The play that goes wrong: ’n teaterresensie

  • 0

Henry Lewis, Jonathan Sayer, Henry Shields

The play that goes wrong

Met Russel Savadier, Daniel Janks, Nicole Franco, Craig Jackson, Stephen Jubber, Roberto Pombo, Sive Gubangxa, Richard Lothian.
Regie: Alan Committie
Verhoogbestuur: Progress Mphande, Christopher Ndlovu en Demi Joan Zoghby

Tweede speelvak in Theatre on the Bay, Kampsbaai tot 18 November
Kaartjies teen R100–R220 is beskikbaar by Computicket en (021) 438 3301.

Moet asseblief nie twee sekondes twyfel nie! Gáán na hierdie kragtige komedie. ’n Mens moet heeltemal sonder ’n sin vir humor wees as jy glad nie sal glimlag, grinnik of skaterlag nie.

Jy mag maar geluide maak as jy jou verbasing en bewondering aan die spelers en die hardwerkende tegnici wil oordra. (Ek het dit gedoen. Wou selfs iets uitroep. Het nie gefluit nie. Gelukkig is daar byna voortdurend ’n gelag en applous om jou sodat jy nie eintlik skande sal maak nie.)

Op die openingsaand van die tweede speelvak wag ons nog voor die opvoering in die voorportaal. Skielik raak ek agterdogtig. ’n Jong breker in swart vra ons of ons die hond gesien het. Wat op aarde ...? Hy kan net ’n speler wees? Ja, dis Richard Lothian as Trevor. Ons sou gou uitvind hy is verantwoordelik vir die klank en beligting van The Murder at Haversham Manor soos opgevoer deur die Cornley Polytechnic Dramatic Society.

Ons woon ’n opvoering oor ’n opvoering by. Dit is in die tradisie van Robert Mohr se Ons hou konsert uit 1967 waarin Melt Brink se eenbedrywe op ’n dorpie opgevoer word ter viering van die koms van elektrisiteit. Daar is ook die “pragtige” opvoering van Macbeth deur The Farndale Avenue Housing Estate Townswomen’s Guild Dramatic Society. Veral is hier ooreenkomste met Michael Frayn se Noises off.

Die amateurvereniging het ’n ruim som geld ontvang en sien nou kans om ’n werklik afgeronde opvoering van bogenoemde misdaaddrama aan te bied. Dis die jare twintig van die vorige eeu. Die tyd word goed weerspieël deur die kostuums (versorg deur Malcolm Terry), Verita Brand en Scene Visual Productions se indrukwekkende en voorwaar doeltreffende stel, en Francois van der Hoven en Alan Committie se beligtingsontwerp. Sodra die ligte fel in rooi “opvlam”, word nuwe wendinge as ’t ware duidelik aangekondig.

Die wonderlike van hierdie opvoering begin reeds by die boeiendheid van die opgevoerde stuk se intrige. Wie het die wulpse Florence (Nicole Franco) se geliefde doodgemaak? Perkins die lyfkneg (Roberto Pombo) het met tere handelinkies vasgestel dat grootbaas Charles Haversham (Daniel Janks) inderdaad die tydelike met die ewige verwissel het. Sal die speurder (Russel Savadier; hy is ook die regisseur) die sneeustorm tot hier trotseer? Noudat Charles uitgestrek en dood soos ’n mossie op die bank lê – gaan Florence vertroosting vind by Cecil Haversham (Craig Jackson), die groot ou, hy met sy modieuse strepiesbaadjie? Wie van hulle daar in die herehuis sou lus gewees het om met watter wapen of gifbrousel vir Charles bokveld toe te jaag?

Nog boeiender is die verloop van die opvoering. As jy moontlik al self toneelgespeel het, herken jy dadelik die groot verskeidenheid foute in hulle spel en hoe tegniese rampspoed ontstaan. Maar almal hou net gedetermineerd aan, help mekaar en probeer om met improvisasies en voorsêery te red wat te redde is. Hulle is nie meer met repetisies besig nie; hulle het ’n lewende gehoor voor hulle. Daarom die aanpassings sodat die spel tog net kan lo-o-o-op.

Sive Gubangxa moet skielik Florence speel en doen dit teks in die hand. Wat gaan gebeur as die bladsye val of net deurmekaar raak? Juis nou gee iemand anders die verkeerde sleutelwoord en word dieselfde dialoog en bewegings herhaal en herhaal. Die spelers praat in sirkels en draf rond. As die waarnemende Florence weer iets moet herhaal, gaan sy oor in “suggestiewe” danspassies om tog die gedoentes tot ’n klimaks te bring.

Wat gebeur as rekwisiete nie meer staan of hang soos beplan nie? Of nie meer heel is nie? Kyk maar wat doen die verhoogtegnici en hoe reageer die spelers daarop. Dis spanwerk met uitstekende tydsberekening.

Ek het telkens bewonderend gedink: sulke bewegings en reaksies kan seker net deur ’n komediemeester soos regisseur Alan Committie beplan word.

Van die spelers word dikwels waaghalsbewegings verwag. Al daardie uitklim teen mure. Hulle oorleef ook gevare wat ek nie wil beskryf nie. Wil nie ’n pretbederwer wees nie.

Wat my ook sal bybly, is die spelers se geflankeer met die gehoor. ’n Speler kom op, steek vas en kyk vir die gehoor, glimlag, wag vreeslik vriendelik vir applous en lyk te ingenome met al die blyke van gewildheid. Hiermee was veral Craig Jackson baie oortuigend en snaaks. Sy stemgimnastiek vir hoë klanke was baie geslaagd.

Tegnikus Trevor (Richard Lothian) daar langs die verhoog op sy stellasie was gelukkig met een soektog, maar nie met die tweede nie. Hy het sy gunsteling Duran Duran-CD gekry; gaan hy dit dadelik speel? Maar die hond het duidelik die hasepad gekies. Al wat ons van die liewe dier sien, is ’n sielige portret. Dit blyk dat die hond veronderstel was om ’n speelkans te kry. Nou ontstaan ’n hoogtepunt van improvisasie, stemnabootsings en mimiek wanneer die manne voorstel hoe hulle met die hond stap. Vir dié reddingspoging lewer veral Stephen Jubber ’n energieke vertolking. Lothian skep veral hier ’n lewensgetroue kontras met die “kunstenaars”.

Nog ’n komiese element is versprekings. Russel Savadier lewer een van die snaaksstes wanneer hy sy rolle enkele oomblikke lank verwar.

Sedert The play that goes wrong die eerste keer in 2012 in Londen opgevoer is, is dit herhaaldelik bekroon en vertaal en word dit in teaters wêreldwyd opgevoer.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top