Politieke aspoestertjies

  • 0

Die politiek is uiters deurmekaar en vloeibaar, omdat politieke aspoestertjies soos Jacob Zuma, Mmusi Maimane en Helen Zille onder toenemende politieke beleg verkeer.

Maimane, die onervare DA-leier, het uiteindelik onder druk van wit konserwatiewe DA-ondersteuners en skenkers geknak en Helen Zille vir haar vergoeiliking van kolonialisme vergewe en vergoed om as Wes-Kaapse premier aan te bly. Dit kom neer op die verskansing van wit mag binne die DA en beklemtoon weer eens die party se onwilligheid om rassisme te beveg.

Maimane se ruggraatloosheid en vergewensgesindheid teenoor Zille beteken nie die einde van die DA se probleme nie. Die hardkoppigheid van die ANC om te transformeer van ’n bevrydingsbeweging na ’n moderne politieke party veroorsaak nie net probleme vir die ANC self nie, maar ook vir die DA.

Die opgang van ’n tradisionalis soos Zuma in die ANC sedert 2007 beteken dat jong swart-sosiaal demokrate in die ANC versmoor word. Dit is hoekom sommige jong swart politici die ANC verlaat het en by die DA of Cope aangesluit het. Die ver linkses bevind hulle in die EFF.

Die hardhandige verwydering van Thabo Mbeki as ANC-president en later as staatshoof gaan nog die einde van die ANC beteken. Teen 2007 was Mbeki se moderne politieke en ekonomiese denke die ANC ver vooruit. Tot so ’n mate dat hy ’n bedreiging vir geharde ANC-tradisionaliste met Zuma aan die voorpunt geword het.

Hoekom die ANC nie ’n moderne politieke party wil word nie, is nie aldag helder nie. Sentiment kan ’n rede wees, want die party roem hom op sy bevrydingsrekord. Wat die ekonomie betref, begeef die ANC hom op ’n kapitalistiese/neoliberale pad wat die armes vernietig.

Met Cyril Ramaphosa wat moontlik ANC-president in Desember gaan word, is die kanse skraal dat die ANC gaan afwyk van sy vernietigende ekonomiese beleid. Ramaphosa is ’n skatryk sosiaal-demokraat wat deur kapitalisme en swart ekonomiese bemagtiging bevoordeel is. Hoekom sou hy dan nou skielik ’n sosialis word?

Die ANC se behoud van dogma en sentiment onder Zuma hou die party uit die moderne en intellektuele politieke dinkskrum. Daarom het die ANC die jong swart middelklas verloor. Die ANC is nou hoofsaaklik ’n landelike party wat staatmaak op die steun van die werkersklas. Die uitslae van die munisipale verkiesings verlede jaar is ’n duidelike teken hiervan.

Die ANC se probleme het nou oorgespoel tot binne die DA. Dit is so erg dat die swart sosiaal-demokrate (Maimane) en die wit liberale (Zille) om die siel van die DA veg. Zuma het die sosiale demokrate uit die ANC gedruk en nou sien hulle die DA as die geskikte voertuig om hul sosiaal-demokratiese ideale te bereik. Klassieke liberale soos Zille staan in die pad.

Die sosiaal-demokrate glo ras is ’n werklikheid, terwyl die liberale – soos die DA-beleid-aanhangers – op “oppertunities” fokus. Tot op hede het liberale ’n problematiese verhouding met ras, wat eintlik beteken dat hulle die negatiewe effek van rasgebaseerde politiek ligtelik opneem. Dié amperse ontkenning van die problematiek van ras is soos koue water in die gesig van swart sosiaal-demokrate.

Die skeiding en vyandigheid tussen die swart sosiaal-demokrate en wit liberale in die DA is ’n tydelike skietstilstand tussen Maimane en Zille. Dit is net ’n kwessie van tyd dat Zille vir Maimane weer gaan ondermyn. Die poppe gaan binnekort weer dans. Dit beteken die swart sosiaal-demokrate kan moontlik die DA met mening oorneem en die party se wit konserwatiewe ondersteuners wegdryf.

Die ANC se kapitalisme/neoliberalisme gaan hom totaal vervreem van die armes. Die toekoms is sosalisme, soos die uitslag van die onlangse Britse verkiesing gewys het. Dit het die potensiaal om die armes se menswaardigheid te herstel en hulle hoop vir die toekoms te gee.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top