Afrikaans se grootste topverkoper

  • 5

<< Gaan terug na Poolshoogte
>> Nog menings

Onlangs het twee belangrike nuwe Bybelvertalings van CUM en die Bybelgenootskap in Afrikaans verskyn. Nog een is binnekort op die mark. Dit skep kans om bietjie na te dink oor Bybelvertalings.

Toe die eerste Afrikaanse Bybelvertaling in 1933 amptelik bekendgestel is, is vreugdefeeste in kerke oor die hele land gehou. By die sentrale viering in die Bloemfonteinse Marksaal het 5 000 mense met "heilige ontroering", skryf iemand, ’n lied gesing wat spesiaal vir die geleentheid gekomponeer is.

Die lied is deurvleg met die tipiese verwondering en vroomheid waarmee die Bybel deur vorige geslagte bejeën is. In die plegstatige lied van daardie depressiejare herken ’n mens ook die opvoedkundige ideale, die opkomende politieke selfbewussyn en die nasionalisme van die Afrikaanse gemeenskap wat met die Bybel verbind is:

Welkom, dierbaar Woord van God,
Lig in al ons lewenslot;
Bron van leiding, troos en krag,
Rigsnoer van ons voorgeslag
Welkom in ons moedertaal,
Van die Kaap tot oor die Vaal,

Koor:
Welkom, dierbaar Woord van God,
Lig in al ons lewenslot.
Wees voortaan die troue tolk
Van Gods raad aan gans ons volk.

Mag U heilig Woord, o Heer,
Steeds ons harte opwaarts keer;
Heil in Kerk en Skool versprei,
Siele tot die Heiland lei.
In die binnekamers bloei,
Op ons huisaltare gloei.

Koor:
Welkom, dierbaar Woord van God,
Lig in al ons lewenslot.
Mag ons volk U Woord bemin,
Meer sy vreugde vind daarin.

Welkom, dierbaar Woord van God,
Troos in droefste lewenslot;
Openbaar aan elk vandag,
Oud en jonk, U wondermag.
Spreek tot hoof en hart en hand
Deur ons hele vaderland.

Koor:
Welkom, dierbaar Woord van God,
Lig in al ons lewenslot.
Voor U waarheid wil ons buig,
En daarvan alom getuig.

Toe ek ’n ruk gelede op ’n laatsomer-weeksaand in die Groote Kerk by die eerste van twee landwye bekendstelling van die derde groot Afrikaanse vertaling sit, skitter die kerkvolk in hulle afwesigheid – miskien omdat dit nog net die Nuwe Testament was wat aan die orde was.

’n Klomp van die banke word eerder volgepak deur die tientalle vertalers en hulpkragte wat as ’n enorme span die groot projek afhandel en wat die Bybelgenootskap spesiaal van heinde en verre vir die geleentheid laat kom het.

Dit is weliswaar net die Nuwe Testament en Psalms wat in ’n “proefvertaling” verskyn, maar die ontvangs bly bedaard.

Die verskil tussen hierdie aand van 2014 en daardie feestelike tye van 1933 kon nie groter gewees het nie. ’n Koerant of twee het oor die derde vertaling ’n binnebladberiggie geplaas, maar dit het duidelik binnebladstatus – een van vele gebeurtenisse van die dag waaraan sommige lesers miskien aandag sou wou gee.

Dat dit voorheen groot nuus was as ’n Bybelvertaling verskyn het, is te verstane. Tradisioneel, word gesê, word die Bybel maar so een keer elke geslag vertaal, want dit vra enorme kundigheid: nie net van die oorspronklike tale (Hebreeus, Aramees en Grieks) nie, maar ook van vertalingskunde, letterkunde en kennis van Bybelse tye en gebruike.

Daarom was Bybelvertalings tradisioneel die unieke gebied van “Bybelgenootskappe” wie se taak dit was om Bybels in alle wêreldtale beskikbaar te stel.

Dit is lank nie meer die geval nie. Bybelvertalings is tans, verstommend genoeg in ons gesekulariseerde wêreld, een van die gewildste tipes publikasies op die geestelike mark. Uitgewers bewe van afwagting as hulle nog ’n Bybel op die mark sit, want hulle kan soos soetkoek verkoop en potensiële winste is enorm.

