Present laughter: ’n resensie deur Maryke Roberts

  • 0

Present Laughter: Theatre on the Bay vier drie dekades as een van die Moederstad se beste vermaakbestemmings. Dis hier waar vele jong sterre hul voete kom vind het en vele gerespekteerde steunpilare van die bedryf aand na aand kom wys het hoekom hulle dié gerekende talent van die land is.

Om hierdie mylpaal te vier, bring Pieter Toerien Noël Coward se tydlose komedie, Present Laughter, op die planke, maar met ’n verdere hoogtepunt: Die West End-ster, Patrick Ryecart (The King’s Speech, Parting Shots, Agatha Christie`s Poirot) vertolk die hoofrol as Gary Essendine, ’n flambojante akteur wat hom effe in die middel van verskeie krisisse bevind, maar ook heel moontlik in sy eie middeljarige krisis is. Daar is vroue wat hul liefde verklaar; ’n sekretaresse wat hom sekerlik die beste van almal ken en weerlose jongetjies wat aan die voete van ’n ster wil wees om alle kennis uit hom te tap.

Coward het die rol as tour-de-force rol vir homself geskryf en dit bly een van sy onvergeetlike karakters. Hy het inderdaad self die rol vertolk – in 1942 en 1947 –  maar vele groot akteurs van die afgelope paar dekades, is al deur Essendine se charisma verlei en het die rol vertolk. Hieronder is Clifton Webb, Nigel Patrick, Albert Finney, Donald Sinden, Peter O'Toole, Simon Callow, Victor Garber, Ian McKellen en Kevin Kline, wat die 2017 Tony-toekenning vir beste akteur gewen het vir sy vertolking van die onlangse Broadway-herlewing.

Saam met Ryecart op die verhoog is ’n indrukwekkende lys Suid-Afrikaanse akteurs: Kate Normington speel Gary se vervreemde vrou, Liz, terwyl die bekroonde Michelle Maxwell sy geduldige sekretaresse, Monica, vertolk. Die Cape Talk-omroeper, John Maytham, speel Henry, Gary se vervaardiger en Marcel Meyer speel sy opgewerkte regisseur, Morris. Dean Roberts en Jo da Silva speel onderskeidelik die hofknaap Fred en die eksentrieke huishoudster Miss Erikson.

Twee jongelinge, Matthew Baldwin en Skye Russell speel die rolle van Roland Maule, ’n aspirerende jong toneelskrywer wat effe van die pad af dwaal en Daphne Stillington, ’n jong meisie wat glo sy is Gary se sielsmaat, maar eintlik net sterre in haar oë het oor die glanslewe van die teater.

Nicole Franco is Henry se vrou en speel ’n slinkse verleidster wat dreig om die vriendskappe tussen Henry, Morris, Gary en Liz te verongeluk.

Die toneelstuk in breë trekke: Dis die 1930’s in Londen; die tyd van deftige japonne wat oor pakke gedra word; toe drankies nog in kristalglase van ’n uitgebreide kristalversameling op die sytafel bedien is en vroue lang handskoene en bypassende hoede gedra het.

Gary is op pad Afrika toe vir ’n rol en tussen sy voorbereidings deur, is daar een malle gebeurtenis op die ander.

Coward het die toneelstuk as ligte komedie geskryf en voltooi dit net voor die Tweede Wêreldoorlog uitbreek, maar voer dit vir die eerste maal in 1942 op. Die ligte komedie is vandag steeds net so relevant en snaaks as wat dit waarskynlik bykans 80 jaar gelede vir Londense gehore was.

Dis die tipiese Engelse humor en toneelstukke waarvoor die teater so bekend én geliefd geword het en vir die paar uur daar in die donker kan jy jouself amper indink jy sit iewers in ’n intieme teater op die West End in Londen.

Ryecart was beslis die regte keuse vir hierdie speelvak, want sy houding en gesigsuitdrukkings beklemtoon die stuk se droë humor. Kate Normington, Michelle Maxwell en Jo da Silva was my ander gunstelinge. Kate het daardie amper-histerie van ’n vervreemde vrou wat steeds glo sy dra die broek in die huis bykans vervolmaak en hou almal op haar eie manier bymekaar.

Die dekor en kostuums is in die kol en verdien beslis vermelding. Dis weer Britse teater op ons tuisveld soos ek daarvan hou.

As jy Shakespeare soek, ry eerder Maynardville toe, maar as jy wil agteroorsit en lekker lag, koop beslis jou kaartjie en kom sommer nog ’n keer vir nog ’n dosis, om al die fyn humor waarmee die stuk aanmekaar geweef is en jy dalk die eerste maal gemis het, op te let.


Present Laughter

Met: oa Patrick Ryecart, Kate Normington, Michelle Maxwell, John Maytham, Marcel Meyer, Dean Roberts, Jo da Silva.

Deur: Noël Coward

Regie: Fred Abrahamse

Theatre on the Bay

16 Februarie tot 10 Maart

Kaartjies deur Computicket of by die teater se kaartjieskantoor by 021 438 3301.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top