Please help, God bless

  • 1

Frederick J Botha het met sy kortverhaal “Please help, God bless” die langlys van ses vir die PEN International New Voices Award 2016 gehaal. Klik hier vir nog inligting.

Soos wat die spoedgrensbordjie waarsku, ry ek teen 60 km/u in Beyers Naude af. Links van my is die Johannesburg Botaniesetuin waar pensionarisse met hul honde stap en gesondheidbewustes in duur oefenklere draf. Aan my regterkant lê Wesparkbegraafplaas waar nuwe hopies grond besig is om al hoe nader aan die heining op te stoot.

Terwyl ek wag vir die rooi verkeerslig by die kruising van Beyers en Judith om oor te slaan na groen, druk ek die volumeknoppie van die motorradio op die stuurwiel. Op Jacaranda is Good Morning Angels aan die gang waar die nuwe Mej Suid-Afrika besig is om, met die komplimente van Suid-Afrika se gewildste selfoonnetwerk, R10 000 aan die tienjarige Rochelle van Benoni te skenk. Rochelle ly aan ernstige skeelheid en moet ’n dringende oogoperasie van derduisende rande ondergaan om totale blindheid te voorkom.

“Elke bietjie help, nè Rochellie,” snik die radio-omroeper.

Die verkeerslig slaan oor na groen en die twee motors voor my begin beweeg. Ek ry verby die bord wat my in Melville verwelkom, om die draai wat in Main Road verander. Langs die Eben Cuyler Park-sportgronde druk ek nog ’n knoppie op die stuurwiel en skakel oor na 94.7 Highveld Stereo. Een van die omroepers is besig om ’n poets te bak op die leier van die opposisieparty deur voor te gee dat hy president Barack Obama is wat hom wil gelukwens met die uitstekende werk wat sy party verrig.

Soos ek by die verkeerslig by die kruising van Main Road en 4de Laan stilhou, verander ek van stasie en skakel in op RSG waar Lynette Francis op Praat Saam met ’n sielkundige gesels oor die onderwerp van tienerselfmoord. Dis 08:16 en op die sypaadjie aan my linkerkant, voor die winkel wat tweedehandse kantoormeubels verkoop, is ’n groepie haweloses besig om wakker te word. Stadig kom hulle orent van onder hul kartonbokse soos wat taxi’s verby hul jaag. Die taxibestuurders blaas toeters, ignoreer die rooi verkeerslig, en druk deur die verkeer in 4de Laan om reg voor Adult World en Absa te stop sodat hulle nóg passasiers in hul reeds oorvol bussies kan prop. Aan my regterkant begin die besigheid momentum kry by Mays Chemists en die Super Spar-kompleks.

Die opvangs van die radio word swak en ek skakel oor na 5FM, dan probeer ek Classic FM, maar die gesuis is aan die toeneem. Die verkeerslig verander na groen en ek ry verby Catz Pajamaz, Stones en die Supa Quick-bandeplek. My spoed word verbreek deur ’n Tuk-Tuk-karretjie wat in my baan indraai en die opdraande uitsukkel. Ek druk nog ’n knoppie op die stuurwiel en verander van radio na die MP3-speler.

Ek oorweeg nog ’n ooreenkoms met die swart kruisies op my almanak, kletsrym Jaco van der Merwe van Bittereinder.

Die verkeerslig by die kruising van Main Road en 1ste Laan is groen en genadiglik draai die Tuk-Tuk links af verby Postnet. Net soos wat ek weer begin spoed optel, draai ’n taxi vanuit die regterbaan voor my in en gaan staan stil om ’n passasier op te tel. Ek vloek, druk my toeter, lig my hande in ongeloof en frustrasie, en wag dat iemand in die regterbaan so gaaf sal wees om vir my plek te maak. Uiteindelik gee ’n man in ’n rooi Toyota Corolla vir my plek, en soos ek om die draai Aucklandpark binnery, begroet die Sentech-toring en die groot geel M van McDonalds my. Op een van die lamppale aan my linkerkant lees ek die nuusopskrif van Daily Sun: My punani doesn’t eat pap!

