Raaiselkind: ’n filmresensie

  • 0

Raaiselkind
Met: Diaan Lawrenson, Anrich Herbst, Deon Lotz, June van Merch en Neels Clasen
Regie: André Velts

Raaiselkind is my lewe uitgespel op die silwerdoek. Ek was deel van ’n familie wat deur ’n erg gestremde broer vernietig is. Ek het ook kontak gehad met soortgelyke families. Ek kan derhalwe met gesag sê die draaiboek het die chaos perfek vasgevang – ma’s neem in die reël al die verantwoordelikheid op hulleself, die pa’s loop gewoonlik weg, almal is moeg, die ander kinders voel afgeskeep, daar is ’n swart of bruin engel wat met absolute liefde na daardie kind omsien, en die samelewing kyk gewoonlik anderpad. Baie min familie of vriende kan vrede maak met gestremdheid.

My teleurstelling was dus groot toe die film plat val. Die kinematografie is ondergemiddeld. Met sterk kompetisie soos Meerkat Maantuig en Liewe Kersfeesvader kan jy dit nie waag nie.

Die stelinkleding/stilering is vervelig en soms niebestaande. Niks omtrent die huis of hul kleredrag staan uit of dra by tot die film nie. Mens hoef nie ’n Wes Anderson op jouself te trek nie, maar sit ’n bietjie meer moeite in. (Die betreklik luukse huis reg by die strand maak ook nie sin vir ’n familie wat finansieel geruïneer is nie.)

Die openingstoneel waar Diaan Lawrenson se karakter tussen die verpletterde meubels en versiersels deurloop, is lank en melodramaties. Diaan probeer ook ’n bietjie te hard. Ons almal weet sy kan toneelspeel, maar die regisseur moes dalk meer leiding gegee het. Kyk byvoorbeeld na Kristin Scott Thomas se vertolking in die Franse film I’ve loved you so long. Sy speel ’n ma wat haar seun vermoor deur ’n oordosis medisyne toe te dien. Die film begin waar sy na 20 jaar vrygelaat word en weer moet aanpas in die samelewing. Te midde van almal wat antwoorde by haar soek, is haar amper lewelose vertolking ’n belewenis.

June von Merch is gelukkig ’n ligstraaltjie. Die toneel waar Diaan se karakter in die see in stap en Miriam haar gaan uithaal is hartverskeurend.

Die klankontwerp is steurend. Ek weet dit móét met tye steurend wees, want gehoor is ’n sintuig wat aangeval word, byvoorbeeld waar die baba vir dae nie ophou skree nie. Waar hy as jong seuntjie met ’n pyp teen die muur slaan, sou die klank daarvan genoeg wees om mens om te krap. Jy het nie stroperige klavier ook nodig om jou te beweeg nie.

Ek blameer al hierdie foute op die lustelose regie.

Die einde is boonop nie bevredigend nie. (Bederfwaarskuwing.) Het sy of het sy nie haar kind vermoor nie? vra die film. Die antwoord wat hulle gee, is sy is te lief vir hom om hom te vermoor, dus moes hy verdrink het as gevolg van ’n epileptiese aanval. My teenredenasie is: dalk het sy hom vermoor juis oor sy hom so lief het? Oor hy nie ’n lewe sonder haar sou hê nie? Dit laak my dink aan Tania Clarence wat haar drie gestremde kinders vermoor het. Lees meer hier en probeer om nie te oordeel nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top