Pierre se sel

  • 3

Ek mis die sagte geruis van kantgordyne. Hier in die hospitaal is daar slegs die kliniese geluide van blindings. Dis nou wanneer hulle die kans kry om te beweeg. Die vensters is altyd toe en die lugverkoeling is aan hier in die hoësorgeenheid. En ek is ’n gevangene op die hoë bed, gekoppel aan buise, kabels en masjiene.

Die Here weet, waarom is ek nie toegelaat om eerder die hiernamaals te betree nie? Waarom is ek weerhou? Ek is moeg gewroeg met myself. Kommunikasie met ander is beperk. En dis nou die understatement van die eeu. Geen klank kom uit my roerlose en vertrekte mond uit nie. Net speeksel wat ek sporadies voel uitvloei soos ’n  sukkelende pisstroompie. God weet, ek is in my moer. Al wat ek nog kan voel, is die nattigheid van my trane teen my wange. Moedeloosheid word my metgesel. Dag na dag.

“Ek is jammer oor die verdoemende nuus,” het ek die dokter saggies agter die afskorting hoor sê, “maar dit sou beter wees as hy eerder gesterf het. Ons noem dit “locked-in”- of kluisenaarsindroom. Hy kan slegs met sy oë kommunikeer. Dit gebeur soms na akute beroertes.”

Ek het my vrou hoor huil. En my ma. ’n Geskuifel van voete. Die oopswaai van die deur. En toe die stilte. Skokkend deur my angswekkende hoof. Haal my uit hierdie nagmerrie uit. Die beker is te gal. Verstarring tot die dood. ’n Fokken bedlêende soutpilaar. Lot se vrou het my lot geword.

’n Verpleegster se terloopse opmerking aan ’n nuwe personeellid: “Pierre is soos iemand in ’n koma. Vir ewig. Hy kan nog twintig jaar so aangaan, as hy lucky is.” Lucky?! Is sy vertraag? Weet die jonge verpleegstertjie wat sy sê? Wat sy daar kwytraak is erger as die nuus van ’n galgedood. Vinnig en verby, maar twintig jaar? Gee my duisend keer eerder die tou.

 

Amalia het gereeld gekom. Ons was immers jonk getroud. Elke dag, daar in die begin. Selfs toe ek Algemene Saal toe oorgeskuif is. Daarna moes ek step-down toe gaan. Gaan? … My lysie werkwoorde is beperk tot net ’n paar woordjies: dink, asemhaal, droom, hoor en slaap.

Sy het my hand liefderik kom vashou en my alledaagse dingetjies vertel. Vir my gelees uit haar tydskrifte. Soms het ons saam na stories oor die radio geluister. Die transistor op die bedkassie neffens my. RSG se voorlesings. Goeie verhale. Ten minste verplaas dit my na ’n ander sfeer waar daar soos lewendes gelewe word.

Maar die besoeke het gekrimp. Stelselmatig haastiger en minder. Allerlei verskonings. Afsprake, die werk wat haar besig hou. Besoeke aan haar ma in die aftree-oord. Die motor wat in is vir ’n diens. Of gestamp en sy wag vir die kwotasies voordat sy weer vervoer sal hê. Selfs ’n keer sonder brandstof gaan staan. Sy is siek, voel nie lekker nie, kry griep en is bang om my aan te steek. My donner, sy sou my net ’n helse guns bewys! Aansteek, siek word, vrek en klaarkry.

My dae bly lank. Ongenaakbaar en nimmereindigend. Wreed sien ek dag en nag verwissel, asof dit hoegenaamd saak maak. Net ’n aanduiding hoe ewigdurend tyd kan aantik sonder om te stop. Somer, herfs, winter en lente. Kom en gaan. Al lêende vertoef ek op dieselfde bed en op dieselfde plek. Uitsigloos. Selfs my trane het opgedroog. Ek is ’n droë en vertrapte ou waterput. Vergete in die woestyn.

As ek mooi daaroor dink, kan ek Amalia nie verkwalik dat sy met haar lewe wil aangaan nie. Wat is daar nou in vir haar met my? Sweet blow boggherol. ’n Paar oë wat knipperend en koddig terug moet praat. Fok, hoe pateties. Amalia het gehou van lag. Van partytjiehou en mense. Van baie aanraking en liefkosings.

