Prettige maniere om Afrikaans te leer praat

  • 0

"Studente wat in die verlede die Afrikaanse Taalverwerwing 178-module geneem het, het dikwels genoem dat hulle televisieprogramme soos 7de Laan gekyk het en met die hulp van die onderskrifte hulle woordeskat en begrip verbeter het. Ek wou graag die bewering toets."

Só sê Elbie Adendorff, wat sedert 2005 as dosent in Afrikaanse taalverwerwing in die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch werksaam is.

7de Laan, Semi-Soet en besoeke aan wynplase – daar is prettige maniere om effektief te leer Afrikaans praat.

Lees 'n gesprek van Estelle Kruger met Elbie Adendorff, Arné Binneman en Ju-Mari du Plessis oor hulle artikel: Die gebruik van onderskrifte in die onderrig en leer van Afrikaanse woordeskat en begrip

Wat is die agtergrond van julle elkeen se  betrokkenheid by die studie?

JMdP: Tydens my honneursjaar het ek my werkstuk voltooi met die onderwerp “’n Ondersoek na die gebruik van onderskrifte in ’n vreemdetaalklaskamer vir die verwerwing van Afrikaanse woordeskat en begrip”. Dr Adendorff het opgetree as my medestudieleier en Arné as my studieleier.

AB: Hierdie studie het ontstaan uit die navorsing wat Ju-Mari du Plessis tydens haar honneursjaar onderneem het as deel van haar skripsie. Hier het ek vir haar studieleiding gebied.

EA: Studente wat in die verlede die Afrikaanse Taalverwerwing 178-module geneem het, het dikwels genoem dat hulle televisieprogramme soos 7de Laan gekyk het en met die hulp van die onderskrifte hulle woordeskat en begrip verbeter het. Ek wou graag die bewering toets. Van daar die onderwerp vir Ju-Mari se groot werkstuk as deel van haar honneursstudie.

Geluk daarmee dat julle ten spyte al die politiek oor Afrikaans op die kampus steeds hierdie module kan aanbied. Hoe adverteer julle die module en hoe kry julle selfs ‘n Sweed om die module te neem?

EA: Ek adverteer die module aan die begin van die akademiese jaar by die eerstejaarstudente van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe. Ek beklemtoon die waarde van meertaligheid en die nut wat die aanleer van Afrikaans vir die studente het. Die studente wat vir die module inskryf, is hoofsaaklik ingeskrewe BA-studente, maar ek het al studente vanuit ander fakulteite gehad. ’n Groot aantal studente kom vanuit Maatskaplike Werk en Teologie. Enige student is welkom om die module te kom neem solank hulle net nog nooit voorheen Afrikaans geleer het nie – daarom het ek al benewens studente vanuit Suid-Afrika ook studente uit Swede, Kanada, Australië en verskeie Afrika-lande gehad. Hulle moet nultaalsprekers (of vreemdetaalsprekers) van Afrikaans wees. Ek is baie gelukkig dat studente wel die waarde van Afrikaans sien en ek en my tutors werk baie hard om Afrikaans ’n genotvolle, lekker en nuttige module te maak. Die studente is baie positief oor Afrikaans en die aanleer daarvan en ek kry min negatiwiteit van die studente oor Afrikaans.

Dit is ‘n oulike film wat julle gekies het (Semi-Soet) – hoekom het julle hierdie film gekies?

JMdP: Hierdie film was vir my een van die eerste Afrikaanse romkom-films wat ek werklik geniet het. Die film se moeilikheidsgraad was gepas vir die vreemdetaalstudente, en die wynplaasmilieu is alombekend aan die US-studente.

AB: Ons gebruik reeds die film met sukses in van die ander taalverwerwingsmodules. Ons vind dat die studente die film geniet omdat hulle daarby aanklank kan vind. Dit help ook dat die film nie te veel komplekse temas bevat nie – sodoende fokus studente slegs op die verstaan van die woordeskat en volg van die storielyn en hoef hulle nie ook te probeer om temas te identifiseer en te ontleed nie. Verder speel die film in die Boland af en bring dus ook ʼn kulturele komponent na die klaskamer.

