Politiek in Suid-Afrika is die nuutste TV-reeks

  • 3

Ek is ’n 23-jarige Suid-Afrikaner, tans besig met my honneurs in politieke studie op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit. My passie vir politiek het al op ’n jong ouderdom begin as ’n klein meisie met groot drome. Ek wy my lewe toe om meer van ons land te verstaan en om verbetering na ons land te bring.

Ek het hierdie artikel geskryf om Suid-Afrikaners in te lig oor die gebeure in die politiek en om my mening te lug oor wat tans in ons land aan die gang is.

Politiek in Suid-Afrika is die nuutste TV-reeks

“Politics is no longer just theatre, it is show business. So let’s put on the best show in town” – Francis Underwood in die bekende televisiereeks House of Cards.

Suid-Afrikaners word nie meer geskok deur die wanorde en verbasende gebeure in die politiek nie, maar is dit die einde van die Zuma-era? Na die beleidskonferensie vroeër in die maand het die SAKP die ANC se leierskap bevraagteken en is dit in die proses om uit die Drieparty-alliansie te kom. Die politiek in Suid-Afrika was nog nooit vervelig nie, en het talle aanskouers by die huis al met groot oë en oop monde gelaat. Die nuutste onderwerp van die dag is die SAKP se ondersteuning en die wedloop vir die presidentskap van die ANC. Die pad van die Zuma-era is besig om tot ’n einde te loop, en die skeiding in die partye en die aandrang dat Zuma moet afstap as president is net van die padtekens wat raakgesien is in die afgelope paar jaar.

’n Kort historiese terugflits sodat daar verstaan kan word wat die effek van die SAKP is: Die SAKP is ’n kommunistiese party in Suid-Afrika wat deel vorm van die Drieparty-alliansie saam met die ANC en Cosatu. Die toekoms van Zuma, die ANC en Suid-Afrika word beïnvloed deur die effekte van die SAKP se besluit. Die SAKP is al van 1920 af deel van Suid-Afrikaanse politiek, maar word maklik onderskat. Onlangs, noudat daar ’n groot skeiding in die ANC ontstaan en dat die ANC se voortbestaan geaffekteer word, word daar na die SAKP toe gedraai.

Die SAKP het nie baie vertroue in die ANC nie, en bevraagteken of die ANC die volgende verkiesing sal wen. Volgens die SAKP moet die ANC hulself korrigeer en korrupsie, Zuma, die Guptas en staatsplundery laat vaar, anders sal die party se regeringsdae tot ’n einde kom. Die korrupsie van die Guptas wat die regering se mag beheer, is net een van die redes waarom daar ’n skeiding ontstaan in die Drieparty-alliansie. Die Drieparty-alliansie is volgens Cyril Ramaphosa een van die kernaspekte vir die leierskap van die ANC. Die SAKP vorm deel van die stryd na demokrasie en is noodsaaklik vir hervorming en die pad vorentoe saam met die ANC. Ramaphosa en Nkosazana Dlamini-Zuma is in die wedloop vir die tittel van president in die ANC en ook Suid-Afrika. Die SAKP ondersteun Ramaphosa as die volgende president van die ANC, maar as die SAKP aan die Drieparty-alliansie onttrek, is daar nie vertroue dat Cyril Ramaphosa sal wen nie.

As die SAKP onttrek, sal die skeiding in die ANC finaal ontstaan en ANC-lede sal moet kies tussen die Cyril Ramaphosa-leierskap en die Nkosazana Dlamini-Zuma-leierskap. Vertroue in die ANC het al lankal agteruitgegaan met hierdie skeiding en wanorde van leierskap, en die ANC het al sy mag begin verloor. ’n Goeie voorbeeld van die mag wat alreeds weggeneem word by die ANC, was die 2016 munisipale verkiesing, waar die ANC van die grootste munisipaliteite teenoor die DA verloor het.

Daar ontstaan talle vrae oor wat werklik sal verander as Dlamini-Zuma wen. Sal Zuma agter die skerms nog die toue trek of sal die korrupsie van die Guptas tot ’n einde kom? Daar het al talle geleenthede ontstaan waar daar vir Zuma gevra is om te bedank as president, selfs binne die ANC, maar dit was nog nie effektief nie. Kan die mag wat Zuma in die regering het, ooit uitsterf of sal hy altyd ’n hand oor die land hê?

Die Desember 2019-verkiesing word bestudeer en met angs afgewag. Die politiek gaan ’n heeltemal ander pad verteenwoordig en nuwe uitdagings lê in die toekoms voor. Leierskap is die hoofbegrip van orde en regverdigheid – die ANC se leierskap moet ’n groot verandering teweegbring, sodat korrupsie afneem en daar vertroue in ons land se regering kan wees. Alhoewel leierskap die antwoord is vir ’n beter toekoms vir Suid-Afrika, is te veel mag nog altyd die probleem. Die beste kandidate sal misluk teen die korrupsie wat met mag gepaardgaan.

  • 3

Kommentaar

    • Kobus Engelbrecht

      Miskien het die versuim van Zuma om 'n ondersoek na staatskaping iets daarmee te doen. En na al die … ontboesemings deur gerespekteerde persone, feitelike verslaggewing oor hierdie familie se doen en late en die wyse waarop hulle sake doen - om nie eers te praat van die die Gupta e-posse nie – kan net 'n oningeligte die misplaaste braafheid toon om die bogenoemde stelling te maak. Voorbeeld, lank voor Oscar Pistorius skuldig bevind is aan die moord op Reeva Steenkamp, het die ingeligtes (diegene wat hulle … krities en met gesonde verstand op hoogte van die feite gestel het) geweet hy is skuldig! Dus, ons – die meeste ingeligte Suid-Afrikaners – weet reeds, die Guptas en Zumas is skuldig aan korrupsie in die oortreffende trap, liewe Selma. Jy leef met jou kop in die sand.

    • Selma. Dit sal mos nooit gebeur nie. Die Zuma/Gupta aangestelde hoof van die NVG is maar net nog 'n voorsorgmaatreël teen enige vervolging in ons gerespekteerde howe ... geen aanklag, geen hofsitting, geen oorweging van skuld/onskuld. Sela.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top