Ek is tydloos en tydelik, ’n silwerskoon almanak, kletsrym Jaco van der Merwe verder.

Soos ek aangery kom verander die verkeerslig by die kruising van Kingsway Avenue en University Road van groen na oranje en ek verminder my spoed. Ek kom tot ’n stilstand tussen Campus Square en die Goodbye from Melville-bord.

Aan my linkerkant, op die middelman, is ’n draadheining wat ’n paar maande terug deur die munisipaliteit opgerig is. Die aanvanklike idee was om die massas studente te keer wat van die ander kant af wil oorbeweeg, al die pad oor na Campus Square en die bushalte. ’n Handjievol gebruik wel die sebrastrepe om die pad oor te steek en gevolglik daardie ekstra paar meter na die winkelsentrum se ingang of die bushalte te loop, maar die meerderheid beweeg steeds tussen die motors deur, al langs die beperkte spasie tussen die motors en die draadheining af. Kortpad. Versigtig trap-trap hulle op die wit klippe langs die heining wat veronderstel is om estetiese waarde te verleen aan hierdie konstruksie wat sou kon herinner aan iets vanuit die Joodse-konsentrasiekampe in die Tweede Wêreldoorlog. Die bedoelde estetika word egter gekniehalter deur die sigaretstompies, Simba-skyfiespakkies en ander rommel wat tussen die wit klippe lê en teen die heining vasklou, saam met die onkruid wat plek-plek deurgroei.

The animals, the animals. Trapped, trapped, trapped ’till the cage is full, begin Regina Spektor sing.

In my truspieëltjie hou ek studente dop wat aangestap kom en versigtig tussen die noue spasie tussen die ry motors en die draadheining beweeg. Met ’n arendsoog maak ek seker dat hulle nie my motor met hulle skouersakke krap nie.

The cage is full. The day is new. And everyone is waiting, waiting on you. And you’ve got time!

In die hoek van my oog sien ek ’n bedelaar aan die linkerkant van my motor aanbeweeg kom. Al laggend loop hy tussen die motors wat by die verkeerslig ophoop. Ek sien sy linkerarm is geamputeer. Met sy regterhand klop hy teen die motors se vensters en hou dit dan bak sodat die motoriste munte daarin kan gooi. Sy groot, skewe skitterwit tande word beklemtoon deur sy songelooide vel. Soos hy nader beweeg word sy glimlag al hoe meer prominent. Sy grys hemp is slordig by sy swart broek ingesteek. Die moue is opgerol. Selfs die linkerkantste een; tot net onder sy stompie waar die opgerolde stuk mou papperig hang weens die afwesigheid van ’n elmboog en voorarm. Aan sy skurwe voete dra hy bruin sandale met sy tone wat oorsteek.

Dis die eerste keer wat ek hom hier sien. Gewoonlik is hierdie die staanplek van ’n ou vrou wat, op die kleinste bordjie wat sy in die hande kon kry, haar lot oor geen werk en kos bekla terwyl sy verwytend na die motoriste staar. Ek wonder of bedelaars staanplekke uitruil. Het hul gemeenskapsvergaderings waartydens hulle terugvoer gee oor ideale staanplekke vir optimale bedelary? Hou hulle dinkskrums vir metodes oor hoe hulle motoriste sommer diep in hul beursies kan laat grawe?

Ek besef hierdie bedelaar, wat nou by my motorvenster aan die passasierskant staan, het nie eers ’n bedelbord nie. Die vermetelheid! Wat het geword van ’n bietjie inisiatief voor die dag lê? Hoe moeilik kan dit nou wees om ’n bord met een hand vas te hou?