Behels julle module ook blootstelling aan die Afrikaanse kultuur, byvoorbeeld ‘n uitstappie na ‘n wynplaas?

EA: Ek bring die Afrikaanse kultuur in my lesse in. Ek bring gereeld voorbeelde van tipies “Afrikaanse” kossoorte na die klas en maak dit die fokuspunt van die les. Op Nasionale Melktertdag byvoorbeeld bring ek melktert klas toe en vertel die geskiedenis daarvan en dan proe ons, voel daaraan, kyk daarna en ruik daaraan. Die studente moet dan vir my vertel of beskryf hoe lyk, proe, voel en ruik melktert. Ons gaan ook op uitstappies in die dorp of ek laat hulle ’n skattejag oor en in die dorp doen.

Julle noem wat Donaghy (2014) skryf, naamlik dat “visual clues support the verbal message ...” Watter tipiese visuele leidrade het hierdie film gebied wat die fokus van die studente se aandag op outentieke taal kon vestig?

AB: Heelwat van die woorde wat tydens die woordeskattoetse getoets is, is deur visuele leidrade ondersteun. In hierdie geval is die leidrade items wat tydens die gebruik van die spesifieke woord op die skerm verskyn (byvoorbeeld “graf”, “voetpad”, “rose” en “druiwe”) of handelinge wat deur die akteurs uitgevoer word tydens die gebruik van die spesifieke woorde (byvoorbeeld “lepel lê” en “abba”).

EA: Die belangrikste visuele leidraad was die verwysings na wyn in die film: die titel, die feit dat dit op ’n wynplaas afspeel en die inhoud van die film wat handel oor die bemarking van ’n wynplaas. Dit het voorbeelde van outentieke taal gebied soos “pars van druiwe”, “versnit”, “wynkelder”, “druiwe”, “vate”. Die studente kon die uitspraak van die woorde hoor, en die Engelse vertaling en die visuele leidraad daarvan sien.

Was daar klaar onderskrifte beskikbaar vir hierdie film of moes julle dit self bysit? Indien laasgenoemde, hoe gaan julle te werk om dit te bewerkstellig?

JMdP: Gelukkig was daar reeds onderskrifte beskikbaar vir hierdie film. Ek dink die bysit van onderskrifte kompliseer die studie mbt die moeilikheidsgraad van die vertaling ens.

Julle praat in die artikel van (a) bimodale, (b) omgekeerde en (c) standaardonderskrifte. Kan julle vir ons tipiese voorbeelde van elkeen in hierdie film noem?

EA: Bimodale onderskrifte verwys na onderskrifte waar die film se dialoog en die onderskrifte beide nie in die kyker se eerste taal is nie: die film se dialoog en die onderskrifte is byvoorbeeld in Afrikaans terwyl die kyker se huistaal Engels is. Omgekeerde onderskrifte verwys na waar die dialoog van die film in die kyker se eerste taal is en die onderskrifte is in sy of haar tweede taal: Afrikaanse filmkykers kyk byvoorbeeld na Afrikaanse films op televisie terwyl die onderskrifte in Engels is vir die Engelse kykers. Standaardonderskrifte is soos wat ons gebruik het: die film se dialoog is in die kyker se tweede taal terwyl die onderskrifte in hulle eerste taal is. Die studente het na Semi-Soet gekyk waarvan die dialoog in Afrikaans is, maar die onderskrifte in Engels.

Watter spesifieke voordele vir motivering (King 2002[1] noem sewe) het julle waargeneem met die onderrig van hierdie film?

EA: Ons het opgemerk dat dit die studente gehelp het met hulle begrip van konteksgebonde taaluitdrukkings (soos outentieke taal rondom wyn). Hulle het die storielyn en intriges verstaan. Hulle het nuwe woordeskat aangeleer en kon ook later woordherkennings doen.