Mens moet net na die swetterjoel Bybels van vele uitgewers op Amazon se Bible Store kyk om te besef watter skynbaar onversadigbare dors daar is na meer en nuwer Bybels. Die skares is dalk nie by die groot oomblikke teenwoordig nie, maar Bybels bly immergewild en topverkopers.

Daarom is dit seker nie so onverwags dat daar in die afgelope tyd twee Bybelvertalings (Nuwe Testament) in Afrikaans verskyn het nie en dat ’n derde een op pad is.


1. Interliniêre Bybel

Seker die mees ongewone een van hierdie nuwe vertalings – veral vir mense wat met ’n leergierige oog na die Bybel kyk – is CUM se hoogs gesofistikeerde interliniêre Nuwe Testament waaraan ’n klomp Bybelwetenskaplikes vyf jaar lank gewerk het.

Die publikasie van hierdie Bybel is ’n teken van die volwassenheid van die Afrikaanse godsdienstige diskoers. Só ’n Bybel is immers in nog net sewe ander tale in ontwikkelde lande wêreldwyd uitgegee.

Deur so ’n interliniêre Bybel kan lesers die oorspronklike Bybelse grondtale met ’n latere taal vergelyk en aanvoel hoe vertalers hul werk doen. Veral waar lesers besef hoe baie al die vertalings van die Bybel van mekaar verskil, kan hulle nou self die proses van naderby bekyk.

In hierdie Afrikaanse weergawe van die Nuwe Testament is die Griekse teks uitgeskryf, gevolg deur ’n transkripsie wat die Griekse woorde in Afrikaanse letters oorskryf. Die leser kan nou die Grieks lees en sommer ook reg uitspreek. En dan, op die derde reëltjie, volg elke individuele Griekse woord se letterlike Afrikaanse betekenis(se). In drie reëltjies kan ’n mens dus van die klassieke tot die moderne oorstap.

Dit is maar net die begin. Nog twee belangrike hulpmiddels word aan die kante van die Grieks/Afrikaanse teks bygewerk: daar is ’n baie direkte vertaling en die vryvloeiende 1983-vertaling. Dit gee ’n interessante les in hoe verskillend Grieks vertaal kan word en hoe moderne vertalers tot hul eindproduk gekom het.

So ’n Bybel is natuurlik ’n droom vir beginners, veral beginner-studente, wat die Bybel in sy oorspronklike grondtale wil aanleer of lees. Maar dit is ook die tipe publikasie wat veral vir mense met ’n gevorderde belangstelling in die Bybel nuttig sou kon wees. Iemand wat nie Grieks ken nie, kan byvoorbeeld veral die letterlike vertaling van elke Griekse woord vergelyk met die vertaling in die 1983-weergawe. ’n Mens kan kyk hoe moeilik dit was om die gedeelte te vertaal, watter ander moontlikhede daar vir ’n vertaling is en hoe dit met nog meer vertalings in Afrikaans, Engels of ander tale vergelyk.

Neem maar die volgende skunnige gedeelte in Esegiël 23:20, wat al groot ongemaklikheid onder Bybelvertalers veroorsaak het. ’n Letterlike Engelse vertaling (God’s Word) is: "She lusted after her lovers, whose genitals were like those of donkeys and whose semen was like that of horses."

Goedgelowige Bybellesers wat Bybels onkrities vertrou, kan van skok beswyk as hy of sy op ’n dag op so ’n vertaling afkom. Veral as hulle gewoond is aan tradisionele weergawes: die 17de-eeuse Statevertaling is ’n voorbeeld van hoe keurige vroomheid Bybellesers weghou van die werklike betekenis: "En zij werd verliefd meer dan derzelver bijwijven, welker vlees is als het vlees der ezelen, en welker vloed is als de vloed der paarden."

Ewe kuis en verhewe is die Koning Jakobus-vertaling: “For she doted upon their paramours, whose flesh is as the flesh of asses, and whose issue is like the issue of horses." In die Afrikaanse vertaling lui dit: "En sy het gesmag na hulle wellustelinge, wat sinlik soos esels en onstuimig van drif was soos perde."

