Prisma of reënboog? Suid-Afrika deur ’n Graviaanse lens

  • 8

Dit is moeilik om te probeer sin maak van alles wat op verskillende terreine in ons land gebeur. Daar is egter een vraag wat telkens in hoofletters na vore bly tree: Hoe is dit moontlik dat iemand soos Jacob Zuma die president van ons moderne demokrasie kan wees en so lank in die posisie kan oorleef?

Clare W Graves se Dinamiese Spiraal-teorie bied aan ons ’n interessante raamwerk waarmee ons die komplekse morele realiteit van ons land beter kan verstaan en interpreteer en ook insig kan kry in die denkraamwerk van ons leiers.

Graves was ’n professor in sielkunde en sy teorie is reeds voorheen in Suid-Afrika gebruik by oa die Kempton Park-onderhandelinge voor 1994 asook die voorbereiding vir die Wêreldsokkerbeker in 1995. Onderhandelaars soos Roelf Meyer en Cyril Ramaphosa het almal blootstelling gehad aan die Graviaanse denke. Volgens sy tydgenoot en vriend Maslow, is Graves se teorie meer omvattend as sy eie meer bekende teorie oor menslike behoeftes, maar Graves het gesterf voordat hy veel gepubliseer het. Sy werk is deur sy opvolgers Don Beck en Christopher Cowan voortgesit. Beck beskou Graves se teorie as die Rosettasteen waarmee die kompleksiteit van die Suid-Afrikaanse samelewing ontsluit kan word.

Na 30 jaar se navorsing het Graves gevind dat menslike ontwikkeling plaasvind deur verskillende sisteme of golwe wat mekaar opvolg namate ’n mens se eksistensiële probleme verander. Die golwe is nie rigiede ontwikkelingsvlakke nie, maar vloeiende golwe wat oor mekaar spoel en verweef is in ’n dinamiese spiraal van ontvouende bewussyn. Elke golf of waardemeem is meer omvattend en kompleks en omsluit en oorskry alle vorige meme. Nie een van die golwe of waardememe kan oorgeslaan word nie.

Alle mense op aarde kan ingedeel word in ’n paar waardememe. ’n Waardemeem is ’n waardestelsel, ’n wêreldbeskouing en ’n denksisteem wat beskryf hoe mense dink en derhalwe sal optree. Beck en Cowan het kleure aan die verskillende meme gegee. Die dominante waardemeem waarin jy funksioneer, is deurslaggewend vir jou manier van dink en doen en jy gebruik dit instinktief wanneer jy onder stres is, veral wanneer jou selfwaarde aangetas word.

 

 

In die eerste, of beige, waardemeem gaan dit basies om oorlewing, om water, kos, hitte, voortplanting en veiligheid. Die dryfveer is oorlewing en selfbeskerming en die waardemeem word treffend beskryf deur Solzjenitsin in One day in the life of Ivan Denisovich.

 

 

Die beige meem word opgevolg deur die pers meem, waar veiligheid die belangrikste dryfveer is. Die mens is deel van ’n stam en leef in ooreestemming met die tradisies en gewoontes van die stam, want in stamverband is jy veilig. Rituele, seremonies, danse en feeste bind die stam saam. Hier is mense baie agterdogtig teenoor vreemdelinge; hulle hanteer verandering moeilik; is baie bygelowig; en daar is sterk druk om te konformeer.

Wanneer daar in mense se fisiologiese behoeftes voldoen word (beige) asook in hul veiligheidsbehoeftes (pers), kom die drang na persoonlike outonomie sterk na vore en die ego (rooi) ontwikkel.

 

 

In die rooi waardemeem gaan dit om mag. Jy doen wat jy wil en basta met die res. Die wêreld is ’n oerwoud waar net die sterkstes oorleef, en die oorwinnaar is geregtig op die buit. Die groot ego’s van die rooi meem is gerig op selfverryking en toe-eiening. Daar word gefokus op korttermynvoordeel en daar is ’n blinde kol vir die langtermyngevolge van optrede. Behoeftes moet onmiddellik bevredig word en daar is ’n afwesigheid van skuldgevoelens. “Beeld” is groot, en blink motors en duur horlosies algemeen. Mense in die rooi meem is lief vir “bling”, maar nie vir logika nie. Wanneer dinge skeefloop, word die sisteem of ander geblameer en is hulle slagoffers. Vrouens word dikwels as besittings gesien en regulasies en reëls geld vir ander.

