R44 000 se prysgeld op die spel met RSG en Sanlam se Radiodrama-skryfkompetisie

Aspirant- én gevestigde skrywers kan vanjaar sowat R44 000 se kontantpryse wen in RSG en Sanlam se Radiodrama-skryfkompetisie.

Die eerste prys is R20 000, terwyl die tweede en derde prys elk R10 000 en R7 000 onderskeidelik is. Daar is ook ’n bykomende aansporingsprys vir enige jong skrywer tussen die ouderdom van 18 en 30 jaar. Die jong skrywer se teks sal met R7 000 bekroon word.

Enigeen wat in Afrikaans skryf, is welkom om ’n drama in te skryf. Daar is geen voorgeskrewe tema nie, maar die radiodramas moet oorspronklike werk wees wat nie voorheen gepubliseer of opgevoer is nie. Verwerkings van ander tekste word ook nie aanvaar nie.

Die drama moet tussen 40 en 50 minute lank wees – ongeveer 45 A4-bladsye - en nie meer as agt karakters bevat nie.

Die sluitingsdatum van vanjaar se kompetisie is Maandag 30 Julie.

Buiten die prysgeld sal die wendramas ook tydens RSG se volgende drama-seisoen opgevoer word.

Na afloop van die eerste fase van beoordeling sal die skrywers op die kortlys genooi word om verder, met die hulp van ’n radiodrama-regisseur, aan hul tekste te skaaf, sou hulle dit verkies. Daarna sal die werke vir die finale beoordeling voorgelê word.

Die volledige reëls asook ’n handleiding, wat onder andere voorbeelde van radiodramas bevat, is op RSG se webblad beskikbaar by www.rsg.co.za. Of bel vir Margaret Theunis gedurende kantoor-ure by 011 714 2018 om die handleiding per pos te ontvang.

Inskrywings kan gerig word aan Margaret Theunis, RSG, Posbus 91312, Auckland Park, 2006.

Die wenners sal vroeg in Desember vanjaar op beide Tjailatyd en Oggend op RSG aangekondig word.

Vir meer inligting of navrae:

Kobus Burger
Uitvoerende regisseur: Drama
RSG 100 tot 104 FM
011 714 2724

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top