 


2. ’n Bedryf

Afrikaanse vertalings van die Bybel het ’n lang geskiedenis. Die eerste Afrikaanse Bybelvertaling het in ’n moeilike sosio-ekonomiese tyd met die Groot Depressie in 1933 verskyn. Soos Bybelvertalings in ander lande, sou die vertaling enorme godsdienstige, literêre, sosiale en kulturele invloed hê.

Martin Luther

Die Bybel in keurige Afrikaans is begin gebruik in feitlik elke Afrikaanse huisgesin, in opvoedkundige, literêre en skeppende kontekste in ’n tyd toe die taal dikwels nog met Nederlands meegeding het en gesukkel het om sy voete te vind. Dit sou beslissend bydra om die invloed van Nederland ter lande finaal te knou. Binne ’n geslag sou die “kombuis”-karakter van Afrikaans vergete wees. In hulle Bybel, het mense gesien, praat God en Jesus met die volk vloeiend Afrikaans. Hulle was dus sekerlik in goeie geselskap as hulle óók die taal praat.

Hierdie ontwikkeling is nie uniek nie. Luther se vertaling van die Bybel in 1534 het meegehelp om Duits as taal te standaardiseer te midde van die destydse Babelse versameling van dialekte van die federale state.

In Engeland het die Koning Jakobus Bybel van 1611 die Engelse taal ook sterk beïnvloed. Dit het ook gebeur toe Engels nog sy voete moes vind. Bekend was die soort Engels in Chaucer se Canterbury Tales, wat, in die woorde van een kommentator, kinderagtig geklink het weens die embarrasserende naïwiteit daarvan, al het dit toe al ’n ryk woordeskat gehad en steeds dinamies bly ontwikkel. Shakespeare met sy allermooiste tekste het die taal daarna ’n stewige hupstoot gegee, maar die eintlike omslag het gekom toe Jakobus die troon in 1601 inneem en opdrag gee vir die 1611-vertaling.

Die vertaling sou Engels formaliseer in spelling, gebruik en taal. Latyn is op sy lang sterfbed as kommunikasie- en kerklike taal neergelê. Engels sou nou die taal van konings en knegte word – almal tevrede dat hulle mooi en reg praat in die Engels wat God ook in hulle nuwe vertaling gepraat het. Geddes MacGregor skryf in sy boek A Literary History of the Bible: From the Middle Ages to the Present Day in 1968 daarom met ywerige geesdrif dat die Koning Jakobus-vertaling die invloedrykste vertaling van die invloedrykste boek in die invloedrykste taal is.

So sterk was die invloed van die Koning Jakobus-vertaling dat dit die ontwikkeling van Engels as godsdienstige taal selfs tot vandag toe nog in toom hou. Dink maar net hoe bly vele godsdienstiges nog vir God met “Thou” en “Thy” en “Thee” aanspreek. Wat ook nog meer geld van Afrikaans. Dit bly ondenkbaar dat God, soos in huidige omgangsgebruike teenoor ander, ge-jy en ge-jou word – iets wat byvoorbeeld in Nederlands wel al aan die gebeur is.

Daar is ’n goeie rede waarom Bybelvertalings gemeenskappe enorm beïnvloed. In tye toe kerke nog vol was, het mense elke Sondag die Bybel gehoor, gesing en deur preke leer ken. Deur die week het hulle tuis die Bybel gelees, bedink, daaroor en daarmee gebid en dit verder in vele Bybelstudies en Boekevat met mekaar gedeel. Op dié manier het vertalings die lewenstekstuur van geslagte van mense in veral die Christelike Weste help vorm.

Knoop dit met die rol van die Bybel in die skilderkuns, die literatuur, argitektuur en musiek en ’n mens besef dan hoe die Westerse wêreld fundamenteel deur die Bybel gevorm is.

Bybellesers was, anders as vandag, nie soseer ingestel op ’n intellektuele omgang met die Bybel nie. Hul Bybellees was veel eerder ’n ruminering, ’n proe en smaak van die teks sodat dit resoneer met die mens in sy of haar diepste innerlike. Mense het die Bybel op ’n meditatiewe manier gelees.