Rooi organisasies is outoritêr met ’n paar mense aan die bopunt wat al die besluite neem, met die stemlose massa aan die onderpunt. Ware demokrasie in nie moontlik in die rooi waardemeem nie.

Zuma is ’n bloedrooi tradisionalis. In sy denkraamwerk is hy die sterk man wat kan maak en breek soos hy wil en daarmee kan wegkom. Hy het ’n swak verhouding met die Grondwet, die regbank en die media omdat sy mag daardeur beperk word. Hoe durf daar gevra word dat hy verantwoording moet doen van vliegtuie wat op Waterklooflughawe land of oor Nkandla of oor sy onheilige verhouding met die Guptas? Prince Mashele skryf in die Sowetan: “The African way is rule by kings, chiefs and indunas in a setting of unwritten rules. Is there anyone who has seen a book of African customary laws? Asking a ruler to be accountable is a foreign Western idea.” Wanneer Zuma tot verantwoording geroep word, ontduik hy dit op elke denkbare manier en word hy vinnig die onskuldige slagoffer. As poligamis het hy nie werklik agting vir vroue nie. Sy rooi waarde-oriëntasie skemer veral sterk deur wanneer hy afwyk van sy geskrewe toesprake en uit die vuis praat.

’n Groot persentasie Suid-Afrikaners verkeer in die pers en rooi waardemeem en vir hulle is Zuma die sterk man, die groot koning wat kan doen wat hy wil, en hulle volg hom lojaal en onkrities na.

 

 

Die skuif van ’n rooi na ’n blou waardemeem is ’n skuif van ’n wêreld wat deur mag beheer word na ’n wêreld wat deur beginsels beheer word. Wanneer dissipline en orde belangrik word, ontwikkel die blou waardemeem uit die rooie. Mense in die blou meem wil orde in die chaos skep, sodat dit die lewe vir die geheel sal verbeter. Die lewe het sin en rigting en absolute beginsels van reg en verkeerd word deur ’n hoër orde bepaal. Wanneer dissipline, orde en stabiliteit as belangrik beskou word, ontwikkel die blou waardemeem. In die blou meem is mense lojaal, gedissiplineerd, hardwerkend en verantwoordelik. Maar hulle is ook dikwels rigied, onverdraagsaam, veroordelend en voorskriftelik.

Volgens Beck het Suid-Afrika die blou meem in die vorm van ’n gedissiplineerde polisiemag te gou afgetakel na 1994. Ook in die onderwys was dit ’n fatale fout om die basiese boublokke van blou, van ken jou tafels en spelwoorde en leer die periodieke tabel, te gou met die kritiese denke van die groen waardemeem te vervang in Uitkomsgebaseerde Onderwys. Onderwys val hoofsaaklik in die blou waardemeem, want dit vra dissipline, harde werk en toewyding van onderwysers en leerders om ’n stewige kennisbasis op te bou wat nodig is vir die ontwikkeling na die volgende waardemeem, die oranje een. Die uiters swak onderwys in ongeveer 75% van ons skole is die rede waarom ’n baie groot persentasie Suid-Afrikaners nie verder as die pers en rooi waardememe ontwikkel nie. ’n Stewige blou basis is ’n voorwaarde nie net vir ware demokrasie nie, maar ook vir die deurgang na die oranje meem. Leerders in pers en rooi het die orde en dissipline van blou nodig om die basies akademiese vaardighede baas te raak wat nodig is om na die mededingende oranje meem te kan beweeg.

 

 

Waar mense in die rooi waardemeem hulle min steur aan reg en orde, is dit vir die blou meem ononderhandelbaar. Blou voel ongemaklik in die teenwoordigheid van rooi se impulsiewe energie en die rooi meem raak ongeduldig met die dissipline en orde van blou. Dit sal interessant wees om te sien hoe die dissipline en die insigte van sy graadstudie aan Unisa Julius Malema se hoofsaaklik rooi waardemeem beïnvloed. Miskien is hy, asook Mbuyiseni Ndlozi, die EFF se segsman wat ’n doktorsgraad in politieke wetenskap aan die Universiteit van die Witwatersrand verwerf het, minder rooi as wat hulle kleredrag wil aandui.

