by jou opkom inderdaad een van ’n komplekse en onvolmaakte, maar op baie terreine suksesvolle leier.

As ’n gesoute politieke joernalis gee Hartley – soos te verwagte – noukeurig aandag aan feite en besonderhede, sonder om die meevoerende gang van van die interessantste tye in ons geskiedenis te laat skade ly. Die boek lees maklik en nooi jou amper soos ’n roman om vir ’n antwoord aan die einde te soek.

Die boek plaas tye en gebeure onder die vergrootglas wat spesifiek vir die leierskapsvraag belangrik is: kortweg, die jare van Ramaphosa se politieke bewuswording as student, aktivis en aangehoudene; sy rol as stigter en onderhandelaar van die National Union of Mineworkers (NUM) teenoor Bobby Godsell; die ikoniese oomblik toe hy links van Madiba na dié se vrylating op die balkon by die Kaapse Parade gestaan het; Mandela se openlike verwyings na hom as sy opvolger; en die grondwetlike onderhandelings met Roelf Meyer as NP-gespreksgenoot. Later is daar sy meteoriese opgang in die sakewêreld; sy oënskynlik dramatiese politieke struikeling met die Marikana-skietvoorval; sy verrassende en triomfantelike terugkeer na die politiek; en die hoogspanningsdraad wat hy in die afgelope onstuimige Zuma-jare moes loop – en steeds loop.

Uiteindelik stuur alles af op die vraag: Is Ramaphosa gereed om te lei?

’n Tema wat deurgaans sterk figureer, is die teenstelling tussen Ramaphosa se sjarme en sy kil berekendheid. Dis hoe FW de Klerk daarna verwys:

His relaxed manner and convivial expression were contradicted by coldly calculating eyes, which seemed to be searching continuously for the softest spot in the defences of his opponents. His silver tongue and honeyed phrases lulled potential victims while his arguments tightened relentlessly around them. (53)

’n Goeie voorbeeld is ook die gevierde goeie verhouding met Roelf Meyer, verteenwoordiger van die destydse regering in die oorgangsonderhandelings. ’n Bekende storie wat dikwels vertel word om te bewys hoe gemaklik die twee in mekaar se geselskap was, is die een van hulle forelvangekspedisie. ’n Vishoek het in Roelf se hand vasgehaak en Cyril het dadelik ingespring om dit te verwyder – nadat hy Roelf ’n stywe dop whiskey ingejaag het. Hier is Hartley se insiggewende beskrywing:

According to Meyer, “[t]hat fishing incident was just one of many, but it was indicative of the kind of relationship that we succeeded in building, the friendship that we succeeded finally to build, and the chemistry that exists between us.” But if Meyer saw a genuine friendship developing, Ramaphosa saw opportunity. His comments on trout fishing could just as well be a description of how he evaluated negotiation opponents.: “You need to know what they are feeding on and how they are behaving, then decide on a strategy.”

Years later he would tell Leslie Cowling, then writing for the Mail and Guardian, that “the only contribution trout fishing made to the negotiations was that he learnt how his opposite number looked when he was anxious and in pain”. (59–60)

Die leser soek vergeefs na enige aanhaling van Ramaphosa wat enige wederkerige warmte teenoor Meyer beskryf. En jy kan weet dat as die skrywer dit gehad het, hy dit sou genoem het – juis om nuanse te gee aan die klinies berekende aspek van die politikus se persoonlikheid.

Soos baie suksesvolle leiers het Ramaphosa ook ’n massiewe ego. Sy toespraak na die mislukte mynbouloononderhandelings in 1986 is niks meer as ’n poging om glans te verleen aan ’n strategie wat gewoon skipbreuk gely het nie. Ook Hartley se vertelling van Ramaphosa se ietwat kleingeestige versuim om Mandela se inhuldiging as president by te woon nadat die party besluit het om nié gehoor te gee aan Mandela se keuse van hom as adjunkpresident nie, lig dié minder vleiende kant van sy persoonlikheid toe.

Saam met hierdie helaas onaantreklike eienskappe is die oorweldigende indruk waarmee ’n mens gelaat word dat Ramaphosa ’n man van aksie is, iemand wat niks in sy pad sal laat staan om ’n doelwit te bereik nie; kortom, hy doen wat nodig is – mits dit wettig en eerlik is.

Voorts gaan dié doelgerigtheid gepaard met ’n ambisie wat kompleet soos ’n laserstraal op sy mikpunt kan fokus. En ’n onstuitbare vermoë om mense tot sy standpunte om te haal. Een van die boeiendste stukke in die boek is die beskrywing van hoe Ramaphosa die NUM van feitlik niks opgebou het tot ’n bedingingsmasjien van ver oor 300 000 lede – ’n mag wat die andersins magtige Anglo American laat sidder het. Dieselfde geld die onstuitbare tsoenami van sy sakeryk wat hy – en onthou dit – uit niks uit ontwikkel het, aan die begin sonder die kunsmatige hulp van vandag se formele wetgewende steun en handveste wat ondernemings dwing om sekere persentasies aandeelhouding aan swart bemagtigdes oor te dra.