’n Mooi voorbeeld hiervan is te vind in Totius se beskrywing van sy vertalingsmetode van die 1933-vertaling. "Eers maak ek my van alles los, en het net die Grieks ... met ’n lexicon en grammatika's. Ek trag so in te leef in die Woord en vertaal so goed as ek kan. Ek het dan ’n bladsy of vier vertaal, dan revideer ek eers met die State-vertaling, en dan met die Revised Vertaling.” Naas die versigtige, geleerde aanpak is daar die meditatiewe ontmoeting met die teks – die stil blootstelling aan die teks sodat die teks op die leser kan inwerk.

Mettertyd, veral tydens die koloniale tye, het Bybelvertalery ’n onvoorstelbare omvang aangeneem. In die 19de tot 20ste eeue byvoorbeeld het sendelinge die Bybel in 1 200 inheemse tale vertaal. In Papoea-Guinee, waar daar meer as 800 tale is, is die eerste vertaling in 1956 gemaak. Veertig jaar later het daar al 100 vertalings van die Bybel verskyn. Wat dit so onvoorstelbaar maak, is dat sulke vertalings dikwels gedoen is waar daar nie geskrewe grammatikas of woordeboeke was nie.


3. Afrikaanse Bybelvertalings

Vertalings van die Bybel het ook in Afrikaans ’n groot bedryf geraak. CUM se Nuwe Lewende Vertaling het byvoorbeeld al 600 000 kopieë verkoop. Daar is, om enkele voorbeelde te noem, ook die Lewende Bybelvertaling (ook by CUM), die Bybel vir Almal, ’n nuwe vertaling vir dowes van die Bybelgenootskap, Carpe Diem se Bybel vir kinders en CUM se Die Boodskap.

Ook kerke het deur die jare hul eie weergawes gekry: daar was reeds in 1953 ’n Rooms-Katolieke weergawe van die Bybel wat die Apokriewe ingesluit het, en later het ook die Jehova-getuies hul eie vertaling gekry.

Dit is nog lank nie al nie. Geskenkbybels, Studiebybels, Kinderbybels, Leefstylbybels en Bybels vir geestelike groei word in alle tale gedruk en verkoop, maar in hul tientalle ook in Afrikaans op die mark geplaas.

3.1 Die eerste vertaling (1933)

Wanneer ’n mens van al hierdie Bybels hoor, kan ’n mens jou moeilik indink in dat dit so ’n gesukkel was toe die eerste Bybelvertaling in Afrikaans gedoen is.

Mense was destyds hoogs opgewerk net by die blote gedagte dat iemand dit wou waag om die eerbiedwaardige Statevertaling (van 1637!) met "kombuis"-Afrikaans te wil vervang.

Totius

Dit was maar een van die probleme wat oorkom moes word. Uiteindelik het dit jare geneem om die Bybelvertaling van 1933 te doen. Totius (JD du Toit), die Dopper-digter, professor en tweede rektor van die Gereformeerde Kerk se teologiese skool in Pretoria, het 37 jaar lank daaraan gewerk.

Hy was so betrokke by die vertaling dat sy vrou later haar lot bekla het: hulle huislike lewe, het sy gesê, het tot niet gegaan die oomblik toe hy met die werk begin het. En hy het vir jare op sy verlate plaas gaan bly sodat hy ongesteurd daar kon werk.

Sy pynlike presiesheid wat tot die stadige vordering bygedra het, blyk uit die ellelange lys korreksies wat hy in die proewe van sy jare lange werk aangebring het en met groot verskonings aan die drukkers teruggestuur het.

3.2 Die tweede vertaling

In 1983 het ’n tweede Afrikaanse vertaling verskyn. Die rede daarvoor was ’n nuwe vertalingsmetode wat toe hoogmode was. Dit was bekend as die "dinamiese" benadering en was bedoel as ’n aanpassing van die letterlike 1933-vertaling, wat toe as verouderd beskou is. Dit het party Bybellesers in hul fondamente geskud omdat dit so anders was.