In die oranje waardemeem bevry die individu hom-/haarself van die kuddementaliteit van blou en wil die wêreld tem en suksesvol wees deur wetenskaplike denke, rasionele kennis en suksesgedrewe motivering. Die wêreld word oorwin, nie deur mag nie, maar deur sy geheime (natuurwette) te ken en tot jou voordeel te gebruik. Mense in oranje is prestasiegerig, statusbewus en entrepreneuries. Hulle het ’n passie vir persoonlike effektiwiteit en is hoogs produktief. Die jongste tegnologie word gebruik om hulle in staat te stel om hul kompetisie te klop. Die negatiewe van die oranje waardemeem is erge materialisme en individualisme, die besoedeling van die omgewing ter wille van wins, tenderpreneurskap en gesofistikeerde oneerlike boekhouding. Daar is talle voorbeelde van meelopers van Zuma wat die materiële voordele van oranje geniet sonder dat hulle van onder af die moeilike pad van harde werk en selfgedissiplineerde studie van blou geloop het.

Oudpresident Mbeki met ’n meestersgraad in ekonomie wat hy aan die Universiteit van Sussex verwerf het, en met sy droom van ’n Afrika-Renaissance, funksioneer hoofsaaklik in die oranje meem. Ongelukkig het hy die onmisbaarheid van reg en orde asook gehalte-onderwys (blou) vir die realisering van die Afrika-Renaissance misgekyk. Ook het hy die mediese feite oor MIV Vigs (oranje) geïgnoreer en byna vanuit die pers waardemeem daaroor standpunt ingeneem, met katastrofale gevolge vir duisende Vigslyers.

Sommige presteerders in die oranje waardemeem raak moeg van die rotresies, ongemaklik met die vernietiging van die aarde en verleë oor die kontras tussen ryk en arm en beweeg dan na die groen waardemeem.

 

 

In die groen meem word alles in die wêreld as interafhanklik gesien en elke vorm van lewe is kosbaar. Rasionaliteit en winsbejag word vervang met ekologiese sensitiwiteit, omgee, en netwerke. Die kenmerke van die groen meem is universele gelykheid, individuele regte, postmodernisme, ekofeminisme, mens- en diereregte en dekonstruksie. Mense in die groen meem is egter dikwels byna arrogant onverdraagsaam met persone in ander waardememe, want net hulle is reg en die ander moet nog bykom. Hulle sterk klem op regte maak dat die verantwoordelikhede wat met regte saamgaan, dikwels misgekyk word. Hulle kan ook baie naïef wees oor die donker kant van menslike gedrag en sien ander gou as onskuldige slagoffers.

Ons Grondwet is in groen geskryf en Cyril Ramaphosa, hopelik binnekort ook president van die land, funksioneer sterk in die oranje en groen waardememe. Sonder oranje denke sou hy nie so ’n uiters suksesvolle sakeman geword het nie, en sonder ’n sterk groen ingesteldheid sou hy nie as hoofonderhandelaar van die ANC so ’n groen inklusiewe Grondwet help formuleer het nie. Hy het dan ook sy eie veldtog by die ANC se presidentsverkiesing op die groen waardes van die Grondwet gedryf en hom sterk uitgespreek vir inklusiewe groei en die uitwissing van armoede in Suid-Afrika. Zuma en Ramaphosa is heeltemal verskillend bedraad en die kontras tussen die twee is in werklikheid die kontras tussen die rooi en die groen waardememe. Ongelukkig is die konsekwensies wanneer die Grondwet geminag word (blou) nie duidelik uitgespel nie en vir die massa mense wat hoofsaaklik in pers en rooi funksioneer, is ons groen Grondwet te wollerig.

Waar groen denke te vaag is vir die meer feitegerigte oranje denkers, is persone in die groen waardemeem ongemaklik met die onvoorspelbaarheid van rooi, onverdraagsaam met die rigiditeit van blou en geïrriteerd met die mededingendheid en gebrek aan omgee van oranje. Ken Wilber (Integral psychology) waarsku teen die gevolge van groen se gedurige kritiek op blou: “[W]hen green dissolves blue, it cripples the spiral of development. It makes it absolutely impossible for purple and red to develop further, because there is no blue base to accept the development. On a sturdy blue and then orange foundation, green ideals can be built. No blue and orange, no green” (Wilber 2000:124).

Gelukkig dra Ramaphosa kennis van Graves se teorie en as gesoute onderhandelaar sal hy dit kan gebruik in sy delikate onderhandelinge met die verskeidenheid van waardememe in ons hoogs diverse samelewing. Hy is dalk intens bewus daarvan dat ons veral nou die orde, reg, dissipline en wersketiek van blou nodig het in elke sfeer van ons samelewing, van die klaskamers en polisiekantore tot in die raadsale en die parlement.

