Queen of the Free State deur Jennifer Friedman: ’n lesersindruk

  • 1

Queen of the Free State
Jennifer Friedman
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624081616

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Die omslag en titel van Jennifer Friedman se “memoires” het dadelik my aandag getrek; die boek stel nie teleur nie en die outobiografiese vertellings is nie selfvertroetelend nie.

Die leser kom baie duidelik onder die indruk dat Jennifer ’n rebelse, opstandige en dikwels ongehoorsame dogtertjie en later tiener was. Maar soos ons weet, is hoogs intelligente kinders dikwels opstandig omdat hulle dinge eenvoudig anders sien as ander mense.

Volgens ’n onderhoud met Naomi Meyer wat ek op LitNet gelees het, het die skryfster doelbewus gepoog om “descriptive non-fiction” te skryf. Daarom word ’n groot aantal byvoeglike naamwoorde gebruik, veral aan die begin, wat ’n beskrywende styl en skerp omlynde prosa teweegbring. Op subtiele wyse verander die taalgebruik soos wat Jennifer ouer word en die leser kan deurgaans identifiseer met dinge wat beskryf word.

Daar is heerlike humor wat my dikwels hardop laat skater het.

Dit is egter asof Jennifer se ouers amper duideliker uit haar vertelling opstaan as sy self. Haar ouers is hoogs intelligente en opgevoede mense, maar hoe ouer en hoe meer rebels sy word, hoe meer onttrek hulle hulle en hoe minder weet hulle hoe om haar te hanteer. Sy glo selfs haar ouers haat haar, maar eintlik het hulle net geen of min begrip vir hulle kind(ers) nie. Die ouers is ook so prestasiegedrewe dat hulle veral aan Jennifer geen erkenning gee vir prestasies minder as die beste nie.

Jennifer se stryd met haar identiteit word goed uitgebeeld. Sy is Joods, maar praat vlot Afrikaans en Engels met ’n aksent; sy kan volkspele doen maar mag nie aan die Voortrekkers behoort nie; sy hunker om dinge saam met haar Afrikaanse maats te doen, maar weens omstandighede is dit nie altyd moontlik nie; haar suster is die “child prodigy” ten opsigte van die klavier, maar Jennifer vaar beter as sy in een van die eksamens!

Aan die hand van slegs twee geskiedkundige gebeurtenisse wat genoem word, nl Sharpeville in 1960 en die sluipmoord op Verwoerd in 1966, kan Jennifer se ouderdom en grootwordjare presies geplaas word. Die skryfster werk dus baie oordeelkundig met datums.

My enigste kritiek op die boek is die paar godslasterlike uitroepe en die feit dat Jennifer se twee susters skaars figureer.

  • 1

Kommentaar

  • Estelle Bester

    Die boek het herinneringe gebring van 'n dekade of twee voor hierdie skryfster toe die Joodse gesinne vol was in die Vrystaat en van die kinders saam in die plaasskool. En toe 'n vriend in die 1950's op Wits in die koshuis land was sy enigste Afrikaanse geselskap in die koshuis 'n Joodse student uit die einste Vrystaatse platteland. 'n Joodse vriendin wat nou 94 is en steeds in Berea, Johannesburg, woon, het orrel gespeel in die NG Kerk in Wolmaranstad en aan die Voortrekkers behoort, praat steeds net Afrikaans met van ons, die Boere-vriende.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top