Met die enkele besoeke wanneer sy nog kom, ignoreer ek haar. Nooi ek ’n stugheid in na ons samekoms. Kwaad en seergemaak wil ek haar straf. Ek staar in die niet en hou selfs my ooglede lam. Stokstyf staar ek in die lug asof ek ’n tafereel sien afspeel van onverganklike liefde op ’n doek. En dan, agterna, huil ek geluidloos, spytig oor my kinderagtigheid. Wat baat dit om ons twee, wat reeds deur soveel drama en verdriet is, futiel verder te probeer vermaak? Twee ou drenkelinge wat van dag tot dag probeer leef asof ons lewens nie reeds opgedonner is nie. Jongmense wat oornag verouder het. Twee gryskoppe in jong liggame.

Daarom sou dit wreed en selfsugtig wees om haar terug te hou. Ek laat jou gaan, Amalia. Met liefde laat ek jou vry uit ons gevangeskap. Dis after all ek wat die beroerte gekry het en nie jy nie. Ek is beswaarlik nog ’n mens. Selfs Vlekkie is beter af as ek. Hy kan blaf en hol en spring en wys as hy blymoedig is, o Here, en ek? Die woordjie val lankal buite my verwysingsraamwerk. Blymoedig! Verbeel jou.

Om nooit ’n plan te kan maak om uit hierdie hel te mag ontsnap nie, is die kersie op die koek. Al kon ek draai en effe rol, sou ek bloot van die bed af val. Nie ’n vreeslike hoogte nie. Hoe dwing jy jouself om op te hou asemhaal? Ek het al probeer. Glo my. Werk nie, al oefen ek ook hoe.

Ek ruik warm olie, vis en aartappels. Waarom kan ek hoegenaamd nog ruik? Dis vir ander mense bedoel. Ek leef slegs op buisvoeding en moet my verbeel hoe proe die aromas wat aangewalm kom uit die kombuis. Die dokter reken ek is gelukkig dat ek kan ruik. Andere in my skoene is nie so gelukkig nie. Skoene? Gelukkig? Here!

 

Die pers bougainvilleas blom uitbundig vanjaar. Dis asof Amalia dit vir die eerste keer in ’n lang tyd gewaar. Die diep kleur is amper te uitspattig vir die blote oog. Sy streel haar vingers oor die blaartjies. Oorweeg om ’n foto daarvan te neem. Dit vir Bruwer aanstuur. Met ’n boodskappie dat sy verlang. Sy mis hom met ’n seer trek in haar binneste. Hy kom môre terug. Sy wil hom verras met ’n koningsmaal. Sal vanmiddag na werk die bestanddele gaan koop. Sy stap met ’n ligter tred in by haar werk.

Santie is al besig om hul eerste koffie te maak. “Jis-jis en hoe gaan dit vandag? Jy lyk stukke beter as ’n tyd gelede en ek weet wie die rede is.” Sy glimlag tergerig en voel aan Amalia se nuwe sybloesie. Rol die materiaal tussen haar vingers.

“Ja, ek lewe weer. Vandat Bruwer in my lewe gekom het, het ek ’n tweede asem gekry. En die pille help ook baie. Onthou jy hoe depressed ek was?” Amalia neem die beker by haar kollega. “En dis nie eers meer nodig nie. Ek is van alle medikasie af en gaan eindelik weer aan met my lewe.” Sy blaas oor die koffie. “Maar dit was hel. Die skuldgevoelens het my opgevreet, al het Bruwer my gerusgestel. Hy sê Pierre sou wou hê dat ek aangaan en van hom vergeet.” Haar stem wankel onseker. Sy roer haar koffie stadig en kyk by die venster uit. Sien die vlammende pers van die struik teen die heining.

“Kom jy nog daar? By Pierre?” vra Santie saggies. Haar oë vraend en besorgd.

“Baie min. Dit bly ontstellend om hom so te sien. Ek het gehoop dat ek dit gewoond sou raak.” Sy sluk versigtig aan die koffie. “En Bruwer wil nou trou. Met alle mag. Hy bly my druk en sê ek het genoeg rede om te skei. Maar iets verhoed my. Ek kan dit net nie doen nie. So ’n finale stap is verdoemend. Dit voel asof ek hom fisies uit my lewe skeur. My gewete is nog daar.”