Die bedelaar druk die munte wat die vrou in die pienk Opel Corsa vir hom in sy regterhand gooi in sy broeksak. Met dieselfde hand trek hy van agter sy rug ’n CAR uit sy broek uit. Met sy een hand skud hy die tydskrif oop en soos hy die oop bladsye nader aan sy gesig bring, beweeg sy stompie opgewonde op en af. Hy trek die tydskrif weg van sy gesig en dan sien ek sy glimlag wat nog méér tande ontbloot. Elke bedelaar staan seker by verkeersligte vir hul eie redes, vermaak ek myself.

Net voor die verkeerslig na groen oorskakel, verbeel ek my dat ek ’n knop voor in sy broek sien, maar ek is reeds in Kingsway Avenue met my flikkerlig wat aandui dat ek by die universiteitshek gaan indraai.

Ná daardie oggend, altyd op pad werk toe, is ek bewus van die bedelaar by die verkeerslig voor die universiteit. Altyd met ’n glimlag. Ek raak bewus van sy voorbarigheid om teen motoriste se vensters te klop en te beduie dat hul die venster moet afdraai. Deur ’n skrefiebreë opening knoop hy al te vriendelik geselsies met die motoriste aan. Party ignoreer hom, ander jaag hom weg, en daar is selfs die paar wat deelneem aan sy lawwigheid en hom vermaak. Hy het altyd dieselfde grys hemp en swart broek met bruin sandale aan; altyd die tydskrif wat agter in sy broek ingedruk is; die stompie wat op en af beweeg. En altyd die knop voor in sy broek.

Die eerste keer toe ek die knop gewaar het, het ek myself vertel dat ek net verkeerd gekyk het. Maar die volgende kere was die bultende knop uiters opmerklik. Toe ek uiteindelik die bevestiging kry dat dit onmiskenbaar ’n ereksie is, het hierdie beeld my eindelose plesier begin verskaf. Elke oggend het ek in ’n lagbui uitgebars wanneer ek sien hoe hy vermoedelik ongeërg tussen die motors beweeg. Wanneer ek uiteindelik op kampus parkeerplek gekry het, het ek altyd gewonder wat die rede vir sy ereksie kon wees. Sou dit die uitwerking wees ten aanskouing van die vroulike (of dalk manlike?) motoriste? Of dalk die opgewondenheid en entoesiasme oor sy bedelaarsdroom in CAR? Dalk is dit net sy welbedeeldheid wat deur ’n gebrek van ’n ondersteunende onderbroek as ’n ereksie voorkom?

Dit het my begin pla dat ek skynbaar die enigste motoris is wat enigsins bewus is van die knop voor in sy broek. Later het hy sy regterhand toegerus met ’n McFlurry-koppie van McDonalds waarin motoriste vir hom geld gegooi het, maar steeds het hul min ag geslaan op sy bultende broek.

Vanwaar ek hulpeloos vasgekeer binne my motor in die oggendverkeer gesit het, het die bedelaar se knop my begin intimideer. Die astrantheid daarvan het my ongemaklik gestem. Hoe meer ek dit probeer ignoreer het, hoe meer is ek deur die teenwoordigheid daarvan lastig geval. Uiteindelik het dit vir my gevoel dat die bedelaar my opsetlik daarmee treiter.

Teen die middel van somer het die stad ’n hittegolf beleef. Vroegoggend was dit reeds ondraaglik met ’n ongemaklikheid wat jou skisofrenies laat. Op pad universiteit toe is my motor se lugverkoeling op sy hoogste funksie gedraai, maar dit bly steeds drukkend warm in die motor. Ek herinner myself om daardie dag nog na te gaan wanneer my motor weer gediens moet word. Ek skakel die lugverkoeling af en laat die venster heeltemal afrol. Die hitte wat van buite af my motor binnestroom, intensiveer die gevoel van vasgevangenheid en benoudheid. Agter my oë begin my kop klop.

