Protesmusiek, Rozanne Gewaar en 'fracking'

  • 0

Kort ná Bob Dylan in die middel-sestigerjare met meer elektriese klanke begin eksperimenteer en ’n volle band agter hom op die verhoog gekry het, is hy by ’n groot vertoning in die Royal Albert Hall in Engeland uitgejou.

Nie net omdat sy gehoor nie geweet het wat om met sy nuwe aanslag te maak nie, maar ook omdat hul persepsie was dat Dylan sy kort dog ryk geskiedenis van protesliedere agtergelaat het. Een konsertganger het luid gepleit vir hom om die protesliedjies te sing.

“Oh, come on,” het ’n moeë en gefrustreerde Dylan gesê, “these are all protest songs.”

Anders as die gehoorlede daardie aand is hedendaagse honger-vir-protesmusiek-gehore nie geskok deur ’n skielike afwyking van die verwagte norm nie, maar eerder stomp gelaat deur ’n relatiewe gebrek aan eksplisiet ontsyferbare protesmusiek. Moontlik het dit te make met die feit dat die Eerste Wêreld grootliks geliberaliseer is, of dat die stortvloed beskikbare inligting deesdae ’n verwarrend-verlammende effek het op die onwrikbare oortuiging van, sê maar, die teenkultuur van die 1960’s. Liedjieskrywers is meer huiwerig om uit een keel een ding te sing – dit raak al moeiliker om die behoefte te verwoord.

Wanneer ’n spesifieke teiken verskyn in teenstelling met ’n algemene angstigheid, word die proteskrag van musiek weer sigbaar. Die vooruitsig van skaliegasontginning in die Karoo het byvoorbeeld die folksanger Rozanne Gewaar genoop om “The Karoo fracking song” op te neem:

 

 

“Ek is al ’n rukkie lank bewus van breking hierso in die VSA,” sê Gewaar. Sy is ’n inwoner van dié land en voer Engelse én Afrikaanse liedjies by optredes uit. “Dis een van daardie stil gebeurtenisse – gebeur al jare lank hierso, en mense begin net nou stadig besef hoe skadelik dit is, hoeveel klaar van hulle weggeneem is. Mens hoor so hier en daar van hele gemeenskappe wat uitmekaar gedryf is, soos Anne Hills sê: ‘You don't just frack shale, you frack communities too.’”

Oor die lied het Gewaar al interessante reaksies gekry. “Die frase wat hulle hierso baie gebruik, is ‘a national debate’ en ek hou daarvan. Dis nie noodwendig dat iemand een maal na ’n liedjie sal luister en heeltemal van posisie sal verander nie. Maar dit kan help om ’n onderwerp op die tafel te plaas; dit word ’n besprekingspunt, breek deur die stilte. Toe ek die lied in Port Elizabeth by Music Kitchen gespeel het in Februarie en ’n bietjie van ’n inleiding gegee het, het ’n student agterna kom vra: ‘Wat is fracking?’. Dis ’n gesprek wat ons nie andersins sou gehad het nie. Mense moet altyd ’n boodskap uit ’n paar oorde hoor voordat dit begin insink. Die proteslied is een van daardie oorde – en die advertensiebedryf het tog al vir ons gewys hoe effektief ’n goeie melodie kan wees! Idees word maar net soos produkte bemark, en die ouens wat geld maak, weet dit die beste. Hulle veg met konsepte soos ‘green diesel’ en ‘clean energy’. Soos verskillende kunstenaars saam ’n onderwerp takel, raak daardie kollektiewe gewig tog swaarder. It's all about public opinion, man!”

En musiek kán ’n belangrike rol hierin speel: “Die ding met musiek is, dit is regtig die interseksie van goed en kwaad. Dit maak ’n paadjie in jou hart oop. Daar's ’n rede dat tieners hulleself in musiek verloor – dit gee jou toestemming, om eers net te luister, dan stadig jou voet te wikkel, en later saam te sing.”

Die oorweldigende apatie is dus dalk tog slegs die mure van ’n tonnel waarby lig iewers van ver af insypel.

Protesmusiek kom in verskeie vorme – niemand het Green Day se album American Idiot sien kom nie, en dit het die weg gebaan vir ander groepe om meer vrylik om te gaan met hul spraak en die vryheid deesdae daaraan verbonde, anders om besluiteloos daarmee in die hande te staan asof dit ’n halfdooie snoek is.

Musiek is ’n katalisator, en hierdie kwessie kort breë aandag.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top