AB: Ons het veral die laaste drie voordele wat deur King (2002:513) gelys word, ervaar. Dit was uiteraard vir ons duidelik dat die gebruik van die film die aanleer van nuwe woordeskat en idiome vergemaklik het. Ons kon ook duidelik sien dat die visuele en oudio-insette wat deur die film gelewer is, bydra tot studente se korrekte uitspraak van die betrokke woorde. Verder het die visuele leidrade wat verskaf is, bygedra tot die herkenning van woorde.

Die groep wat julle gebruik het vir hierdie studie was klein en julle kom tot die gevolgtrekking dat daar geen beduidende verskille tussen die twee groepe (proef- en kontrolegroep) was nie. Dink julle hierdie studie sou op ‘n groter skaal weer onderneem kon word? Motiveer asseblief.

EA: Ek sou graag die studie op ’n groter skaal en oor ’n langer tyd wou doen. Ook ten opsigte van die tyd wanneer die studie gedoen is, dink ek het dit ’n rol gespeel in die resultate – die studente het reeds ses maande Afrikaans geleer. Die studie behoort aan die begin van die akademiese jaar te begin sodat ’n mens die woordeskatontwikkeling noukeuriger kan bepaal.

AB: Dit sou beslis die moeite werd wees om die studie op groter skaal te dupliseer. Dit sou interessant wees om die resultate van die huidige studie met dié van ʼn groter groep te vergelyk.

Die vreemdetaalstudente het tydens die vertoning van die film gevoel dat hulle Afrikaanse vaardighede bevorder is na afloop van die ondersoek. Is dit moontlik om dalk enige studente op die kampus net na so ‘n filmaand (met onderskrifte) uit te nooi sonder dat dit ‘n studie van die module behels?

JMdP: Ek kan nie insien hoekom dit nie moontlik sou wees nie. Daar is reeds die Pulp-bioskoop in die Neelsie waar daar onder andere Afrikaanse films gewys word. Miskien kan daar gereël word vir onderskrifte vir vreemdetaalstudente.

AB: Absoluut. Ons is tans by die Taalsentrum, waar ek nou betrokke is, besig met ʼn inisiatief waar daar kwartaallikse filmaande gebied word in die onderskeie kampustale. Hierdie filmaande sal oop wees aan alle belangstellende studente.

Wat het julle elkeen van julleself geleer in die proses van navorsing en publikasie van hierdie artikel?

JMdP: Ek het opnuut my liefde vir Afrikaans ontdek. Die studente se opgewondenheid en positiewe reaksies wys daarop dat Afrikaans ‘n lekker leef- en lagtaal is.

AB: Ek het die studie geweldig interessant en vernuwend gevind en dit was vir my lekker om as studieleier hierby betrokke te kon wees.

EA: Ek het uit die navorsing geleer dat ’n mens films baie meer as ’n hulpmiddel vir taalverwerwing kan gebruik. Ek weet dat films dikwels in taalkursusse gebruik word – hoofsaaklik omdat dit lekker is en die studente dit geniet – maar dit kan vir veel meer as net die kyk daarna gebruik word.

Is daar nuwe navorsing op julle horisonne? Kan julle ons daarvan vertel sonder om julle geheime te verklap?

JMdP: Daar is altyd ’n moontlikheid vir verdere studies.

AB: Ek is tans besig om ʼn artikel vanuit my PhD-studie te skryf. Die studie fokus op die ontwikkeling van skryfvaardighede in Afrikaans as tweede taal op universiteitsvlak. Verder is ek besig met navorsing oor die impak van akademiesegeletterdheidsmodules in fakulteite.

EA: Ek het ’n student wat aan die einde van haar navorsing is oor die gebruik van taalspeletjies in taalverwerwing. Ek is baie opgewonde om die uitkoms van hierdie navorsing te sien, aangesien ek self baie keer van taalspeletjies gebruik maak in my module. Verder het ek ’n student wat navorsing gaan doen oor die inkorporering van kultuur in Afrikaans-taalverwerwing, asook een wat ‘n studie gaan doen oor hoe om Afrikaans vir visueel en gehoorgestremde studente aan te bied.

 

[1] King, J. 2002. Using DVD feature films in the EFL classroom. Computer Assisted Language Learning, 15(5):509–23.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top