Die argument vir die nuwe vertaling van destyds was dat tale verskillende strukture het. Wanneer ’n mens vertaal, gee ’n mens nie woorde weer nie, maar betekenis. Byvoorbeeld, simplisties gestel: die vraag "Hoe gaan dit?" sal ’n mens in Engels nie met "How goes it?" vertaal nie. Die "dinamiese" vertaling is: "How are you?", want dit is die eintlike betekenis in die brontaal. Boonop was die vertaling op maklike, vloeiende kommunikasie gerig. Dit moes op so ’n manier gedoen word dat tieners dit onmiddellik moes kon verstaan.

3.3 Die "direkte" vertaling

En nou kom daar die nuwe vertaling van die Bybelgenootskap waaraan ’n menigte kenners van die grondtale, Bybeluitleg, taalkunde en letterkunde saamwerk (klik hier vir meer inligting) en wat die "direkte" vertaling genoem sal word.

Hierdie keer was die bedoeling om die teks minder dinamies te vertaal, sodat die oorspronklike teks sterker saampraat. Dit word soms ’n brongeoriënteerde vertaling genoem. Só ’n vertaling laat lesers van die Bybel besef dat die Bybel nie te maklik in ’n moderne konteks oorgedra moet word nie. Dit is oorspronklik in Hebreeus en Grieks geskryf en is ’n teks uit ’n hele ander samelewing. Dit sal moet help dat mense die Bybel nie misbruik of probleemloos in ’n moderne konteks sal oorneem nie.

Hierdie vertaling is duidelik bedoel om in kerke gebruik te word. Vandaar ook die versigtige kwaliteitskontrole. Dit moet, volgens die opdrag aan die Bybelvertalers, geskik wees “vir voorlesing en gebruik in eredienste, asook vir kategese, Bybelstudie en persoonlike gebruik" en moet ’n getroue weergawe van die betekenis van die bronteks wees, terwyl beelde, metafore, styl en struktuur van die bronteks so ver moontlik behou moet word. Die vertaling moet van hoë letterkundige gehalte en goed verstaanbaar wees.


4. Die Bybel en die klagtes

Die kerklike fokus van die Bybelgenootskap se werk en die gedagte dat hul nuwe vertaling in kerke gebruik gaan word, het al dik stof opgeskop. Maande lank rumoer dit nou al in fundamentalistiese groepe omdat sekere Ou-Testamentiese tekste wat in die Nuwe Testament Messiaans geherinterpreteer is, nie Messiaans vertaal is nie – al laat die oorspronklike Hebreeus so ’n vertaling nie toe nie. Hulle het so stemming gemaak dat die arme Bybelgenootskap spesiale verklarings daaroor moes uitreik (sien byvoorbeeld hier).

Origens is daar al die ander normale argumente en kwellinge. Sommige taalliefhebbers kla oor die manier waarop die digterlikheid van Psalms  verlore gaan. Diep in die kollektiewe geheue van vele kerkgangers is byvoorbeeld Totius se vertaling van Psalm 23, oa vers 4: "Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my."

Vergelyk dit met die vervelige 1983-vertaling: "Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig." Of met die ewe prosaïese direkte vertaling: "Selfs as ek in die donkerste kloof ingaan, is ek nie bang vir gevaar nie, want U is by my. Dit is u staf en u stok wat my gerusstel." Die vertaler sou selfs kon vra wat dan van die opdrag geword het dat die metafore van die Bybel (hier die dal van doodskaduwee) behoue moes bly.


5. Slot

Vertalings, lui die holruggeryde gesegde, is interpretasies. Die hand van die vertaler is onmiskenbaar te sien in die eindproduk – wat uiteraard nie in almal se smaak sal val nie. Daarom sal elke vertaling steeds weer sy gebreke hê, veral by ’n invloedryke, veelgebruikte teks. Daarom bly kennis van die grondtale, maar ook van die vertaalkunde, die letterkunde en die taalkunde so deurslaggewend.

Dit bly een van die opvallende kenmerke van die Bybelgenootskap se drie vertalings dat dit nog altyd vanuit deeglike teorievorming en met ’n interdissiplinêre aanpak benader is. Onder die deelnemers van die verlede en hede is gerespekteerde taalkundiges, literatuurwetenskaplikes, literêre kenners en kunstenaars uit die nieteologiese Afrikaanse wêreld berekend betrek om te verseker dat ’n vertaling van gehalte gelewer word.