Die verhaal van Cyril as leier illustreer ook sy byna verkleurmannetjieagtige pragmatisme. Van ’n sosialistiese vakbondleier ondergaan hy radikale ekonomiese en sosiale transformasie tot ’n sakereus wat whiskey drink, forel vang en reusebeesstoete en wildboerderye aan die gang hou. En moenie dink sy ondernemings is bloot vir die skyn nie. Rampahosa doen letterlik op ’n skaal van miljarde sake.

Tog was daar een onbetwisbare laagtepunt in sy loopbaan en openbare lewe: Marikana. En dis hier waar ’n mens moed skep oor die integriteit van dié man.

Sy byna bomenslike veldtog om sy beeld hierna as vakbondleier wat vir werkers omgee te herstel is tekenend van ’n loopbaan wat hom herhaaldelik in die vuur van aktiewe politiek gelouter het. Só sê hy:

I take full responsibility of my role in it, and once again, my role was as follows. I was disturbed upon hearing that 10 miners, 10 innocent miners, had been killed. My reaction was: this cannot be activism. This is a criminal act. Back then I felt that the situation should be dealt with by the law. It was inappropriate language. I cannot try to be smart about it. (99)

Uiteindelik bevind die Farlam-kommissie van ondersoek Ramaphosa was onskuldig aan enige wangedrag of nalatigheid in verband met die tragiese skietvoorval.

Net so is die volgende paragraaf vir my as ’n Suid-Afrikaanse kieser van besonderse belang:

One thing is certain: Ramaphosa has no association with any of the corruption scandals that have plagued South Africa. It is a remarkable fact that his name is not mentioned once in Andrew Feinstein’s 672-page magnum opus on the global arms trade, The Shadow World. His name has not come up in the hundreds of thousands of leaked Gupta emails which have provided so much detail on the minutiae of corruption and state capture. (191)

Mandela was die een wat Ramaphosa se onderhandelingsvernuf van vroeg af raakgesien het. Daar is min twyfel dat sy bedingingsvaardigheid in die klipharde vakbondwêreld, Codesa en raadsale van groot ondernemings tot ’n formidale instrument geslyp is. Daar is waarskynlik vandag nie nog so ’n doeltreffende onderhandelaar in ons land nie.

Die groot raaisel omtrent Ramaphosa se potensiaal as toekomstige leier van die land bly egter die ekonomie. Hartley pak met ietwat bedrukkende stelselmatigheid die reeks kwale van ons ekonomiese treurmare uit: werkloosheid, stadige groei, gebrekkige belegging en vermorsing. Dan wys hy daarop dat Ramaphosa se probleem beslis nie sy kennis en vernuf in die ekonomiese arena is nie. Eerder dalk sy politieke wil:

Although he is one of the country’s wealthiest men, Ramaphosa is in the odd position of relying on the trade union federation Cosatu and on the SACP for political leverage ... The problem is that some of the structural reforms needed to return South Africa to economic success are impossible without deeply offending this left-wing political base. (195)

Daar is min aanduidings van Ramaphosa se ideologiese posisie. Dit is daarom moeilik om te weet wat hy op beleidsvlak regtig oor byvoorbeeld swart bemagtiging, privatisering en arbeidswetgewing dink. Dit is dalk een van die min punte van kritiek op ’n andersins baie volledige prentjie. Hartley het genoeg ervaring as ’n politieke joernalis om ons ten minste te help bespiegel. Uiteindelik is dit ’n dwingende vraag wat onbeantwoord bly.

Die punt wat wel deeglik beklemtoon word, is dat Ramaphosa moet doen waaraan hy teen dié tyd as politikus gewoond is, en dit is sy hoogspanningbalanseertoetjie. Politiek bly maar eenmaal die kuns van wat moontlik is, en dit is hoekom mens nie noodwendig ekonomiese uitsprake wat hy tot nou toe maak, vir soetkoek moet opeet nie .

Ten slotte is die indruk wat dié uiters insiggewende, boeiende en omvangrylke beskrywing van Cyril Ramaphosa as leier laat, een van ’n man wat nie hier is om vriende te maak nie. Nie onder die kiesers nie, nie by die vakbonde nie, nie onder sy swart sakevennote nie, en allermins onder korrupte politici. En hy is ambisieus genoeg om, indien nodig, op genadelose wyse te doen wat nodig is.

In Ramaphosa se eie woorde tydens die Chris Hani-gedenklesing van April 2017 (waarin hy uit die ANC-dokument “Through the eye of the needle?” aanhaal):

A leader should win the confidence of the people in her day-to-day work. Where the situation demands, she should be firm; and have the courage to explain and seek to convince others of the correctness of decisions taken by constitutional structures even if such decisions are unpopular. She should not seek to gain cheap popularity by avoiding difficult issues, making false promises or merely pandering to popular sentiment. (198)

Waar Ramaphosa: The man who would be king my onkant betrap het, is dat dit my gelaat het met ’n ietwat ongewone gevoel in hierdie dae: een van hoop.

  • Foto van Ray Hartley: LinkedIn
  • 2

Kommentaar

  • Cyril het miskien die hoek uit Roelfie se hand help haal, maar sielkundig het hy hom gehaak, ingekatrol, gegaffel en verorber.

    • Chris Marnewick SC

      Miskien, maar dalk is dit soos die fabel uit Esop: van die man wat die doring ut die leeu se poot gehaal het. Wedersydse respek.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top