“Amalia, niemand sal jou verkwalik as jy van Pierre wil skei om met ’n ander man te trou nie. Maar as jou hart vir jou sê dis verkeerd om dit te doen, moet dan nie. Mens se innerlike stemmetjie dra groot waarheid saam. Ek glo dit met oortuiging. Moenie dat Bruwer of ek of andere jou van jou opvattings beroof nie. Bruwer kan manipulerend wees, het ek opgemerk.”

Amalia knik. Sy plaas die koffie neer en steek haar bloesie stywer in. “En nou moet ek gaan werk. Daar is baie om te doen, want môre wil ek vroeër loop as hy terugkom.”

 

Haar kombuis ruik soos ’n goeie huisvrou s’n. Die kosgeure baklei om te seëvier: vet wat braai, roosmaryn en lourier. ’n Klein lamsboudjie, braai-aartappels, blomkool en boontjies. Sy moet onthou om môre daarvan saam te neem na die aftree-oord. Haar ma sal dit geniet. Sy kla baie oor die kos.

“Skink jy vir ons elkeen ’n glas koue witwyn, asseblief,” beduie Amalia terwyl sy die tamaties met ’n vlymskerp messie sny. “Nog net die slaai, dan is ek klaar.”

Bruwer kom staan agter haar en neem haar in sy omhelsing. Hy ruik na naskeermiddel.

“Pasop, ek het ’n mes in my hand,” protesteer sy flou en plaas die mes op die toonbank neer. Sy het verlang na hom. Om weer deur ’n man vasgehou te word, is hemels. Sy nestel haar kop teen sy skouer.

“Het jy al die egskeiding met Pierre bespreek?”

Sy woorde omklem haar. Sy maak haar rug reguit om uit sy greep te kom.

“N…e… nee, en ek gaan ook nie. Hoe kan ek dit doen? Hy is reeds ’n gebroke man soos dit is. En ek verwaarloos hom gruwelik. Ek kan dit nie aan hom doen nie. Ons moet maar aangaan soos dit is. Jy sal geduldig moet wees.” Dankbaar dat haar woorde sonder huiwering uitkom. Sy voel sy houding verstyf. Sy oë twee flitse. Hy is kwaad en ongedurig.

“As jy dan nie met hom gaan praat nie, gaan ek dit doen. Hy staan in ons pad van geluk. Dis nie asof hy nog iets beteken nie, Amalia. Goeie genugtig man, gebruik jou verstand.” Hy tel ’n stukkie tamatie op en druk dit in sy mond. Sluk dit heelhuids in.

“Hoe kan jy so praat? Hy is ’n mens. Dis nie asof hy gevra het om so te wees nie.”

“Wel, ek het ook nie daarvoor gevra nie. Jy ook nie. Hierdie ding begin my nou onderkry. Dit moet na ’n kant toe gaan.” Hy neem ’n groot sluk wyn en sit die glas so hard op die toonbank neer dat die vloeistof in alle rigtings spat.

“Ek gaan môre met hom praat. Al wat hy moet doen, is om sy oë te knip vir ’n ja. Die suster kan as getuie teken. Môreaand hierdie tyd kan ons dit vier en begin beplan. Ek het daaraan gedink om jou Mauritius toe te neem vir ’n wittebrood. Wat sê jy?” Hy buk vorentoe om haar hare te streel. Maar sy ruk haar kop agtertoe.

“Hoe kan jy so gevoelloos wees? Hy was … is … my man. Ek het trou aan hom beloof. In die kerk. Voor getuies, terwyl jy nou van getuies praat.” Haar stem wil breek. Sy veg daarteen om emosioneel te raak. Sy het verlang na Bruwer, maar haar aand is bederf. Haar eetlus weg.

“Dink jy dan maar eers nog daaroor. Maar my geduld is op. Ek wil jou wettig hê en ek gaan jou kry.” Weer die flits na haar. Probeer hy haar nou dreig of wat? Met verligting sien sy hoe hy sy sleutels en sy beurs optel. Aanstaltes maak om te vertrek. Sy weet hy wil hê sy moet hom keer. Maar sy gaan waaragtig nie. Nie vanaand nie. Miskien moet sy weer met die predikant gaan praat. Sy soek bevestiging vir die stap. ’n Buitestander wat haar kan sê en kan onderskraag.