 
 
 

 

Na die groen waardemeem maak die mensdom ’n reusesprong na die tweede baan van integrerende (geel), holistiese (turkoois) en spirituele (pers) denke. Slegs ongeveer twee persent van alle mense funksioneer in hierdie tweede baan. Hier gaan dit nie meer om die oorlewing van die individu nie, maar om die oorlewing van die planeet, en die eie clan word vervang deur die “gobal village”. Hierdie mense is gemaklik met paradokse en chaos en die ego speel nie meer ’n groot rol nie. Probleme word gesien as leergeleenthede en hulle is toegewyd daaraan om die lewens van ander te verbeter. Die belange van die groter geheel is vir hulle belangriker as dié van ’n sekere groep. Mense soos Nelson Mandela, FW de Klerk, Jan Smuts en Moeder Theresa funksioneer in die baan en hulle besef dat elke waardemeem bydra tot die integriteit van die hele spiraal en dat hulle daarom geakkommodeer moet word op die vlak waar hulle is. Miskien het Desmond Tutu dit intuïtief verwoord toe hy Suid-Afrika as ’n reënboognasie beskryf het.

Indien ons leiers op elke terrein dit kan regkry om die sprong te maak na die tweede baan van denke en daarin kan slaag om die positiewe van elke waardemeem, die lojaliteit van pers, die energie van rooi, die orde van blou, die entrepreneurskap van oranje en die omgee en empatie van groen te waardeer en te kombineer, kan ons uit die Zuma-era se morele rommelstatus kom en die optimisme van ’n sterk wenland herwin.

Bronne

Beck, DE en G Linscott. 1991. The crucible: Forging South Africa’s future.

Graves, CW. 1974. Human nature prepares for a momentous leap. The Futurist, April 1974.

Wilber, K. 2000. Integral Psychology

Jeanette de Klerk-Luttig
Kantoor van Morele Leierskap
Universiteit Stellenbosch
Desember 2017

  • 8

Kommentaar

    • Dankie vir die positiewe terugvoer Johann. Graves se teorie bly fassinerend en dit help mens om die realiteit beter te (probeer) verstaan.

  • Pieter Goussard

    'n Uiters insiggewende artikel wat onder andere baie swakhede in die huidige Regering en Onderwysstelsel verklaar. 'n MOET vir alle persone in leiersposisies om te lees en prakties hulle eie optrede te evalueer en aanpassings te maak. Baie dankie dat ons weer verfris is in ons denke.

    • Dankie Pieter, dit gebeur dikwels dat 'n leier en sy/haar volgelinge nie in dieselfde waarde-meem is nie en dit veroorsaak baie wrywing en misverstand. Dit help as mens bewus is van jou voorkeur meem en besef dat jy daarop terugval wanneer jy onder druk is.

  • Chris Marnewick SC

    Ek het lanklaas 'n artikel gelees wat my woord-vir-woord, sin-vir-sin so geboei het. Hoe ouer ek word, hoe harder probeer ek om sin te maak van die mense om my en hulle optredes - en ook van my eie. 'n Summa cum laude vir die skrywer.

  • Johan van der Merwe

    Uitstekende analise, Jeanette, dankie! Van groot waarde vir enige organisasie en leierskap.

  • Uitstekende artikel Jeanette. Veral van belang is die deeglike teoretiese begronding waarop jou argumente gebou word. Lawrence Kohlberg se teorie oor morele ontwikkeling skakel natuurlik ook by die navorsing van Graves aan. Behalwe duidelike waardeverskille tussen Zuma en Ramaphosa kan persoonlikheidseienskappe ook 'n rol speel. Die kenmerke van die pers meem (veral vrees en veiligheid) kom ook duidelik na vore in die boeke van Peter Becker oor Dingaan en Mzilikazi.

  • Dankie Handre vir jou waardevolle opmerkings. Ken Wilber het in sy boek Integral Psychology 'n interessante vergelyking gemaak van die teorie van Kohlberg, Loevinger, Piaget, Maslow, Graves ea. Wilber p(41) maak die volgende interssante opmerking: "The situation in South Africa is a prime example of why the idea of developmental levels ( each with its own worldview, values, and needs) can actually reduce and even alleviate social tension, not exacerbate them."

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top