Godsdienstige leiers in die Afrikaanse gemeenskap het gelukkig genoeg kundigheid om te besef dat die Bybel nie net ’n stukkie godsdiens oordra en die besit van die vromes is nie. Die Bybel bly ook ’n literêre teks met potensieel groot invloed op samelewingsdiskoerse. Daarom word ’n groot groep kundiges ingespan, veral uit literêre kringe.

Hoewel die vele mededingende stemme van al hierdie kenners uiteraard beteken dat die stoeiery oor ’n finale vertaling soms bietjie wild raak, die geduld van die gespreksgenote partykeer dun slyt en die uiteindelik besluite en uitkomste omstrede sal wees, is die proses ten minste deeglik. Dit sê iets van die volwassenheid van die Afrikaanse godsdienstige diskoers en is rede tot genoegdoening. Selfs die taalbulle kan in hierdie geval ook minder snork: in die kerk en teologie word die taal nog met eerbied behandel, ten minste in Bybelvertalings.

Lesers van die Bybel in Afrikaans is nou hoogs bevoorreg. Hulle het die soms besonder digterlike, liriese, baie letterlike Bybelvertaling van 1933. Hulle het die maklik-leesbare 1983-vertaling wat so eenvoudig vertaal is dat ’n skoolkind dit verstaan. Nou het hulle die Nuwe Testament in meer "moderne" Afrikaans, maar ook meer getrou aan die oorspronklike Griekse teks. En, as hulle nie tevrede is met een van die drie nie, of dink dat hulle maar self wil besluit, is daar vir kreatiewe, ondersoekende geeste ’n interliniêre Bybel.

<< Gaan terug na Poolshoogte <<

Uit die LitNet-argief
Menings
Die Bybel as produk van sy tyd
– Gerda de Villiers
2014-05-22
Menings
Die Afrikaanse Woord word tagtig
– Jean Oosthuizen
2013-08-28
Webseminaar
Gender en die Bybel
– Lilly Nortje-Meyer, Maretha Jacobs
2013-04-24
Resensies
Reis deur die Bybel: ’n Resensie
– Pieter GR de Villiers
2013-05-19

LitNet Akademies (Godsdienswetenskappe)
Homoseksualiteit en sewe klassieke Bybelse tekste: Antigay of misverstaan?
– Ralph Barnard, Ernst van Eck
2013-09-18

LitNet Akademies (Godsdienswetenskappe)
Om die Skrif tot stilte te bring: Gewaarwordinge oor Afrikaanse Bybelse spiritualiteit
– Christo Lombaard
2012-12-10

Blogs
Die Bybel: Gerda de Villiers lees dit
– Izak de Vries
2013-09-03

Briewe deur die lug
Verlos ons van godsdienstige taal
– Christina Landman
2000
Young Voices Conference 2004
My generation...
– Ntsiki Mazwai
2004-10-21
LitNet Akademies-gespreksruimte
Vertaling as oortekening
– Michiel Heyns

 

  • 5

Kommentaar

  • Goeie dag,
    Ek sal ook graag wil weet wat het van al daai 1933 Bybels geword het? Ons is al n tydperk opsoek na die druk maar daar is net geen beskikbaar nie. Wil net hoor of daar enige spesifieke rede is of gebeutenis was dat dié Bybels nie beskikbaar is nie.

  • Pieter G.R. de Villiers

    Ek kom maar min op hierdie blad, vandaar dat ek nou eers op hierdie kommentaar reageer. Die 1933 (ook 1953) vertaling is vervang deur die nuwe Afrikaanse vertaling van 1983. Dit staan ook as die Ou Vertaling beskikbaar. Die vertalings kan op die Bybelgenootskap van Suid-Afrika se webwerf gelees word. Dit is werklik 'n goeie vertaling en werd om gereeld gelees te word. Kyk by http://www.bybel.co.za/home/. Daar is baie van die Bybels beskikbaar.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top