Protes teen die voorgestelde wysigings aan die Suid-Afrikaanse kopieregwet

  • 14

Lede van PEN Afrikaans se bestuur het op 16 Junie 2017 te Stellenbosch vergader om die protes rondom die voorgestelde kopieregwysigingswet, wat op 5 Junie vir kommentaar gepubliseer is, te bespreek.

’n Foto van diegene wat die vergadering bygewoon het. Voor: Naomi Bruwer en Danie Marais. Agter: Izak de Vries, Kerneels Breytenbach en Marga Stoffer.

’n Formele verklaring sal volg, maar intussen vra PEN Afrikaans  dat belanghebbendes self die wysigings onder oë sal neem. Dit is hier beskikbaar.

PEN Afrikaans wil ook die publiek daarop wys dat ’n relatief toeganklike regsmening oor hierdie voorgestelde wysigings opgestel is deur Sadulla Karjiker en Cobus Jooste van Universiteit Stellenbosch se Anton Mostert Leerstoel in Intellektuele Eiendomsreg. Dit kan hier gelees word.

 

Waarom is PEN Afrikaans bekommerd?

Karjiker en Jooste se mening is dat die huidige wetsontwerp erge gebreke toon. Op bladsy 2 staan:

In fact, it should be clear to any person who has a basic understanding of copyright law that the proposed legislation is a shoddy, and worrying, piece of work. To pass the legislation in its current form would amount to a dereliction of duty, and would fail to send a clear message to those responsible for the drafting the 2017 Bill that they are expected to do their work competently, let alone strive to meet the highest standards. There is ample evidence to suggest that the drafting of the 2017 Bill was done by persons who, quite frankly, do not understand the basics of copyright law. It also displays a lack of familiarity with the existing legislation!

Dit is harde woorde.

PEN Afrikaans se grootste probleem met die voorgestelde wysigings is dat die regering skynbaar poog om meganismes daar te stel sodat intellektuele eiendom eenvoudig, sonder vergoeding aan die kopiereg-eienaars, deur die staat versprei, selfs vertaal,  sal kan word, sou dit vir “scholarship, teaching and education”  gebruik word, of vir “expanding access for underserved populations”.

Dit is gewoon onaanvaarbaar.  Karjiker en Jooste sê tereg dat Suid-Afrikaanse uitgewers maar te graag sal meeding om produkte aan die staat te lewer indien die geleentheid daarvoor gebied word. Op bladsy 25 van hulle kritiek staan:

Instead, government seeks to expropriate property rights in order to reduce the costs of its constitutionally-mandated obligations to provide education. It is clear that the failure in the education sector is due to non-delivery of services by government, rather than a problematic copyright-law system.

’n Ander dilemma is dat die wet skynbaar voorstel dat die regering moontlik kopiereg sal verkry op enige werk wat deur die staat befonds word. Dit het verreikende gevolge vir enige akademiese navorsing wat gebruik maak van staatsfondse.

 

Aksiestappe

Die bestaande wetsontwerp is swak opgestel en het verreikende gevolge vir skrywers en uitgewers. PEN Afrikaans versoek dus alle belanghebbendes om hulself te vergewis van die erns van die saak. Karjiker en Jooste se menings is relatief toeganklik geskryf. Deel asseblief hierdie inligting aan almal wat moontlik nog nie bewus is van die probleem nie.

PEN Afrikaans is tans besig met ’n formele respons en ons werk ten nouste saam met PEN South Africa, asook PEN International. Ons is ook in noue kontak met verskeie Suid-Afrikaanse uitgewers om die nodige inligting aan hulle oor te dra.

PEN Afrikaans beoog ’n aanlyn petisie. Hou dus asseblief LitNet dop en onderteken asseblief die petisie wanneer dit beskikbaar word.

*

PEN Afrikaans bedank LitNet vir hierdie platform om inligting oor die probleem te versprei.

*

Hierdie dokument is op versoek van LitNet opgestel deur Izak de Vries ná die bestuursvergadering op 16 Junie in ’n poging om die erns van die saak aan die publiek oor te dra.

De Vries is ’n bestuurslid van PEN Afrikaans en hierdie dokument is met die medewete en steun van die res van die bestuur opgestel, maar dit verteenwoordig nog nie die amptelike standpuntinname van die bestuur nie.

 

  • 14

Kommentaar

  • Marida Swanepoel

    Dis vreesaanjaend. Druis in teen internasionale kopieregnorme - en gesonde verstand. Keer!

  • Liesl Göttert

    Dit is skokkend, maar reëlreg in lyn met die rigting waarin die regerende party opmars.

  • Die woord is "outeursreg", nie "kopiereg" nie. Behalwe as PEN en LITNET graag anglisismes wil bevorder ...

    • Izak de Vries

      David, nee. Daar is 'n wesentlike verskil tussen outeursreg en kopiereg. Dit is twee verskillende begrippe. Lees gerus Karjiker en Jooste.

      • Izak, nee. Die pos handel nie oor die verskille tussen “authors’ rights” en “copyright” - wat wel bestaan. My opmerking handel oor die opskrif van die pos (en die bespreking wat daarna volg), naamlik voorgestelde wysigings aan die “Kopieregwet”. Artikel 47 van Wet 98 van 1978 lui soos volg (onder die opskrif “Kort titel en inwerkingtreding”):
        “Hierdie Wet heet die Wet op Outeursreg, 1978, en tree in werking op 1 Januarie
        1979 …”
        As jy egter bewus is van die bestaan van ‘n “Wet op Kopiereg”, verneem ek graag van jou.

  • Me Kobie Kitshoff

    Vir onderwys hou dit groot probleme in. Dink aan die besluit dat daar in die toekoms slegs een handboek per vak goedgekeur sal word deur die Departement van Basiese Onderwys (DBO). Dit sal die DBO in staat stel om eenvoudig die inhoudelike van 'n handboek van 'n uitgewer in hul eie omslag te sit en in massa te reproduseer sonder enige vergoeding aan skrywers of uitgewer. Gaan beslis kommentaar lewer.

    • Izak de Vries

      Kobie. Ek antwoord in my persoonlike hoedanigheid, en ek deel jou kommer. Daar was al geluide - selfs gesprekke - wat baie klink soos jy praat.

  • Anel Heydenrych

    So het ons die regerende party leer ken ... Ek sal beslis teken! Hoop maar dit maak 'n verskil, want hulle stoomroller mens mos die afgrond in! Miskien moet hulle MALHUIS vir die skoolkindertjies gee om te lees. Dalk los dit n paar ander probleme op 🙂

  • Dis nou 'n tipiese ANC-plan om alles te wil inpalm vir eie gewin! Ek hoop van harte hierdie wetsontwerp gaan betyds hersien word.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top