Eindelik gaan sy lê met ongerustheid in haar gemoed. Die kos is verseël om weg te neem na haar ma. Sy kon nie ’n dooie ding vanaand oor haar lippe kry nie. Sy sukkel om aan die slaap te raak. Sien Pierre se wanhopige blik in haar geestesoog. Here, hoe lank nog hierdie marteling?

 

Dit voel salig om weer te kan beweeg. Ek swewe bo-oor die geboue en sien dwarsdeur elke dak en muur. Dis hemels om sonder vlerke te vlieg. Behaaglikheid omgewe my. Soos ’n ruimtewese versnel ek deur die lug en swenk heen en weer. Ek wens dit hou vir ewig aan, maar ’n ongewone skuur- en remklank wek my uit my droom. Die skuif van skoene op ’n linoleumvloer. Die droom was werklik, soos ’n paradyswêreld. Aaklig om weer terug te wees op die bed, in die kamer. Vasgekluister. Ek probeer die droom terugwen, spartelend terugkrabbel daarna, maar dis verlore en het reeds verdwyn. Iets anders is nou aanwesig. ’n Nare gewaarwording oorval my in die gedaante van ’n slegte voorgevoel. Iets soos onheil skuil in die aura langs my. Ek kan dit voel, wil wegdeins, maar ek is vasgevang. Ek hoor my asem. Hortend en met paniek gevul. Teensinnig open ek my oë.

’n Onbekende man staan ’n meter van my af. Hy lyk doelgerig en grynslag vir my. Werktuiglik, asof hy iets wil sê, maar homself weerhou. Hy kyk vlugtig rond soos iemand wat iets skelm beoog. My oë volg hom toe hy nader kom. Hy wys sy tande soos ’n dier. Ek wil skree, maar weet die poging is futiel. Die bose bekruip my waar ek weerloos en oorgelewer lê.

Die man gryp die kussing onder my kop weg. Ek voel hoe ek val en stamp my agterkop teen die matras. Ruk dan weer van die momentum op en val weer neer. Die dag waaroor ek so lank al bid, het gekom. Die dag van my dood. Die kussing word oor my gesig gedruk. Ek voel versmoord en smag na suurstof. My kop lê staties en ek voel magteloos teen die aanslag. Die are onder my slape klop doem-doem-doem. Ek is blind en beweeg na ’n verligte tonnel. Engele sing. ’n Orkes begelei my na ’n ster daar ver. Ek styg op en vlieg soos in my droom. Ek sing saam en hoor my stem weerklink soos vroeër. Maar iets ruk my terug waar ek nie wil wees nie.

’n Geruisloosheid toe die aura van die bose verdwyn. Is hy verhinder in sy taak? Die man is weg en ’n dokter staan in sy plek. Ek is terug. Terug in ’n beweginglose lyf en in myself.

’n Masjien biep eentonig lank soos ’n vervelige voël wat net een noot kan roep. ’n Klomp mense staan om my bed en takel my lyf. Twee strykysters op my bors laat my opwip asof ek met my rug op ’n springmat lê. As dit nie my tande so hard laat klap het nie, kon ek gelag het oor die koddigheid daarvan.

Wat bodder hulle met my? Die bedwelmende reis was genotvol en ek wil terug  daarheen. Met alle mag beur ek soekend na die hemelse koor.

Vaagweg die dringende stem: “Nog adrenalien, Suster, gou! Ons is weer besig om hom te verloor.”

Ek huiwer op die rand van besluiteloosheid. Die wye dal van malende denke bied my nog moontlikhede om te ontgin. Die vraag klop deur my sinne of ek nog deel van die lewe wil wees. Van die legkaart waar beweging verskillende vorme aanneem. Wil ek ’n klein skyfie in die hoekie wees om die vorm finaliteit te gee? ’n Voltooide legkaart lyk afgeronder as een wat stukke kort. Solank my ooglede kan knip, kan ek nog praat en skryf.

Die lewe met sy hobbels en gleuwe maak dat ons moet buig en aanpas om te oorleef. Gaan ek ’n kunstenaar met woorde in my oë wees om die lewe te behou?

Deurdringend klink die voël se roep weer in my oor. Maar hierdie keer het hy die ritme met ander note bygekry.

  • 3

Kommentaar

  • Estelle Neethling

    'n Uitstekende kortverhaal wat mi al die aangrypende elemente vervat wat hierdie moeilike genre vereis.

  • Leave a Reply to Theresa Papenfus Cancel reply

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top