The play that goes wrong by Theatre on the Bay

  • 0

The play that goes wrong: Britse gehore het dit beskryf as Fawlty Towers gemeng met Noises off en ’n raker beskrywing is bykans onmoontlik. Maak nie saak wat jou bui is as daardie teaterligte doof nie, jy kan nie vir lank stug bly nie.

Die storie in kort: Die Northriding Polytechnic Dramagroep bied die openingsaand van Murder at Haversham Manor aan. Die voorsitter van die vereniging verwelkom die gehoor en spreek sy dankbaarheid uit oor hul teenwoordigheid en ook omdat dit “die eerste maal is dat die vereniging genoeg lede het om ’n volle produksie aan te pak”. Hy noem vorige pogings waar tekste só aangepas moes word omdat daar net ’n handjievol akteurs beskikbaar was dat die storielyn – en titel – haas onherkenbaar was.

Die toneelstuk speel af in die 1920’s en vertel die storie van die moord op Charles Haversham op die aand van sy verlowingspartytjie. Daar is natuurlik verskeie wendings en bykans elkeen op die verhoog kan ’n verdagte wees.

Dinge begin al voor die stuk open verkeerd loop met die hond wat wegraak, kaggelrakke wat nie wil regop staan nie, deure wat nie kan oopsluit nie en ’n “musikale regisseur” wat meer op die foon gesels met sy vriende en sy eie musiek tussenin speel as wat hy omgee vir die regte byklanke vir die toneelstuk.

Dinge loop erg skeef: nie alleen val dele van die stel by tye inmekaar nie, die whiskey is vervang met vlambare wit vloeistof en een van die akteurs word deur ’n swaaiende deur bewusteloos geslaan en ’n tegniese spanlid moet instaan, met skreeusnaakse gevolge.

Die akteurs veg moedig voort om die toneelstuk so natuurlik moontlik te laat verloop en die dankbaarheid op hul gesigte as die finale gordyn uiteindelik sak, dra net by tot die atmosfeer. Die Britse produksie het bykans elke moontlike toekenning ingepalm, van die Olivier-toekenning vir die beste nuwe komedie tot die BroadwayWorld Verenigde Koninkryk-wenner vir die beste nuwe toneelstuk.

Alhoewel ons nie soveel teaterkompetisies ter plaatse het nie, beteken dit nie dat die Suid-Afrikaanse akteurs enigsins vir hul Britse eweknieë hoef terug te staan nie. Craig Jackson se verwondering met die gehoor, die stel en die kostuums as hy die eerste maal op die verhoog verskyn as Cecil, die vermoorde se broer, is só oortuigend, jy kry onmiddellik ’n sagte plekkie vir hom. Die arme vermoorde Charles moet vele kastydings verduur, terwyl sy medespelers letterlik oor hul eie voete – bo-op hom – val. Die huisknaap, Perkins, wat sy reëls op sy hande geskryf het uit vrees dat hy dit gaan vergeet, is skreeusnaaks, veral as hy op die verkeerde tye na die verkeerde reëls loer.

En dan kan jy nie vir Robert Fridjhon agterweë laat nie. Hy is skreeusnaaks en hy weet dit. En gehore eet uit sy hand. En hoewel mens nooit seker is wanneer hy improviseer of streng volgens die teks werk nie, voel jy jy is in “veilige” hande.

Ek dink die indrukwekkendste van die toneelstuk is dat die akteurs nie ’n oog knip nie, selfs al skree die gehoor soos hulle lag. Selfs toe daar kommentaar uit die gehoor kom oor presies waar die lêer weggesteek is, het Russel Savadier nie ’n spier vertrek nie en net aangehou met sy vertolking as die ernstige inspekteur wat die moorde ondersoek.

Pieter Toerien het dit nie verniet die “snaaksste komedie wat ek al gesien het” genoem nie, en ek moet heelhartig met hom saamstem. Los al jou sorge en stres by die deur en kom gee oor aan die skaterlag wat gaan volg.

The play that goes wrong

Met: Robert Fridjhon, Russel Savadier, Craig Jackson, Roberto Pombo, Nicole Franco, Louis Viljoen en Sive Gubangxa
Deur: Henry Lewis, Jonathan Sayer en Henry Shields
Regie: Alan Committie
Kostuumkoördineerder: Malcolm Terry

Theatre on the Bay, Kampsbaai
3 Mei tot 17 Junie 2017

Kaartjies deur Computicket en die teaterkaartjieskantoor, 021 438 3301 

Foto's: verskaf

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top