Praat die waarheid, selfs al bewe jou stem

  • 6

 

Leia French (foto verskaf en met toestemming geplaas)

  • Leia is ’n graad 12-leerder van St Teresa’s School in Rosebank. Sy is nie ’n Afrikaans-moedertaalspreker nie.

 

“Praat die waarheid selfs al bewe jou stem.”

Dalk sou ek dit doen … as dit moontlik was. Maar dit is nie – om die eenvoudige rede dat daar nie iets soos absolute waarheid is nie.

Die waarheid is subjektief. Daar is geen enkele, allesomvattende waarheid nie. Ons bly in ’n moderne wêreld met oneindige waarhede en ons kan daardie waarhede ontken ... of aanvaar.

Ons hoef net na ons eie land te kyk. Vir jare was die mense van Suid-Afrika onderdruk oor die kleur van hulle velle. Die rede? Vir sommige mense was rassisme die waarheid. Vir sommige mense was die slagting van miljoene aanvaarbaar, want hulle het geweier om ’n ander waarheid te verstaan: wat hulle gedoen het, was verkeerd.

Maar dan moet ’n mens dink: Wat sou gebeur het as mense apartheid aanvaar het? Wat sou gebeur het as mense hulle lyding aanvaar het? Niks nie! Die nagmerrie sou sonder einde aangehou het. In albei gevalle sou die waarheid pyn gebring het.

Die lewe is vol botsende waarhede soos hierdie. Hulle kan nie vermy word nie. Ons het ’n keuse: ons kan waarhede waarin ons nie glo nie, aanvaar en konflik vermy in stille pyn, of ons kan met daardie waarhede baklei en konflik skep. Dalk is die konflik simpel en kleinlik. Dalk het dit die potensiaal om miljoene te vernietig ... of dalk het dit die potensiaal om miljoene te red.

“Praat die waarheid selfs al bewe jou stem.”

Dalk is net dit ’n waarheid vir baie mense. Ek sê die lewe is morsiger as dit. Ja, dit vat moed om jou waarheid te praat, maar soms vat dit ook moed om stil te bly en ’n ander mens se waarheid te verstaan en te aanvaar. In beide gevalle moet ons besef dat ons keuses gevolge het en ons moet verantwoordelikheid vir hulle neem.

Op die ou end kan ek dit sê: ons moet ons eie keuses oor ons waarhede in die lewe maak. Daardie keuses sal dikwels pyn skep, maar daar is altyd ’n keuse. Ons kan kies om stil te bly, of om ons waarheid te praat, selfs al bewe ons stemme.

  • 6

Kommentaar

  • Leia -
    dit is wonderlik dat jy op so 'n jong ouderdom reeds besef hoe ontwykend die waarheid kan wees. Daar is niks wat sal veroorsaak dat mense jou soveel haat en jou soveel liefhet soos om die waarheid te praat nie - Stefan Molyneux. Sterkte, dit is soms 'n eensame maar altyd bevredigende pad.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top