Die verkeerslig by die kruising van Kingsway Avenue en University Road is rooi, en soos my motor tot stilstand kom, sien ek dat een van die ander verkeersligte omgery is. Gebuig lê dit op die grond met bedrading wat uit die teerpad peul.

Vanuit nêrens is die bedelaar skielik langs my oop venster. Hy leun teen my motor met sy bolyf effens gebuig om by my motor in te kyk terwyl hy sy mond vol tande uitstal. Ek raak angstig. Vandat ek van sy bestaan bewus geword het, is dit die eerste keer dat hy só naby aan my kom. Hy het ook nog nooit vantevore aan my venster geklop vir geld nie, en ek het nog nooit vir hom geroep om vir hom geld te gee nie. Vir die eerste keer dring hy my persoonlike spasie binne. Die bedreiging word ’n realiteit.

In plaas van die grys hemp met opgerolde moue dra hy vanoggend ’n moulose vuilwit frokkie. Vir die eerste keer sien ek die slordige amputasie. Sy bedelaarsuitrusting wat tot dusver net bestaan het uit die McFlurry-koppie, het hy afgerond met ’n verkiesingsplakkaat wat aan ’n stukkie tou om sy nek hang. Aan die agterkant van die plakkaat het hy geskryf: Please help, God bless. Kort en kragtig. Geen verdere hartseer stories of uitgebreide leuens nie. Hy hou die McFlurry-koppie na my uit. En dan sien ek dit: onder die bord bult sy broek.

“Hallo sir, how are you today?”

Ek sluk en probeer nie vir die knop kyk nie.

“I’m fine, thanks,” antwoord ek kortaf en vermy oogkontak. Ek merk dat sy broek se ritssluiter halfpad oopgaap.

“Please sir, don’t you have some spare change for a brother?”

“No, I don’t.” Ek haal my blik van die bultende gaping voor op sy broek af en druk die knoppie vir die venster om weer op te rol.

Die bedelaar steek sy stompie by die oop venster in om te keer. Ek skrik en haal my vinger vinnig van die knoppie af.

“Please just go away!” raas ek. My kop klop van die versengende hitte.

Ek kyk na die verkeerslig. Verbeel ek my of staan dit nou al ’n hele ruk lank stil op rooi? My oog vang weer die knop. Ek verbeel my dat dit klop. Ek voel hoe sweetdruppels op my voorkop vorm. My hemp kleef teen my sweterige lyf.

“Please sir. I’m begging you.”

“I said I don’t have any money!” raas ek geïrriteerd.

Die knop in sy broek is onmiskenbaar besig om te klop. My mond is droog.

“Please sir. Please just help me out. Anything sir.”

Voor ek my kon kry lig ek my regterhand van die stuurwiel af en steek dit by die motor uit. Met my vingers grawe ek sy ereksie uit sy broek. Soos dit losspring agter sy gulp vou ek my vingers om die beaarde stuk vleis en ignoreer die oorweldigende stank wat my neusgate val. Vinnig begin ek daaraan pluk. Die bedelaar laat val sy McFlurry-koppie en sy silwer en brons munte rol oor die teerpad. Sy mond span koeëlrond en sy stompie beweeg vinnig op en af soos die flappende vin van ’n vis wat op droë grond spartel. Die bedelaar begin te kreun en sy oë dop om. Met ’n fors spuit hy tot binne-in my motor. Dit beland op my hemp en drup af tot in my skoot. Dan hoor ek ’n toeter verwoed blaas.

In my truspieëltjie sien ek die vrou agter my in haar silwer BMW X5 wat gefrustreerd haar arms rondswaai. Die oordrewe beweging van haar lippe wys vir my dat sy op my skreeu. Met haar een gebalde vuis slaan sy herhaaldelik teen die stuurwiel sodat die toeter blaas, terwyl haar ander hand vir my ’n middelvinger wys.

Dan besef ek: die verkeerslig is groen.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top